Te veel eindes
daar is net te veel eindes aan die afloop van ‘n tog
te veel eras wat in flikkering vervaag
dis ‘n skreiende verdelgende versmoring van talent
waar die logos se beskutting
ontbloot staan in die wind
deur die skeure van ‘n moëe en deurleefde aardse tent
daar’s net te veel gedagtes in die serebellum lob
te veel dinge om in eenvoud te bedink
dis ‘n lukrake ontkenning van die plowwe van paniek
waar eertydse vermoëns
tanend afwaarts buig
soos die hange van die helling van ‘n hiperbool grafiek
daar’s net te min maniere om nog ure te bekom
te veel planne om deur uitvoering te gaan
dis ‘n bloudruk vir die ploeter van verderwing en verval
waar vroeë vlymskerp vingers
nou kromheid moet verduur
en behendigheid na traagheid
in sy uiterste oorhel
ja daar’s heeltemal te veel tot niete aan’t gebeur
in die skadu’s wat skrikwekkend lê en loer
maar al is daar’s leemtes langs geraamtes in die kaste ingegroef
in al die grade van die hoeke van ‘n uur
skryf ek nog steeds
met elke opkoms
van die skitterende son
die woorde van genade
ek is hier
Andries Fourie
15.12.2024
3 Kommentare
-

Tearlach
Dit druis teen my gedagtes op dat mense net die einde wil sien terwyl daar 'n hele oneindigheid vir hul voorlê. Baie moi vers.
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek
Lewer Kommentaar
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Christa D
Besondere skrywe