Jongste aktiwiteit:

Jakkalsdraai se geheim 885 Woorde Goudklas

Speursersant Vermaak ril. Dis nou wratag nie iets wat jy in die middel van die nag wil sien nie. Die dun straaltjie taai rooi krul soos warm lawa deur die sand. Hy ruk sy voet weg. Salpeter slaan  in sy neus op en ‘n brak smaak vorm op sy lippe. Dit was eens ‘n mens.

Vermaak slaan sy notaboekie toe. Voetspore.  Een stel. Nommer 13. Diksool Doc Browns. Sleepmerke. Bloederige gemors. Een liggaamsdeel vermis. Verder is die res uitgestal soos goedkoop Chinese kaggelkakkies. Op ‘n ry. Van groot na klein. ‘n Sinistere gemors. Sy voetsole knars en skiet fyn klippies op wanneer hy op sy een hak omdraai en na die motor toe haas. Die naglug trek ‘n yskoue kromklou hekse nael teen sy ruggraat af. Hy klap die motordeur agter hom toe. Die wiele spoeg stof toe hy wegtrek.

  1. Vermaak gluur na die skerm. Dieselfde Modus Operandi. Dieselfde buurt. Twintig jaar later. Die saak onopgelos. Tog smeul daar ‘n kooltjie in die dooie vuur. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie. Kaptein de Beer was aan diens. ‘n Maand later is hy op verpligte siekverlof geplaas. Sy uittrede uit die mag is stil onder ‘n kombers gevee en met die jare het die dossier in lêer dertien beland. Niemand het weer daaraan gekrap of navraag gedoen nie. Jaar na jaar het nuwe personeel die oues vervang. Hy wat Vermaak is, was in daardie stadium nog ‘n toonbank klerk. Nou omtrent die enigste oorblywende personeellid van Majuba Stasie. Daar was bespiegelinge maar geen konkrete bewyse nie.

Die slagoffer was ‘n dame van die nag. Net soos twintig jaar gelede. Net soos twintig jaar gelede word die ringvinger ook vermis. Die liggaam is netjies, as mens dit so kon noem, opgekerf in perfekte dele. Twee arms. Twee bene. Twee hande. Twee voete.  Die torso en kop met een gelyke snit van mekaar verwyder. Die mes vlymskerp volgens die lykskouer. Die moordenaar was die keer agterlosig. Die nommer dertien spoor was nie juis duidelik nie maar tog kon hy ‘n gipsafdruk daarvan kry. Doc Browns is nie ‘n bekende maak hier in Majuba nie. Daardie tipe skoen kan jy net by een winkel te koop kry.

Die Maleier kyk gesteurd op toe die deur teen die koperklokkie stamp. Met een flinke beweging stoot hy die riempiesak onder die hoop lap in.  Vermaak kreukel sy neus. Die reuk van wierook en kruie vul die lug.

“More Abdul.  Jy kan daai sakkie maar uithaal. Ek is nie hier vir jou ‘happy powder’ nie.”

Abdul blaas sag deur sy neus. Sy lippe nog saamgepers na die groot skrik.

“Nou vi wat lat jy ‘n mens da so skrik captain, ouderdom spiel nie meer saa my ni, wat kan ek van waarde mie wies”

“Doc Brown.  Nommer dertien. Diksool. Dis net jy wat daardie skoene sal smokkel Abdul. Vir wie het jy daardie skoene bestel. Ek weet jy hou dit nie aan nie. Jy dink ek weet nie van jou gesmokkel met die Newtown boys nie. Daai skoenboks is groot genoeg om al jou poeiertjies veilig in te bewaar. Ek soek net ‘n naam. Niks meer nie. Net ‘n naam en ek stap hier uit sonder ‘n teken dat ek ooit hier was.”

Karel de Beer. Die mannetjie was nog nat agter die ore toe sy pa hom verbeteringskool toe gestuur het. Juis net na die moord in 1981. Vermaak se potlood huiwer bo die vel papier. Dit is tyd dat hy en oud Kaptein de Beer om die tafel sit. Hy doof die liggie op sy skryftafel en vou sy vingers om die Toyota se sleutel. Agt uur. Dis ‘n halfuur se ry na die kleinhoewe waar de Beer bly. Darm nie te laat vir besoektyd nie. Die strate is stil. Hy stuur die motor se neus in die rigting van die grondpad. Koue klam sweetdruppels vorm op sy voorkop. Miskien moes hy eerder die jong konstabel saamgebring het. Dan val sy hoofligte op die swaar staal plothek voor hom. Nou te laat vir omdraai.

Die ou man wat voor hom sit lyk verbasend sterk vir sy jare.  Die silwer slape vertel ‘n ander storie. Daar is diep kepe tussen sy oë en sy hande vryf kort-kort stil oor die stoel se leuning.

“Whiskey?”

Vermaak neem die glas wat hom aangebied word. Wragtag, vanaand het hy dit nodig. Hoe konfronteer jy ‘n pa met die wrede waarheid wat hier in sy hart lê. Jou kind. Jou enigste seun. As sy vermoede korrek is sal hy hier wegstap met ‘n deurbraak wat die hele Majuba gaan skok.

“Jy sê jy wil my iets vertel sersant?”

De Beer skuif na die eiland wat die kombuis van die sitkamer skei. Hy gooi ‘n tweevinger in sy glas en plaas dit op die toonbank. Hy glimlag skeef toe sersant Vermaak se kop liggies knik, dan gaan hy voort.

“Laat ek jou iets vertel sersant, die band tussen ‘n pa en sy seun is sterker as enige loslappie wat dink sy kan daardie band verbreek.”

Hy lag kliphard terwyl die lem glad en stil oor die slypsteentjie gly.

Die lig weerkaats op die glasbotteltjie in die vensterbank. Vermaak staar na die vinger wat in die botteltjie dryf. Sy kop knik vooroor. En in die verte roep ‘n jakkals hartseer na sy maat.

Kopiereg: Amanda de Meillon




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed