Voor die Here
Elke jaar op die sesde April, dink Lien Meiring nie eerste aan geskiedenisboeke of openbare vakansiedae nie. Sy dink aan haar Oupa Koos se voorhuis.
Sy dink aan die vuurherd waar die kole rooi gelê en smeul het agter in die swart raam. Sy dink aan die grootmense om die groot swarthout-tafel. Aan die matjie waar sy en Niklaas en die ander kleintjies saans gesit het met rooi gesiggies van die hitte naby die vuur. Maar sy dink veral aan Oupa Koos, regop aan die kop van die tafel, met die groot Nederlandse Bybel oop voor hom. Met sy silwer borselkophare wat blink in die lig van die paraffienlamp.
Dit was die tyd toe sy as kind vas oortuig was daar is geen groter oupa as hare nie.
Buite het die wind om die hoeke van die huis gehuil. Iewers het ’n sinkplaat geklap en weer stil geword. Binne was dit lig, warm en veilig. Die paraffienlamp op die tafel het ’n sagte kring oor die vergeelde blaaie gegooi. Oupa Koos se groot hande met blou are het oor die Bybel gevee asof dit iets broos was.
Die grootmense het elkeen op sy spesifieke plek gesit. Haar ma met haar hande gevou in haar skoot. Tant Lilian met haar voorskoot nog half skeef van die kombuis af, het altyd langs ma Grieta gaan sit. Oom Jan het stil gelyk ná ’n dag se werk. En op die matjie voor die vuurherd het Lien haar ken op haar knieë gesit en gekyk hoe die lig teen Oupa se gerimpelde wang val.
Toe sit hy sy hand plat op die oop blaaie en loer oor sy ronde brilraam.
“Onze hulp is in den Naam des Heeren,” het hy gesê.
En die grootmense het geantwoord: “die hemel en aarde gemaakt heeft.”
Selfs nou nog, jare later, kan Lien steeds voel hoe daardie woorde die huis verander het. Hoe Niklaas ophou speel het. Hoe die kombuis in die agtergrond stiller geraak het. Die hele huis het geweet wanneer Oupa Koos begin lees. As kind het sy dit nie mooi verstaan nie. Sy het net geweet dat Oupa Koos op daardie oomblik nie meer net die man was wat in die kraal besig was nie. Of die laggende oupa met sy hoed agter op sy kop wat in die son gestaan het nie. As hy begin lees het, het iets van die Here se teenwoordigheid in hom kom sit.
Hy het sy keel skoongemaak en begin lees.
“En het geschiedde…”
Die Nederlands het swaar en mooi uit sy mond gekom. Al het Lien nie alles verstaan nie, het dit nie saak gemaak nie. Daardie woorde het anders geklink as gewone praat. Wanneer Oupa Koos in Nederlands gelees het, het dit vir haar gevoel asof selfs die mure hul ore gespits het.
Dit was op een van daardie aande dat Oom Jan, ná die gebed, sy keel skoongemaak het en gesê het: “Dit is darem vandag weer ses April.”
Die aankondiging het swaar in die vertrek geval.
As kind het Lien nie mooi geweet hoekom ses April so belangrik vir die grootmense was nie. Maar sy het dit gehoor. Sommige datums word nie sommer net genoem nie. Hulle word amper gekoester.
Oupa Koos het geknik. “Ja. Die dag van aankoms.”
“Van Riebeeck s’n,” het Tant Lilian gesê.
“Met die drie skepe,” het haar ma bygevoeg.
Lien het regop gesit op die matjie.
“Watter drie?” het Niklaas vir haar gefluister.
Maar Oupa Koos het hom ook gehoor.
“Die Drommedaris,” het hy gesê. “Die Reijger. En die Goede Hoop.”
Daardie name het vir Lien groot geklink. Drommedaris. Reijger. Goede Hoop. Dit het haar aan donker hout en soutwater laat dink. In haar gedagtes het sy seile in die wind sien waai. Na ’n wêreld wat baie verder lê as hul voorhuis en tog op een of ander manier daarmee verbind is.
“By Tafelbaai,” het Oupa Koos verder gesê. “Ses April. Hy het nie sommer net voet aan wal gesit om rond te kyk nie. Hy het gekom om ’n verversingstasie te vestig.”
“En die dag is lank herdenk,” het Oom Jan gesê.
“Met ’n erediens al in sewentien-twee-en-vyftig,” het Tant Lilian ingeval.
Haar ma het sagter gepraat. “En later het die Kaapse kerk gevra dat dit as ’n godsdienstige feesdag beskou moet word.”
Die vuur het met ’n sagte kraak ingesak.
“Dit is hoe dit hoort,” het Oupa Koos gesê. “’n Mens onthou nie net die gebeure nie. Jy onthou dit voor die Here.”
Daardie woorde het Lien destyds net half verstaan. Vandag verstaan sy dit heel anders. Dat daar dinge is wat nie met fanfare bewaar word nie, maar met eerbied. Met ’n oop Bybel. Met mense om ’n tafel. Met ’n kind wat leer van die geskiedenis.
“En in negentien-twee-en-vyftig,” het Oom Jan weer begin, “het dit ’n openbare vakansiedag geword.”
Tant Lilian het geknik. “Daardie jare het mense nog geweet sekere dae is belangrik.”
“En later nie meer nie,” het Lien se ma gesê.
Daardie soort sagtheid het Lien selfs as kind herken. Dit was nie kwaad nie, eerder iets nader aan seer.
“Na vier-en-negentig,” het Oom Jan gesê, “was dit klaar. Toe verval Van Riebeeckdag as vakansiedag.”
Vir ’n ruk het niemand gepraat nie.
Die lamplig het warm oor Oupa Koos se hande geval. Hy het sy palm stadig oor die oop Bybel gestryk, asof hy iets wou vashou wat nie sommer gesê kan word nie.
“’n Dag val maklik van ’n kalender af,” het hy uiteindelik gesê, “maar nie sommer uit ’n volk se geheue nie.”
Daardie woorde het swaar in die lug kom hang. Al het Lien dit toe nie heeltemal verstaan nie, kon sy voel hoe belangrik dit is.
Toe het Oupa Koos afgekyk na haar.
“Lien,” het hy gesê, “kom staan hier by my.”
Sy het stadig opgestaan en na hom toe geloop. Die vloerplanke was koud onder haar kaalvoete. Langs hom het die Bybel nog groter gelyk. Sy kon die letters sien, die rye woorde en die randjies van blaaie wat van jare se lees donkerder geword het.
Oupa Koos het met sy vinger op die tafel gedruk. Stadig asof hy vir haar plek maak tussen die grootmense se dinge.
“Sê vir my die name.”
Lien het swaar gesluk.
“Die Drommedaris,” het sy begin. “Die R…. Reijger. En die Goede Hoop.”
Hy het geknik. “Mooi.”
Toe buig hy effens nader en lees weer uit die groot Nederlandse Bybel. Half vir haar alleen. Sy het nie die hele vers verstaan nie, net die klank daarvan. Die swaar, ou Nederlandse woorde. Hy het stadig gelees, met geen haas in sy stem nie.
Toe maak hy die Bybel stadig toe.
Die Bybel het sag toegeklap.
Hy het sy groot hand op haar kop gesit.
“Onthou dit, kind,” het hy gesê.
“Hoekom, Oupa?” het sy gevra.
Vir ’n oomblik het hy haar net aangekyk. Sy gesig het sagter gelyk in die lig van die lamp. Dit was asof hy iets in haar soek.
“Omdat wat ’n mens nie onthou nie, baie gou verlore raak,” het hy gesê.
Daardie nag, lank nadat die grootmense se stemme stil geword het, het Lien wakker gelê en luister hoe die wind om die huis speel. Langs haar het Niklaas reeds diep geslaap. Maar in haar het die aand nog bly leef.
In die voorhuis.
Voor die vuur.
By Oupa Koos se stem.
By die groot Nederlandse Bybel.
En by die name:
Drommedaris.
Reijger.
Goede Hoop.
Jare het verbygegaan. Sekere belangrike datums het van kalenders af verdwyn. Name is minder gesê. Die wêreld het aanbeweeg. Maar in Lien Meiring het daardie aand nooit heeltemal verbygegaan nie.
Tot vandag toe, wanneer sy die sesde April hoor noem, sien sy nie eerste skepe of geskiedenisboeke nie. Sy sien die bekende voorhuis. Sy onthou selfs die hitte voor die vuurherd. Die grootmense om die tafel. Haar oupa Koos met die Nederlandse Bybel oop voor hom. En sy hoor weer die woorde wat sy as kind nog net half verstaan het, maar nooit vergeet het nie.
Drommedaris.
Reijger.
Goede Hoop.
Party dinge word nie in monumente bewaar nie. Party dinge leef eenvoudig voort in ’n kind wat stil gesit en geluister het.
©MarleneErasmus
14/04/2026
(woorde 1360)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.