Jongste aktiwiteit:

Skoonheid is ‘n illusie

Ons almal ken hulle. Daardie mooi mense… nee wag, laat ek nou nie doekkies omdraai nie, hulle was perfek. Hulle was vandag voor my in die betaalpunt se ry by Checkers.
Hy het gelyk soos iets uit ‘n rolprent. Sy hare wat net-net begin verkleur met die ongelooflik aantreklike sout en peper grysheid. Sy blou hemp wat styf span oor elke spier en tog nie te klein lyk nie en dan daardie boude en bene wat gegiet is in sy stywe jean.
Kyk, ek was nog nooit ‘n boude mens nie, maar ek het die geleentheid behoorlik genut om elke kurwe in my geheue in te ets. Sy hele houding het gesê dat hy iemand is om mee rekening te hou. Jy ken hulle mos, die suksesvolle, perfekte yuppie tipe. Ek is seker sy kar paaiement en sy gym fooie is meer as meeste mense se salaris, maar op ‘n vreemde manier gun ek hom dit.
Hy sal natuurlik nie die perfekte Adonis wees sonder ‘n Eva aan sy sy nie. Haar hare sommer in ‘n rowwe poniestert, half onvanpaste (amper sê ek goed geleefde trui) en haar “stonewash” jean wat om die slanke heupe pas. Tog slaag sy daarin om dit soos ontwerpersklere aan haar perdeby lyfie te laat vorm. Haar tekkies het nie soos ander mense sin merkies op nie, o nee, dis spierwit en vol blinkertjies en bling…. Platforms en al. Ek dink saggies by myself dat indien ek so iets sou dra, dit sekerlik sou lyk of ek voete eerste in twee discoballe uit die 80’s getrap het.
Asof die lywe en voorkoms van die twee bomenslike gode nie genoeg is nie, drentel hulle natuurlik ook lank voor die rakke met muesli, granola en hoë energie protein stafies. My oë dwaal na die res van die mandjie. Dis jogurt, vars groente en vrugte nog gesondheidsgoed en ek kyk toe maar weg.
Perfekte mense met die perfekte gewoontes. Is dit waar ons gewone aardse kreature faal? Leer ons verkeerde gewoontes aan en dan verander ons potensieel perfekte figure en denkwyses in die van ‘n vlakvark?
Ek kyk af na my eie trollies en besef, maar ek het self net vars groente en vrugte in my trollie. ‘n Stukkie kaas, hoë vessel provitas en dies meer. Ek het pas ‘n baie lang en moeilike 28 dae van streng dieet agter die rug waarin ek heelwat kg’e en cm’s in die verlede gaan begrawe het. In plaas van trots wees, voel ek egter steeds half minderwaardig.
Wie is die skepsels wat die res van ons soos mislukkings laat voel? Wie het besluit dat dit is hoe almal behoort te lyk en op te tree?
Ek kyk weer van nader na haar.  Haar vel lyk soos my bobene en boude. Vol merke en haelskade. Sy moes op ‘n stadium ‘n baie, baie groot aknee probleem gehad het. Dalk was sy ‘n paar jaar gelede dankbaar vir Covid se masker regulasies.
Ek moes lank na hom kyk om ‘n fout te kry. O mensig kan een wese so absoluut perfek geskape wees?  Ek sal die lank fout soek ekspedisie ook nou nie juis klassifiseer as ‘n marteling nie, maar toe sien ek dit. In die hele tyd dat ons in die ry gestaan het, het meneer Perfek nie een keer geglimlag nie. Hy was nie nors nie, maar daar was geen glinstering in sy oë nie. Ten spyte van sy perfek geskape voorkoms, is ek nie seker ek sou hom in die boksie van gelukkig kon inpas nie.
Ons maak soms die fout om onsself onnodig te diskwalifiseer van dit wat mooi is. Ons is hopeloos te krities as ons na binne kyk, maar ons meet ander met ‘n baie sagter maat as onsself.
As jy niks anders leer hieruit nie, leer om jouself lief te hê. Foute, bulte, haelskade, skewe tone en al. Vier die klein oorwinnings, want die groot veldslae is nie altyd gewaarborg nie. Strewe om jouself altyd te verbeter, maar doen dit vir jouself, nie sodat ander mense jou moet aanvaar nie. En bowenal, dank jou Skepper dat Hy jou die unieke wese gemaak het wat jy is.



1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed