Wanneer die aarde sug.
Namibië is ’n land waar die aarde dor en hard kan wees, waar die son genadeloos bak en die wind stof in jou oë waai. In hierdie land is water nie net ’n gerief nie; dit is ’n kosbare skat, ’n lewenslyn. In die droogteseisoene, wanneer die grond kraak en die lug swaar hang van verwagting, raak mense soms ook maar mismoedig. Die horison bly stofvaal en die belofte van reën bly net dit: ’n belofte! Die belofte ontwyk soms vir weke. Die siel raak moeër en die hoop verdor saam met die veld. Daar kom lê ’n stilte kom oor die gemeenskappe soos ’n wag wat nie weet wanneer sy diens verby is nie.
Mens moet mooi verstaan: droogte is nie net ’n gebrek aan water nie, maar ’n toestand wat diep insny in die menslike psige. Dit bring ’n traagheid, ’n moegheid wat nie net liggaamlik en emosioneel is. Plase lê uitgedroog, die diere is uitgehonger en die mense se gesigte weerspieël dieselfde droogte wat hulle omring. Hoop word ’n brose konsep, een wat van dag tot dag uitgerek word in wag en onsekere verwagting.
Maar dan, eendag, kom die reën. Dit begin as ’n skaars sigbare wolkie op die horison, ’n stofreëntjie wat skaam neerdaal en dan, met ’n asemrowende oorvloed uit die hemel neerstort. Die eerste druppels op warm stof bring ’n geur wat ’n mens in jou binneste kan voel. Dit is die reuk van lewe, van hernuwing en hoop wat nie beskaam nie. Water vloei in droë rivierbeddings, skep poele in die laagtes en bring ’n ritmiese musiek wat die hart weer laat klop. Kinders hardloop kaalvoet deur die nat grond en hul vrolike gelag meng met die sagte dreuning van die reën. Volwassenes staan met oop arms onder die hemel met arms uitgestrek, asof hulle die seën wil omhels.
Dit is amper ’n heilige oomblik van suiwer dankbaarheid. Die wadi’s, droë rivierlope wat maande lank net spore van vorige vloede was, word weer gevul met lewende waters. Hierdie natuurlike waterweë, wat in die droogte soos kraaklyne deur die landskap sny, word skielik gevul met vloeiende lewe. Die aarde, wat so lank uitgedroog en stukkend was, sluk die reën gretig in en binnekort begin die eens dorre veld bot. Die groenigheid steek eerste skaars kop uit, dan, skielik, ontplof die landskap in kleure. Blomme wat jare lank lê en wag het, bars oop in ’n pragtige tapyt van geel, wit en pers. Hierdie wonderwerk gebeur nie net in die grond nie, maar ook in die mense se gemoedere.
Water is ’n trooster sonder woorde. Dit vra nie vrae nie, maak nie aannames nie, maar is eenvoudig net daar. Dit hou jou regop in ’n hittige somersdag, omvou jou in ’n verkwikkende reënbui na ’n seisoen van droogte. Of dit lê stil en diep in ’n wadi terwyl jy net daaroor kan staar en in jou gedagtes nuwe oeste sien. ’n Mens hoef nie te praat as jy na water kyk nie; jy kan net wees. En in ’n wêreld waar droogte die gees kan uitput, bring water ’n bevestiging dat selfs die droë seisoene sal verbygaan.
Dalk is dit juis omdat water self nooit net bly staan nie. Dit vloei, dit verander, dit vind altyd ’n weg. En tog, ook in daardie konstante beweging, bring dit ongelooflike vrede. Dit leer ons dat niks vir ewig dieselfde bly nie, dat selfs die moeilikste tye uiteindelik sal verbygaan en dat rus en herstel ’n natuurlike deel van die siklus is. Dalk is dit hoekom mense met ’n vol hart en ’n moeë gees altyd na die reën, na ’n rivier wil gaan, want diep binne weet ons, water was nog altyd daar om te hernu, te kalmeer en om die siel se dorstige grond weer sag te maak.
En miskien is dit hoekom ons, in ’n land van uiterstes, water nooit sommer as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Dit is ’n geskenk wat met eerbied ontvang moet word, ’n herinnering dat lewe broos is, maar ook veerkragtig.
Namibië se mense verstaan dit, hulle weet hoe om te wag, hoe om te hoop, en hoe om dankbaar te wees wanneer die reën val. Want wanneer die eerste druppels in die stof neerplof, is dit nie net die aarde wat verlig sug nie, maar ook die siel van ’n volk wat vir ’n oomblik weer vry kan asemhaal.
©MarleneErasmus
28/02/2025
(729 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek