Die kranige atleet
Die kranige atleet
Kobus lê plat op sy rug op die gras langs die baan. Hy haal hortend asem. Sy bene is soos jellie en sy hart klop onstuimig. Hy probeer om diep en ritmies asem te haal soos die fisioterapeut hom aangeraai het. Hy vee die sweet ongeduldig van sy rooi gesig af. Die son brand sy bleek vel ongenadig. Net soos die son het hy ook geen genade met homself nie. Dit is hier waar hy in beheer voel. By die baan… waar niemand hom met nuuskierige oё aanstaar nie. Sy gedagtes dwaal onwillekeurig terug na die rede hoekom hy so onfiks is.
Dit was ook ʼn warm sonskyn dag gewees. Hy en van sy mede-studente het besluit om die naweek op die strand deur te bring waar hulle kan branderplank ry en visvang en om sommer net te ontspan. ‘Ontspan… inderdaad’ dink hy galbitter. Daar is min tye wat hy homself toelaat om werklik te ontspan. Solank hy besig bly, het sy verlede nie by hom gespook nie.
Die rabbadoe, Cazandra, wat besluit het om haar naam na Cassie te verander, het hulle vergesel. Haar ouers, fyn opgevoed en wat net met ‘high-poly’ mense meng, wonder wat hulle verkeerd gedoen het met haar opvoeding. Sy steek hulle gedurig in die skande met haar uitdagende kleredrag en uitlatings oor hul ‘neus-in-die-lug’ vriende. Hulle verkies dat sy eerder in die koshuis bly en oor naweke by haar maats kuier. Sy is ook by die baan. Hy loer half vies na haar. Sy het óók geen genade nie. Sedert die ongelukkige voorval het sy besluit om haar oor hom te ontferm. Sy sal haar wat verbeel, dink hy ergelik. Sy gelaat verteder. Hy is lief vir die meisiekind. Sy verlede weerhou hom egter daarvan om drome rondom haar te weef.
“Toe, toe” jaag sy hom aan. Sy kyk na die stophorlosie in haar hand. “As jy weer die kranige atleet wil wees, wat jy was, sal jy jou bas moet lig.” Sy het ‘n sagte plekkie vir hom. Sy durf dit egter nie wys nie. Hy is ʼn alleenmens, bowendien, hy skrik dalk so groot dat hy soos ‘n wafferse Bruce Fordice opvlieg en weghardloop van haar af. Op hierdie stadium sal dit fataal wees, glimlag sy onderlangs. Sy liggaamlike en emosionele gesondheid laat dit nie toe nie. Kobus kry vir die res van die dag nie kans vir dagdrome nie… hy sukkel om sy stompie-arm te beheer.
Die volgende dag besluit Cassie om die fisioterapeut se raad te volg. Kobus mor ongelukkig. Cassie steur haar egter min daaraan en draai met ʼn verband die stompie-arm vas teenaan sy lyf. Dit maak ʼn groot verskil. Hy het meer beheer. Dit gaan elke dag beter… sy spoed vermeerder daagliks.
Kobus voel nie vandag goed nie. Hy is bleek en daar is ʼn bitter trek om sy mond. Hy het heelnag gedroom van die haai wat hom al dieper onder die water intrek. Met sy gespook om los te kom van die haai af, het hy homself al vaster gewoel aan die lakens. Toe hy beangs wakker word en nie kan beweeg nie, klop sy hart onstuimig. Hy gil onwillekeurig. Tonie, wat ʼn kamer met hom deel, help hom om los te kom. Na ʼn lekker warm sjokolade drankie begin hy te bedaar.
Hy was baie lank in die intensiewe eenheid gewees waar hulle geveg het vir sy lewe. Hy was in soveel pyn dat die dokters besluit het om hom vir ‘n maand lank induksie te gee. Toe hy eindelik sy bewussyn herwin kon hy nie veel onthou wat gebeur het nie, behalwe dat ʼn haai hom van sy branderplank afgestamp het en hom al dieper onder die water ingetrek het. Hy het eers ‘n paar dae na hy sy bewussyn herwin het, agtergekom dat sy linkerarm geamputeer is. Die skok was so groot dat hy weer sy bewussyn verloor. Toe hy bykom was al sy maters daar gewees. Die dokter het hom verseker dat daar niks is wat hom keer om sy loopbaan as atleet te hervat nie. Met sy maats se ondersteuning het hy vinnig herstel. Die fisioterapeut het hom daagliks besoek om hom te leer hoe om sy kunsarm te gebruik. Dit het hom egter so gefrustreer dat hy besluit het om daarsonder te gaan. Kobus het besef dat dit baie deursettingsvermoë gaan verg om weer die nommer een atleet te word wat hy was… sonder die kunsarm wat hom in elk geval net kniehalter.
Cassie is op haar pos toe hy by die gimnasium opdaag. Sy frons liggies toe sy sien dat hy bleek lyk. Sy steek haar bekommernis weg en help hom met sy oefeninge in die swembad. Dit is oor ses weke sy eerste wedloop! Kom wat wil, hy moet dan gereed wees. Hulle oefen al vir drie maande om die beurt by die gimnasium en dan by die baan. Dit is belangrik dat hy gefokus bly! Kobus kan nie help om met bewondering na haar te kyk nie. Sy lyk pragtig in die nuwe bikini wat sy aanhet. Haar welige bos rooi-bruin hare is ongeërg bo-op haar kop vasgebind en haar wange is bloesend. Hy wis nie dat sy gespierde lyf die oorsaak daarvan is nie.
Die groot dag breek aan. Sy mede-atlete kyk medelydend na hom. Hy is bewus van die sydelinge blikke maar steur hom min daaraan. Hy vang Cassie se oë wat stip op hom gerig is. Sy weet dit nie, maar hy hardloop hierdie wedloop nét vir haar. Dit is belangrik dat hy wen. Hy wil haar vra om sy noointjie te word. Haar toewyding het nooit afgeneem nie. Dit het geleidelik tot hom deurgedring dat haar gevoel vir hom wederkerig is. Hy wil haar egter nie bind aan ʼnparapleeg voordat hy homself kan bewys nie. Hy het intussen beheer oor sy stompie gekry en dit pla hom glad nie meer nie. Sy bruingebrande atletiese lyf trek baie aandag. Die pom-pom meisies jil en juig hom toe.
Die skoot klap. Hy is van niks bewus behalwe die drang om die lint te breek. Daar is nog twee rondtes oor… Hy het effens uitgesak, maar is kort op die hakke van die atleet wat op hierdie stadium die voortou neem. Nog ‘n atleet gaan hom verby. Die klok lui… nog net een rondte! Die skare is op hul voete en moedig hom luidkeels aan… Kobus, Kobus, Kobus, weerklink dit op die pawiljoen… Daar gaan net een ding deur sy brein en dit is dat Cassie hom by die lint inwag. Hy tel weer spoed op en beland weer agter die atleet wat die voortou neem. Twee honderd meter… een honderd meter… dan neem hy die voortou! Sy breё bors breek die band. Die skare is op hul voete en juig hom rasend toe. Cassie gooi hom met ʼn handdoek toe. Trane hardloop teen haar wange af. Hy hou haar styf vas. Hy het sy droomnoointjie met hierdie wedloop gevang!
Hy het nog nie sy liefde amptelik verklaar nie. Daar is nog te veel onafgehandelde sake wat soos ʼn berg op sy skouers rus. Hy raak weer in homself gekeer. Cassie huil haar kussing elke aand sopnat. Sy weet nie wat sy verkeerd gedoen het nie. Tonie praat een aand baie ernstig met Kobus. Hy kan sien dat iets aan hom vreet. Cassie het intussen met rooi gehuilde oë met hom kom praat in die hoop om uit te vind wat met Kobus aangaan.
Na Tonie hom uitgetrap het oor sy houding maak hy ʼn afspraak met Cassie. Met afgewende oё vertel hy met rukke en stote… Sy ouers was beide alkoholiste. Daar was gedurig konflik en rusies tussen hulle gewees. Sy pa het een aand, tydens ʼn hewige rusie, ʼn mes gegryp en sy ma noodlottig gewond. Hy was vyf jaar oud. Daar het ʼn mes op die vloer gelê. In ʼn poging om haarself te verdedig het sy ma ook ʼn mes gegryp, maar dit het uit haar hand uitgeval. Hy het dit verdwaas opgetel. Die volgende oomblik het sy pa se voet aan die mat vasgehaak. Hy het bo-op hom geval. Dit het groot opslae gemaak in die koerante. Daar is gegis dat sy pa binne-in die mes geval het wat in sy (Kobus) se hand was. Daar is egter tydens die ondersoek bevind dat daar geen vingerafdrukke van hom op die mes was wat sy pa se dood veroorsaak het nie. Sy pa het binne-in sy eie mes geval.
Sy ma se suster het hom onder haar vlerk geneem. Hy was sy pa se ewebeeld gewees. Die weersin in haar het elke dag groter gegroei. In so mate dat sy hom eendag by die weeshuis gaan afgee het. Hy het haar daarna nooit weer gesien nie. Die stigma dat hy moontlik die oorsaak van sy pa se dood kon wees, het ongelukkig bly kleef. Dit is gretig oorvertel en daar is elke keer ʼn stertjie bygelas. Hy het dikwels vuis ingelȇ om homself te verdedig. Dit het egter die teenoorgestelde uitwerking gehad. Almal het geglo dat hy net so geweldadig is soos sy pa was! Oorbluf kyk Cassie na hom. Arme, arme Kobus… Dan spring sy op en koester hom met haar arms om sy lyf. Trane loop oor albei se wange. Sy verseker hom van haar liefde. Kobus voel hoe die swaar las van sy skouers afrol. Hy voel vir die eerste keer menswaardig.
Dit is die kranige atleet en sy droomnoointjie se troudag. Asemrowend mooi stap Cassie vir Kobus tegemoet. Hy is van niks anders bewus as sy pragtige bruidjie aan sy sy. By die onthaal let Cassie op dat haar ongenooide oom Koos, wat reeds aangeklam is, al singende na hulle tafel toe beweeg terwyl hy kliphard sing “kinders by dosyne!”. Die strooijonkers slaag daarin om hom diplomaties na sy motor te begelei waar hy dadelik aan die slaap raak. Die volgende oggend maak die karwag hom wakker. Sy oë rek groot toe oom Koos dadelik wegtrek met “kinders by dosyne!”…
© Elize Ehlers
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.