Tyd is geld
Brons
1198 woorde
Hermien kom opgewonde by die kombuisdeur ingebars. “Mamma!! Ek is gekies!”
Magdel draai verskrik om van die stoof waar sy besig is met aandete. “Stadig nou! Waarvan praat jy? Middag my kind”.
“Hello ma, skuus ma, maar ma, ek is gekies! Ek gaan Juliet speel in die skool se operette. Die hoofrol mamma!!”
Met ‘n effense frons tussen haar wenkbroue neem Madgel die brief op ‘n amptelike skool vorm by Hermien. Terwyl sy lees groei die glimlag van trots op haar gesig. “Baie geluk my kind. Mamma is so trots op jou.”
“Dankie mamma. Ek gaan seker nou in die middae bietjie later by die skool bly vir oefening. Ons oefen elke dag na atletiek.”
“Maak net seker jou skoolwerk lei nie daar onder nie.”
“Ek belowe. Ons het juis so baie huiswerk by ou Pruim gekry”.
“Ek wil liewer nie die details hoor oor daardie bynaam nie, maar ek neem aan dis vir wiskunde. Nou toe, gaan was jou hande dat ons kan eet. Dan kan jy rustig huiswerk doen terwyl ek stryk.”
Later gaan maak Magdel seker dat Hermien slaap. Sy pak solank haar kos vir more se skool en sit sommer iets ekstra in vir die lang middag. Nadat sy seker gemaak het al die deure is gesluit, skakel sy die ketel aan vir ‘n laaste koppie tee. Sy gaan sit langs die kombuistafeljie en lees weer deur die brief.
Hoe moet sy vir haar kind sê dat daar nie geld is vir hierdie droom nie. Hermien sien al die hele jaar uit na die operette en sy weet dat daar ‘n blink toekoms wag vir haar langbeen nagtegaal, maar hoe gemaak?
Die woede wat sy al so lank onderdruk wel weer in haar binneste op. Sy is nie onaantreklik nie, beslis nie onnosel nie, maar sy nie kompeteer met die wulpse twintig jariges wat by Manie se kantoor gewerk het nie. Hy, wat aanvanklik daarop aangedring het dat sy haar werk los en voltyds ma wees, het haar daaroor begin verwyt. Hoeveel aande het hy later en later huis toe gekom, tot die een aand. Dit was Hermien se tiende verjaarsdag. Daardie aand het hy glad nie huis toe gekom nie.
Die verskonings was altyd dieselfde. Ek moet lang ure werk om vir jou en die kind te sorg. Nooit Hermien nie. Net, die kind. Hoe anders sou dinge gewees het as Hermien gebore was as Hermanus. Dis al wat hy ooit van haar wou hê. ‘n Manlike erfgenaam wat sy naam kon dra sodat hy sy pa se besighede kon erf. Dis immers wat die testament bepaal het.
Na die komplikasies met Hermien se geboorte was dit ‘n uitgemaakte saak dat sy nooit weer kinders kon hê nie.
Magdel staan moeg op en vee oor haar oë. Sy is nie eers meer lus vir die tee nie. Sy stap deur hulle klein twee slaapkamer woonstelletjie en maak haar rug reguit. Sy het nou lank genoeg aan die verlede vasgeklou. More gaan sy ‘n plan maak, maar Hermien sal haar drome kry.
Vroeg die volgende oggend sorg Magdel dat sy baie moeite doen met haar voorkoms. Met Hermien by die skool, stap sy by die imposante kantoor gebou van Malan en Rocher in. Die jong ontvangsdame herken haar eers nie, maar skakel dan dadelik die nommer van die binnelyn. “Mnr Malan, u vrou is hier, ek bedoel, Mev Malan is hier… ek bedoel… Ja meneer.”
“Ek is baie jammer mevrou, maar Mnr Malan is ongelukkig besig en sal u nie nou kan spreek nie. Kan ek dalk vir u ‘n afspraak maak?”
Magdel kyk haar kalm aan, maak haar rug nog ‘n bietjie meer reggop. “Nee dankie”. Die jong dame kyk dadelik weer af na haar telefoon wat lui en Magdel gebruik die kans om doodeenvoudig verby te stap na Herman se kantoor. Voor die deur haal sy ‘n slag diep asem en stap dan doodluiters in, asof dit die normaalste ding op ‘n Woensdag more is.
Herman staan met sy rug na die deur. Hy is op sy selfoon en uit die gesprek is dit duidelik nie ‘n besigheidsoproep nie. “Nee, ek sal jou nie kan kom oplaai nie. Sorg dat jy mooi lyk, ek sal jou 8 uur by die Poiseiddon se ontvangs ontmoet. My pa hulle hou nie van wag nie, so wees betyds.”
Hy het skaars die oproep beeindig toe hy omswaai. Duidelik onkant gevang weet hy eers nie wat om te sê nie. As daar nie ‘n ernstige saak was wat bespreek moes word nie, sou sy die hele petalje baie amusant gevind het.
“Magdel! Wat maak jy hier? Ek dog dan ek het dit duidelik gemaak dat ek besig is.”
“Hello Manie. Wel, ongelukkig kon ek nie wag tot dit vir jou geleë is om my in te pas in jou besige skedule nie. Ek is hier oor ‘n ernstige saak.”
“Nou maar sit dan, maar dit gaan vinnig moet wees. Ek het ‘n klient wat oppad is.”
Dit verg al Magdel se selfbeheersing om nie haar humeur te verloor of erger nog, te klink of sy voor hom kruip nie. Sy vertel vlugtig van Hermien se prestasies en hy lyk meer gesteurd as geinteresseerd. “Ja ja, kom tot die punt. Hoeveel geld wil jy hê”?
Magdel byt dit binnekant van haar lip so hard dat sy die bloed in haar mond kan proe. “Ek wil niks geld van jou hê nie Manie, maar jou dogter het vier rokke nodig vir die operette. Aangesien dit baie spesifieke rokke is, sal ek dit self maak, maar gaan die materiaal nodig hê. Afgesien daarvan, gaan sy ook klere nodig hê vir haar Matriekafskeid. Ek weet jy voel R2000 elke maand behoort genoeg te wees vir ons albei om van te lewe, maar hierdie is nie 1980 nie. Daar is addisionele uitgawes.”
Manie het intussen opgestaan en vir hom ‘n koppie koffie geskink, sonder om eers daaraan te dink om vir Magdel ook een aan te bied.
“Syfers Magdel!! Jy weet ek werk met syfers!”
“Ek glo ek sal alles kan doen, insluitend haar matriekafskeid se uitgawes vir R5000.”
“Dis verregaande!!! Wat wil jy met soveel geld doen?”
“R2000 is vir die vier rokke wat ek sal maak. R2500 is vir haar matriekafskeid rok, skoene, handsak en juwele en die res sal wees vir haar salon afspraak. Sal ek vir jou die strokies bring sodra ek klaar is?”
Magdel kan nie glo dat sy so kalm en in beheer gebly het nie. Haar stem het nie eers een keer gebewe nie.
“Ek sal dit vir jou teen die einde van die week oorbetaal. Maar nou moet jy my verskoon. Ek is besig. Ons almal het nie die luukse om heeldag te sit en niksdoen nie.”
Magdel knik net haar kop, draai om en stap na die deur. Voor sy uitgaan, kyk sy terug en laat val ‘n baie kalm, “dankie”, voor sy die deur hard agter haar toemaak.
Met dieselfde kalmte stap sy by die gebou uit en hou net aan stap. Sy kom uiteindelik by ‘n klein koffiewinkeltjie wat sy nog nooit voorheen gesien het nie. Sy stap in gaan sit by ‘n tafeltjie in die hoek en bestel ‘n cappuchino. Toe sy opkyk sien sy ‘n advertensie teen die toonbank. “Pos beskikbaar as bestuurder van besige koffiewinkel. Kontak eienaar.”
Op die ingewing van die oomblik stap Magdel na die badkamer. Sy kyk lank na haarself in die spieel en maak seker haar lipstiffie is nog reg. Selfversekerd stap sy na die dame agter die toonbank en vra of sy dalk met die bestuurder ‘n afspraak kan maak. Voor enige een van hulle ‘n verdere woord kan uitkry praat ‘n man skielik agter haar. “Dit sal nie nodig wees nie, dankie Lizzy, tyd is geld.” Hy steek sy hand na haar uit. “Paul Maritz.” Magdel is eers van stryk gebring, maar ruk haarself blitsvinnig reg. “Magdel Malan. Goeiedag”. Paul kyk haar ‘n oomblik vreemd aan, maar stap dan na sy kantoor. Magdel weet nie regtig of sy moet wag of hom volg nie. “Wel, wou jy my spreek of nie?”
Magdel stap vinnig deur na die kantoor en gaan staan voor die lessenaar wat iewers in die vorige eeu dalk dae van minder chaos beleef het. Paul kan presies raai wat deur haar gedagtes gaan en tik met sy vingers op die tafel. Tik-tok, tyd is geld. Waaroor wou jy my spreek juffrou, mevrou?”
“Magdel” laat sy met ‘n bietjie meer sekerheid hoor. “Ek verneem dat u ‘n pos beskikbaar het. Ek sou graag wou aansoek doen”.
“Het jy ‘n CV saamgebring?” “Uhm, nee, maar ek kan u verseker dat u nêrens iemand meer hardwerkend of betroubaar sal kry nie. Ek is uiters gesteld op stiptelikheid, higiene en ek kom baie goed met ander mense oor die weg.”
“Magdel, hierdie is nie sommer net ‘n gratis koffie stop werkie nie. Buiten die koffiewinkel, het ek ook nog verskeie ander ondernemings in die stad en ek kan nie bekostig om my oor die daaglikse doen en late van elkeen te bemoei nie. Dis waarom ek bestuurders aanstel. Indien jy hier sou werk, sal jy ook gelykdtydig optree as my persoonlike sektretarese. Ek het iemand hier nodig wat kan raakvat en nie nodig het om elke tien minute iewers anders te wees om ‘n snot neusie af te vee of ‘n skool funksie by te woon nie. Die ure is Maandag tot Vrydag 7:30 tot 17:00. As hierdie dinge vir jou te veel klink, dan kan ek nou al sê, dis nie die pos vir jou nie. Wie doen in elk geval aansoek vir ‘n pos sonder ‘n CV?”
“Mnr Maritz, ek ‘n dogter van 17 jaar oud wat tans in matriek is. Ek het haar uiters selfstandig groot gemaak, so kinders is nie ‘n probleem nie. Ek het tans geen CV nie, want ek het die afgelope 17 jaar bestee om vir Hermien die beste kans op die lewe te gee. Ongelukkig het haar pa nie dieselfde toewyding wat haar betref nie, en hy het uit ons lewens gestap toe sy 10 jaar oud was. In hierdie tyd het ek van tyd tot tyd afgelos by verskeie maatskappye in verskillende departemente, maar ek kon nooit verseker wees van ‘n voltydse pos nie. Ek het pas uitgestap uit die kantoor van ‘n man wat my sekerlik daar sou uitsmyt as dit nie sy beeld sou skade berokken nie, maar het my voorgeneem dat ek nooit weer in sy oë sal kyk vir finansiële steun nie. Ek besef dat ek dalk nie lyk soos u deursnee kandidaat nie, maar ek verseker u, dat daar in hierdie hele stad, geen beter persoon is om aan te stel nie. Ek sal met groot vrymoedigheid vir u die nommers van al die vorige bestuurders kan gee waar ek al uitgehelp het en hulle sal dit kan beaam. “
Paul het nie hierdie reaksie verwag nie en is vir ‘n oomblik op die agtervoet. “Gee jou nommer en CV vir Lizzy en ek sal deur die volgende dag of so kontak maak.”
“Baie dankie Mnr Maritz”. “Paul” help hy haar reg.
Magdel stap terug na haar tafeltjie in die hoek en meteens bewe sy soos ‘n riet. Waar het dit alles vandaan gekom? Sy het vanmore opgestaan met ‘n drif in haar om vir Manie te konfronteer en nou raak sy impulsief en doen aansoek vir ‘n permanent pos. Die kelner sit haar cappuchino voor haar neer en sy besef dat sy nie eens die koppie kan optel nie.
“Is alles reg mevrou?” vra Lizzy wat intussen nader gestaan het. “Ek belowe Paul is nie rerig so grompot nie. Hy hou maar die front voor. Hy is eintlik ‘n softie. Hy het gevra dat ek kom hoor of mevrou dalk volgende Maadag begin.
Trane loop oor Magdel se wang. Lizzy, ons gaan baie lekker saamwerk. Soos Paul sê, tyd is geld en ek het lank genoeg in die skadu van ander mense se velede en geld geleef.
@Audrey Bierman 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek