Die windpomp se draai.
Die Windpomp se draai.
Nie ’n blaartjie roer nie, nie vanaand nie. Die Namibiese wind wat altyd so opgewonde is om te jaag oor duine en dakke, het reeds gaan lê. Die skemer hang roerloos oor die vlakte. Maar sy, Elna, staan nog in die erf van haar kinderdae, hand teen die geroeste yster van daardie selfde windpomp wat haar jare gelede wakker gehou het met sy kermende ritme. Soos ’n ou horlosie sonder olie, het hy altyd gekerm, maar tog ook getroos.
Hier, in die middel van ’n plaas wat al drie generasies lank aan hulle behoort, voel sy skielik hoe tyd soos ’n haastige skadu teen haar rug afglip. Sy wou nie weer hiernatoe kom nie. Ná Pa se begrafnis drie weke gelede, het sy vir die eerste keer in sewe jaar weer haar voete op dié grond gesit. Grond wat al so lank hulle sin was, maar tog nou vreemd voel. Selfs die stof ruik vir haar anders. Of dalk is dit sy wat anders ruik en anders voel.
Haar vingers gly oor die windpomp se paal, grof van roes en son. Sy onthou toe sy en haar broer Tobie as kinders met bene vol modder daarteen opgeklim het, elke keer terwyl hul ma uit die huis vir hulle geskree het: “Julle gaan val en dood wees!” Maar natuurlik het hulle net gelag. Pa het altyd sy pyp gestop en gesê: “Laat hulle klim. Hulle moet leer wat hoogte is – en soms val ook.”
Ironies, dink sy nou. Want hulle hét geval. Nie fisiek nie. Maar emosioneel. Gesinsbande wat eers onbreekbaar sterk gelyk het, het later begin kraak soos droë klei onder jou voete.
Elna stap stadig na die stoep. Die huis staan leeg. Haar voetstappe eggo toe sy die voordeur oopstoot en na binne stap. Eintlik het niks regtig verander nie – dieselfde gordyne, dieselfde vergeelde foto’s teen die muur, dieselfde voorskoot met die hoenders op wat Ma altyd aan die kombuismuur opgehang het. Maar nou is dit stil. Té stil. Selfs die horlosie teen die muur het intussen ook gaan staan – asof dit ook hartseer is.
Sy gaan sit met opgetrekte bene op Pa se ou rusbank. Die kussings het lankal hul vorm verloor, maar ruik steeds na Tabard en leer. Hier het hy altyd sy middagslapies gevang –sy kierie in die hand en sy honde by sy voete. Radio Kudu se sportuitsending wat vaag in die agtergrond speel. Sy sluk swaar aan die knop in haar keel. Dít was haar pa. Sterk, stram en net sag as niemand kyk nie.
Sy kyk op en sien weer daardie geraamde foto van hulle almal voor die windpomp. Pa het op ’n trekker gesit. Ma het haar arms om al die kinders gehad. Die windpomp was reg agter hulle, soos ’n wag op sy uitkykpos. Haar vingers raak daaraan. Die glas het ’n kraak in die hoek – net soos sy. Sy voel ook gekraak …
Uiteindelik het sy die krag om na die buitekamer te stap – Pa se “skatkamer.” Hier het hy alles gebêre wat vir hom belangrik was. Ou boeke, sy leer gereedskaps-kas, jaargange van Landbouweekblad en bo-oor alles, ’n vet lêer met “Windpomp” in sy bekende manlike handskrif.
Sy maak dit oop. Dit is vol notas: herstelwerk-sketse, waarnemings, windrigting-tabelle. Maar onder in die lêer is daar iets anders – ’n brief. Aan haar! Gedateer ’n maand voor hy gesterf het. Haar asem stol. Sy vou dit versigtig oop, die papier is broos in haar hande:
My liewe Elna,
As jy dit lees, het ek waarskynlik reeds my laaste windstil aand beleef. Ek wou nog vir jou soveel sê, maar ek weet jy hou nie van afskeid nie.
Ek wil net hê jy moet weet – ek het nooit spyt gehad oor hoe ek dinge gedoen het nie, al het ek foute gemaak. Jy het my altyd anders laat dink. Jy was my kind met soveel vrae, met wysheid in jou oë en met ’n hart wat te veel voel.
Jy is soos die windpomp; altyd op soek na beweging, altyd draaiend, al waai die wind nie altyd saam nie.
Moet nooit dink ek het nie gesien hoe jy streef nie. Ek het. En ek is so trots. Vat die plaas as jy wil, hou dit of verkoop dit. Dit is nie die grond wat saak maak nie. Dit is die onthou. En die plaas is nou joune om te hou of los te laat.
Groete aan die wind,
Pa
Elna druk haar hand teen haar bors. Dit is nie net haar trane wat haar oë brand nie, dit is ’n sagte vrede, ’n aanvaarding wat in haar neersak soos die laaste sonstrale oor die stoep. Die brief is meer as net woorde – dit ’n brug tussen twee wêrelde.
Die volgende oggend is sy vroeg op. Sy maak koffie en gaan sit op die stoep. Sy kyk hoe die wind begin roer. Die meul kraak stadig, soos ’n ou man wat sy bene rek. Elna glimlag. Die wind het gekom. En sy weet: so het Pa altyd weer begin. Elke oggend met ’n nuwe wind. ’n Nuwe dag.
Later klim sy op die laaste sport van die windpomp se leer – haar bene is styf, haar asem kort. Maar sy moet sien – van bo af sien. Toe sy opkyk, is die wêreld wyd voor haar uitgestrek. Die son breek oor die grasvlaktes, en die skadu’s van tyd raak sag.
Sy draai stadig om en toe sy afkyk, sien sy die eerste treë wat sy gaan neem. Nie terug nie – maar vorentoe, met Pa se stem soos ’n eggo in die wind. En die windpomp draai.
’n Jaar later.
Die plaas het sy gehou. Sy het gekies om dit te laat herleef en nie te verkoop nie. Die ou huis is nuut oorgeverf, nie heeltemal wit nie, maar roomkleurig met olyfgroen vensterrame. Net soos Ma dit altyd wou hê. Die stoep het nou nuwe klipteëls. Die rusbank het op sy pos bly staan. Elna het begin skryf – oor plaasstories, oor haar pa en oor wind.
Haar ouboet kom kuier gereeld vir haar. Sy kinders hardloop nou kaalvoet in dieselfde stof as hulle destyds. Elna het vir elkeen ’n windpomp gemaak – van blikkies, draad en baie liefde. Hulle draai nie perfek nie, maar hulle draai.
Soms, as die wind saggies waai, gaan sit sy onder die groot ou akkerboom en luister hoe die meul kraak. Dit is nie meer klagtes nie. Dit is ’n gesels.
En wanneer mense haar vra hoekom sy gebly het, sê sy net: “Dit is hier waar tyd stadig loop. En ek het dit nodig gehad om my eie skadu’s te sien – en te vergewe.”
Want tyd genees nie altyd nie. Maar dit lig die skadu’s, een straaltjie op ’n slag.
En die windpomp bly draai.
©MarleneErasmus
20/07/2025
(1134 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek