Jongste aktiwiteit:

Jimi: Linkerhand legende.

Al Hendrix het voor die spieël gesit en sy hare gekam. Jimmy het in die hoek gehurk met die ou kitaar wat sy pa tweedehands opgespoor het. Die snare was so styf gespan dat dit skaars ’n geluid kon maak. Jimmy het die kitaar links vasgehou, gemaklik, asof dit net vir hom gemaak was.

“James Marshall,” het sy pa gesê sonder om om te kyk, “draai daai kitaar reg! Dit is onderstebo, en mens kan nie so speel nie!”

Jimmy het ’n paar note getokkel wat so vals soos ’n kat in ’n blik geklink het. “Pa, ek is mos links. Dit is hoekom ek die kitaar só vashou.”

Al het die kam neergesit en hom stip aangekyk. ’n Diep frons tussen sy sjokoladebruin oë.

“Jy weet jy is gebore as Johnny Allen Hendrix? Dit was ek wat jou naam verander het na Jimmy. Verstaan jy? Ek het jou naam verander, nie iemand anders nie. Nou, as ek jou naam kon verander, kan ek jou hande se gebruik ook verander!”

Jimmy het sag gelag, maar sy vingers het nie opgehou om die snare te tokkel nie. “Pa het dalk my naam verander, maar my hande? Daardie besluit is nie Pa se besluit nie.”

Vir ’n oomblik het daar ’n koue stilte gehang. Al het sy kop geskud, half moedeloos en half verbaas vir dit wat hy raakgesien het: Jimmy is dalk nie net links nie, maar ook anders.

*

Die klaskamer het altyd na bordkryt geruik, ’n mengsel van stof en skoolboeke. Jimmy het sy plek in die tweede ry ingeneem, met sy linkerhand reeds op sy skryfboek.

“James Marshall Hendrix,” het juffrou Smith hom aangespreek sonder om op te kyk van haar lessenaar af, “ons begin nie vandag weer met jou verkeerde gewoontes nie, hoor?”

“My naam is nou Jimmy Hendrix, juffrou. Ek sal probeer om reg te skryf.” Hy het sy potlood stadig van hand verwissel, links na regs, en vir haar geglimlag.

Sy het goedkeurend geknik, net tot hy begin skryf het. Die letters het oor mekaar gestruikel. Die hele sin was ’n deurmekaar spul van krom lyne en skewe letters.

“Jimmy!” Haar stem het soos ’n sweep geklap. “Dit is heel onleesbaar!”

Hy het sy hand liggies geskud, toe skuif hy sy potlood terug na sy linkerhand en skryf in een vloeiende beweging sy naam. Die ander kinders het vir mekaar gekyk en onderlangs gegiggel.

“Juffrou,” het hy saggies gesê, “ek dink die Here het vir my ’n ander manier van skryf gegee. Hierdie een verstaan ek.”

Nou het die klas hardop begin lag. Juffrou Smith het haar bril reggestoot en saggies gemompel, half kwaad, half verbaas.

“Jy dink jy is snaaks, Jimmy?”

“Nee, maar ek weet ek skryf netjies as ek links skryf, juffrou,” het hy geantwoord, met ’n onskuldige ernstigheid op sy gesig.

*

Sedert sy skooljare het tyd verbygegly soos die note van ’n melodie. Die klaskamer, die bordkryt, die regterhand-reëls, alles het klein Jimmy gevorm, maar dit kon hom nie breek nie. Sy linkerhand het altyd die geheim gehou van hoe hy die wêreld sien en daarvolgens aanpas. Teen die tyd dat hy ’n tiener geword het, was hy lankal nie meer net die seun wat anders skryf nie. Hy het ’n wêreld vir homself geskep waar elke beweging van sy hand betekenis gehad het, ’n herinnering dat om anders te wees, nie ’n fout is nie.

Tussen sy skoolboeke en kitaar het hy ontdek dat sy hande hom nie kon laat inpas by die wêreld nie, maar ook kon laat uitstaan – ’n vermoë wat eendag sy stem sou wees, selfs sonder woorde.

Teen sy vyftiende jaar het Jimmy se kitaar ’n verlengstuk van homself geword. Sy pa se ou Fender Stratocaster-kitaar het soos ’n vreemde ding voor hom gelê totdat hy dit omgedraai en in sy linkerhand vasgehou het. Hy het ook die snare omgeruil met die dik E-snaar bo en die dunste snaar onder. Skielik het alles vir hom sin gemaak. Sy regterhand het elke druk gevind sonder om te dink, terwyl sy linkerhand die snare bespeel het met ’n gemak wat almal anders soos amateurs sou laat lyk het.

By sy eerste skoolopvoering het hy voor die gehoor gaan sit en speel, sy kitaar in sy hande soos ’n verlengstuk van homself. Die klanke het sag deur die lug getrek, eers bietjie onseker en toe vol selfvertroue. Met elke noot het daar ’n bietjie meer van homself deurgeskemer. Die ander kinders het doodstil geword, selfs die onderwyseres wat altyd skepties was oor “daardie linkshandige seun.”

Sy pa het heel agter in die gehoor gesit, met ’n glimlag wat nie verdwyn het nie. “Jy het jou eie manier gevind, seun,” het hy vir homself gefluister.

Jimmy het nie net die kitaar omgedraai nie; hy het sy eie wêreld omgedraai. Met sy linkerhand het hy sy unieke manier gevind. ’n Stem wat nie net musiek gemaak het nie, maar ook aandag getrek het. Op sy eie het Jimmy erkenning verdien, sonder dat iemand hom kon dwing om regshandig te wees.

Daardie aand, toe die laaste noot in die saal stil geword het, het Jimmy geweet: iets het verander. Sy hande was nie net ’n manier om kitaar te speel nie, hulle was ook die sleutel tot hoe hy die wêreld sou aandurf. Sy linkshandigheid was nie ’n fout nie, maar sy krag.

Jimmy Hendrix se beroemdheid het vinnig gegroei. Hy het in die Verenigde Koninkryk begin optree, en sy unieke styl het hom gou in die musiekbedryf gevestig. Maar iets het hom gepla, sy naam. “Jimmy” het gevoel soos ’n naam wat iemand anders vir hom gekies het.
Hy het lank na die naam op die plakkaat gestaar. Jimmy. Sy potlood het in sy vingers gerus, huiwerend. Toe trek hy ’n streep deur die ‘y’, en skryf die klein ‘i’ neer. Die woord het oopgegaan soos ’n akkoord wat lankal in hom was.
JIMI.
Dit was ’n klein verandering, amper onsigbaar. Maar vir hom was dit ’n daad van selfbegrip. ’n Naam wat nie net anders gelyk het nie, maar ook anders gevoel het. Dit het vir hom soos sy musiek geklink; onvoorspelbaar, vry en net effens wild.

*

Later het hy die Jimi Hendrix Experience gestig saam met Mitch Mitchell en Noel Redding. Hulle het die wêreld betower met hul elektriese klanke en visuele vertonings. Toe hy op die verhoog stap by die Monterey Pop-fees in 1967, het Jimi geweet hy was nie meer die seun wat links geskryf het nie. Die skare was stil en nuuskierig. Hy het sy kitaar vasgehou soos altyd: omgedraai op sy eie manier.

Toe Mitch Mitchell se tromme en Noel Redding se bas die lug begin vul, het Jimi se kitaar soos ’n storm daaroor losgebars. Dit was nie meer net ’n orkes nie, dit was ’n ontploffing van klank. Elke noot het behoorlik vonke geskiet, elke akkoord was ’n vertoning. Hulle was nie net drie musikante nie; hulle was ’n ervaring. ’n Visioen.

Toe, tydens die lied “Wild Thing,” het hy die kitaar aan die brand gesteek. Nie uit woede nie. Uit vryheid. Die vlamme het geskree soos ’n verklaring: Hier is EK. Ek is anders, en ek is nie bang om anders te wees nie.

Sy musiek het nie net oor die radio geleef nie; dit het die harte van mense regoor die wêreld aangeraak. Met liedjies soos “Purple Haze,” “The Wind Cries Mary,” en “All Along the Watchtower” het hy nie net die grense van musiek verken nie, maar ook die grense van emosie, ervaring en sy menswees.

Maar dit was nie net sy musiek wat hom gedefinieer het nie. Dit was sy vermoë om as linkshandige sy merk te maak in ’n wêreld van regshandiges. Hy het nie net die kitaar omgedraai nie, hy het die wêreld omgedraai.

Sy linkerhand het die laaste woord gehad.

©MarleneErasmus
21/08/2025
(1312 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed