Jongste aktiwiteit:

Henco se geheim

Henco se geheim

Madelein gaan sit styf teen haar pa. “Pa … Pappa,” begin sy, maar hou dan op met praat. Sy snik saggies. Hannes hou haar teer vas en troos so goed as wat hy kan. Sedert Reinette oorlede is, het hy en Madelein ‘n hegte band gevorm.

“Praat maar, Ounooi. Wat is fout, hmm?

“Ag Pappa, dis net … dis net … ek verlang na Mamma.”

“Ek ook, Madelein … ek ook, sê Hannes met klam oë.”

Wynand en sy vroutjie Elaine kom een aand by hulle besoek aflê. Elaine straal toe sy hulle die goeie nuus meedeel dat sy swanger is. Madelein word doodsbleek en loop vinnig uit die vertrek uit. Elaine kyk haar bekommerd agterna en besluit om haar te volg.

“Wat is fout, hartjie? Hoekom huil jy?” vra Elaine, terwyl sy haar liggies vashou.

“Tannie Elaine, ek is ook swanger. My pa weet nog nie,” snik Madelein. “Nico het my soos ‘n warm patat gelos. Hy het reeds oorsee vertrek om sy studies daar voort te sit.”

“Genade kindjie, kom, dan gaan praat ons met jou pa.”

Hannes is baie ontsteld en wil sommer dadelik Nico se ouers kontak. Dan besluit hulle om dit eerder stil te hou om Lilly teen verdere vernedering te beskerm.

Dit is bykans agt maande later. Madelein skenk geboorte aan ‘n pragtige babaseuntjie. Sy was baie lank in kraam; die vroedvrou is uitgeput en vertrek dadelik.

Direk daarna ontvang Hannes ‘n ontstellende oproep van Wynand. “Hannes, ek het baie slegte nuus. Elaine het vroeër in kraam gegaan. Ons baba was ‘n stilgeboorte. Elaine weet dit nog nie, sy is baie deurmekaar. Ek het die vroedvrou opdrag gegee om voorlopig stil te bly.”

“Wynand, ek wil hê jy moet dadelik hierheen kom … en bring die baba saam! Ek sal verduidelik wanneer jy hier is. Maak net gou!”

Wat daarná gebeur, sal net díé wat daarby betrokke was weet …!

Madelein berus daarby dat haar babatjie oorlede is, dit was immers ‘n baie moeilike geboorte gewees.

***

“Die baba in Wynand se arms lyk op ‘n druppel na soos Hannes,” fluister Henna vir haar man tydens Henco se doopplegtigheid. “Hy het selfs sy rooi hare.”

Henna kan haar nuuskurigheid nie langer bedwing nie. Sy gaan sit langs Elaine en vra huiwerig: “Elaine, Henco se gelaatstrekke lyk dan kompleet net soos Hannes s’n?”

“Maar mens,” lag Elaine. “Het jy dan nie geweet dat hy en Wynand halfbroers is nie? Hannes het by sy grootouers grootgeword nadat sy ma oorlede is. Hy kon nie oor die weg kom met sy stiefma nie. Wynand is kort daarna gebore. Hy lyk baie soos sy ma, maar gene laat hulle nie voorskryf nie.”

Hester hap-hap na lug soos ‘n vis op droë grond. Kan dit waar wees? wonder sy. Maar Elaine sal mos nie vir haar lieg nie?

©Elize Ehlers

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed