kinderdae (goud)
kinderdae
wanneer tyd gemeet word aan hanekraai
en die eerste strale van ’n goudgeel son
wat langsaam oor die veld gekruip kom
wat lui swaai aan die nekke van kalwers,
deur kraalmure en bakkie-tralies glip
en langbeen sit in die skadu’s van witgatte
dis kaalvoetspore teen rooi duine,
duwweltjies en koffie en boerbeskuit
en die reuk van nat grond en suurgras,
lanolien en lusern
dis volroommelk uit ’n emmer,
brood met sagte vet en kaiings,
pampoenkoekies en gemmerbier
in ’n ruim kombuis
warm van liefde en Aga-hitte
dis stiltes en ooptes en eenvoud
en loom middae op ’n stoep
as tortelduiwe gebede oor die werf roep
dis stories en sterre
en raak saans oud op rûe
onder die koepel van die Melkweg
op aande stil soos ’n plaasdam
dis die lang dae en kort jare
in die goue uur van kindwees
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek