Deur die oog van ‘n naald
Deur die oog van ’n naald
Die ordenant beveel alle teenwoordiges in die hof om op te staan. Die regter kom binne, neem sy sitplek in en versoek almal om te sit. Almal se oë is op Darius wat kop onderstebo sit… bitterheid wel in hom op.
Die senior rekenmeester het bedrog gepleeg en die skuld heel vaardig na Darius geskuif. Bewyse dui daarop dat Darius nooit die maatskappy se belasting aan SARS oorbetaal nie. Hoewel die geld nooit opgespoor is nie, is die bewyse teen hom verdoemend.
Die regter beveel Darius om vir die vonnisoplegging op te staan. Die hof raak stil, spanning tasbaar. Darius word skuldig bevind tot twee jaar tronkstraf, sónder parool! Almal snak na hul asems terwyl die regter drie keer met sy hamertjie slaan en verklaar: “Hof verdaag!”
Darius kyk om terwyl hy weggelei word en sluk swaar toe hy sy moeder sien huil. Familie, vriende, kollegas en diegene van die sopkombuis, waar hy vrywillig was, bly geskok sit. Niemand weet hoe om te reageer nie. Darius, ‘n getroue kerkganger, was geliefd en bemind by die aftree-oord se siekeboeg. Hy het elke maand groente en vleis vir die sopkombuis geskenk, soms sy toebroodjies met bedelaars gedeel en in die winter komberse vir boemelaars gegee. Iewers is daar groot fout, maar bewyse lieg nie!
Hy word begelei na ‘n gevangenis ver weg van sy tuisdorp. Daar verwissel hy sy netjiese pak klere vir ‘n tronk uitrusting. Alle persoonlike items word saam met sy klere in ‘n sak geseël. Die hoofbewaarder lig hom deeglik in wat die protokol en reëls is wat gevolg moet word. Daarna begelei ‘n bewaarder hom na sy sel waar die boeie afgehaal word.
Dan tref die harde werklikheid van tronklewe hom. Sommige gevangenisse staar hom met uittartende-, uitdagende- en vyandige blikke aan. Darius se hart klop in sy keel. Hy kyk liewers af grond toe, dit is beter om nie oogkontak te maak nie.
Hy is baie versigtig met wie hy omgaan. Nie dat eintlik altyd moontlik is nie. Daar is maar gedurig konflik en rusies. Hy sluit dadelik by ‘n Bybelstudie-groep aan. Alhoewel hy nog hard teen die prikkels skop omdat hy onregmatig in die tronk beland het, het sy geloof nog nie verflou nie.
‘n Simpatieke bewaarder raak bevriend met Darius. Vir die eerste keer vandat in diens van die gevangenis is, glo hy in iemand se onskuld. Hy het dit sy missie gemaak om Darius na ‘n minder streng afdeling te skuif, waar hy Daan en Martin ontmoet wat in die kombuis werk. Albei laat hom dadelik tuis voel, hulle ruil gedurig stories uit. Hulle vonnis is langer as syne omdat hulle ’n bank beroof het. Dit blyk dat dit uit nood was om Martin se seun se dobbelskuld mee te betaal. Sy seun gee nou sy volle samewerking aan die speurders wat die res van die bende wil vang.
Al is Darius se afdeling minder streng is daar óók gereeld geweldadige rusies. Hy glo dit spruit uit frustrasie. Hy probeer om weg te bly daarvan maar word soms onwillig daarby betrek en kry dan heel onskuldig ‘n opstopper. Hy vertel vir niemand meer hy is onskuldig nie, want hulle spot hom ongenadig daaroor.
Sy hande word grof van skottelgoed was en sy rug voel saans of dit wil afbreek, maar hy begin ook spiere bou. Die tronk is ‘n harde leerskool. Hy sluit by die gimnasium aan sodat hy kan leer om homself te verdedig.
Al waar hy homself kan wees is by die Bybelstudie-groep. Hy het n breë algemene Bybelkennis en word later as die ‘Priester’ aangestel. Almal hang aan sy lippe as hy Bybelververhale vertel en dit verduidelik. Die groepie brei uit, al meer kom luister na sy ‘stories’. Daar is egter iets wat aan Darius krap. Hy wens hy kon die Here weer met oortuiging dien. Sy vertroue in die Here het ‘n knou weg. Hy het soveel goeie dade gedoen. Nooit opsetlike sonde gepleeg nie. Hy hoort nie hier nie! Sy motiewe was altyd suiwer. Hy verstaan nie hoekom die Here dit toegelaat het dat hy onskuldig in die tronk toegesluit word nie. Hy worstel daagliks daarmee. Die tronkbewaarder wat dikwels met hom gesels, moedig hom aan om ‘n kursus te loop om ‘n volwaardige pastoor te word.
Darius se twee jaar tronkstraf loop ten einde. Hy het bultende spiere en het intussen ‘n baard en snor gekweek. Met ‘n bril op sal jy hom nooit vereenselwig met die ou Darius nie. By vrylating doen hy onder ‘n skuilnaam aansoek om werk by sy voormalige maatskappy waar hy aangestel word as ‘n assistent rekenmeester. Sy senior is baie ingenome met ‘Dirk’ se vordering en na drie maande vertrek hy met verlof.
Darius gebruik die geleentheid om ondersoek in te stel na wat twee jaar terug gebeur het. Hy ontdek die senior rekenmeester se verduisteringskema … Hy het twee fiktiewe personeellede geskep, elkeen met sy eie bankrekening, waarna hulle ‘salaris’ oorgeplaas word na ‘n derde bankrekening in die buiteland. SARS se verdwene geld is ook daarheen oorgeplaas. Die plek? Presies waar die boekhouer huidiglik vakansie hou!
Darius skeer sy baard en snor af en maak ‘n afspraak met die bestuurder. Sy mond hang oop toe hy Darius herken. Hy kyk hom fronsend aan, maar toe Darius die bewyse voor hom neerlê spring hy op. Hy gee Darius ‘n stewige handdruk en spreek sy spyt uit omdat hy hom nie destyds geglo het nie.
Die bestuurder is baie ontsteld en roep ‘n speurder se hulp in. Die speurder hou die rekenmeester se bewegings fyn dop. Toe hy na Suid-Afrika terugkeer word hy summier by die lughawe gearresteer.
Darius word die pos as senior rekenmeester aangebied, maar hy het ander planne. Hy sluit hy by ‘n pinksterkerk aan waar hy om die beurt diens doen saam met ‘n heelwat ouer pastoor wat eersdaags wil aftree. Darius is sommer van die begin af baie gewild.
Die krapperigheid wat hy destyds in die tronk ervaar het, krap egter nog steeds aan hom. Hy maak met pastoor Chris ‘n afspraak. Hulle praat in diepte oor wat met hom gebeur het. Hy soek antwoorde vir sy lyding: “Hoekom het die Here dit toegelaat?”
“Jy sien Darius, soos jy reeds eerstehands kennis gemaak het, is die gevangenis vir mense wat opsetlike sonde pleeg, maar pleeg ons nie elke dag ook sonde nie? Daar is nie groot of klein sonde nie … sonde is sonde. Jesus het weliswaar vir ons sondes gesterf, maar dit beteken nie ons kan daaragter skuil en aanneem dat ons nou sondevry is nie. Ons moet opofferings maak. Terloops, Paulus was ook onskuldig in die tronk opgesluit gewees. Hy het, net soos jy, mense na Jesus toe gelei.”
“Ek verstaan dat die Here verleenthede omskep in geleenthede. Die besluit berus by ons wat ons daarmee gaan maak, maar ek verstaan nie hoekom die Here toegelaat het dat ék onskuldig opgesluit was nie. Hoekom moes dit met mý gebeur?!”
Pastoor Chris deel die verhaal van die ryk jong man en die oog van ‘n naald: “Die ryk jong man wou nie wou afstand doen van sy besittings en Jesus volg nie.”
“Ek ken die verhaal, maar begryp nie hoe dit op my van toepassing kan wees nie. Ek het dikwels my laaste sente vir die sopkombuis gegee,” sê Darius nou verward.
Dan vertel Pastoor Chris hom dat Jerusalem sy hekke in die aande gesluit het sodat daar nie skelms kan inkom nie: “As jy wou ingaan, moes jy op jou knieё, sonder enige bagasie, deur ‘n nou opening kruip. Die opening het ‘n naam, dit word ‘Die Oog van ‘n Naald’ genoem. Jy moes jou kamele, met jou bagasie daarop, aan die buitekant van die mure laat om te kan ingaan. Die kamele verteenwoordig rykdom en die bagasie is al die ander goed wat jou kniehalter. Daarom moet ons opofferings maak.”
“Met ander woorde, jou besittings of te wel jou ‘bagasie’ moenie belangriker wees as jou toewyding aan Jesus nie?” sê-vra Darius.
“Dit is reg,” knik Pastoor Chris met sy kop. “Dit is hoekom Jesus gesê het dat ‘n kameel ‘n groter kans het om deur die ‘Oog van ‘n Naald’ te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”
“Ek verstaan nie, as die opening so klein is, hoe kan ‘n kameel dan deurgaan?”
“A-ha, die vraag is nie of dit vir die kameel moontlik is nie, die vraag is of jy bereid is om afstand te doen van jou bagasie… jou ‘bitterheid’ wat skeiding maak tussen jou en Jesus?”
“Ek verstaan nou… ek moet die Here dank vir hierdie lewensles… Hy het my oë oopgemaak… Hy het ‘n ander doel met my lewe gehad… as dit nie gebeur het nie, sou ek nog steeds ‘n rekenmeester gewees het… ek sal ander nou kan aanraak met my getuienis!” roep Darius uitbundig uit.
“Darius, ek tree met gerustheid af,” sê die pastoor met ‘n glimlag.
@ Elize Ehlers
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.