LOOP DIE PAADJIE IN JOU LABIRINT TOT BY SY MIDDELPUNT
Pieter kuier op ’n vriend se plaas in die Kalahari. Hy is ’n emosionele wrak nadat hy hierdie einste vriend van hom traumaties aan die dood moes afstaan. Hy is nie lus vir mense om hom wat gedurig lastige vrae vra nie. Hy wil net alleen gelaat word. Pieter stap buitentoe en gaan sit op ’n stomp onder ’n reuse Kameeldoringboom.
Na bykans veertig jaar, sit hy weer, hierdie keer alleen, in die Kalahari onder dieselfde Kameeldoringboom waaronder hulle destyds as kinders gespeel het tydens skoolvakansies. Sy oë gly oor die saggolwende duineveld wat voor hom uitgestrek lê. Ikonies kontoer haar rooibruin sluier bewondering in die spieëls van sy oë. Dit voel asof hy omhels word deur die stilte van die Kalahari om hom. Kyk hoe uitbundig dans die hittegolwe op haar duinesee. Hoe salig! Is dít nou nie genade nie? dink Pieter.
Skielik kom die woord ‘labirint’ in sy se gedagtes op. Wat sou dit beteken? wonder hy. Sover sy kennis strek is ’n labirint ’n geometriese patroon met net een enkele voetpad, wat stadig na die middelpunt daarvan wentel. Anders as by ’n doolhof of ’n dwaaltuin, het ’n labirint geen doodlooppaadjies nie.
Sou ’n mens dan op grond hiervan kan redeneer dat ’n labirint, ’n ‘meduim’ tot introspeksie is wanneer ’n persoon ’n dialoog met homself voer, wonder Pieter. Dan begin hy inderdaad wel ’n gesprek met homself voer.
“Kyk, na die Kalahari om jou, Pieter. Sy lê uitgestrek in haar rooibruin kleed, en dit is asof jy haar kan hoor asemhaal in die wind. Daar is ’n rustige nostalgie in haar saggolwende duine.”
Pieter stap ’n ent die duine in en voel die krakies van die sand onder sy kaalvoete. “Dít, is Kalahari-kreukels,” dink hy hardop, “gevorm deur die emosionele winde van verandering in die sandduine van die Kalahari.” Hy kan die heimweë van sy herinneringe hoor in die klaaglied van die wind.
“Kyk mooi Pieter,” hoor hy die stemmetjie in sy binneste, “sien jy wat ek sien?”
Waar die winde buit, stryk sy haar emosionele kreukels uit. Wat ’n lewensles. Pieter sien biljoene korreltjies sand wat hul weg vind, ordelik geskakeer in die soom van haar uitgestrekte saggolwende rooibruinkleed.
Dan hoor Pieter homself hardop bid: “O, ewig uitdyende kleed van die Groot Almagtige. Só lê die uitgestrekte emosionele kreukels van my lewe. Ja Heer, naak en week, uitgelewer aan die helende waaisand van U onbegryplike groot genade. Een asemteug soos ’n korreltjie van haar sand; een kreukel in die holte van U hand. Uitgestrek soos die rooibruin kleed van die Kalahari lê my lewe gegraveer in die holte van U hand.
Pieter sluit sy oë en kon letterlik voel hoe die sand en die wind oor die seer van sy emosies spoel. Die skerp ruik van die Kameeldoringpeule was soos wierook wat sy neusvleuels opgesuig word.
Dan hoor Pieter ’n rustige en vertroosende Stem in die huil van die wind: “Pieter, loop die paadjie in jou labirint. Ek wag vir jou by sy middelpunt.”
———————————-oo00oo——————————-
©Pieter Mostert (16/03/25) [silver]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek