Jongste aktiwiteit:

Die prys van liefde

Die prys van liefde

Sunè hou Madelein met bewondering dop. Dis alreeds elfuur; Madelein se skof is lankal verby, maar sy is nog steeds besig om na pasiente om te sien wat in ‘n tragiese treinongeluk was. Sy het die grootste eerbied en respek vir hierdie dokter wat krisistye met soveel gemak kan hanteer. In haar drie jaar as verpleegster was daar nog geen dokter so bekwaam nie.

Tevrede dat alles onder beheer is gooi Madelein vir die eerste keer vir haar ‘n koppie koffie in. Daar is toebroodjies op die dienstrollie, maar sy is eenvoudig net te uitgeput om te eet. Sy voel hoe die moegheid teen haar bene opkruip en gaan sit in ‘n gemakstoel. Toe sy die teelepel laat val buk sy en Sunè gelyktydig om dit op te tel. Hulle gesigte is na aan mekaar… té na aan mekaar. Altwee kyk gelyktydig op en sien die onuitgesproke boodskappe van vurigheid in mekaar se oë. Beide verstaan dit en beide versteen…net hulle koorsagtige asemhalings is hoorbaar.

Madelein wat altyd kalm en in beheer is, reageer eerste. “Dit is laat!” sê sy sag en stap vinnig uit.

Haar laaste gedagte voordat sy aan die slaap raak haak by Suné vas. Kan dit wees? Sy is nog so jonk, maar maak dit regtig saak? Sy het haar gevoelens nog altyd onder haar werk begrawe. Dit is wel haar roeping om ‘n dokter te wees, maar innerlik hunker sy na iemand… iemand soos Sunè.

Dit is doodstil in die saal. Almal slaap rustig. Sunè gaan sit in dieselfde gemakstoel waaruit Madelein so pas opgestaan het. Die stoel is nog warm; sy koester die hitte – dit versprei na haar wange wat roospienk word. Sy het haar nie misgis nie, die aantrekkingskrag wás daar. Dit was eintlik al lánkal daar, net nie so opsigtelik soos nou nie. Sy skrik uit haar droomwêreld wakker toe ‘n pasient se klokkie lui.

Sunè is besig om klere netjies in ‘n reistas te pak. Haar nagskof is verby en sy het ‘n volle week verlof. Alhoewel sy na die kuier by haar ouers uitsien, klop haar hart woes in haar keel. Dit is tyd dat haar ouers die waarheid hoor! Sunè vrees haar pa se reaksie want hy is ‘n predikant. Sy sélf het dit nog die heeltyd ontken, maar ná wat gebeur het sal haar lewe nooit weer dieselfde wees nie.

Die week snel verby. Sunè het nog nie die moed gehad om haar ouers te vertel nie. Haar ma is egter nie onder kalkoen uitgebroei nie. Sy klop liggies en bring vir Sunè ‘n koppie koffie.

“Ek kan sien iets hinder jou – jy weet mos jy kan enige-iets met my deel.”

Drienie was egter nooit só iets te wagte nie. Sy kyk met afkeer na Sunè. “Dit gaan jou pa se hart bréék. Ek dink dit is beter dat jy vándag nog vertrek. Jy kom nie weer terug voordat jy tot besinning gekom het nie!”

Sy staan verslae op; skud haar kop in ongeloof en stap vinnig uit.

Sunè trek vinnig aan, pak haar tas en ry sonder om te groet.

Sunè is terug op dagdiens en sien Madelein nou élke dag. Altwee is stil oor wat gebeur het, maar diep binne wéét hulle. Toevallige oogkontak bevestig dit. Madelein sal Sunè soms liggies aanraak. Hulle liefde vir mekaar brand soos ‘n vuur. Dit word ‘n gewoonte om etenstye bymekaar te sit in die eetsaal. Aan die begin lyk dit heel onskuldig, maar een van die susters onderskep die intense blik wat Madeleine en Sunè in ‘n onbewaakte oomblik wissel. Haar oë rek groot. Gewapen met hierdie kennis hou sy hulle fyn dop. Dit is ook nie lank nie of die gange begin fluister. Sunè raak bewus van die afkeer in sommige van haar kollegas. Ander staar haar verwonderd aan. Die matrone laat haar inroep en konfronteer haar.

“Sunè, ek wil die waarheid weet… Is daar iets tussen jou en Madelein aan die gang? vra sy met empatie. As dit so is – wel – jy ken die reëls. ‘n Verhouding tussen ‘n verpleegster en dokter is taboe.”

Trane spoel oor Sunè se rooi wangetjies. “Ek sal gaan. Die hospitaal het Madelein nodig.”

“Madelein, daar is iets wat ek jou dringend moet vertel.” fluister Sunè hortend.

“Ek dink ek weet waaroor. Kom vanaand oor na my huis dan praat ons daaroor.”

Madelein druk die deur saggies agter Sunè toe. ‘n Swanger stilte vul die hele vertrek. Innerlike stryd woed in beide. Dis te siene in die bewing van hulle lippies … Madelein kan haar nie meer bedwing nie en druk haar liggies teen die jonge Sunè aan. Hulle monde ontmoet met alle sagtheid en die emosies bars in albei oop soos ‘n dam wat oorstroom. Die kerkklok onder in die dorp se swaar hamerslae ruk hulle terug in die hede en kondig aan dat dit nou presies 03:00 is. Madelein weet dit nog nie, maar die hekse-uur het aangebreek…

“Sunè, ek wil hê jy moet by my intrek. Vandag nog. Moenie oor die toekoms bekommerd wees nie, ek het ‘n plan. ‘n Jare lange droom, maar ek wil eers daaroor nádink.”

Sunè is die hele dag besig om haar besittings na Madeleine se huis te karwei, onbewus daarvan dat Madelein deur die CEO gekonfronteer word.

“Daar is vanmiddag ‘n raadsitting. Jou teenwoordigeheid word verlang.”

Madelein kyk haar vas in die oë. “Dit sal nie nodig wees nie. Ek maak vandag klaar.”

Madelein ry met opwinding wat deur haar bruis huis toe. Sy kan nie wag om vir Sunè te vertel van haar planne nie. Sunè is aanvanklik baie ontsteld toe sy hoor dat Madelein bedank het.

“Sunè, hier is vir jou ‘n glasie wyn. Ons het iets om te vier. Kom sit hier langs my, dan vertel ek jou alles.”

“…My ouers was albei welaf. Hulle is ‘n geruimte tyd terug oorlede en ek het ‘n fortuin geërf. Ek én jy gaan ons eie kliniek oopmaak!”

© Elize Ehlers, 2025

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed