Jongste aktiwiteit:

Geankerde erfenis #silwer

Ek het al op plekke gestaan waar die groen lande wyd voor my oop lê. Daar waar die aarde wys dat lank voor my, al diep spore oor hierdie vlaktes en berge getrap is. Tussen die heuwels en hemel het ek verstaan: om deel van ’n plek te wees is nie iets wat ek gekies het soos ’n pad op ’n kaart nie. Ek het nie my mense uitgedink nie. Ek het hulle geërf; ’n lyn, ’n spoor, ’n geskiedenis wat nie by my begin het nie.

Daar is ’n roerende sensasie binne-in my wanneer die klank van my voetstappe oor hierdie Afrika-grond opklink. Hier hoor ek die kremetart praat, nie in sinne nie, maar in my binneste. Dit is ouer as ‘n taal, ‘n emosie wat my bors vol druk sonder verduideliking. In daardie gevoel lê my patriotisme. Nie as ’n vlag nie. Nie as ’n lied nie. Maar as ’n stille wete: hier is ek deel van ‘n volk se trotse erfenis wat nie maklik losgemaak kan word nie.

My vaderlandsliefde is nie blind nie. Ek sien die krake. Ek sien die pyn wat oor hierdie land lê, nie as iets vreemds nie, maar as deel van sy verhaal. Ek weet ook dat hierdie land nie net myne is nie, dat ander hul eie wortels hier ingeslaan het, hul eie stories in dieselfde grond dra. Dit is my keuse om te bly staan, nie uit ontkenning nie, maar uit verbondenheid. Ek het al probeer om dit te verduidelik. Om dit sagter te maak, meer verteerbaar vir ’n wêreld wat vinnig beweeg en maklik vergeet. Maar elke keer voel dit asof iets verlore raak, nie net woorde nie, maar betekenis. Want hoe verduidelik ’n mens liefde vir jou land?

Patriotisme is ’n weefsel, gevorm oor tyd, oor geslagte, oor ervarings wat nie sommer herhaal kan word nie. Dit lê in die geel velde van die Hoëveld, tussen die dale van die Laeveld waar die sonbesies ons verhale vertel, op die goue strande en bergpasse van die Outeniekwaberge, oor die duisend heuwels van Kwa Zulu Natal en in die droë grond van die Vrystaat.

Ons leef in ’n tyd waar verskille maklik weg gepraat word, asof eenvormigheid die enigste pad na vrede is. Maar vrede lê nie daarin om alles dieselfde te maak nie. Dit lê daarin dat ons mekaar se erfenisse kan erken, sonder om ons eie prys te gee. Hier beleef ons die kleurryke tradisies van verskillende kulture; van die slae van dromme en danse tot die stilte van gebede in verskillende tale waar elkeen ‘n plek het om te blom.

Ek verloor nie maklik myself in die proses van aanpas nie, nie omdat ek verandering vrees nie, maar omdat ek weet hoe vinnig iets sy vorm kan verloor wanneer dit nie vasgehou word nie. Daar is krag daarin om jouself te bly, selfs tussen verskille. Ek hoef nie teen jou te staan om vir myself te staan nie. Ek hoef nie my stem te verhef om my menswees te bewys nie.

Ek staan in die veld wat my naam roep wanneer die wind draai. By die grond wat my voete ken. By ’n geskiedenis wat nie altyd sag is nie, maar steeds deel van my is. Elke keer as die wêreld my vra om minder te wees, om ligter te dra aan wie ek is, staan ek net weer stil en luister na daardie diep, onwrikbare stem wat vra: as jy jou wortels losmaak om ligter te wees, wat bly dan oor van wie jy is?

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed