Mirelle
Mirelle
© Elize Ehlers
Onse Vader wat in die hemel is
Laat U Naam geheilig word
Laat U koninkryk kom
Laat U wil geskied
soos in die hemel, net so ook op die aarde
Gee ons vandag …
Mirelle bid hardop terwyl sy al dieper die see instap.
Dokter Eben voel heerlik verfris en skud die water uit sy hare. Sy bultende spiere laat hom eerder na ʼn jong liggaamsbouer lyk as ʼn ses-en-dertigjarige dokter. Hy staar na die branders wat mekaar ritmies opvolg. Die gebruis het nog altyd sy onstuimige gemoed gekalmeer. Met ʼn skok sien hy hoe ʼn fratsgolf ʼn vrou se voete onder haar uitruk en meesleur. Sonder aarseling spring hy op en swem met lang hale nader om haar te red. Die golwe het intussen rowwer geword en hy sukkel om haar in ʼn behoorlike greep vas te vat. Hy gryp haar onseremonieel aan haar hare wat bo-op haar kop vasgebind is in ʼn poging om haar uit die malende waters te red. Toe hy sand onder sy voete voel, dra hy haar met gemak tot op die strand waar hy onmiddellik noodbehandeling toepas. Sy hoes en spoeg ʼn klomp seewater uit, maar maak nie haar oë oop nie. Sy mompel net ʼn klomp goed wat nie sin maak nie en verloor dan haar bewussyn. Dit is eers toe Dokter Eben haar optel om hospitaal toe te neem, dat hy tot die besef kom dat sy ten volle geklee is. Wat sou die vrou besiel het om selfmoord te probeer pleeg!
Hy laai haar in sy motor en jaag met haar hospitaal toe. Hy roep dringend na Suster Beth terwyl hy nog besig is om aangehardloop te kom. Suster Beth het hom egter reeds sien aankom met die vrou in sy arms en ontmoet hom met ʼn trollie by die ongevalle-afdeling.
“Trek asseblief haar nat klere onmiddellik uit en draai haar toe in komberse! Roep ʼn verpleegster dat sy warmsakke bring!” beveel hy. “Roep my as sy wakker word. Sy gaan definitief nie dankbaar wees dat ek haar lewe gered het nie.”
Suster Beth is al gewoond aan sy kortaf manier van praat en gaan rustig en bekwaam voort met haar taak. Sy ruk haar asem in en staar geskok na die vrou. Daar is oral letsels as gevolg van snymerke wat ooglopend inderhaas geheg is. Arme vrou, geen wonder sy wou selfmoord pleeg nie. Noudat haar hare weg is uit haar gesig, sien sy die aaklige letsel op haar voorkop ook. Sy roep dringend na Dokter Eben. Hy het Suster Beth nog nooit in so geskokte toestand gesien nie. Sy is altyd kalm en in beheer van enige situasie. Sy kry nie ʼn woord uit nie, lig net die komberse op en wys na die vrou. Dokter Eben se oë rek groot. Hy doen dadelik ʼn sonar, neem X-strale en doen ook bloedtoetse om vas te stel wat haar algemene gesondheidstoestand is.
Wat Dokter Eben gevrees het, gebeur. Die vrou het long-ontsteking opgedoen. Sy is passief en antwoord op niemand se vrae nie. Een van die leerlingverpleegsters, Bessie, wat haar konstant moet oppas, babbel aanmekaar.
“Dit is ʼn heerlike sonskyndag. Sodra jy beter voel sal ek jou uitneem. Jy kan die see hiervandaan sien, weet jy. Toemaar vroutjie, jou babatjie het niks oorgekom nie. Oor sewe maande is jy die trotse mamma van ʼn baba-seuntjie.”
Die vrou word doodsbleek en spring regop. “Baba? Watse baba?” gil sy ontsteld.
Die leerlingverpleegster wat nou ook doodsbleek is, hardloop verskrik uit en roep dringend na Suster Beth.
“Wat is dit, Bessie? Vir wat skree jy so? Jy ontstel die ander pasiente!”
“Ek het haar net vertel dat haar babatjie okey is, toe begin sy op my te skree!”
Dokter Eben wat in die nabyheid was, hoor ook die gille en storm nader. Suster Beth vertel hom wat gebeur het.
“Verdomp!” swets hy. Hy wou eers nog ʼn bietjie gewag het voordat hy met haar oor die baba praat. “Suster, kom sien my dadelik in my kantoor.”
“Ek is so jammer, Dokter. Ek weet nie hoe Bessie te hore gekom het van die baba nie,” sê suster Beth ontsteld.
“Toemaar, dit is nie jou skuld nie. Ons moet in die toekoms meer versigtig wees. Maak asseblief die deur toe. Ek het intussen haar ouers opgespoor. Hulle staan vas by die besluit dat die baba eers geaborteer word alvorens hulle haar besoek. Die woord ‘ongehude moeder’ bestaan nie in hul woordeskat nie.”
Suster Beth staar hom geskok aan.
Die maatskaplike werker praat simpatiek met Mirelle. Sy bevestig dat sy, sedert die brutale aanval, traumabehandeling ontvang, maar nadat die verbande verwyder is, het die letsels vir haar net te veel geraak om ook te hanteer. Sy huil troosteloos en weier om die baba te aborteer. Sodra sy geboorte gegee het, sal sy dit dalk oorweeg om die baba op te gee vir aanneming.
Dokter Eben, wie se ouers reeds ʼn geruime tyd oorlede is, se vakansiehuis wat naby die hospitaal geleë is, staan leeg. Hy het nog nie besluit of hy die plek wil verkoop of nie en bied aan dat Mirelle voorlopig daar tuisgaan. Hy stel ’n geselskapsdame aan om ʼn ogie oor haar te hou en om te verseker dat sy voortgaan om sielkundige behandeling te ontvang.
Sy het intussen vir Dokter Eben, wat ʼn gereelde besoeker is, vertel wat gebeur het. Sy is ʼn nagraadse student wat saans klas geloop het. Sy het graag gestap. Een aand, oppad huis toe, is sy aangeval en vir dood agtergelaat. Die dokter by die noodeenheid wou vir haar ʼn voorkomings-pil gee vir ingeval sy swanger raak, maar sy het geweier. Sy was naïef genoeg om te glo dat dit nie met haar sou gebeur nie.
Suster Beth, wat soos gewoonlik teetyd gereed staan met Dokter Eben se tee en verversings, verneem by hom na Mirelle se geestestoestand. Sy is besorg oor die groeiende vriendskap tussen hulle. Sy hoop nie dat Mirelle sy hart gaan breek nie.
Hy stap een laatmiddag weer na Mirelle toe. Sy sit op die stoep, besig om ʼn blou baba-baadjie te brei. Daar is ʼn sagte uitdrukking op haar gelaat. Haar rooi-bruin hare maak vuurvonkies as die son daarop skyn. Noudat sy ʼn kuif laat knip het wat die letsel op haar voorkop bedek, lyk sy asemrowend mooi. Sy hart bokspring.
“Hallo, pragtige meisie. Ek het nie geweet jy kan brei nie!” Hy buig vooroor om beter te kan sien.
Sy ruik sy naskeermiddel en voel hoe sy bloos. Daar is vlinders in haar maag.
“Die truitjie lyk maar bietjie klein, jong! Ek dink hy gaan ’n bulletjie wees!” Sy kyk op en hy sien die blos op haar wange. Sy hart klop vinniger. Hy wonder of sy dalk ook aangetrokke tot hom voel? “Ek … ek … eh … moet nou ongelukkig teruggaan hospitaal toe.”
Terwyl hy terugstap besef hy dat hy al lankal besig is om meer vir haar te voel as net gewone vriendskap, maar weet dat dit nie naastenby die regte tyd is om dit vir haar te sȇ nie.
Op ’n dag toe hy haar weer gaan besoek, staan daar ʼn vreemde motor voor die vakansiehuis geparkeer. Hy stap nader, maar versteen as hy Mirelle in die arms van ʼn ander man sien. Wat hy nie sien nie, is dat sy probeer loskom uit sy greep. Hy draai om en loop bedruk terug hospitaal toe. Dawid, Mirelle se gewese verloofde, is die draer van slegte nuus. Haar ouers het albei omgekom in ʼn motorongeluk. Sy is hulle enigste dogter en daar is geen ander familie nie. Dawid het dit op hom geneem om haar in te lig. Die begrafnis vind oor ʼn week plaas.
Hy besoek haar elke dag, maar sy stel openlik nie meer in hom belang nie. Hy is egter met ʼn missie daar en laat hom nie so maklik van stryk bring nie. Hy het hulle verlowing verbreek omdat hy nie saam met ʼn geskende meisie in die openbaar gesien wil word nie. Hy het intussen besluit om ter wille van die fortuin wat Mirelle gaan erf, met haar te trou. Hy kyk met afgryse na haar. Sy het ʼn kortmou rokkie aan en is boonop in ʼn gevorderde stadium van haar swangerskap. Hy sien egter selfs kans vir die baba ook. Die letsels kan mettertyd herstel word met plastiese snykunde. Die feit dat daar alreeds iemand anders in sy lewe is, maak skielik nie meer saak nie. Hy het haar onmiddellik versaak toe hy hoor van Mirelle se ouers wat skielik oorlede is. Mirelle is so hartseer dat sy nie agterkom dat hy net ʼn rol speel nie.
Dokter Eben is egter nie onder ʼn kalkoen uitgebroei nie. Hy kom dadelik agter die kap van die byl en besluit om Dawid by die hotel te konfronteer. Dawid, wat reeds agtergekom het hoe die wind waai, grinnik vir Dokter Eben wat hom vyandig aankyk.
“Mirelle gaan nie saam met jou huis toe nie, ek sal haar sélf neem,” sê Dokter Eben. Hy kners op sy tande om hom nie te vererg vir die windlawaai nie. Toe Dawid egter weer ʼn snedige aanmerking maak, gryp Dokter Eben hom aan die bors en gee hom ʼn opstopper.
Mirelle is baie ontsteld toe sy Dawid se blou oog sien. Sy is nie ʼn voorstaander van geweld nie en is hom simpatiek gesind. Dit pas so mooi in sy kraal.
By haar ouerhuis staan al die personeel eerbiedig in ʼn ry om haar welkom te heet en hulle simpatie te betuig. Die hoofkok, tannie Kotie, vir wie sy nog altyd ʼn baie sagte plekkie gehad het en wie sy nog altyd in haar vertroue kon neem, klop liggies aan haar kamerdeur. Tannie Kotie lyk ongemaklik.
“Kan ons bietjie praat, Kindjie?” vra sy.
Mirelle is woedend toe sy van Tannie Kotie verneem dat Dawid sy vriendin, wat ook swanger is, versaak het. Toe hy haar weer besoek stuur sy hom summier weg. ʼn Paar dae na die begrafnis besluit Mirelle om die huis te verkoop. Sy wil Dokter Eben ʼn aanbod maak om die vakansiehuis te koop.
Dit was ʼn moeilike geboorte, maar met Dokter Eben en Suster Beth se aanmoediging gee sy geboorte aan ʼn pragtige baba-seuntjie wat op ʼn druppel na soos haar pa lyk.
Dokter Eben is weer ʼn gereelde besoeker. Die baba is al ses maande oud en steek sy armpies na hom toe uit om opgetel te word. ‘Die klein karnallie’, dink hy met ʼn glimlag. Die volgende oomblik is daar ʼn harde klop aan die deur. Dit is Sersant Klopper wat die saak van verkragting en poging tot moord ondersoek. Terwyl hulle koffie drink meld die sersant dat hulle die verdagte aangekeer het. Hulle het DNA toetse gedoen en dit blyk ooreen te stem met DNA wat op haar klere is. Hy het haar net kom inlig wanneer die hofsaak gaan voorkom. Sy hoef nie noodwendig teenwoordig te wees nie.
Nadat die sersant vertrek het, vertel Dokter Eben vir Mirelle wat by die hotel gebeur het. Dan vertel hy haar ook dat een van sy pasiёnte op die operasietafel gesterf het. Hy het daarna besluit om langverlof te neem. Toe die pos as superintendent by die vakansiedorp se privaathospitaal vakant geraak het, besluit hy om daarvoor aansoek te doen. Hy praat ook ernstig met haar om dit te oorweeg om die letsels te laat herstel. Sy vriend is ʼn uitstekende plastiese snykundige. Tot sy verbasing stem sy geredelik in. Hy maak aanstaltes om huis toe te gaan. Mirelle stap saam met hom tot by die voordeur.
“Jy is so pragtig!” prewel hy. Hy neem haar teer in sy arms en soen haar innig. Mirelle soen hom met net soveel passie terug. Hy moet homself beheer om dit nie verder te neem nie.
Dokter Eben neem Mirelle een aand uit na ʼn spog-restaurant. Na ʼn heerlike maaltyd verdwyn sy hand in sy sak en hy haal ʼn swart dosie uit. Mirelle se hart klop in haar keel. Hy steek die mooiste diamantring ooit aan haar vinger. Hy kyk haar diep in die oë en vra haar om met hom te trou … verkieslik vóór die operasie. Hy verseker haar van sy liefde en beklemtoon dat die letsels geen verskil maak aan sy gevoel vir haar nie.
Mirelle is ekstaties! Twee weke daarna vind die troue in die hospitaal se kapel plaas. Sy is ʼn stralende bruid. Die komende operasie verhoed hulle egter om op ʼn wittebrood te gaan, maar Dokter Eben belowe Mirelle dat sodra haar wonde genees het, hy haar na die Seychelles toe sal neem vir ʼn hele maand.
Tannie Kotie, wat haar ouerhuis se kok was, word aangestel as huishoudster. Sy is in die sewende hemel en bederf klein Deon tot in die afgrond toe.
Dit is sewe maande later. Mirelle was baie dapper gewees en het die pynlike operasies gelate verduur. Daar is nog hier en daar ʼn letseltjie wat nie chirugies herstel kon word nie, maar andersins lyk sy pragtig in haar bikini waar hulle wittebrood hou by die beloofde Seychelles.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.