Jongste aktiwiteit:

Slapenstyd – (Silwer)

Slapenstyd – (Silwer)

 

Dis Donderdagaand 23:00, voor Paasnaweek.

 

Die sytent is netjies en Liefie lê al snoesig met sy 100kg uitgestrek op die eilandbed van ons luukse karavaan. Dis koud buite en die gansdons-duvet lyk aanloklik. Na ‘n sonskyndag op Hartenbos se strand, lekker moeg en effe gebrand, maak ek gereed vir my broodnodige

nagrus. 

 

Ek glip met ‘n behaaglike sug onder die snoesige beddegoed in. Liefie lê en lees nog Louis L’Amour. Ek hoor die branders buite ruis. My oë val toe. Slaap.

 

Ek skrik wakker. Dis “Liefie” die satan! Hy stamp aan my skouer. “Jy snork!” sê hy hard genoeg dat die bure aan alle kante, en hulle bure, kan hoor. Ek loer met een oog op my selfoon, 23:55. Lomerig draai ek op my ander sy (my sag-snork-sy), woel my kussing in die geen-snork-posisie en raak bykans oombliklik aan die slaap.

 

Van vêr af kom die woorde my slaapbenewelde brein wek: “Jy snork alweer! Jy klink soos ‘n leeu”.

 

Dis knap voor een…

 

Nou kyk, ek wórd nie wakker nie, ek SKRIK wakker. Niemand maak my voor 3:00 in die oggend wakker, sonder om met my befoeterdgeid kante te raak nie. Ek vlieg orent en gryp my kussing en selfoon. Die klap van die karavaandeur sou meer as net die direkte bure laat wip het van die skrik, toe ek “Liefie” agterlaat.

 

Gereed vir die koms van ons kroos oor Paasnaweek staan die kampbedjies in gelid in die sytent. Ek het slaapplek te kus en te keur. “Vir my kom wakker maak oor ‘n ligte snorkie,” mompel ek grimmig. Ek kies die verste bed van die karavaan af, by die sytentdeur.

 

Die einste bed kry die meeste wind van die see se kant af. Die duvet is nie in staat om my voete warm te kry nie.

 

Koud.

 

Die koue knibbel, knibbel … toe knaag dit. Eers net aan my tone en toe word my voete geheel en al verslind. Die kwaad word meer. Dit begin soos ‘n ligte dwarrelwindjie. Gedagtes van opstand, soos papiere wat opgeswiep word en fladder, fladder. Dan orkaan die onreg en die papiere word koerante. Hoofopskrifte daarop lui: “As jy vir my lief was…” en “Jy ken my al dertig jaa …” en “Moeg, moeg, moeg…” .

Ek staan op en ruk die ander drie bedjies se vleeskomberse af. Die word oor die wegvlugbed drapeer. Ek kruip weer in. Die keer word my voete warm. Die hitte streel saggies oor my lyf en bereik my ooglede wat loodswaar word. Die orkaan word stil. Die koerant word netjies opgevou en geliaseer. Slaap stil die laaste wrewelgedagtes oor die onreg wat my aangedoen is.

 

Pyn.

 

Die gewaarwording van pyn en wakkerskrik is ‘n tweeling. My rug en skouer pyn. Die koue se nagtaak word oorgeneem deur pyn. Dolke wat met brute krag tussen my werwels en skouer ingesteek en gedraai word. Na ‘n rug- en skoueroperasie is matras-kies ‘n prioriteit. Die kampbedjie met sy dun matrassie is ontoereikend.

 

Ek loer op die selfoon. Dis 4:00. Kwaad-kwaad staan ek op. Verduiwels. Ek sal beslis nie nou weer aan die slaap kan raak nie en om agter Liefie se rug te gaan inkruip is nie ‘n opsie nie.

 

Koffie.

 

Koffie maak alles beter. Ek skakel die ketel aan. Een en ‘n halwe lepel van my gunsteling koffie en ‘n knertsie melk. Roer tot die aroma die lug vul, dit styg op tot in my neus … salig. Met albei hande lig ek die beker tot teen my lippe en neem eers net ‘n klein slukkie van die hemelse vloeistof. Dit vul elke hoekie in my mond. Verruklik. Ek volg die warm tot waar dit vredig in my maag tot stilstand kom. Die beker word geledig.

 

‘n Blink gedagte skiet my te binne. “Liefie” is nie ‘n oggendmens nie. Ek gaan hom “bederf” met koffie in die bed!

 

Ek maak die karavaandeur oop. “More, more,” koer ek.

“Wat de duiwel?” kom dit van sy kant. “Dis nog nag,” protesteer hy.

Hierdie keer maak ek die karavaandeur “heel beleefd” sagter toe. 

 

Nou moet ek seker maak hy slaap eers weer;  neem my plan vorm aan. Terug op die kampbedjie vir ‘n bietjie hitte, trek ek my skootrekenaar nader en skryf ‘n artikel oor slaapgewoontes vir my tuisdorp se dagblad. Twee ure vlieg verby.

 

Dis tyd vir die laaste aanslag. Met ‘n vrolike: “Wil jy koffie hê?” koer ek weer digby “Liefie”.

“Verduiwels, nee, los my uit! Ek wil slaap!” kom dit befoeterd van die brombeer.

 

Ek verkneukel my aan “Liefie” se verviesing. Dit gaan hom ‘n rukkie neem om weer aan die slaap te raak!

 

So ja, “mission accomplished”. Hy wil mos! Ek sit die ketel aan en kort voor lank sit ek genoegsaam na die sonopkoms oor die see en kyk met ‘n tweede koffietjie.

 

Ek hoor ‘n geritsel by die sytentdeur. “Kry ek ook koffie?” vra Liefie beteuterd.

 

“Natuurlik!” antwoord ek stroopsoet …  en doodonskuldig.

 

Die son skyn en vanaand gaan ‘n moeë Liefie so vas slaap, dat nie eens my “gesnork” hom sal pla nie!

 

© Retha van Deventer, Julie 2025.

 

(Woordtelling: 840)

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Amelia het n geregistreerde lid geword

  • Net_Anri het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak