Hemelse park van liefde – Silwer
Hemelse park van liefde – Silwer
Haar blonde, los hare warrel syagtig in die wind waar sy al hoe hoër swaai in die lowergroen park se speel-area.
Asof afgespreek, kom die dogtertjie en haar ma elke dag stiptelik om 17:30 vir vyftien minute se uitgelate speeltyd. Ek sit en hou die idilliese toneeltjie daagliks dop, maar dit wek geen vreugde in my swaar, donker gemoed op nie.
Daar is wel iets gerusstellends daaraan om hul daar te sien. Roetine?
Dit is op my roete vanaf die kantoor na my woonstel. Ek gun myself elke dag hierdie verposing. Soms kry ek sommer ’n Woollies-slaai of toebroodjie om hier te nuttig as aandete.
Sedert Bert drie maande gelede aan hoofbeserings beswyk het in ’n motorongeluk, is kos glad nie ’n prioriteit nie.
Bert…
Vreemd hoe ’n mens, selfs al was daar lankal nie meer sprake van liefde nie, iemand mis wanneer die persoon nie meer daar is nie.
My oë dwaal terug na waar die dogtertjie swaai. Was ek ook eens so vry en sorgeloos? Wanneer het die lewe sy kleur verloor? Selfs nadat Bert se ontrouheid aan die lig gekom het, was daar dae wat ek kon lag. Daar was dae wat ons selfs sáám gelag het.
Die hartverskeurende gehuil van ’n kind ruk my terug na die werklikheid.
Ek spring op vanaf die bankie en hardloop instinktief nader waar die mamma met haar dogtertjie in haar arms hurk.
“Toemaar, Zabeth, Mamma is hier,” hoor ek die vrou troos.
“Goeiemiddag, kan ek help?” bied ek aan.
“Asseblief, as jy vir my ’n snesie het?”
Ek diep die pakkie snesies uit my handsak op en hou daarvan in haar rigting. Sy druk dit liggies teen die wond teen die kant van die dogtertjie se kop, maar dit is binne sekondes deurweek.
“Ek dink jy moet haar eerder ongevalle-eenheid toe neem,” stel ek voor.
“O vrek, Mevrou, ek het nie ’n motor nie … toemaar Zabeth, toemaar my skatjie,” antwoord sy my terwyl sy die kind deurlopend troos.
Ek gee die res van die snesies aan, die bloed is minder, die dogtertjie stiller, maar haar ogies begin fladder. Skielik val haar kop agteroor en verloor sy haar bewussyn.
“Nee! Zabeth! Zabeth!” roep die mamma haar dogtertjie se naam uit om haar te probeer wakker kry.
Ek spring op.
“My woonstel is net twee blokke hiervandaan. Ek gaan haal gou my motor, wag net hier,” beveel ek en begin hardloop. My asem brand in my keel van die ongewone oefening.
Ek hardloop die trappe twee-twee op tot by die derde vloer, ruk my voordeursleutels uit my handsak en sluit dit oop. Ek haak die motorsleutels van die hakie af waar dit in die gang hang, gryp ’n kombersie uit die gangkas, sluit die deur agter my en hardloop weer die trappe af na die kelderverdieping waar my motor geparkeer staan.
In ’n ommesientjie is ek terug by die park en soek naarstigtelik na parkering. Die geluk is aan my kant wanneer ’n voertuig se flikkerlig aan kom en ek met ’n sug van verligting daar parkeer.
Die mamma is nou omring deur nuuskierige omstanders wat almal gelyktydig probeer raad gee. Ek baan my weg tussen hulle deur tot by haar.
Daar hang trane aan haar wimpers en die blydskap wanneer sy my gewaar laat my vir ’n oomblik my ekwilibrium verloor. Ek staan daar met my gedagtes in ’n warboel. Hier is ’n wildvreemde vrou wat bly is om my te sien; iemand wat my werklik nodig het. Wanneer laas het ek “nódig” gevoel?
Ek skud die gevoel van melankolie van my af en neem haar handsak en die kleuter se rugsakkie by haar.
“Kom, ons moet gou maak, daar is reeds te veel tyd verspeel,” sê ek en begin haastig aanstap na die motor.
Ek sluit die motor oop, gooi die sakke op die agterste sitplek en hou vir haar die voordeur oop.
Die verkeer het al redelik afgeneem, ons ry in stilswye en vorder vinnig tot by die hospitaal.
Die dogtertjie word ondersoek en nadat daar steke in haar wond gesit is, gehospitaliseer vir observasie.
“Kom, kom ek gaan koop vir jou ’n koppie koffie hier onder in die hospitaal se kafeteria?” stel ek voor wanneer die trane van nuuts af in die mamma se oë opdam.
Nadat ons by ’n tafeltjie plaasgeneem het, steek ek my hand na haar uit, “Sandra,” stel ek myself aan haar voor. “Sandra, ek is Madelein Toerien. Hoe sê ek ooit genoeg dankie vir wat jy vandag vir my gedoen het?” vra Madelein.
“Madelein, ek het nie eens gedink voor ek gedoen het nie, jou “dankie” is meer as genoeg.”
“Jy verstaan nie, Sandra. Zabeth is sterwend. Sy is op ’n waglys vir ’n nieroorplanting. Aangesien ek nefritis gehad het, is ek nie ’n geskikte skenker nie. Hierdie is dus ’n dubbele terugslag vir haar,” kom dit hortend van Madelein.
Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd ervaar ek suiwer emosies. Emosies van skok, ongeloof en hartseer vir ’n klein, vreemde dogtertjie en haar ma, spoel deur my gemoed. Ek voel ergerlik hoe my eie trane agter my ooglede brand.
Impulsief bied ek aan: “Mag ek my laat toets om vir haar ’n nier te skenk?”
“Jy kan, maar die kans dat jy ’n geskikte skenker sal wees, is baie skraal. Sien, Zabeth se bloedgroep is O-positief. Sy kan slegs van iemand met die ooreenstemmende bloedgroep ’n nier ontvang en dan moet daar nog voldoen word aan die ses-antigeentoets ook. Zabeth wag al twee jaar lank op ’n geskikte skenker. Dankie dat jy bereid was om te probeer,” sê Madelein opreg en neem ’n groot sluk koffie.
“Ek is O-positief, dit is dalk net die moeite werd om te probeer,” antwoord ek opgewonde.
“Die kans is steeds baie skraal, maar is jy seker dat jy wil voortgaan met die proses?”
“Ek is, Madelein.”
Dit is twee maande later en ek en Madelein staan langs Zabeth se bed.
Gedurende hierdie twee maande het ons hegte vriendinne geraak en het ek haar vertrou met my lewensverhaal. Vir die eerste keer in twee jaar voel dit weer vir my asof ek lewe. Ek staan soggens op met ’n lied in my hart en saans kan ek weer bid.
Die bloedtoetse se uitslag het bewys dat ek wel bo alle verwagting ’n geskikte skenker vir Zabeth is.
Ek het die geliefde kleinding gou kom groet voordat ekself voorberei gaan word vir die operasie om my nier te verwyder.
Met teerheid vee ek die haarsliert wat oor Zabeth se voorkop hang terug. Ek ruk my hand terug asof dit ’n slang is wat my pik.
Die geboortevlekkie in haar haarlyn, dis identies aan Bert s’n.
Ek kyk op in Madelein se sagte, blou oë wat vol vraagtekens na my staar.
O Here, dit kan nie wees nie! Is hierdie vrou die een wat my en Bert se huwelik geskaad het? Is hierdie kind, Bert se kind?
Ek kyk terug na die dogtertjie op die bed. Sy kyk met groot, potblou ogies na my en hou haar hand na my toe uit. Ek aarsel ’n oomblik voordat ek dit neem.
“Moenie bang wees nie Tannie. Mamma sê Liewe Jesus het ons storie l-a-a-a-nkal geskryf. Hy sal by my én Tannie wees,” kom dit van die sesjarige dogtertjie.
Haar onskuld en Madelein se weerloosheid is in konflik met die rou emosies wat ek probeer verwerk. Ek gee Zabeth se hand ’n stewige drukkie toe die suster my ontbied en ek na my hospitaalkamer geneem word.
“Suster, weet jy of geboortevlekke oorerflik is?” skraap ek genoeg moed bymekaar en stel die vraag wat aan my binneste vreet.
“Dit is. Gewoonlik van pa na dogter of ma na seun,” antwoord sy afwesig terwyl sy voortgaan om die drip in my arm te sit.
Dan is dit so? Skenk ek my nier aan Bert se dogtertjie, wat gebore is uit sy huweliksverraad?
“Here, gee my krag,” bid ek woordeloos en voel weer die skreiende pyn soos op die dag wat hy sy buite-egtelike verhouding aan my beken het.
“…Liewe Jesus het ons storie l-a-a-a-nkal geskryf…” eggo Zabeth se woorde weer in my ore.
“Is ons pasiënt gereed? Dis tyd om teater toe te gaan,” sê die portier as hy die kamer binnekom.
“Sy is,” sê die suster en maak die bed se remme los.
Ek maak my oë toe.
Dit is ure later.
Madelein staan langs my bed. Haar oë is rooi gehuil. “Zabeth?” my stem klink vreemd in my ore. Madelein skud haar kop en sy sê snikkend: “On… ons… kleinding… is… sy… speel in die hemel se parkie.”
Ek voel hoe die trane by my ooghoeke opdam en hul paadjies tot in my hare vind. ’n Totale verlatenheid neem besit van my.
Twee weke later is daar ’n klop aan my woonsteldeur.
Ek loop versigtig, kyk deur die loergaatjie en sien Madelein se afgeremde gesig.
“Kom binne, Madelein,” nooi ek wanneer ek die deur oopmaak.
Sy stap kombuis toe en sit ’n gerf blomme in die wasbak neer, terwyl ek die ketel aanskakel.
Ons gaan sit met ons bekers koffie in die leefvertrek.
Madelein neem die raampie, met ’n foto van my en Bert daarin, wat op die tafeltjie langs haar stoel staan en sê: “Jy het geweet. Jy het geweet die oomblik toe jy Zabeth se geboortevlek sien en steeds het jy jou nier vir my en Bert se dogtertjie gegee?”
“Dit is die lewensverhaal wat die Vader vir my beplan het, Madelein. Dit is die onvoorwaardelike naasteliefde wat ek vir jare versaak het. Dit was tyd om na Hom te luister. Jou en Bert se dogtertjie het my daaraan herinner,” antwoord ek oortuigend, eerlik en uit my hart.
“Was dit naasteliefde toe ek jou man toegelaat het om my die hof te maak? Was dit naasteliefde toe ek in ’n oomblik van swakheid my oorgegee het aan wellus?” vra Madelein terwyl die trane van selfveragting oor haar wange stroom.
Ek sit my koffiebeker op die kanttafeltjie neer en gaan sit langs haar op die bank. Met ’n besliste beweging neem ek haar hand in albei myne en sê: “Nee Madelein, dit was versoeking, maar die blote feit dat jy nou hiér is en berou het oor wat jy gedoen het, midde-in jou hartseerstryd, dít is naasteliefde.”
© Retha van Deventer, 26 Januarie 2025.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek