Jongste aktiwiteit:

‘n Ode aan ‘n vrou

ʼn Ode aan ʼn vrou

Haar figuur was benerig skraal. Die baadjie, wat seker nog die vorige winter, perfek gepas het, het nou losserig om haar gevou. Dit het so baie goed verklap… Haar eetlus was minder, dalk haar lewenslus ook?

Die hare was nie meer inkswart soos toeka nie. Dit was nou ʼn bleekwit kol in die effense skemerigheid van die vertrek. Ek kon haar stem, net ʼn toonhoogte meer as ʼn fluister, agter my hoor.

“Hoekom is ek hier?”

Hartseer het my omvou. ʼn Vermoede het skielik en ongevraag sy aaklige kop in my binneste gelig.

ʼn Helder stem, iewers agter ons, het skielik deur die donkerte weerklink. Die oomblik was volmaakte heiligheid. Soet en hoog het die suiwer note die gehoor meegevoer en hulle vrywillige gevangenes gemaak. Ons het deel van die musiek geword.

Weer het die skraal vrou agter my gepraat.

“Die vrou het ʼn wonderskone stem. Regtig baie mooi. Wie is sy?”

Die ou vroutjie agter my in die gehoor, was vol verwondering, maar tog onseker.

Weemoed het golf na golf oor my gespoel, want nou het ek geweet. Die vrou was die sangeres se mentor vir baie jare. Haar talent het die leerling gevorm en omvorm tot een van Suid-Afrika se beste operasangers…Hierdie konsert word gehou as ʼn lofprysing vir die mentor, die witkop vrou, wat nou onbegrypend na die sangeres staar. My vermoede het tartend vir my skewebek getrek.

Die sangeres het by die res van die operasangers op die verhoog aangesluit. Die vertoning was manjifiek, ʼn keur van ons land se grootste talent. Dit was ʼn skouspel, ʼn vooruitskouing van die hemele se engelkore. Soveel vernuf en jare en jare se oefening, dag na dag na dag se swoeg, het ʼn toppunt van asem-ophou móói bereik.

Tog, die vrou agter my, was rusteloos. Kort-kort het haar hande hoorbaar met haar handsak se skouerband gevroetel.

“Ek wil huis toe gaan!”

Oor en oor het haar pleidooi smekend deur die musieknote gevleg. Ek wou huil. Laat haar net gaan! Maar protokol en wat-sal-die-mense-dink, het haar gevange gehou. Haar versorger het weer en weer verduidelik.

“Dis mooi… jy hou hiervan.”

“Wanneer gaan ek huis toe?”

Die witkop vrou het nie verstaan nie.

Die skaduwee van tyd, het haar beroof.

Deernis en ʼn empatie so wyd soos ons Here se uitspansel het in my borskas uitgekring…

Eens het sy self verhore bekoor met haar eie jubelende, asemrowende sang. Lank gelede het mense haar naam in dagboeke aangeteken. Lank gelede, het sy in skitterende aandrokke, menseharte oorrompel.

Hoe krimp ʼn mens se menswees tog nie, wanneer tyd meedoënloos ons lewens kom uitkalwer nie?

Ek het omgedraai en ʼn vrolike geel roos, wat die sangers op die verhoog in my skoot gegooi het, vir haar aangegee. ʼn Troos, ʼn offer. Geel rose is immers my gunsteling. Ek wou haar beskerm teen tyd se genadelose aanslag. Maar, ek het geweet dat dit futiel is.

Daar was verwarring in haar oë, terwyl sy met ʼn kreukelhand die roos by my neem.

“Wat moet ek nou hiermee maak?”

Haar stem was amper kwaad, maar die broosheid wat haar omgewe het, het dit weerspreek. Sy was verlore en wou net huis toe gaan.

Later het ek ʼn foto saam met haar geneem. Ek is seker sy het nie verstaan nie. Hoekom moes sy saam met ʼn vreemdeling verewig word?

Wat is tog die nut daarvan?

Maar die foto was vir my. Om te onthou dat ek moet lewe, voordat my wêreld krimp en my huis my spil word.

Ek het haar agterna gekyk, ʼn klein figuurtjie met ʼn groot lewensverhaal. Die wéét het soos ʼn ryp granaat in my oopgebreek.

Dit maak saak! Elke spoor wat jy in mense se lewens trap, maak ʼn verskil. Al onthou hierdie klein vroutjie nie meer die impak wat sy op soveel operasangers se lewens gehad het nie, sal dit bly voortleef. Dit leef voort in elke majestieuse noot wat gesing word en in elke nostalgiese herinnering.

Dankie, dierbare tannie, vir die les wat jy my onwetend kom leer het op ʼn Sondagmiddag toe die skemer alreeds so naby aan jou gekruip het dat jy toegeskulp lewe vir die hier en nou.

My nuwe hartsversugting… mag ek aanhou ligspore trap.

Tot ek eendag Huis toe gaan…

©Rosalee Meyer

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed