hoe die skadu’s val (Goud)
ek wil laat-aand notas maak
oor die tydloosheid wat kleef
aan elke verbygaande generasie
ek wil teruggaan in tyd
en eenbeentjie speel tussen die vervaagde lyne
van toe-en-nou-en-vergeet-en-onthou
ek wil nooit ophou wonder oor die ritme van tyd nie
dít behoort g’n gemeet te word met die tik van wysters nie
maar met die asem-in-asem-uit van die lewe self
ek wil dink oor tye in my lewe ~
sommige vol lig, ander vol lang-arm skadu’s
en onthou dat skadu nie sonder lig kan bestaan nie
ek wil retories vra…
word lewens gerig
deur hoe flou of fel die lig skyn, of…
deur hoe die skadu’s van tyd oor harte val?
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek