Skaduwee teen die Wind (364 woorde)
Skaduwee teen die Wind
Die wêreld was jonk.
Tyd het kaalvoet galop
Op voetjies sonder eelte.
Jaanie :
Luister.
Kranse kraak en kreun
visse droom kliphard
kwaai kattemaai by die dam.
Hoor die roepwind.
Luister tog net.
Oujaan :
Ek voel dit teen my rugstring.
Nie net koelte.
Wag — kyk daar.
Dis Wind!
En daai ander … Die laang een?
Slimjaan :
Janee.
Skaduwee van Tyd.
Klou mos alewig aan alles.
Iets om te onthou.
Voor ek vergeet.
Toe die Canyon nog net ’n kraak was,
het Wind deur die stilte gemymer.
En daar was Skaduwee —
teen klip, onder tyd, agter alles.
WIND:
Ek kom van ver af.
Met stof in my ore en sterre in my hare.
Oor oseane gesing.
Op takke en dakke gedans
waar niemand meer woon nie.
Ek haal asem.
Wals in hoepels oor duine,
soen die uithoeke van bloeiselblare,
fluister geheime in voëlneste,
los niks waar ek kom, net ’n rilling.
Ek is lig,
en vry,
verby
voor jy my kan vang.
SKADUWEE:
Ek bly by.
Wei in jou spoor.
Sit in die nate van herinnering
waar lig nie val nie,
maar jy jouself hoor fluister
nádat dit al lankal stil is.
Die afdruk van dinge wat verby is,
onder jou hand toe jy gewaai het.
Klou aan die spoeg
van jou laaste woorde.
Nie koud nie.
Sonder moeite.
Wat jy altyd saamdra.
WIND:
Ek lig jou rok.
Ek breek jou lyn.
Ek dra jou soms met meegevoel,
soms net uit gewoonte.
Begin van ‘n nuwe sin.
Hupstoot, vir wegtrek.
SKADUWEE:
En ek is die laaste punt.
Wag aan die einde van jou wind.
Onnodig om te roep —
alles kom uiteindelik tot rus.
Langs my.
Jaanie :
Wild!
Toe brul die Canyon –
Pikkewyn, vinger in die lug, knik net.
Paddas hou asem op.
Babers baai in die sand.
SKADUWEE:
Jy is vlug en flink en vergeet.
Ek bly, as niemand anders wil.
WIND:
Ek’s die eerste asem.
En jy…
altyd laaste.
-[STILTETYD]-
Slimjaan:
“En daar’s dit nou.
Die een waai, die ander wag.
Soos altyd.”
En so het hulle gebly:
Wind in beweging,
Skaduwee in geheue.
Die wêreld het aangejaag.
En onthou.
© Paul S Venter (Julie – 2025)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek