Jongste aktiwiteit:

Laatkom is nie vir sussies

Laatkom is nie vir sussies nie..

Petunia loer paniekerig by die skoolvenster uit.  As Bazil vandag wéér laat kom is daar  groot probleme! Meneer Booysens het hoeka die lang bamboes slaan stok, wat “moeggepraat” heet, net reg vir die skouspel op die hoek van sy tafel neergesit.

Hy begin met die les so asof niks fout is nie, maar Petunia weet, hy wág. Meneer Booysens sien uit na die paar houe wat hy Bazil elke dag gee.  Dan is sy dag gemaak en tevrede wat verder voorle^.

Bazil en Petunia is van baksteenhoogte af vriende.  Eintlik is almal hier op Hotazel vriende. Die wat nie vriende is nie, is na ware familie. Hulle loop skool by Laerskool Hotazel, die enigste skool op die éénstraat-dorpie.  Daar is vier leerkragte in tydelike poste by die skool aangestel:  dis nou die skoolhoof, Mejuffrou de Kock, oumevrou Visagie, en dan Meneer Booysens.  Die leerkragte wissel so met die seisoene, want Hotazel is so warm soos die hel in die somers, en so koud soos die noordpool in die winters.  Deesdae se leerkragte kan nie so lekker by die seisoene aanpas nie…

Laerskool Hotazel is die enigste skool binne ‘n groot radius van skaapplase, en onderrig die volle spektrum van die reënboognasie.  Hier word kleur nie onderskei nie.  Dis ‘n lekker meng van kleur, taal en dialek, en niemand gee om nie.  As jy die Karoo kan proe én afsluk dat hy soos ‘n warm kool onder jou hart kom lê, dan is jy deel van Hotazel.

Daar kom Bazil aan.  Petunia steek die trane weg.  Ai Bazil… as ek maar die houe vir jou part kon vat…

Bazil se klop bring ‘n skielike stilte oor die tiental leerlinge.

“Binne!”

Meneer Booysens se stem het ‘n oktaaf hoër gestyg. Hy maak reg vir sy routiene vir die dag., dink Petunia wanhopig.  Kyk hoe lewe sy oë skielik, en kyk hoe syfer die dun straaltjie spoeg by sy mondhoek uit.  Die hande wat gewoonlik slap langs sy sye hang kramp oop en toe. Petunia kan sien hoe Meneer Booysens himself probeer inhou om nie nou al die slaanstok te vat om Bazil se pakslae te gee nie.

Bazil maak die deur oop.

“Goeie more Meneer Booysens.”

Net dit.  Hy mik-mik om tussen die banke deur te stap as Meneer Booysens deur die stilte skreeu skielik en hard:

“Jy’s laat.”

Bazil draai in sy spore om. Sy staan is reguit, tog is hy nie rebels nie. Soos ‘n skaap wat weet hy gaan slagpale toe..Meneer Booysens tel die slaanstok van die tafel af op en wink Bazil nader.

Petunia kyk weg.  Die hele klas se leerders kyk weg al ken hulle die daglikse storie.

Drie houe weergalm deur die gange van die skool.  Sonder dat sy kyk, weet Petunia dat Meneer  Booysens met groot vertoon sy hand vér teruggetrek het en met groot genot hard op die Bazil se sagte boude laat neerkom het.  Dríé keer.

Hoe is dit dan dan jy kan lekkerkry as jou vriend so verneder word?  Toe Petunia dit uiteindelik regkry om te kyk,  sien sy hoe die kinners onder die tafels, weggesteek in hulle moue, die lag probeer terughou.  Petunia hartseer en vee vining die trane af wat op haar wange afrol.

Bazil loop na sy tafel, reg langs Petunia sin. Glimlag vir haar en knip oog dat alles reg is.

Dis net die strek van die spiertjie in sy nek wat sy pyn verklik.  Petunia steek ‘n hand uit en druk sy skouer.  Sý pyn is háár pyn.

Meneer Booysens hervat sy les asof díé onaangenaamheid nooit gebeur het nie.  Behalwe dat hy geen oogkontak met Bazil maak nie…

Half-Twee verdaag die skool.  Dan stormloop honger leerlinge die hoofstraat vir ‘n brood en ‘n blik sardiens of warm vetkoekies by die Pakistan winkel. Vergeet van die waarskuwings van ouers oor gevalle van voedsel vergiftiging in Kimberley.

Bazil en Petunia loop stil langs mekaar in die stof.  Beide van hulle bly uit die oog die eerste paar duine verby.  Dis warm.  Die son brand in hulle nekke, en die honger knaag.  Bazil loop en klippe skop met sy hande in sy broeksakke en neurie ‘n verspotte deuntjie, totdat Petunia se kop daarvan kan oopbars.

“Lyster as jy so staan en klippe skop dan het jy seker ‘n paar nuwe skoene wat onner jou bed lê en wag, nê?”

“Nee, dis nie reg nie.  Ek poleer hulle maar net weer dan lyk hulle soos nuwe skool skoene!”  Hy lag. “Ek is voor jou by die waterpomp!”

Bazil skiet weg soos ‘n pyl.  Petunia wil eers nie saamwerk nie, maar besluit dan daarteen.  Enige iets om sy seer te help dra…

Hy hardloop soos ‘n springbok oor die grassies.  Petunia is kort agter.  Sy laat hom wen.  Altyd.

Hulle drink hulle dors weg en maak hulle waterbottels vol.  By die pomp gaan hulle paaie uitmekaar.  Dan gaan Petunia na haar huis toe en Bazil na syne.  Daar is werkies wat wag.

Soms kry hulle Meneer Booysens halfpad.  Sy huis is net ‘n klipgooi van Bazil se huis af, maar gewoonlik trap hy sy fiets laat die speke klaagliedere sing soos hy verby hulle suis.

Hy groet nooit.  So kiertsregop en gefokus, net sy broekspype wat hy met wasgoedpenne vaspen wat wapper in die wind.  Hy kom altyd met n’ deftige pak kleure en das aan by die skool. Vir wat, weet Petunia nie.  Dis so warm soos die hel hier, hoe minder jy aan het hoe beter!

 

Elke dag is dieselfde.  Volgende dag, wragtig weer! Bazil is weer laat vir skool.  Petunia het al gevra daaroor, maar Bazil is ‘n toe boek.  Hy praat nie daaroor nie.

Alles bly dieselfde totdat iets verander.  Dis een van Newton se wette.  So het die dag ook aangebreek wat alles vir Bazil verander het.  Dit was ‘n Donderdag.  Meneer Booysens was laat.  En, natuurlik, ook Bazil.

Met die aankoms van Meneer Booysens by die klas het die skoolhoof die klas reeds aan die lees gesit.  Almal het hom aangegaap.  Sy klere was vuil en hy het geruik asof hy met die vulliswa skooltoe gekom het.   Hy was nie homself nie, het Petunia gesien, terwyl sy regop sit in haar stoel.

Meneer Booysens het by sy tafel gaan sit en met sluwe kraalogies wat bly knip, en wat heeltyd bewerig oor sy deurmekaar hare gevryf.  Hy het verboureerd ongemerk by die skoolvenster bly uitkyk, so al asof hy verwag iets gaan gebeur.  Petunia het lekker gekry.  Hond vang sy baas!

Bazil klop aan die deur.

Meneer Booysens se stem styg sy gewone oktaaf hoër.

“Binne!”

Petunia ken al die lyne van Meneer Booysens se gesig.  Sy kyk sommer klaar deur die venster.  Sy weet hoe kyk die kraalogies nou, sy weet hoe kwyl hy, hoe kramp sy hande.  Sy wil net skreeu uit haar hart uit by die aanskoue van die genot wat hy put uit die pyn wat hy toedien.

Sy wag vir die houe.

Dit kom nie.

Eers toe Bazil se lyf skadus oor haar maak draai sy haar kop.  Petunia is skoon verward.  Die slaanstok lê nie meer op die kant van die tafel nie.  Meneer Booysens het “moeggepraat” in die asdrom gegooi.

Petunia tik op Bazil se skouer.  Hy draai na haar met ‘n lig van sy skouer, maar ‘n vraag in sy oë.  Niemand weet wat aangaan nie.

Gedurende hierdie dag maak Meneer Booysens ‘n hele paar keer met Bazil oogkontak.  Bazil voel later skoon ongemaklik oor die skielike aandag, tog sit lekker om sy hart.

Petunia vertrou die vrede glad nie.  Pouse drom die klas in groepies bymekaar om oor die veranderings te bespiegel.

Sy sit op die stoepie langs Bazil en eet ‘n appel.  Bazil sit en tuur in die verte, maar Petunia weet hy sal praat as die tyd reg is.  Sy prop groot stukke appel in haar mond en kou soos ‘n donkie.

Uiteindelik het Bazil iets om te sê:

“Wat het jy vir Meneer Booysens gesê?

Petunia is op haar perdjie.  Sy stik aan die appel.  “Nou vir wat dink jy ek het iets daarmee te doen gehad?”

Bazil kyk skerp na haar.  “Nou kyk vir my in my oë en se vir my jy het niks daarmee te doen gehad nie.”

Sy draai na sy kant toe en kyk hom in die oë.  “Sien jy nou, ek het niks met die saak te doen nie.  Dis vir my net so duistere affêre as vir jou.”

Die twee staar in die straat af.  Wat het dan skeefgeloop, of, “reg”geloop?

Toe dit huistoe gaantyd raak, vra Meneer Booysens dat Bazil ‘n oomblik moet agterbly.

Petunia rek haar oë.  Wat wil die man nou doen met Bazil na skool?

Bazil wag in die klas rond terwyl die kinders verdaag.

Sy hande is in sy broeksakke om nie te wys hoe hulle bewe nie.  Hy weet nie wat om te verwag nie.  Want met Meneer Booysens is enige iets moontlik…

Hy weet Petunia staan by die venster en loer.  Sy is tog te nuuskierig om te wag vir tweedehandse nuus.  En sy het gesê dat sy Meneer Booysens sowaar vandag met ‘n klip gaan gooi as hy dit waag om sonder getuies aan Bazil te slaan.  Bazil kry lag as hy daaraan dink. Soos sy beskermingsengel, dit is Petunia vir hom.

Bazil hoor hoe Meneer Booysens die deur toe maak agter die laaste leerling.  Bazil haal diep asem.  Hy draai effens skuins met sy sagte bousde weg van die meneer af. Net nie weer pak nie, het nie vandag enige gekry nie.

“Sit, Bazil.”

Bazil gaan sit sommer in die naaste stoel.  Sy mond voel droog.  Hy loer met die kant van sy oog na buite.  Hy sien die soom van Petunia se rok.  Hy’s veilig.

Meneer Booysens self neem om die kant van sy lessenaar plaas.  Dit lyk of hy nie weet wat om te sê nie.  Dan praat hy hard en duidelik.

“Die dekselse honde het my vullissakke vroeg vanoggend verskeur en my erf vol gesaai met rommel.”

Bazil wee tnie hoe om daarop te antwoord  nie.  Dis regtig vreeslik meneer, my pa kla ook oor die rondloop honde wat so op ons gras mors.

Meneer Booysens hou ‘n hand oor sy mond om sy lag te keer.

“Sien, ek ry toe baie later skooltoe.”

“Ja, Meneer, ek kan dit goed glo.”  Bazil wens die gesprek wil nou einde kry.  Hy voel sy hare kriewe en sy bene bewe..

“Toe ek net die draai wil vat, toe sien ek ‘n seuntjie, jou ouderdom wat hom flou sukkel om‘n rolstoel te stoot, in die dik sand, al die pad tot by die kliniek.”

“Meneer partykeer is die sand so dik dat ek die rystoel nie voorentoe kan beweeg nie.”

Bazil besef te laat wat hy nou net gesê het.  Niks kan die waarheid nou meer toesmeer nie.

“Wie is dit wat jy so stoot?”

Bazil sug.  Hy kom uit met die hele sak patats.  “Dis my pa, Meneer.  Die Kanker vreet hom op.

Al van laasjaar af, hy kan nie self loop tot by die kliniek nie! Ek vat hom elke more voor skool kliniek toe vir chemo of medisyne of behandeling.

Meneer Booysens vroetel met sy sakdoek.  Hy snuif hard daarin.

Petunia staan sommer regop voor die venster en huil.  Bazil het dan niks gesê nie…

Meneer Booysens het lank verskoning gevra.  Vir die Here en vir Bazil.  ‘n Mens moet nooit iemand op sy baadjie trakseer nie.  Jy weet nie hoekom hy optree soos hy optree nie…elke mens het ‘n storie…

Bazil kom nog altyd laat.  Hy klop nog altyd huiwerig aan die klasdeur.

Meneer Booysens se stem styg nog altyd ‘n oktaaf hoër wanneer hy sê “Binne.”

Maar sy kyk is anders wanneer sy oë Bazil volg tot by sy bank. Moeggepraat is weg.  Vir ewig weg.  Laatkom is nie vir sussies nie..




2 Kommentare

Lewer Kommentaar

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Rikus het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak