Gesteelde identiteit
Gesteelde identiteit
Malan, skraal, maar seningtaai, trek oudergewoonte met sy vingers deur sy rooi hare in ‘n poging om dit plat te vee. Nie dat dit veel help nie, want met drie kroontjies op sy kop staan sy hare altoos wild. Hy kyk peinsend na die man voor hom. In die twintig jaar as privaatspeurder is hierdie die mees bisarre storie wat hy al ooit gehoor het.
“Meneer Glascouw, vertel my asseblief weer álles, stadiger die keer… Wag, ek sit net eers die bandopnemer aan.”
Die professor gluur hom geïrriteerd aan. Sy kop wil bars van pyn na die twee houe teen sy kop.
“Jy mors kosbare tyd! Sê net as jy my nie glo nie, dan soek ek iemand anders!”
Malan se rooi sproete word effens rooier. Hy kyk na Coen met oë wat ontsag afdwing.
“Bedaar asseblief, Meneer Glascouw. U moet tog saamstem dat hierdie ‘n skrikwekkende verhaal is! Ek moet die feite behoorlik agtermekaar kry voordat ek u tot hulp kan wees!”
***
“Twee vliegtuie het kort na mekaar geland. Ek en Melissa, my verloofde, was op een van die vliegtuie en op die ander een was ‘n gewilde groep krekietspelers wat op die lughawe baie aandag geniet het. Mense het mekaar verdring by die bagasie se vervoerband. …”
“Professor Glascouw!” roep iemand wat ‘n bordjie met sy naam daarop rondswaai.
Coen lig sy hand as erkenning dat dit hy is. Die taxidrywer babbel aanmekaar terwyl hy hulle na sy taxi toe lei. In die gedrang kom die professor nie agter toe iemand sy aktetas van die trollie af steel nie. Hy is ook nie daarvan bewus dat hy alreeds dopgehou word sedert hy op die vliegtuig aanboord gestap het by OR Tambo lughawe nie. …
“My aandag was nie ten volle by ons bagasie nie. Dit was eers toe die taxibestuurder ons by die hotel aflaai dat ek my aktetas vermis het! Ek het aangeneem dat ek die aktetas langs die vervoerband vergeet het toe ek ons ander bagasie op die trollie laai.
My hart wou met angs by my keel uitspring! U moet verstaan dat die doel van my koms hierheen alles in daardie aktetas is! Ek het ‘n taxi voorgekeer en die bestuurder beveel om my so vinnig as moontlik terug te neem na die lughawe. In my haas het ek nie eers vir Melissa ingelig wat aangaan nie!” …
Die taxibestuurder was in sy noppies. Hy is ‘n amateur renjaer en het teen ‘n onbehoorlike spoed tussen die ander motors deurgevleg. Dit was sy kans om te jaag terwyl iemand anders die boete betaal! Ten spyte daarvan dat hy bekwaam genoeg is, het hulle nooit die lughawe bereik nie!
– Coen dwing sy swaar ooglede oop en spartel teen die newels wat dreig om hom weer in te sluk. …
“Ek het my bewussyn eers twee dae later in die hospitaal herwin! Ek kon niks van die ongeluk onthou nie! Die dokter het my ingelig dat die taxi se band gebars het net toe ons oor die brug ry. Die motor het in die rivier beland, ek is glo net betyds gered! Behalwe vir ‘n paar skrape het ek ook harsingskudding opgedoen na ‘n harde hou teen my voorkop! Die taxi bestuurder het dit ongelukkig nie gemaak nie. Daar was dus niemand om my identiteit te bevestig nie!
Later die middag, terwyl ek die nuus op televisie kyk, saai hulle ‘n lewendige onderhoud uit met ene Meneer Glascouw wat ‘n seminaar by die hotel ‘The Palm Tree’ aanbied.
Terugflitse het begin sin maak: ‘Hoe de duiwel kan dit wees!? Ék is Coen Glascouw! Ek het die hotel se naam onthou. En die aktetas! Ek was doodbekommerd oor Melissa ook. Wat sou van haar geword het!?’
Elke blerrie spier in my liggaam het gepyn toe ek aantrek, glo my! Besoektyd was pas verby, dit was dus maklik om tussen ‘n groep besoekers uit die hospitaal te glip.
Dit was sterk skemer toe ek by die hotel opdaag. Daar was ‘n funksie met Meneer ‘Glascouw’ as eregas. Dit is wat die kennisgewingbord in die voorportaal gesê het! Ek was blind van woede! Ek wou hom met alle mag konfronteer, maar die wagte het my by die onthaalsaal se deur voorgekeer. Dit het die sogenaamde Meneer Glascouw se aandag getrek. Hy het hulle opdrag gegee om van my ontslae te raak.
Toe ek agterna skree ék is Meneer Glascouw, het een van die wagte my met sy pistool teen die kop geklits. Polisiebeamptes wat intussen opgedaag het, het my in hegtenis geneem vir rusverstoring. Die stasiebevelvoerder het gedink ek is heeltemal die kluts kwyt en het my soos ‘n misdadiger toegesluit vir die nag!”
***
“En dít is die rede hoekom ek u om hulp kom vra, Meneer Malan. Ek word agtervolg, ek vrees vir my en Melissa se lewens! Ek neem aan hulle dwing haar om in te val met hulle plannetjies! Dit is uiters belangrik om my Aktetas ook terug te kry!”
“Het u enige teorie hóékom u identiteit gesteel is? Wat is sy motief?”
“Ja, ek het ‘n rewolusionêre ontdekking gemaak. Al my navorsing is in my aktetas! Indien daar genoeg belangstelling by die seminaar is, ontvang ek ‘n ruim vergoeding vanaf ons Minister van Landbou.”
“Het u al die Minister gekontak sodat hy hierheen kom om u identiteit te bevestig?”
“Ja, hy het vanoggend geland. Ek sou hom by sy hotel ontmoet het, maar toe ek daar kom wemel dit van die polisie. Iemand het hom doodgeskiet en ek is die volgende slagoffer!”
“Hoekom weet niemand anders daarvan nie?”
“Ek het die navorsing in my eie laboratorium by die huis gedoen. Hierdie bekendstelling in Brisben is net ‘n toetslopie. Ons wou eers seker maak dat daar wel belangstelling is voordat dit wêreldwyd bekend gemaak word. Iemand moes daarvan uitgevind het! Hy het my aktetas gesteel en my identiteit vir homself toegeëien!”
“Dan is dit gewis belangrik dat u uit die oog uit bly! U kan voorlopig by my tuisgaan, maar ons moet net seker maak dat niemand ons agtervolg nie!”
“Baie dankie dat u die erns van die saak insien. Ek sal u uiteraard ruim vergoed. Hier is ‘n foto van Melissa.”
Malan bly op ‘n kleinhoewe waar bome en struike welig groei; hulle bereik sy huis sonder enige teëspoed.
Die volgende dag skuil hy voor The Palm Tree hotel. Hy sien toe Melissa uitkom, vergesel deur ‘n wag. Hy agtervolg hulle tot by die kunsmuseum. Malan drentel ongemerk agter hulle aan. Toe die wag uitgaan om te rook staan hy nader aan Melissa en verduidelik vinnig dat Coen in ‘n motorongeluk was en dat hy hom gevra het om haar te bevry. Die wag is oppad terug en hy druk sy besigheidskaartjie vinnig in haar hand.
Dit is bykans drie-uur die volgende oggend toe hy ‘n oproep van Melissa ontvang. Hulle maak ‘n afspraak om weer by die museum te ontmoet. Wat Melissa nie weet nie is dat daar ‘n afluister-apparaat in haar kamer is. Hulle laat haar ooglopend toe om weg te glip, maar by die museum word sy en Malan blitsvinnig in ‘n afleweringswa gegooi, geblinddoek en ontvoer.
Malan word wakker. Hy is vasgemaak en tot die dood toe naar. Hy vermoed dat hulle hom met ‘n dwelmmiddel ingespuit het.
“Wat is jou intensie met Melissa!” skree iemand op hom met ‘n harde stem.
Toe hy weier om te antwoord martel hulle hom totdat hy alles uitblaker, behalwe dat Coen by hom inwoon. Hulle maak hom los, maar hou hom steeds gevange.
Die volgende oggend daag ‘n goedgeklede man op. Hy stel homself voor as Meneer Glascouw. Hy klink kalm en bedaard, selfs vriendelik, maar daar is ‘n wrede trek in sy oë wat Coen aangluur.
“As u Melissa weer lewendig wil sien, stel ek voor dat u vir my sȇ waar Coen hom skuilhou.”
“Ek kan u ongelukkig nie daarmee help nie, Meneer Gláscouw. Hy het my net die een keer besoek en gevra om hom te help om Melissa te bevry.”
“Laat Meneer Malan gaan,” beveel die sogenaamde Meneer Glascouw slinks.
Malan is egter nie verniet bekend as die beste speurder nie. Hy kom dadelik agter dat hy agtervolg word. Hy kontak sy vriend, Herman, wat in die weermag is. Dan ry hy met opset ‘n klomp draaie om Herman en sy span kans te gee om by sy huis stelling in te neem. Toe Malan by sy huis stilhou, hou die skurke agter hom stil. Hulle klim uit met masjiengewere in die hand. Herman skiet ‘n waarskuwings-skoot in die lug. Die skurke reageer dadelik daarop en begin roekeloos te skiet.
Meneer ‘Glascouw’ probeer ongemerk wegsluip, maar Malan het hom reeds gewaar en slaan hom met die vuis dat die bloed spat. Hy neem hom in die huis in. Coen se oë rek groot toe hy die man sien wat sy identiteit gesteel het.
Malan kners op sy tande: “Jy beter vinnig praat, ek het nie vergeet hoe julle my gemartel het nie!”
Meneer ‘Glascouw’ lag uit sy maag uit. Hy kyk na Coen se kant toe: “Jou idioot, jy kan rȇrig niks onthou na die ongeluk nie, kan jy? Ons het sáám navorsing gedoen. Ek wou nie die vergoeding met jou deel nie… ék het die taxi se band geskiet het om van jou ontslae te raak! En dit was ék wat die Minister van Landbou geëlimineer het!
Coen storm op hom af: “Jy praat snért! Daar is níks met my verstand verkeerd nie! Jy het uitgevind van my navorsing en toe probeer jy om my identiteit te steel!
Malan gee ‘Glascouw’ weer ‘n vuishou. “Waar is Melissa en waar is die aktetas? Praat gou!”
Die volgende oomblik sak ‘Glascouw’ inmekaar. Malan buk langs hom neer… ‘Glascouw’ prewel iets: “Ukra…” dan borrel daar skuim uit sy mond uit.
“Sianied,” sȇ Malan kripties.
“Wat nou?” vra Coen histeries. “Hoe gaan ons Melissa opspoor en wat van my aktetas!”
“Nie óns nie, ék! Ék is nie verniet ‘n speurder nie en ek sál haar vind! Soos ek verstaan gaan jy ‘n groot bedrag geld ontvang vir jou navorsing, dan kan jy opmaak daarvoor.”
Malan stap met ‘n breë glimlag uit. Hy glimlag nóg breër toe hy sien met hoeveel afsku Coen na die lyk kyk: “O ja, en moenie bekommerd wees oor die lyke nie, Herman sal onmiddellik kom opruim.”
Coen kyk hom vies agterna: “Dit is glad nie snaaks nie, hoor!”
Malan gaan eers hotel toe om die bestuurder in te lig oor die verlore aktetas en die sogenaamde Meneer Glascouw se bedrog. Die bestuurder laat die speurdersersant van die polisiemag inroep. Malan is teenwoordig toe die speurder die sekuriteitskameras se opnames deurgaan, in die hoop dat hy iets omtrent Melissa sal uitvind. Daar is egter geen leidrade nie. Hy verneem later dat die aktetas opgespoor en in veilige bewaring is.
Malan is gefrustreerd toe hy Melissa na ‘n maand nog nie opgespoor het nie! Die seminaar het intussen goed afgeloop. Daar was baie belangstelling gewees. Coen weier egter volstrek om sonder Melissa huis toe te gaan.
***
Malan vind uitendelik ‘n vae leidraad wat hom op die spoor bring van ‘n sindikaat wat betrokke is met mensehandel. Hy waag sy lewe, maar slaag tog daarin om by hulle aan te sluit. Een aand toe hulle smoordronk is spog een met sy vangs: “Ons het darem ‘n gróót bedrag geld gekry vir daai blonde enetjie wat ‘n verpleegster is, neh?!”
Malan se instink skop in. Melissa is blond en Coen hét genoem dat sy ‘n verpleegsuster is! Hy onthou nou ook die sogenaamde ‘Glascouw’ se vreemde uitlating: “Ukra.” Het hy dalk bedoel: “Ukraine?” Daar wás onlangs gerugte dat mense daarheen ontvoer is!
Na deeglike navorsing en ontdek Malan dat ‘Glascouw’ eintlik Hans Beroski heet en dat hy diplomatieke betrekkinge het met die Ukrainse regering.
Oortuig van sy saak tref hy dieselfde dag nog reëlings om na die Ukraine te vertrek. Hy is ten volle bewus daarvan dat hy heel waarskynlik gevange geneem sal word, maar dit is al manier hoe om Melissa op te spoor!
Dit gebeur toe wel so dat Malan gevange geneem word toe hy moles maak by ‘n kroeg. Die oorlog is baie meer intens as wat hy aangeneem het. Hy skuil in ‘n loopgraaf saam met ander wat ook ontvoer is. Hy kon nog nie daarin slaag om na Melissa te soek nie, want mortiere word oor en weer afgevuur.
Een middag tref ‘n vernietegende vuurpyl hulle skuiling. Skrapnel, vlamme en rook, uit die hel gebore, vul die loopgraaf. Malan kreun en gryp sy linkerarm vas waar skraapnel hom venynig tref. Hy kyk met afsku na die verminkte soldate om hom. Hy hoor nie hulle gille nie, want die ontploffing se eggo het hom tydelik doof gemaak. Dan sak hy inmekaar. Toe die gevaar verby is word al die beseerdes met ‘n veldambulans na die hospitaaltent toe geneem.
Coen herwin sy bewussyn, sy wond het infeksie en hy is koorsig. Hy ril toe sy oë oor die ander pasiënte dwaal. Die suur stoot in sy keel op… daar hang ’n vrot reuk in die lug. Een van die verpleegsters buk oor hom… dan ruk sy haar asem hoorbaar in: “Malan!”
“Melissa… dankie tog. Ek het gedink ek gaan jou nooit vind nie,” fluister hy verlig.
Melissa is ooglopend uitgeput en daar is blou kringe om haar ingesonke oë.
“Het jy dalk enige idee hoe ons kan ontsnap?”
“Sy kyk eers vlugtig na die wag by die tentopening en fluister terug: “Ja, maar ons kry net één kans. As dit misluk is ons so goed as dood! Wanneer die kosvoorrade trok opdaag, moet ons sorg dat ons op daardie trok kom voordat dit weer vertrek.”
Malan word op die dag wanneer die trok opdaag, ontslaan. Melissa het hom deeglik ingelig waar die trok stilhou. Sy wag reeds daar vir hom. Twee werkers verdwyn stilweg. Melissa en Malan trek hulle klere aan en neem die uitpak van voorrade oor. Die bestuurder bly sit, te bang hy word aangeval.
“Vinniger,” jaag Malan haar aan. “Hier kom een van die soldate!”
Hulle spring in en kap drie maal op die dak as teken dat die bestuurder maar kan ry. Daarna duik hulle vinnig onder ‘n seil in. Voordat die bestuurder kan vertrek keer die soldaat hom voor. Hy bestudeer eers die man se paspoort en maak praatjies voordat hy hom laat gaan. Melissa se bors trek toe van vrees. Albei hyg benoud na asem onder die warm seil. Bloed sypel deur die verband om Malan se beseerde arm. Hy kners op sy tande om nie te kreun van pyn nie.
Hulle wag eers totdat die trok ten minste vyftien kilometer weg is van die tenthospitaal voordat hulle die seil snakkend na asem van hulle afgooi. Die trok is leeg, al die voorrade is reeds afgelaai met sy koms na die basis. Die bestuurder hou dus nȇrens stil nie.
Hulle arriveer uiteindelik in die stad wat byna verwoes is. In sy dorheid is hier en daar net ‘n ietsie van ’n eens welige tuin. Luidrugtige soldate patrolleer die strate. Melissa en Malan glip vinnig van die trok af en sluip dan versigtig tussen die ruïnes deur. Aan die buitewyke van die stad beweeg hulle vinniger, onbewus daarvan dat hulle agtervolg word.
Malan het reeds toe hy die eerste keer in die stad gearriveer het, ‘n plan van aksie gehad om terug te keer na die beskawing. Hy grawe ‘n seilsak met elektroniese toerusting en wapens uit ‘n gat en maak kontak met Herman wat hulle met ‘n helikopter sal kom oppik. Hulle voer ‘n kriptiese gesprek:
Malan: “Kom in.”
Herman: “Staan by.”
Malan: “Ons is twee.”
Herman: “Roger, oor en uit!”
Malan besef dat die gevaar nog nie verby is nie. Hy laat sy kop sak in ‘n smeekgebed. Toe die helikopter land vlieg koeëls onverwags om hulle heen. Die weermag se soldate vuur onverskrokke terug met *RPG’s terwyl Malan en Melissa hardhandig ingehelp word, dan styg hulle dadelik weer op. Melissa huil histeries… Malan hou haar vas totdat daar net af en toe ‘n snik uitglip. Die medic aan boord merk dat Malan bleek is en dat bloed vrylik teen sy se arm afloop. Hy laat Malan plat lê en versorg die wond deeglik. Hy dien ook ‘n inspuiting toe om die pyn te verdoof.
***
Malan laai Melissa by ‘n gastehuis af en druk ‘n aansienlike bedrag in haar hand. Na ‘n verfrissende stort sak Melissa uitgeput op die bed neer en raak onmiddellik weg in ‘n diep slaap.
“Malan!” roep Coen uit. Hy kyk Malan vraend aan, te bang om hardop te vra of hy Melissa kon opspoor.
“Sy leef!” sê Malan kripties. Hy lig sy hand op en verdwyn in sy slaapkamer.
‘n Nuwe dag breek aan… Malan word met ‘n dankbare hart wakker. Hy sak af op sy knieë en dank die Here dat sy sending suksesvol was.
Malan en Coen is by ‘n restaurant. Malan is besig om ‘n groot biefstuk te verorber. Hy weier om enige vrae te beantwoord voordat hy nie ‘n behoorlike maaltyd geniet het nie. Coen onderdruk sy ongeduld met moeite.
Malan vee sy mond smaaklik af en neem eers ‘n paar slurpe koffie voordat hy opkyk en oogkontak maak met Coen. Hy is sprakeloos toe Malan hom inlig oor alles wat gebeur het en sy wond vir hom wys.
Melissa wag hulle met uitbundige vreugde in. Sy het vinnig ‘n paar inkopies gedoen en lyk vars en rein in haar spierwit rokkie wat wyd uitklok.
Coen raap haar in sy sterk arms op en soen haar skaamteloos. Hy swaai haar baldadig in die rondte.
“My liefling, ons trou vandág nog! Kom, Malan wag vir ons. Hy het vroegoggend sonder my medewete al die reëlings getref!”
Daar is nog confetti op Melissa se hare toe hulle stralend aan boord van die vliegtuig klim wat hulle terugneem huis toe!
© Elize Ehlers, 2025
*Rocket-propelled grenade
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.