Jongste aktiwiteit:

Die kasteel se geheim

Die kasteel se geheim

Faan se volla trek swaar teen die opdraande uit. Afdraand gaan dit makliker, maar dan moet hy rem trap vir die vale. Die volla is so volgepak, ek sit amper met my neus teenaan die voorruit. My asem maak mistige kolle teen die ruit en elke keer as Faan rem trap moet ek agteruit beur om nie my plat neus nog platter te stamp nie. Faan brom ontevrede na my kant toe: “Jan, ek is nog steeds nie baie beïndruk dat jy ons omgepraat het om ons welverdiende verlof by ‘n ‘vakansiehuis’ in die boendoes deur te bring nie.”

Faan en Kemp, wat agter sit, weet nie dat ek hulle met ‘n doel omgepraat het nie … eintlik ‘n tweeledige doel. Volgens oom Koos het sy pa, by wie hy ‘n kasteel geerf het, op sy sterfbed genoem dat daar ‘n geheim rondom die kasteel is. Hy is oorlede voordat hy kon verduidelik wat dit is. Hy het my ‘n sak vol geld belowe as ek die geheim ontrafel. Hy wil ook duidelikheid hê hoekom besoekers na net twee dae hul verblyf kortknip. Dit is sy begeerte om die kasteel in sy volle glorie te herstel en te omskep in ‘n vakansie-oord. Daar is onder andere ‘n groot dam vir watersport.

Ons bereik uiteindelik die kasteel. Kemp, met ons padkos op sy skoot, is nie baie entoesiasties nie. “Ons kon nou lekker op die strand gelȇ het en na mooi meisies gekyk het.” mompel hy met ‘n mond vol kos.

“Dan sal jy beslis minder moet eet my mater. Kyk net na daai groot pens van jou. Geen meisie sal na jou rigting kyk nie,” korswel Faan.

Met ons aankoms is daar niemand om ons te ontvang nie. Dis baie vreemd, dink ek by myself. My oom het sy neef, Gert, voltyds aangestel om besoekers te ontvang. Dis egter nie al wat vreemd is nie! …

Toe die son sak, huil ‘n ysige wind om die hoeke van die kasteel. Kemp het ‘n klomp hout ingedra en die kaggel gepak. Voordat hy die vuur aansteek besluit hy om eers vir ons elkeen ‘n sjerrie te skink en gaan haal glase uit die kombuis. Toe hy terugkom lȇ ek en Faan alreeds lekker snoesig toegedraai in komberse voor die vuur.

“Haai ou Kempie!” bulder Faan hier langs my “dit was nou baie gaaf van jou gewees om solank die vuur aan te steek!” Ek is al gewoond aan Faan se harde stem maar wip nogtans soos ek skrik.

“Genade tog Faan, ek is seker daarvan, dat indien daar spoke was wat hier sou ronddwaal, nou padgegee het!”

Kemp probeer so tussenin te protesteer dat hy nie die vuur aangesteek het nie, maar hy is altyd windverwaaid en is nou nie meer so seker van sy saak nie.

Ons besluit om sommer ‘n ‘krismisbed’ voor die vuur te maak. Dit was ‘n uitmergelende rit gewees en sommer gou is ons vas aan die slaap. Ek word op ‘n stadium wakker, hoor iets… Seker maar oom Gert wat besluit het om huis toe te kom, dink ek half beneweld en raak weer aan die slaap.

Na ontbyt begin ons om die vertrekke te verken. Die hele woning is ten volle gemeubileerd, skoon en netjies. Dit lyk nie meer so vreesaanjaend nie. Nugter weet waar oom Gert is! In die studeerkamer vind Faan ‘n kaart en ons besluit om te gaan kyk waarheen dit lei. Oom Gert verskyn skielik uit die niet en gluur ons met vernoude oë aan. Faan druk die kaart verboureerd agter by sy broek in. Dan glimlag oom Gert skielik vriendelik en stel homself voor, maar sy ysige blou oë rus koud op my.

Toe ons seker is oom Gert is nie in die nabyheid nie, bestudeer ons die kaart. Dit blyk dat daar ‘n voetpad is wat na drie verskillende bestemmings lei. Ons vind die ingang en stap al hoe dieper die mistige woud in. Toe ons by die plek kom waar die paadjie na drie verskillende rigtings lei, besluit ons om eers die linkerkantste een te neem. Die dreuning van ‘n waterval word al hoe harder. Natgesweet van die drukkende hitte baljaar ons heerlik in ‘n poel by die waterval. Lieflike varings en varkore groei geil. Dit is geen wonder dat oom Koos die plek in ‘n vakansie-oord wil omskep, maar wat sou die geheim tog wees?

Daardie nag hoor ons vreemde geluide. Ons gryp ons flitse om ondersoek in te stel. Dit blyk uit die kelder te kom. Daar gekom sien ons dat iemand besig is om iets te slyp. Ons sluip saggies weer terug, onseker wat ons te doen staan.

Die volgende dag volg ons weer die voetpad. Die keer neem ons die regterkantse paadjie. Net toe ons dink dat dit na nêrens heen lei nie kom ons op ‘n stroompie water af. Daar is ‘n sif met klippies in. Ek wis dadelik dat dit diamante is. Dit is die kasteel se geheim! Maar dit verklaar nog nie hoekom die gaste na twee nagte se verblyf vlug nie. Ek besluit om niks te sê nie, neem net van die klippies, dan keer ons terug na die kasteel. Onbewus dat hulle elke dag dopgehou word.

Die volgende dag neem ons die middelste voetpad. Skielik beland ons by ‘n groot opening. Ons skrik ons boeglam. Voor ons dans swart gedaantes in ‘n beswyming terwyl dromme ritmies opklink. Ek en Kemp begin hipnoties saamdans. In die middel van die kring is ‘n sangoma met ‘n spies. Sy sluip al nader en nader na my en Kemp. Faan behou sy teenwoordigheid van gees en sleep my en Kemp vinnig aan die arms uit die woud uit.

Toe ons, lam geskrik, weer terug is in die helder sonlig, koukus Faan en Kemp oor wat gebeur het. Hulle kom agter dat ek skielik baie stil is en kyk my agterdogtig aan.

“Jan,” vra Kemp. “Wat gaan hier aan?”

Ek kyk skuldig af grond toe en probeer verduidelik: “Oom Koos het my baie geld aangebied om die geheim van die kasteel te ontrafel. Ek het julle hulp nodig gehad. Met die geld wat oom Koos aanbied sal dit vir my moontlik wees om ook so rojaal te leef soos julle. Dit het my minderwaardig laat voel dat julle alles kon koop wat julle harte begeer en ek nie. Ek is jammer.”

“Toemaar Jan,” sê Kemp “ons verstaan, maar jy mag nooit weer so voel nie, ons het jou nog altyd as ons gelyke gesien. En wat ons vakansie hier aanbetref, dit was ‘n baie opwindende ervaring gewees!”

Die polisie neem oom Gert in hegtenis. Oom Koos is so ingenome dat hy my ‘n vennootskap aanbied. Hy bied my vriende hoogsbetaalde poste aan, maar hulle verkies eerder die stad as die ‘boendoes’ waar daar dalk nog swart gedaantes ronddwaal.

@ Elize Ehlers




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed