Grootword is nie vir sissies nie
Jannie en die groot veertien
Gradering Brons
658 woorde
Jannie staan in die badkamer voor die spieël. Die deur is gesluit. Dan is daar skielik ‘n klop aan die
deur.
“Jannie, maak gou. Jy is al amper ‘n halfuur daar binne? Wat maak jy so lank?”
“Niks. Ek … ek is amper klaar.”
Hy skrik vir homself, toe sy stemtoon eers op en toe af gaan. En daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Oor tien dae word hy veertien, en dit maak hom baie benoud. Hy het al die snaakste goed gehoor wat met ‘n mens gebeur as jy veertien word. Jou stem wat somaar net wegraak, is een van daardie snaakse dinge. Wat maak hy as sy stem nooit weer terugkom nie?
Daar is ook ander dinge van veertien word wat hom pla, dinge waarmee hy nie gemaklik is nie.
“Neem nou maar vir Kosie.”
Kosie was tot onlangs een van die lede van hulle bende. Hulle het altyd alles saamgedoen en daar was nie plek vir die simpel meisiekinders in hulle bende nie. Kosie is die een wat die meeste negatiewe dinge oor die meisies te sê gehad het. Toe ontmoet hy vir Cindy twee dae voor sy veertiende verjaarsdag. Nou is Kosie nie meer deel van die bende nie. Hy is elke dag by Cindy. Hulle hou selfs handjies vas. Jannie het selfs al gesien hoe soen hy vir haar.
“Jak. Sies. Ek sal nooit ooit ‘n meisie soen nie.”
Dan is daar nog iets wat Jannie bang maak. Dit is hoekom hy so lank voor die spieël staan. Elke dag
sien hy hoe die fyn donsies onder sy neus meer word. Kosie het vir sy veertiende verjaarsdag ‘n
skeermes gekry. Jannie is doodbang hy kry ook een.
“Wat weet ek van skeer af? Wat as ek my raakskeer? Wat as ek myself seermaak?”
Die ander groot probleem met skeer is al die seertjies en puisies wat daarmee saam kom. Seker iets
soos ‘n allergiese reaksie vir die skerp lemmetjie teen ‘n mens se vel. Om alles te kroon is daar ook ‘n klomp hare wat onder sy armholtes begin groei.
“Ek hoop nie ek moet hulle ook skeer nie.”
Jannie is ook baie bang om saans te gaan slaap, want dit is juis gedurende die nag wat die
allervreeslikste goed gebeur. Kyk maar weereens vir Kosie. Hy is omtrent elke dag 2 cm langer.
“Wanneer gebeur dit? Saans as hy slaap? Wie rek hom so? En is dit nie seer nie? Kosie kla hoeka
partymaal so sy bene is seer.”
Nadat Martie die derde maal teen die deur klop, kom Jannie uit. Hy kan nie verstaan waarom sy sussie so ‘n probleem daarmee het dat hy so lank in die badkamer was nie. Dit is nie asof sy veel korter daar is wanneer sy die slag die badkamer gebruik nie. Hy kyk vies in haar rigting toe hy na die sitkamer stap.
Vader sit op die rusbank, besig om sy Facebook te bestudeer.
“Hallo, my seun. Jinne, maar jy vat vanaand lank. Jy raak amper erger as jou sussie.”
Jannie lag half verleë.
“Kom, kom sit hier langs my dan vertel jy my van jou dag.”
Toe Jannie gaan sit, plaas Vader dadelik sy arm om Jannie se skouers. Jannie pluk weg.
“Wat sal die meisies daarvan dink as hy soos ‘n klein seuntjie langs sy pa sit? En dan sit Vader nog sy hand op sy skouer ook.”
“En nou? “Vader reageer verbaas, maar dring hom nie op nie. Hy besef sy seun is besig om groot te raak. Hy glimlag, sonder om enigiets te sê.
Jannie is egter baie geskok.
“Die ding wat seuns gryp as hulle 14 word, het my ook gegryp. Van wanneer af pla dit my wat meisies van my dink? Van wanneer af is dit so ‘n groot verleentheid om langs sy pa te sit?
Om veertien te word, is beslis nie ‘n ding vir sissies nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.