Nuwe horison
Nuwe horison
Mathilda, ‘n streng matriarg, kyk hoogmoedig na haar beeld in die spieël om te sien of haar bolla reg is. Elke grys haartjie is op sy plek. Haar gedagtes huiwer by haar jongmeisie-jare toe sy fiets en fyn was. Sy was ‘the belle of the ball’, altyd volgens die nuutste mode geklee. ‘n Uitmuntende ruiter en tennisspeelster … Bittersoet herinneringe spoel deur haar wanneer sy aan haar gewese man dink.
Heinrich, haar seun, drink soos ‘n vis omdat daar volgens hom niks anders is om te doen nie. Die whiskyglas wieg in sy hande soos ‘n reddingsboei. Hy staar na die amberkleurige vloeistof asof hy na antwoorde soek. Wat sou Annabelle sê as sy my nou moet sien? wonder hy skuldig. Hy sug en kyk verveeld rond in die gedempte lig. Hy verwyl eerder sy tyd by ‘Die Boer’ met sy rookbelaaide atmosfeer as by die huis waar sy ma hom die heeltyd stuurs aangluur. Dit is nie sý verdomde skuld dat sy pa hulle met ‘n bankrotboedel nagelaat het nie!
Na ontbyt beveel Mathilda kortaf om in die studeerkamer bymekaar te kom. Heinrich plof langs haar neer, sy oë bloedbelope van gisteraand se whisky.
“Heinrich, jy is ‘n diep teleurstelling,” sê Mathilda, haar stem skerp. “Jy doen níks om die landgoed te help red nie!”
Heinrich mompel verskonings van ‘n boek waaraan hy skryf. Hy vermy sy ma se deurdringende blik. Ná Annabelle se heengaan sukkel hy om te konsentreer. Hy voel skuldig as hy na die tweeling kyk; hulle mis hul ma, tog hanteer hulle dit goed. Dit is net hý wat dit nie aanvaar nie.
“Die rede hoekom ek gevra het dat ons bymekaar kom, is om Rembrandt se toekoms te bespreek. Ons het ses maande grasie, daarna moet ons uittrek!” sê Mathilda moeg, maar haar blik deurboor hulle. “Ek gaan begin bak en ek verwag julle samewerking, werk het nog nooit doodgemaak nie en elke sent help!”
Sy dink onwillekeurig aan haar oorlede skoondogter wat so graag gebak het. Sy het hul dikwels met heerlike eetgoed bederf.
Heinrich kyk sy ma verstom aan. Dan draai sy na haar kleinkinders. “Dit kan nie langer so aanhou nie, julle verspil julle jong lewens!” sê sy ferm. Die tweeling knik kop-onderstebo.
***
Frieda en Wynand sit met hul voete in die swembad, druk besig om hul toekomsplanne te bespreek. Heinrich het ongemerk weggesluip.
“Ouma versmoor ons. Ek het vier jaar geswot en gehoop om ten minste een jaar te rus voordat ek as prokureur by oom Luit se firma aansluit,” kla Wynand dikbek omdat sy lewe as stralejakker so vinnig kortgeknip word.
“A nee a Wynand! Ouma is reg. Jou dae van rondkerjakker is verby! Ons kan nie toekyk hoe Rembrandt onder ons uitverkoop word nie! Pa gee boggerol om; hy drink net die heeltyd. Ons moet hom in ‘n inrigting kry dat hy homself kan regruk!” roep Frieda ergelik uit.
“Okay, okay, moenie op my skree nie, ek sal môre by mnr. Luit verneem wanneer ek kan begin praktiseer,” sê Wynand traag.
Frieda knik. “Ja, en ek sal ‘n uitstalling reël. My kuns sal ook geld inbring,” sê sy opgewonde.
Mathilda se venster staan op ‘n skrefie oop. Haar uitdrukking is afkeurend, want sy hoor wat die kinders vir mekaar sê. Sy is skepties oor Frieda se ligsinnige kuns. Wat Wynand aanbetref het sy ook nie veel hoop nie. Die appel val nie ver van die boom af nie. Hy het meer gefuif as geleer op universiteit. Dat hy tot die balie toegelaat is, is ‘n wonderwerk. Sy frons grimmig wanneer sy aan Heinrich dink. Sy stem saam met Frieda, maar hoe gaan hulle hom oorreed?
Heinrich was vroeër die aand by ‘Die Boer’. Dit was egter byna verlate. Hier en daar was ‘n paar mans wat lusteloos gesels het. Hy dwaal doelloos rond, sy skouers krom. Die klam mis kleef aan sy klere, hare en gesig. Die ligte van die huise en straatlampe is flou en bied geen warmte om die yslike verlatenheid in hom te verdryf nie. Die klammigheid van die mis dring deur sy hele wese. Sy afgematte liggaam kan dit nie langer verduur nie en hy sak inmekaar. Hy beleef ‘n algehele ineenstorting en word in ‘n kliniek opgeneem.
Almal is gespanne. Mathilda is bekommerd oor Heinrich; haar troontjie is besig om te verkrummel. Haar bolla staan skoon skeef. Sy sug dankbaar dat hy hulp ontvang.
Die weke wat daarop volg werk Mathilda, Wynand en Frieda onverpoos. Saam het hulle belowe om hul nalatenskap te herstel en die familie te herenig. Aan etenstafel vertel Wynand graag stories oor kriminele sake terwyl Frieda blom wanneer sy oor haar skilderye praat. Mathilda kritiseer haar soos ‘n grammofoon wat vashaak. Sy glo vas dat Frieda, ‘n kind met ‘n boheemste leefstyl en wilde haarstyl, se kunspogings nie veel werd is nie.
Frieda steur haar min aan ouma Mathilda se gekyf en gaan passievol voort met haar ‘prentjies’ soos ouma dit noem. Intussen verstom Wynand almal met sy toewyding. Hy is besig om die leer van sukses met rasse skrede te klim.
Een aand het Frieda se kunsuitstalling in die landgoed se balsaal geopen. Heinrich is weer tuis. Al hulle vriende is teenwoordig, saam met plaaslike kuns-entoesiaste. Mathilda gloei van trots toe sy sien hoe gewild Frieda se skilderye is. Sy moet erken, dis meesterstukke!
Heinrich glimlag vir sy kinders. “Ek is só trots op julle. Kan julle my vergewe dat ek julle versaak het, juis toe julle my die nodigste gehad het?”
Albei knik. “Natuurlik Pa! Ons is bly jy is weer ‘orraait’!” “En nugter,” fluister Wynand saggies in Frieda se oor.
Onder Heinrich se leiding herwin die landgoed sy prag. Sy boek is by die uitgewers om gedruk te word en hy is reeds besig om ‘n volgende boek te skryf.
Mathilda glimlag nou meer dikwels, selfs haar bolla lyk deesdae nie meer so styf nie.
© Elize Ehlers
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.