Jongste aktiwiteit:

Afrikaans, Stryd ten bloede

Afrikaans, Stryd ten bloede!

1700

Hendrik Biebouw, gebore en getoë in Suid-Afrika, is 17 jaar oud. Grootgebou met donkerbruin hare, ‘n boer in murg en been – hy lyk glad nie soos sy Hollandse voorouers nie. Hardkoppig en altyd die belhamel. Op 6 Maart 1707, in Stellenbosch, hang hy en sy drie maters nuuskierig rond by die meule; hulle peuter en vat aan alles. Hulle stel hulle lewens in gevaar toe hulle na die masjienerie se kant toe beweeg. Die Hollandse meulenaar, wat hulle reeds ‘n geruime tyd al dophou, vererg hom bloedsielig. Hy stap nader en skree: “geen pad hier dat jullie ploegde!” (ploerte)

“Wie is jouw ploeg, jouw… jouw… Kaaskop!” skree Hendrik terug.

“Wat zeg je daar? Neem het zo!”

Hy slaan Hendrik vol op die ken. Hendrik slaan terug. Die meulenaar bly lê. Toe die werkers naderstorm, gee Hendrik en sy maters vinnig pad, maar so ‘n entjie daarvan af steek hulle vas, draai om en skree weer: “Kaaskoppe!” Daarna hardloop hulle dat hulle klein word!

Vir hulle straf het die Nederlandse landdros, Johannes Starrenburg, die jongmans met ’n rottang bygedam.

Hendrik Biebouw skree op die landdros: “Ik wil niet loopen, ’k ben een Africaander al slaat die landrost mijn dood, of al setten hij mij in den tronk. Ik sal, nog wil!”

Die landdros word bloedrooi van ergenis: “Gaan… gaan liever voor… ik… jij opnieuw slagen.” Hy stik van woede.

“Kaaskop!” tart Hendrik hom, maar gee vinnig pad toe die landdros die rottang na sy kant toe swaai!

Daar is ‘n gedruis tussen ‘n klompie Khoi’s wat buite die hof staan. Een van hulle laat ook sy stem hoor: “Ons sal niet swijgen!”

Hierdie opstandige uitroepe kring al wyer uit. Hulle erken nie die gesag van die Nederlandse regering nie! Die atmosfeer is gespanne en daar ontstaan gedurig meningsverskille tussen hulle.

Tot en met 1795 het die VOC die vrye drukpers aan die Kaap verban, maar saam met die koms van Setlaars het koerante soos die Grahamstown Journal ontstaan. Die koerant het in 1837 Piet Retief se manifes gepubliseer.

Hendrik is die voorbok in die teken van ‘n klagskrif om die Vryburgers se toenemende ontevredenheid met die outokratiese bestuurstyl en korrupsie van die VOC-amptenare, voor te lê. Onder leiding van Adam Tas stuur hulle die klagskrif in die geheim aan die Here XVII in Amsterdam.

Nadat Goewerneur van der Stel daarvan te hore gekom het, word Tas vir ongeveer ’n jaar in Die Kasteel aangehou en gemartel. Die uiteinde was egter ’n oorwinning vir die Vryburgers. Willem Adriaan van der Stel en sy bondgenote word uit die Kaap verban!

1800

Die Vryburgers se oorwinning is van korte duur; die Britte het met hebsug na Suid-Afrika geloer… Gedurende 1820 daag 4000 Britse immigrante in Tafelbaai op. Hulle is in Port Elizabeth, Grahamstad, Oos-Londen en die Albanie-distrik hervestig. Henrie, ‘n afstammeling van Hendrik wat net so voortvarend is, hou ‘n vergadering waarin hulle Britse oorname bespreek. Hulle sweer wraak, maar omdat hulle in die minderheid is, word hulle weerstand gou in die kiem gesmoor. Engels word geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap. Tot die kolonie se ergenis brei die arrogante Britte in die volgende tien jaar hulle oorname verder uit na dele van die Oos-Kaap. Hulle stig selfs nuwe nedersettings. Die Kaaps-Hollandse kolonie raak al hoe meer rebels: eers Nederland en nou dit!

Ten spyte van die Britse regering se beloftes van vergoeding het die grensboere groot finansiële skade gelei, wat bankrotskappe en skuldprobleme tot gevolg gehad het. Nie die vrystelling van slawe nie, maar die verbreekte beloftes oor vergoeding

Daarna besluit ‘n groot groep boere om na die binneland te immigreer. Die vrederegter Thomas Phillips, verteenwoordiger van die Britse setlaars, gee ’n Engelse Bybel as afskeidsgeskenk aan Jacobus Uys. Entoesiasties neem Henrie voortou van die Groot Trek. Dit is ‘n lang en uitmergelende tog en daar is groot lewensverlies. Siektes en die gevaar van wilde diere kan hulle egter nie stuit nie. Die vrouens neem die leisels dapper oor wanneer hulle mans sterf. Kindersiektes is ook aan die orde van die dag!

Henrie is diep bedroef. Hy moes nie net sy swanger vrou aan die dood afstaan nie, maar ook sy dogtertjie… Die grafte langs die tog sal nooit weer gevind of besoek word nie! Osse wat die waens trek se kragte raak ook min. Die voorleiers klap kort-kort hulle swepe om die diere aan te moedig. Saans drom die vee onrustig saam. Hulle ruik die gevaar van wilde diere en die vee-oppassers het ‘n stryd om hulle in bedwang te hou.

Dominee de Waal hou elke oggend en aand godsdiens waartydens hy hulle bemoedig. Hulle is amper die helfte minder toe hulle uitgeput by hulle verskillende bestemmings aankom: die Oranje Vrystaat en Transvaal. Trots stig hulle hul eie onafhanklike republiek! Dit is hulle eerste oorwinning, maar dis ‘n moeilike en uitmergelende stryd om die land mak te maak. Sommige begin al te wonder of dit die moeite werd was om die gerief waaraan hulle gewoond was, prys te gee! Maar wanneer hulle sien hoe gedetermineerd hul buurman arbei, sit hulle ook skouer aan die wiel.

Die burgers van KwaZulu Natal is siedend kwaad toe die Britte die land sommer so goedsmoeds annekseer. Hulle het soos vreemdelinge in hul eie land begin voel. Die Britse oormag smoor die rebellie baie gou in die kiem. Die Britte is so arrogant dat hulle selfs die Xhosa’s byna vernietig en neem dan beheer van die héle Oos-Kaap! Een ding is egter seker: die Xhosa’s is nie ‘n nasie met wie jy moeilikheid soek nie. Hulle sweer wraak wat verreikende gevolge vir die toekoms inhou.

Kinders wat heeldag rondhardloop en kwaad doen word in die bek geruk toe dominee Van der Lingen in 1858 ’n private skool, DeGimnasium, stig. Henrietta, Henrie se pragtige kleindogter met hemelblou oë en fietse lyfie, is ‘n onderwyseres. Sy raak goed bevriend met een van die Nederlandse onderwysers, Arnoldus Pannevis. Hy is ’n taalkundige. Hulle kan ure lank gesels met ‘n koppie sterk boeretroos in die hand. Deur middel van hulle gesprekke besef Pannevis dat die sogenaamde Kaaps-Hollands nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands toon om dit as een van sy dialekte te kan beskou nie. Hy is die eerste persoon wat die taal ‘Afrikaans’ noem!

Arnoldus en Henrietta raak verlief en trou kort daarna. Hulle is albei diep Christene – dit is hulle missie om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Arnoldus skryf herhaaldelik briewe aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. Uiteindelik word daar tydens die vergadering, gehou op 14 Augustus 1875 aan huis van Gideon Malherbe, besluit dat daar inderdaad ‘n behoefte aan so ‘n vertaling is. Arnoldus en Henrietta is in die wolke, maar hulle droom sou eers in 1933 realiseer, want Arikaans het nog nie die nodige erkenning as ’n skryftaal geniet nie. Hulle het net een kind, genaamd Hendré, wat sy pa se drome uitleef.

Om Afrikaans te bevorder besluit die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) om ‘n koerant te publiseer, naamlik ‘Die Patriot’, wat dadelik groot byval vind. Die redakteur, meneer du Toit (Oom Lokomotief) is ook ‘n onderwyser van die nuwe Afrikaanse skool wat in die laat 80’s op die plaas Kleinbosch gestig word: die Gedenkschool der Hugenoten. Hy en Hendré, wat ook ‘n onderwyser is, wend ‘n daadwerklike poging aan om Afrikaans as ’n amptelike skooltaal erken te kry. Dit is ‘n taai stryd, maar hulle is passievol en laat hulle nie ontmoedig nie!

Na die Vryheidsoorlog se neerlaag begin Hendré se agterkleinseun, Hendrik, wat net so voortvarend soos sy oer-oupa was, met ander Afrikaners saamspan in ‘n opdraande stryd om Afrikaans wéér te bevorder. Die standaardisering van Afrikaans was nou prioriteit! Spelreëls asook die eerste geskrifte van letterkundige waarde verskyn spoedig daarna. Hul oorwinning is egter kort van duur.

Tydens die Anglo-Boere-oorlog in 1905 verloor Hendré en Hendrik tragies albei hulle lewens. Hulle stryd was egter nie verniet nie… Na die vernietigende Boere-oorlog verskyn Eugene Marais se gedig “Winternag” in moderne Afrikaans. Dis beskou as een van die grootste gebeurtenisse tydens die tweede Afrikaanse Taalbeweging! Afrikaners hou fees: braaivleis, koeksisters, melkterte en vele meer wat die tafels laat kreun! Die dames vertoon hulle dun middellyfies met Volkspele terwyl die jongmanne met hulle kragte spog tydens tradisionele speletjies. Oom Jan se konsertina laat die voete behoorlik jeuk… daar word tot ounag toe jolyt gehou!

1900

Meneer DF Malan se voorvader-vegtersbloed loop nog dik in sy are – hy duld nie teenstand nie. As voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging hou hy op 13 Augustus 1908 ‘n toespraak met die tema: “Dit is ons erns!” In sy toespraak moedig hy Afrikaans as skryf- en kultuurtaal aan. Dis ‘n baie opwindende tydperk in die Afrikaners se lewe en daar word konserte gehou waar Afrikaanse liedere, prosa en poësie die lig sien. Daar word ook hewige bekgevegte (debatte) gevoer. Gemoedere loop soms so hoog dat dit in ‘n vuisgeveg ontaard! Meneer Malan skud net sy kop. Dis een ding wat jy nie kan wegneem van die Afrikaners nie, hulle bakléí vir dit waarin hulle glo!

Die Taalstryd vat nou behoorlik vlam! Die Transvaalse én Vrystaatse Afrikaanse Taalgenootskap word gestig. Daaruit vloei drama- en verhoogproduksies wat terdeë geniet word! Om Afrikaans as hoë-funksie taal ten doel te stel, word die Zuid-Afrikaanse Akademie vir Lettere gestig.

1912:  Afrikaans is ‘n amptelike skooltaal!

1924:  Die eerste Kinderbybel sien die lig.

Sewe jaar later slaan vroue amper vuis om die eerste vroueblad in die hande te kry! Hulle spog graag by tee-partytjies met hul rooi lippies, verspotte hoedjies en tierlantyntjies volgens die nuutste modes in die ‘Die Boervrou’. Hulle leer ook om so met ‘n heupswaai-stappie in meer gewaagde rokkies te loop! Die koöperasie se lappe en skoene is nie meer aanvaarbaar vir die hoi poloi dames nie – winkels met deftige klere pop orals op!

Ter nadenke: Die Akademie stel ‘n Hertzogprys in wat tot vandag nog Afrikaans se prestige letterkundeprys is!

Op 8 Mei 1925 word Afrikaans as amptelike landstaal erken!1925

Hiervandaan gee ek die volgende feite deur:

1926:  Afrikaanse Woordeboek.

1929:  Terminologie vir nis areas in Afrikaans. 1929

1930:  Die eerste tweetalige Afrikaans-Engelse woordeboek.

Afrikaans kry sy eerste klankrolprent: “Moedertjie” en Chris Blignaut verkoop

55 000 langspeelplate met treffers soos “Ou Ryperd”.

1931:  Rolprent en langspeeltreffers. 1931

1932:  Op 27 Oktober is die eerste Afrikaanse hofuitspraak in die Appélhof in

Bloemfontein gelewer.

1933:  Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling.

Die eerste Afrikaanse sangbundel verskyn – Die FAK.

1942 – 1959:  Afrikaans is gevestig by vier universiteite as Wetenskapstaal,

asook in die staatsdiens, geregshowe, letterkunde, rolprente en

uitsaaibedryf.

1975:  Die Taalmonument word ingewy – 100 jaar na die stigting van die GRA.

1976:  Op 16 Junie begin opstande in Soweto in protes teen Afrikaans as

verpligte voer-en eksamentaal in skole. Honderde sterf, hoofsaaklik as gevolg

van polisiegeweld. Woede oor die onsinnige sterftes ontketen verdere

betogings en geweld oor die res van die land.

1994:  Afrikaans word een van elf amptelike landstale.

2010:  Professor Kwasi Prah van Ghana het die ontwikkeling van Afrikaans as een van die drie taalwonderwerke in die wêreld beskryf waarvan Hebreeus en      Bahasa die ander twee is. In 50 jaar het Afrikaans van ‘n huis-, tuin- en            kombuistaal gevorder tot ‘n kansel-, universiteits- en ekonomiese taal wat met      enige ander taal in die wêreld kan meeding.

2015:  Geen student aan die Universiteit van Stellenbosch word meer geforseer om in Afrikaans te studeer of te kommunikeer nie en dat alle klasse ook in Engels aangebied word. Die protes word lewendig gehou deur sosiale media en        versprei na ander kampusse.

Opmerkings

Daar word steeds gestry oor en in Afrikaans, maar daar word hoofsaaklik Afrikaans gepraat.

Meer as sewe miljoen moedertaalsprekers maak Afrikaans die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika naas Zoeloe en Xhosa.

Daar is ook groot Afrikaanssprekende gemeenskappe elders in die wêreld byvoorbeeld Londen, Australië en Nieu-Seeland. Afrikaans spog ook met ‘n aansienlike literatuur wat alle terreine van kultuur, nywerheid, wetenskap en tegniek dek.

Vandag het Afrikaans nagenoeg 1 miljoen woorde. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) trek tans by volume 1 uit 3 en bevat 220 000 omskrywings van die letter A – Z. Die volledige Oxford Dictionary het 440 000 woorde.

Ek is trots Afrikaans!

 © Elize Ehlers

 

Bronnelys:  Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge

Ontwikkeling van Afrikaans – Tydlyn




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed