Jongste aktiwiteit:

Jannie se avontuur-vakansie

Ben se avontuur-vakansie

Jannie, ‘n woelige plaasjapie, en Ben is kamermaats in die koshuis. Jannie het Ben genooi om die skoolvakansie saam met hom op die plaas deur te bring. Hy het sommer baie planne!

Ben se mond hang oop ten aanskoue van al die verskillende soort diere. Elkeen in hulle eie kamp waar hulle rustig wei, maar nie vir lank nie. Daar is sommer al op die tweede dag groot konsternasie. Hulle vergeet om die hekke agter hulle toe te maak en kort voor lank wei skape, perde, bokke en beeste oor en weer in mekaar se weivelde. Dit hou Floors en nog twee arbeiders die hele dag uit hul werk uit om die diere na hul onderskeie kampe af te keer. Jannie se pa, oom Gert, is baie omgekrap. Vir hul straf moet hulle die arbeiders help om die varkhokke skoon te maak. Dit is toe dat Ben iets eienaardig opmerk. Een van die varke, in ‘n aparte hok, het ‘klokke’ so groot soos eiervrugte, maar pienk van kleur. Op een van die ‘klokke’ is iets wat lyk soos ‘n groot puisie. Dit is bloedrooi en erg opgeswel. Ben leer vir eerste keer die verskil tussen ‘n beer en ‘n sog.

Ben leer ook vir die eerste keer hoe om met ‘n kettie te skiet. Hy raak gou vaardig. Blikkies-skiet raak naderhand vervelig. Dan onthou Ben van die vark met die ‘puisie’ op een van sy ‘klokke’. Jannie skiet mis. Dan is dit Ben se beurt. Dit is ‘n kolskoot! Hy tref die ‘puisie’ reg in die middel. Dit lyk kompleet of die vark vlerke groei soos wat hy in die lug opstyg. Floors wat die spulletjie aanskou, weet sommer hier kom gróót moeilikheid. Hy is baie lief vir Jannie en besluit om stil te bly. Oom Gert, brom-brom tydens aandete dat die beer glad nie goed lyk nie. Die ‘puisie’ het groter geword en van kleur verander. Hy skakel die volgende dag die veearts om ondersoek in te stel. Oom Gert is smoorkwaad! Jannie en Ben staan kop onderste-bo terwyl oom Gert hulle goed roskam. Om hulle uit die kwaad te hou moet hulle die groentetuin omskoffel, wat natuurlik toe in pret ontaard. Daar is ‘n molshoop. Jannie en Ben besluit om te kyk hoe diep die gat is waarin die molle wegkruip. Hulle grawe al dieper en dieper. Die gat word al groter en groter. Al tannie Bes se tamatieplantjies verdwyn in die gat. Die goedige tannie Bes is sommer in trane!

Ben hoor vroeg die volgende oggend vreemde fluitgeluide. Jannie verduidelik dat hulle skaaphond, Mooz, op die fluitgeluide reageer om skape af te keer na ‘n volgende weikamp. Ben kyk hom ongelowig aan en vra dat Jannie vir hom wys hoe dit werk. Jannie probeer sy bes om sy vriend te beindruk, maar na so paar fluite is al die skape op ‘n knop gejaag, in die hoek van die weiveld. Jannie en Ben besef hier kom moeilikheid en maak dat hulle wegkom. Floors, wat maar altyd in die nabyheid is, skud net sy kop en roep vir Mooz om die skape weer uitmekaar te jaag.

Een oggend kom Floors, asvaal in die gesig, aangehardloop. En nou Floors? Vra oom Gert. Dit lyk of jy ‘n spook gesien het? Floors ruk soos hy skrik en word nóg bleker. Dit ésse die spook my meneer. Laasnag by die stroois … twee van hulle! So hou dit vir ‘n paar aande aan. Floors en die res van die arbeiders is een oggend sak en pak gereed om te trek. Dit neem oom Gert baie lank om hulle tot bedaring te bring. Jannie en Ben skrik groot en erken dat dit hulle was. Oom Gert is moedeloos. Wat te erg is, is darem nou te erg! Hy bel Ben se pa. Hy gee oom Gert sy toestemming en elkeen kry ‘n paar rapse.

Jannie en Ben trap versigtig om nie vir oom Gert weer kwaad te maak nie. Hulle swem in die plaasdam en skop bal maar raak gou verveeld en besluit wie die langste op ‘n boerbok se rug kan ry. Na so paar pretritte val Jannie hom kerduks. Sy arm is baie seer en moet hard sluk om nie voor Ben te huil nie. Tannie Bes skrik groot toe sy die bloed sien. Sy roep Floors om vir oom Gert te vertel wat gebeur het en dat sy die kinders hospitaal toe neem. Ten spyte van die pyn is Jannie baie trots op sy gipsarm. Tannie Bes besluit om van die geleentheid te gebruik te maak om ‘n paar inkopies te doen. Sy raak naderhand omgesukkel, veral omdat sy tamaties moes kóóp! Sy is haastig om weer by die huis te kom, maar Jannie het die wêreld se tyd. Almal wat hulle raakloop moet eers hul name op sy gipsarm skryf.

Die beeste se soutblokke moet afgelaai word. Jannie het al lankal geleer hoe om die plaasbakkie te bestuur en dring daarop aan om self te bestuur, Floors moet net die ratte wissel. Jannie trek te vinnig weg en Piet, wat agterop sit, maak hard met moederaarde kennis. Hulle kom dit eers agter toe die soutblokke afgelaai moet word en moet desnoods terugry om hom te gaan haal. Die keer sit Floors sy voet neer.

Jannie se gipsarm plaas geen demper op hul pret nie. Hulle slaan tent op langs die rivier en vang vis. Saans braai hulle die vis en geniet dit saam met tannie Bes se heerlike boerbrood en egte plaasbotter. Floors slaap in sy eie tentjie daar naby.

Hulle is so meegevoer met ‘n groot vis wat Ben gevang het dat hulle nie agterkom dat die wolke saampak nie. Dis eers toe ‘n bliksemstraal hier naby hulle slaan dat hulle tent toe vlug. Net om te sien hoe dit in vlamme opgaan!

Oom Gert sug verlig toe die vakansie uiteindelik ten einde loop.

@ Elize Ehlers




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed