God Loop Op Water
God Loop Op Water. (BRONS)
*Rudolf en *Camilla loop deur die vakansie oord. Toe hulle verby die swembad loop speel-stoei hulle en Rudolf stamp haar per ongeluk aspris in die diep kant van die swembad. Hy staan en skaterlag. “Sy skop-skiet na bo. Is jy simpel? As jy dit ooit weer doen,” sis-gil sy vir hom, “sal ek jou bliksem!” Sy klim uit en storm druipnat kamer toe. Rudolf is stil geskok. Hy verstaan nie wat het haar hewige reaksie ontlok nie. Sy slaan die kamer deur toe en hy hoor hoe die gesmoorde snikke deur haar skeur. Dit sal beter wees as hy haar nou net uitlos. Baie later klop hy saggies aan die deur. “Kom in.” Hy kan hoor dat sy nou afgekoel het. Hy stoot die deur oop en gaan sit op die kant van die bed. “Milla, ek is jammer. Ek verstaan net nie jou hewige reaksie nie. Wat het ek gedoen wat jou so omgekrap het?” Hy neem haar hand en wag vir haar om te antwoord. Sy teug hard en diep asem voor sy begin. “Daar is iets wat ek jou moet vertel. Dit is tyd dat jy weet.” Hy vat haar aan die ken. “Kyk vir my. Wat dit ook al is jy kan my vertel.” “Goed, ek sal by die begin, begin. Ek was in standerd sewe. My ma het ons die oggend, 27 Maart 1985, gegroet en by die bushalte afgelaai. Vanessa my suster en Divan my boetie het saam met my gewag vir die skoolbus. Vanessa, was in standerd ses. Ons was in dieselfde Hoërskool. My boetie was in die Laerskool. Daardie middag het ons almal weer op die bus baljaar. Tussen ons was daar ‘n paar hansworse en rokertjies wat gewoonlik bo gesit het. Ek en Vanessa het ook bo langs mekaar gesit en gelag oor al die ander se kaskenades. Gelukkig het Divan daardie dag met ‘n ander bus gery.” Sy snik. “Met ‘n vaart het die bus binne in die Westdene Dam geploeg. Skielik was daar chaos. Die hel het letterlik losgebreek. Kinders het geskreeu en in die bus rondgeval. Daar was nie tyd om te dink nie. Daar was skaars tyd om te bid. Bruin kolkende water het by die bus openinge ingestroom. Ek het gesukkel om te sien wat aangaan want die water was te modderig. Eerste het ek na Vanessa gesoek. Vanessa was weg ek kon haar nie kry nie. My longe en hart wou bars. Water. Water. Water. Oral. Toe ek nie meer kon uithou nie het ek myself boontoe geskiet. ‘n Vreemdeling het my om die lyf gegryp en met my na die wal toe geswem. Minute later toe ek wakker word het dit gelyk soos ‘n riller rolprent om my. Die geweeklaag was oorverdowend. Ek was versteen. Ek kon nie glo wat ek sien nie. Geen klank het uit my mond gekom nie. Kinders het oral op die gras gelê. Helpers het bevele geskreeu. Ouers het histeries op en af gehardloop. En Vanessa? Vanessa was weg. Met elke duiker of helper wat ‘n kind wal toe gebring het, het ek gehoop, gebid dat dit Vanessa sal wees. Maar helaas, toe hulle haar slap liggaam wel uitbring het ek geweet. Sy het verdrink. Ek was te oorweldig om te huil. Dié verlies is nie eenmalig nie maar ‘n lewenslange treurproses. Wanneer jy soms verby die dam ry dryf daar wit kransies op die water, veral in Maart. Die vreedsame spieëlbeeld verskans die ramp wat hier plaasgevind het. Die dam is omring deur Wilgerbome wat die tragedie aanskou het maar verstom is deur die verskrikking. Daarom hang hulle takke so laag. Hulle buig voor die verdriet van daardie dag. Ek onthou die paniek van ouers en kinders wat op die gras vergader het in afwagting vir die volgende kind wat uit die water gehaal word. So ook die rou smart van ouers wat vergeefs gewag het. Maar soos ek nadink oor wat daardie dag gebeur het gaan iets in my binneste los. Veral om en by die 27ste Maart. Daardie dag het my lewe verander. Dinge sal nooit weer vir my dieselfde wees nie. Ek verlang na my suster. Maar in my hart het daar berusting gekom toe ek baie jare later die verhaal van Petrus en Jesus lees. Ek weet nou hoekom God op water loop….!” En sy glimlag. “Party volmaan aande gaan sit ek op die wal. My blik vang die lig wat oor die water skyn en ek weet God loop vanaand weer op dié water. Daarin is daar vir my vrede.” Met trane wat oor sy wange stroom druk hy haar kop teen sy bors. “Milla, my liefste, ek is jammer. Volgende keer met volmaan gaan ek saam met jou op die wal sit. Jy is nie alleen nie, ek is hier.” (796) *Skuilname
Vera Booysen © 26 Februarie 2025
INK (Februarie Water Projek)

2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek