Jongste aktiwiteit:

Die sinkgat

Die sinkgat
(Brons)
Fiksie ,
Wilhelm en sy vriend Ihmram sit voor die televisie, elkeen met ‘n bier in die hand, terwyl hulle wag op die televisienuus wat binne ‘n paar oomblikke moet begin. Wilhelm was nooit juis ingestel op die nuus nie, maar die abnormale gebeure van die laaste tyd het hom gedwing om nou al vir weke met nuuskierige belangstelling die feitlik daaglikse berigte rakende die geheimsinnige verdwynings van mense regoor die wêreld te volg. En hy maak aantekeninge. En weereens word hy nie in sy verwagting teleurgestel toe die nuus begin nie.
“Nog ‘n verdwyning, die keer in Peru. ‘n Seun van twaalf. Dieselfde omstandighede, dieselfde verloop, dieselfde geheimsinnigheid.”
Ihmram stoot sy bierblik eenkant toe, trek sy skootrekenaar nader, skakel dit aan en navigeer na die program wat hy in sy navorsing oor die gebeure gebruik. Ihmram is ‘n geofisikus. Vir baie lank ondersoek hy al die agteruitgang van die aarde en die noodlottige einde waarop alles afstuur. Hy het, sover hy kon, almal probeer waarsku, teen die komende apokalips, maar sonder enige sukses. Wilhelm is die enigste persoon wat in sy werk en navorsing enige belangstelling toon. Op sy beurt toon hy weer belangstellings in die werk wat Wilhelm doen en deel sekere van sy oortuigings en sieninge. Juis daarom is hulle bymekaar om saam antwoorde en verklarings op hierdie vreemde verskynsel te probeer vind. Wilhelm se studie en belangstelling lê op ‘n heel ander vlak as die van Ihmram. Wilhelm is ‘n parapsigoloog en daarom het hy die rol van die geesteswêreld en paranormale ingrype by hierdie verdwynings nie uitgesluit nie.

Die reeks geheimsinnige verdwynings het sowat ses maande gelede begin. Aanvanklik het dit slegs aandag getrek as gevolg van die vreemdheid daarvan. Die eerste daarvan het in Suid-Afrika gebeur, die plek waar vermiste persone nie ‘n onbekende verskynsel is nie. Tog het die beriggewing daarvan wye reaksie op sosiale media uitgelok. ‘n Dertienjarige seun het die aand gaan slaap en het raaiselagtig deur die loop van die nag uit sy ouerhuis verdwyn, sonder enige nota of aanduiding van waar hy hom kon bevind en sonder enige aanduiding dat iemand vir sy verdwyning verantwoordelik kon wees. Dit wou voorkom asof hy as’t ware net verdamp het, as dit die regte woord is. Hy het niks met hom saamgeneem nie, want alles in sy kas en kamer was nog onaangeraak. Sy slaapklere was opgevou onder sy kopkussing. Daar was baie bespiegeling oor hierdie vreemde toedrag van sake en sy ouers is van aandadigheid en vuilspel beskuldig. Maar toe volg daar honderde soortgelyke verdwynings vanuit verskillende dele van die wêreld. Kanada, Australië, Italië, Libiê en Suid-Afrika is van die lande waar die meeste verdwynings voorkom. En almal het presies op dieselfde manier plaasgevind met dieselfde raaisels rondom elkeen se verdwyning. Kinders gaan slaap doodnormaal en is dan die volgende oggend spoorloos weg, sonder enige verklaring of verduideliking.

“My vriend, ek het in my navorsing iets baie interessants ontdek wat ek graag vir jou wil wys.”
Wilhelm skuif nader.
“Kyk ‘n bietjie hierna. Hier aan die linkerkant op die skerm is al die verdwynings waarvan ek weet van die afgelope ses maande, nie net landsgewys nie, maar spesifieke liggings. Ouderdomme, ensovoorts. Ek het nou gou hierdie een van Peru bygevoeg. Hy sal nommer tweehonderd wees. En hier aan die regterkant, het ek ‘n lys van al die nuwe sinkgate wat gevorm het die afgelope ses maande. Wat sien jy?”
Na ‘n paar oomblikke se bestudering, los Wilhelm ‘n paar knope.
“Ekskuus my Frans, maar ek dink nie ek was verkeerd nie. Al die “abductions” is binne ‘n paar kilometer van ‘n sinkgat. En daardie sinkgate het gevorm binne ‘n week voor die spesifieke “abduction”. Dit kan mos nie toevallig wees nie.”
“Nee, dit kan nie. Maar daar is meer. Kyk mooi. Kyk na die ouderdomme van die kinders. Nie een is ouer as veertien jaar nie. Almal jong kinders.”
“Interessant. So die onderwêreld is toe tog ‘n werklikheid. Maar hoekom net kinders? Wat is die rede daaragter?”
“Ek dink nie dit gaan oor die kinders nie. Ek dink dit gaan oor die aarde.”
“Hoe … hoe bedoel jy nou?”
“Jy het al gehoor van die wegraping of rapture?”
Wilhelm frons en antwoord huiwerend.
“Jaaa, al iets gehoor daarvan, maar ek glo nie juis daaraan nie. Maar wat het dit met hierdie verdwynings te doen?”
“O nee, ek glo daaraan. En dit het alles daarmee te doen. Jy weet my werk behels die studie van die aarde en soos jy seker weet is daar chaos. Die aarde is opgefoeter. Kernkragaanlegte, ontbossing, klimaatsverandering, besoedeling, oorbevolking om maar net ‘n paar te noem. Ons aarde is vernietig en het nie meer lank om te bestaan nie, dalk miskien nog dertig, veertig jaar maksimum. En hy wys dit vir ons. Virusse, kieme, giftige diere wat al hoe meer toeneem, en so aan. Na hierdie tyd is ons ou aarde soos ons hom ken se tyd verby. En ons almal daarop.”
Weer los Wilhelm ‘n paar knope.
“Jy maak my nou bang. Is daar niks wat ons daaraan kan doen nie?”
“Ongelukkig nie, my vriend. Die skade is klaar te groot.”
“Maar ek verstaan nie. Die sinkgate, die “abductions”, wat is die doel daarvan. As alles dan besig is om tot niet te gaan?”
“Dis juis die punt. Die wegraping! Na ‘n nuwe wêreld, ‘n nuwe orde, ‘n wêreld sonder al hierdie goed wat ons doodmaak en wat ons aarde doodmaak, ‘n wêreld ver onder hierdie siek en afgeleefde aarde. Of dalk is dit eerder ‘n ou wêreld, die wêreld soos hy miljoene jare gelede was.”
“Hoekom dan net die kinders? Kan ons nie ook maar gaan nie? En wie kom haal hulle?”
“My vriend, dit is nie die kinders wat hierdie aarde opgemors het nie. Dis ons. Die grootmense. Die mense wat van beter behoort te weet. Die mense wat moes gedink het aan ons kinders en hulle toekoms. Buitendien, hoe oud is jy nou?”
“Ek word vyf en dertig. Hoekom?”
“En ek word veertig. Oor veertig jaar is ek tagtig, oud en afgeleef en van geen waarde vir enigiets meer nie. Jyself is dan al ‘n bejaarde man. En met al die gifstowwwe reeds in die lug, dink ek nie ons gaan op daardie stadium hoegenaamd meer leef nie, Nee wat, ons het ons kans gehad en ons het dit verbrou. Ons kinders, nou dertien, veertien, is dan groot, verantwoordelike volwassenes. Maar hulle word nou reeds voorberei, ordentlik voorberei, sodat hulle nie dieselfde foute maak as wat ons gemaak het nie. Deur wie, vra jy? Ek dink jy het die antwoord op daardie vraag.”
“Dit maak sin, ja.”
“Dit kan nie meer gekeer word nie. Nog baie meer kinders gaan verdwyn. Maar ons moenie na hulle probeer soek nie. Hulle is beter af daar waar hulle nou is. En dis net hulle wat die nuwe aarde van uitwissing sal red.”
©Henn
Brons

1147 woorde




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed