Jongste aktiwiteit:

Kerneels pas skape op

Kortverhaal 1737 Woorde

Kerneels Pas Skape Op

 

Soos ‘n groot wolkombers betrek die trop skape,  Kerneels al drawwende hotagter, die bossiebegroeide heuwels aan die kant van die plaas.  Hy is haastig – hy jaag totdat stemmige proteste myle ver luidkeels gehoor kan word.  Hulle kry die reuk van vars water. Dis of nuwe moed onder die trop invaar- so al asof die kaptein van die span nounet ‘n treffer spanpraatjie gelewer het. Dis ‘n gemaal en ‘n gedrom van ‘n ander saak. Nie meer ver nie, dan kan moeë kloutjies in koel sand onder groot bome skoongelek word.

Kerneels is skaapwagter.  Elkeen van die vyf kinders in die gesin het hulle werkies op die plaas. As jy wil éét moet jy wérk.  Selfs die laatlam, Stefan het sy werk in en om die hoenderden.  Pa Karools is Karooboer in murg en been en hy verkondig daagliks dat sy geslag al die viérde geslag Karoolse is wat boer op die plaas BiekiesKaroo.

Dis altyd lekker om tydens skoolvakansies die plaaswerk te doen.  Dan kan jy dit immers geniet.  Kerneels hou daarvan om met die hanslammers jagertjie te speel voor hy hulle melk gee.  Dan hardloop hulle hulself dronk al om en om die sementdam – dan die kant toe – dan daarie kant toe, om later met uithangtonge dorstig hulle melkbottels dolleeg te suip.  Skooltye kan hulle nie lekker speel nie. Die lug is nog gietswart en ysig  wanneer Kerneels met verysde vingers die warm tiete melk in die slaperige lammers se monde indruk. En soms is die bottels nie eers leeg nie dan moet hy laat vat na die T-aansluiting waar die skoolbus hulle elke oggend optel.  Ja-nee, vakansies is lekker op BiekieKaroo.

Die dae is broeiend warm en die nagte is snerpend koud.  Tog, Kerneels sal dit vir niks verruil nie.  Wat is dan lekkerder as om in die warmste tye van die middag in die plaasdam te spring as die skape kom lafenis soek, of om saans met ‘n stomende beker vol bies in ‘n warm woltrui na die helder sterrehemel te soek vir verbyreisende sateliete en verskietende sterre?Nee-wat,  Kerneels is baie lief vir die plaas,sy ouers en al sy broers en susters. Beslis nie altyd in dieselfde volgorde nie…

Die ryp sit nog wit op die gras as Kerneels emmer in die hand die sewetal koeie in die stal loop melk.  Ma is in die opwas besig om die hanslammers se bottels te steriliseer voor die eerste melk van die koeie nog warm uit die uiers vir hulle gegee sal word.  Sy susters verdeel die werk in die huis en die groentetuin, en sy oudste sussie, Saar, is baas oor hulle almal. Saar het groen vingers en ma kannie voorbly met die inlê van bottels groente en vrugte onder Saar se hande nie!  Hy het al gehoor die ander praat onder mekaar hoe Saar met die plante praat. Die ander verstaan haar net nie!  Hy wat Kerneels is, praat ook met sy skape en met sy koeie.  Dié dat hulle eerstegraad wol op die Landbouskou kan lewer en goeie melk by die koeie kry.  Saar is verlede jaar  klaar geskool, en wil gaan Tuinbou swot by die Internet.  Kerneels weet nie waar hierdie Universiteit is nie, maar hy weet sy sal goed doen.  Sy het dan vir Biologie ‘n A+ gekry na afloop van die matriek eksamens!

Kerneels lê op ‘n plat klip in die skadu van ‘n Apiesdoring en droom.  Dis nog vroegdag en die skape het nou maar eers, na byna ‘n uur se gesoek na genoeg weiding, aan die vreet geraak.  Die geelvinke kwetter in die takke en gooi kort-kort blaartjies af wat veersag op Kerneels se gesig afrëen.  Die sonstrale loer sku tussen die bome deur en die laaste dou op die grashalms is vinnig besig om te verdamp.

Asof vanuit ‘n ander wêreld klink ‘n geluid plaerig in Kerneels se ore op.  Hy sit vererg regop en spits sy ore.  Die skape se ore beweeg ook te veel, en hulle blyk skielik baie onrustig.  Nou op sy hoede, staan Kerneels regop en skreef sy oë, op soek na dit wat die vrede versteur.

Alle beloftes van ‘n rustige dag word bederf met die geluid wat elke skaapwagter vrees.

Dis ‘n lae gegrom en dit voel vir Kerneels asof die grond om hom vibreer met elke grom wat iewers vanuit die bos kom.  Dit klink baie naby – tog kyk en kyk Kerneels en sien niks.  Die skape begin verskrik maal en blêr en soek vertroosting en leiding by hóm. Maar Kerneels staan versteen.

Onmagtig om te help.

Die realiteit van wat besig is om om hom te gebeur tref hom soos ‘n nat vis in die gesig.  Hy swets lelik.  Hoe kon hy so verdomp onnosel wees om niks ter beskerming saam te dra nie!  Nou is sy skape uitgelewer aan die boosheid en hy sal die ooggetuie van ‘n massamoord op BiekieKaroo wees.

Hoe sal hy verduidelik?

Wat sal hy pleit?

Sal daar versagtende omstandighede wees?

Nog ‘n gegrom rammel uit die bossies digby hom.  Hy skiet op soos ‘n prop uit ‘n warm bottel sjampanje.  Reguit na die skape toe.  Die takkies van die lae bossies krap hom flenters maar hy voel niks.  Kerneels soek die beskerming van die massa.  Hy stoei tot binne in die gemaal.  Hy proe net stof en salpeter as hy sy droë lippe aflek.

Dan sien Kerneels hoe die verste skape verboureerd begin wegbeweeg.

“Nee Nooi!!”

Asof die skape hom sal hoor!

“Nooi, nee wag…hierie kant toe!!”  Nou dink Kerneels nie meer aan sy eie veiligheid nie.  Hy beur weer deur die los gemaal na die verste punt toe waar Nooi haar wolle van pure paniek vaskoek in ‘n groot laaghangende doringtak.  Kerneels breek die tak met geweld af en wikkel Nooi los.  Die skaap kyk dankbaar vas in Kerneels se oë.  Stom vra sy leiding…Kerneels gryp die lang tak met mening vas.  “Hooi Hooi….Hiernatoe….kom Kerneels se skapies…hiernatoe…”

Hy is nou vóór al die skape.  Hy sien hoe die ore spits as hulle sy bekende stem hoor.  Soos een man verander die chaos in eenheid.  Die ramme voor stap in gelid, en Kerneels sug dankbaar dat die skape hom volg.  Al weet hy nie waarheen nie, ten minste is hulle minder paniekerig!

Die lae gegrom kom skielik uit die bos net langs hom.  Kerneels se asem stol in sy keel.  Lei hy dan hierdie kudde lynreg na hulle dood toe?  Nee!  Hy hou die stuk stok soos ‘n swaard voor hom uit.  Half histeries roep hy:  “Vat aan my skape en jy vat aan my!”

Die skape bly verskrik staan.  Hulle weet nie watter kant toe nie.  Uit geklemde kake probeer Kerneels hulle paai:  “Hooi nou skapies, hooi nou….moenie worry nie…”

In sy stryd sien hy skielik ‘n Daniël in die leeukuil en hy weet hoe daardie man moes voel.

Sonder om tweekeer te dink skree hy so hard hy kan uit:  “Here, as jy my kan hoor…bind vas die bek van hierdie verdomde leeu dat ek net my skape heel by die huis kan kry asseblief!”  Dan begin hy stap.  Hy snik sover as hy stap.  Al vinniger en vinniger val sy voete.  Die skape volg stom.  “Net tot by die huis, Here.  Dis so ‘n uur se loop. Asseblief tog, Here…”  Die trane en stof en snot maak dik strepe op sy gesig maar hy vee dit nie af nie.  Sy kneukels span stokstyf om die stuk stok wat hy verwoed heen en weer swaai en sy oë fynkam elke bossie tot in die fynste besonderhede.

Die gegrom kom saam met hulle.  Met elke tree voel dit Kerneels of die dier nóu homself gaan wys.

Toe die bossies yler begin raak en hy die gebied  goed kan fynkam sien hy die gevaarte –  skaars ‘n paar tree langsaan hom.

Dis sowaar ‘n meneer van ‘n rooikat!

Kerneels hou sy pas.  Die rooikat hou sy pas.  Die skape hou hulle pas.  Daar is nie tyd vir stop nie.  Kerneels hou die rooikat dop vanuit die hoek van sy oog.  Die rooikat se blik wissel tussen Kerneels en die skape.   Kerneels bid net dat die verduiwelse ding nie die lammers raaksien nie…

Hulle loop tot die sweet in dik strale langs Kerneels se rugwerwels afloop.  Steeds meet hulle mekaar.  Nou is Kerneels nie meer bang nie.  Hy is kwaad.  Hy raak al hoe kwater met elke doringbos wat skerp in sy vellies steek.  Sy tone is al voos gesteek en die hande wat die tak heen en weer swaai is die ene blase.

Dan begin Kerneels op die rooikat skree:  “Jou vuilgoed!  Jy dink ek is bang vir jóu maar jy slaat die bal ver mis!  Jý moet liewers bang wees vir mý!  Ek loop net tot agter die dam dan maak ek vir jou vrek! Hoor jy my!!”

Die rooikat loop langs Kerneels.  Hy lek sy droë lippe af en Kerneels sien die flymskerp slagtande.  “Jy kan maar kom, ek is reg vir jou!”  Alle vrees het Kerneels nou verlaat en hy voel groot hier waar hy voetval  langs die rooikat.

Kerneels begin die rooikat te koggel. Hy mik-mik met die stok in die rooikat se rigting. “Sie jy jou banggat.  Dis tyd dat jy naels terugtrek en spore maak!  Die Here het jou bek gesluit so vanaand sal jy droëbek gaan slaap!  My naam is Daniël, of Dawid, of Simson!Noem my net wat jy wil want een ding weet ek…vandág het jy jou moses teegekom!”

Kerneels gaan so te kere dat hy skoon die tak waaraan hy die hele tyd geklou het eenkant toe gooi.  Met dié skrik die rooikat so groot dat hy vervaard na links koers kies, in die bosse in…

Kerneels gee nog ‘n paar tree en kom dan in sy spore tot stilstand.  Hy kyk verwonderd om hom rond.  Hy draai in die rondte.  Het die rooikat dan regtig pad gevat?  Kerneels sug lank.  Dan kyk hy op in die wolklose blou lug.  Die plaasdam blink in die verte.  Hy glimlag.

“Die rooikat se bek was toe rerig toegemaak….nou is ek lus vir swem”

…en die skape ruik die water en storm baldadig in ‘n los gemaal met die heuwel af.  Die weiveld is groen by die sement dam en die water is koel en vars.  Nou gaan hulle lekker rus…

En geeneen van die huismense glo Kerneels toe hy daardie aand vertel van die Rooikat met die toe

Bek nie.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed