Engelse en Paasfees
Van Engele en Paasfees
Kortverhaal 1503 Woorde
Anke is ma en pa se stukkie sonskyn. Sy is ‘n goudblonde haasbekkie met oë so blou soos die lug op ‘n wolklose dag. Sy hou net op praat wanneer klaas vakie sy werk saans gedoen het. Sy borrel oor van lewensblyheid, almal is ewe goed en die lewe is sommer net een bondel mooigeit! Ma en pa is só lief vir hierdie wonderwerkie in hulle lewens nadat hulle vir amper tien jaar gesukkel het om ‘n eie kindjie te kry.
En die dokters is dit eens, net één kind sal hierdie goeie mense ook kan hê. Dus troetel hulle haar en geniet haar sonnige geaardheid ten volle. Hulle neem tyd om haar baie vrae so breedvoerig moontlik te beantwoord, en leer haar alles wat hulle weet.
Elke Sondag neem Anke hulle tot heelvoor in die kerk sodat hulle die pastoor se boodskap , volgens Anke, eerste kan hoor.Na kerk, terwyl mamma middagete voorberei, spring Anke op die tafelblad en peper mamma met allerhande vrae oor dié Sondag boodskap in die kerk.
Soms moet mamma pappa se hulp inroep, want self het sy nie al die regte antwoorde op Anke se, soms moeilike, vrae nie. Maar mamma en pappa gee nie om nie, hulle weet dat hulle besig is om ‘n stewige fondasie virhulle dogtertjie se geestelike lewe te lê.
Dis Paasfees, en die gesin gaan hierdie week twee-keer kerktoe. Vrydag én Sondag . Vrydag vertel pastoor van Maria wat ‘n Seun gehad het. Sy naam was Jesus.
Maria was ‘n goeie ma, want ‘n engel van die Here het aan haar verskyn nog voor Jesus se geboorte. Anke weet dat engele orals rondom ons is, maar hulle wys hulleself net as die Here vir jou ‘n boodskap het. Pappa sê engele is soos posbodes. Hulle bring briefies van die Here af vir ons om te lees.
Briefies vol van “to-do” lysies vir ons om te doen hier op aarde. Anke dink. Dis amper nes mamma se “to-do” lysies wat sy op die yskas plak. Dan tiek sy dit af soos wat sy die werkies klaar gedoen het. Anke luister verder na die pastoor.
Hy vertel dat Jesus orals saam met Maria gegaan het. Sy het so mooi na hom gekyk, nes Anke se mamma mooi na haar kyk.
Tot ééndag.
Jesus se mamma en se pappa was kerktoe, en toe speel Jesus seker so lekker met sy maats dat hy nie sien sy mamma en sy pappa begin al huis toe loop nie!
Jesus se mamma en sy pappa het so lank gesoek. Darem het hulle hom gekry! Eers na drie dae!
Anke se aandag dwaal. Sy het ook al na kerk te lank met haar maatjies by die Sondagskool gespeel. Mamma en Pappa wou haar velle aftrek. Sy weet hoe moes Jesus se mamma en papa gevoel het!
Toe Jesus grootraak en begin werk het, het die meeste mense nie gehou van wat hy doen en sê nie. Hy het God se werk gedoen.
‘n Mens noem dit “Wonderwerke”.
En hy het sommer reguit by God gehoor wat om te doen, hy het nie engele nodig gehad om briefies met “to-do” lysies vir Jesus afte lewer nie.
God se werk is om die wêreld gesond te maak. Hy het oral rondgeloop en vir die mense vertel van God se Koningkryk, dat dit naby is, jy moet net mooi genoeg kyk. Jesus het net drie jaar gewerk. Toe word dit vir hom baie moeilik.
Teen daardie tyd was die mense so kwaad oor wat Jesus gedoen het dat hulle hom wou net die heeltyd doodmaak!
Hulle het seker nie daarvan gehou dat Jesus God se “to-do” lysies aftiek nie.
Toe, eendag, het die mense dit reggekry om Jesus dood te maak. Hulle het hom sommer aan ‘n stuk hout vasgekap!
Anke sit grootoog en luister. Sy vroetel nie eers soos altyd nie. Haar hande is doodstil gevou op haar skoot. Die pastor se storie oor Jesus is baie erg.
Die goeie mense het Jesus oral gesoek, maar hulle het hom nêrens gekry nie want sy lyf was in ‘n grot toegemaak. Amper soos Jesus se mamma en papa hom gesoek het, toe hy klein was, en hulle het hom eers na drie dae mos gekry!
En sowaar, na drie dae het Jesus uit die dood uit weer wakker geword. “Surprise!” Die goeie mense wat hom al die tyd gesoek het het hulle Jesus weer gekry! Nés Jesus se mamma en papa hom weer gekry het.
Hy is mos nie van hierdie aarde nie, hy is van God se Koningkryk en mense in God se Koninkryk gaan nie dood nie!
Die diens is klaar. Die kerkmense sing hoe bly hulle is dat Jesus weer opgestaan het en hulle eet paaskoek. Anke is stil. Sy is nie eers lus vir ‘n stukkie koek nie. Sy dink en dink oor pastoor se storie.
By die huis spring sy op die tafel terwyl mamma begin middagete maak. Anke praat nie vandag nie. Sy kyk net vir mamma hoe sy die vleis bruin braai in die pan. Mamma kom agter daar is groot wolke voor haar sonskyndogtertjie se sonskynhartjie. “Wat pla, liefie?”
Anke byt haar lip vas soos sy dink. “Ek het nie geweet pastoor ken vir Maria nie?”
Dis weer ‘n vraag waaroor mamma mooi moet dink. Sy moet eers seker wees wát die vraag is. “Hoe bedoel jy nou, hartjie?”
“Wel…ek ken ook vir Maria.”
Ma glimlag. “O, so?”
“Ja mammie, maar ek dink die pastoor het die storie van Maria nie reg vir die mense vertel nie. Ek dink nie hy ken haar soos ek haar ken nie.”
“Nou klink jy vreeslik slim, aspetat! Vertel vir my van jóu Maria.”
“Mamma ken haar tog ook! Sy werk hier onder by die kafee!”
Mamma kom agter Anke is vreeslik deurmekaar. Miskien moet sy pappa roep om te kom help. Sy probeer tóg eers sélf.
“Ek dink nie pastoor het van Maria van die kafee gepraat nie, aspetat.”
Anke se voorkoppie plooi soos sy dink. “Nee, ek dink hy het…”
Mamma gooi die vadoek oor haar skouer. “Nou wat laat jou so dink?”
Anke se beentjies swaai energiek vorentoe en agtertoe terwyl sy haar woorde agtermekaar kry.
“Maria praat altyd van die engele. Sy sê altyd “engele behoed my…” seker gee hulle vir haar “to-do” lysies wat sê wat sy in die kafee moet doen. Sy het ook ‘n seun gehad, ek kannie lekker onthou wat sy naam was nie…dit kan Jesus gewees het..of Josef…of so-iets. En hy het goeie werke gedoen, ek het haar dit hoor sê!
Toe die mense nou die dag so siek begin word het, wou hy nie vir die mense luister nie, hy wou nie in sy huis heeldag gesit en tanne tel het nie, hy wou buite toe gaan om sy werk te gaan doen het!
Die mense het nie daarvan gehou dat hy sy werk gaan doen het nie.
Maria het my vertel dat die mense hom wou vang en doodmaak. Nes die pastoor gepreek het.
Toe, eendag, het die mense hom doodgeskiet.
Maria het hom gesoek en gesoek, oral, haar hele dorpie vol,maar hom nêrens gekry nie…hulle het sy lyf sommerso in die veld gekry, na drie dae…mamma…dis net…Maria se Jesus het nog nie weer opgestaan en hulle surprise nie…sy is nog steeds baie hartseer…ek dink pastoor ken nie die einde van die storie mooi nie…”
Mamma vee-vee met die vadoek oor haar oog. Daar is seker iets in.
Anke wag vir mamma om te praat, maar mamma praat nie. Sy dink seker die regte antwoord nog uit. Dan trek mamma ‘n stoel uit en kom sit by die tafel waar sy Anke mooi in die oëkan kyk.
“Maria van die kafee se seun se naam was Justis, hartjie. Dis rérig amper soos die storie wat pastor vertelhet,nê?” Anke knik. Haar praat het opgeraak.
“En wat met Justis gebeur het is die waarheid. Hy is per ongeluk doodgeskiet. Mamma dink hy gaan wel nog opstaan, dalk net nie nou al nie. Hy is ook mos in God se Koninkryk! Mamma weet hoe lief hy vir God was.” Die bybel vertel so baie stories oor God se liefde end at God weer kom …soos die kinderliedjie..as hy weer kom, dan kom haal Hy sY kinders..
Nou wonder Anke al klaar oor iets anders. “Mamma, is ons ook in God se koninkryk?”
Mamma se gesig word sommer so warm, Anke kan dit sien. Daar is skielik weer iets in mamma se oog, want sy vee alweer met die vadoek oor haar oog.
“Het jy jou hartjie al vir Jesus gegee, Anke?”
Anke lag. Hoe kan mamma dan so vergeet! “Mamma weetmos, lankal al!”
“Wel, my skat,dan is jy ook in God se koninkryk.”
Anke sug salig. “So dis hoekom al die mense vir my altyd goed is en alles altyd so vol van mooigeit is…dis hoe ek kýk, ek kyk uit die koninkryk uit
!
En skielik is daar weer iets in mamma se oog…
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek