Jongste aktiwiteit:

Tsholo se ark

Tsholo se Ark – Johan j van Rensburg Bronsafdeling Kortverhale

Woorde : 2628

Kap!  Kap! Kap! Die getimmer en gewerskaf eggo dawerend teen die rye kartondoossinkhuisies vas. Blits het al lankal onder die bakkie gaan lê− pote op die ore. Dis die honde van die plakkerskamp wat die eggo kordaat beantwoord. Tsholo glimlag oor die diere se gejou. So al asof hulle hom aanmoedig in sy belangrike werk. “Blits my brak, jy sal nog bly wees oor my gekap…”

Tsholo het vaardige hande.. Kleintyd al noem Oupa Thato hom sy raakvatter, solank hy net nie lang vingers groei nie. Sy oog vang die hand wat die plank vashou. Die duim wat hy gister raakgekap het is blou en opgeswel en klop-klop seer iewers binne. Die ander nege vingers is kort en vet, hy eet sy naels stompies om lang vingers te keer. Oupa Thato sê lelike dinge gebeur met plakkerskampkinders wat lang vingers het.

Eers het hy die paar weggegooide palette (wat hy by die skelm pakistaner se winkel afgebedel het) met ‘n ou tou tot vlak voor die sinkhuis gesleep. Dit was ‘n hele gedoente met Blits wat trek aan die eenkant, en hy wat trek aan die ander kant! Met Oups Thato se hamer kon hy maklik die dun spykers uithaal en die los houte alles op netjiese hopies stapel. Dit het hom drie dae gevat! Dit sou baie korter wees as Anabel hom net wou help.

So wat van n bangbroek het hy lanklaas gesien! Oupa Thato sê sy skrik vir haar eie poep, wat wou ‘n gekap met n hamer dag in en dag uit!

So onder die gekap loer Tsholo een−oog na die dreigende weer.  Hy móét net klaar wees voordat dit beginne met reënt! Anders…anders is dit te laat….

Die wit kantgordyn roer skaam in die vuil kombuisvenster.  Kap! Kap! Dis Oupa Thato wat so loer, hy verstaan nie gat van kop van wat Tsholo al drie dae lank doen nie. En in sy twaalf jaar van bestaan ken Tsholo nog nie genoeg woorde om Oupa Thato mooi te verduidelik nie.  Hy weet wat hy doen.  Dit sit duidelik hier diep binne sy “is”.

Hy het vir Anabel eendag na die droom in hulle kinnerbybel die prentjie gewys. Toe hy sê dat  sy “is” voel hy moet ook so n boot vir Blits en sy maters van die straat bou het Anabel net gelag en bo oor die kinnerbybel drie bollemakieses gemaak.  En toe hy vir Oupa Thato  van die snaakse gevoel hier in sy “is” vertel, het Oupa Thato hom n groot skep kasterolie gegee en gesê hy moet die snaakse gevoel gaan uitskyt.

Nou kap hy maar alleen.  Dag in en dag uit. Terwyl hulle vir hom lag.  Met elke dag wat verbygaan waarsku die groot swart wolk bo hulle sinkhuisie hom om vinniger te kap.

Die wit kant roer weer.  ‘n Vaal kroeskop loer uit.  “Gaan skep vir ons ‘n bietjie water daar.”

Anabel kom skaar haar met plakkies en emmers en sonhoed en al, neffens Blits, wat stertswaaiend onder die bakkie uitboender. Tsholo kyk sy nege jarige  sussie gedaan gekap aan. Dan kyk hy na die na die kwylende Blits.  “Ag toe Tsholo…” (sy suig nog duim) kom ons gaan gooi klonte innie water.” Hy hou ‘n halfhartige hand uit.  Die twee tande in die mondjie blink as  sy Tsholo optrek en sy gatkant gemaak kwaai afstof.  “Jy maak jou broek vol grond!  Dit kommie maklik uitie klere uitie, hoor jy vi my!”

Tsholo vat die twee leë vyfliters uit haar hande en tik met sy vuil vinger oor haar neusie. Dit los ‘n lekker dik storfstreep oor haar wang as sy hom spelerig ontwyk. Anabel se skaterlag klok wyd oor die stil stofstrate as hulle die roesbruin hekkie oopstoot. Blits kry lewe en hol baldadig al om-en-om hulle.

Oupa Thato kyk hulle kopskuddend met skreefiesoë agterna.  Sy vereelte vingers krap  sy grys korrelkop. Hy klik sy tong.  “Ai Here, kyk nou díe kinners wat jy aan my toevertrou het.  Wat sal van hulle word? Sal ek uitgespaar bly totdat hulle klaar geskool is?”

Van die dag dat die twee se ma so voor sy huis in die straat dood bly lê het, kyk Oupa Thato agter hulle.  Blits was ‘n ou kleintjie, skaars ses weke oud toe Anabel die tuinhekkie daardie dag ooplos. Ma  Rose het Blits juis by die buurvrou gevra om Tsholo en Anabel op te pas wanneer sy  saans by die kliniek werk.

Natuurlik het die jong Blits sy kans gesien en is in ‘n stofstreep al stertswaaiend deur die oop hekkie straataf.  Juigende en gillende het die ander ingeperktes hom aangepor in sy soeke na vryheid.  Ma Rose het haar handsak en inkopies net so op die sypaadjie laat val en die jong hond agternagesit, sommer so in haar kliniekskoene en al!  Die kinders wou ma Rose nog soengroet en Anabel het oopmond staan en wag by die hekkie…

Die  Albanie broodwa was skielik op haar.  Daar was ‘n helse slag. Ma Rose was opslag dood. Reg voor sy sinkhuis.  Wat moes hy doen?

Hoe moes ma Rose weet dat Blits al baie straat-af gekuier tot by einste Oupa Thato se huisie? Hy het altoos vir hom ‘n karmelaatjie reggesit by sy lendelam voordeur.  Tsholo het sy ma nog probeer keer- maar ma Rose het róói gesien vir die rondloper.

Baie later, toe die ligte af was en die werf weer stil was, het Blits stert tussen die bene kom vra vir sy karmelaatjie. Die kinders het stil en geskok in die sitkamer gesit en Sewende Laan gekyk op televisie toe hy styf-styf kom nesskrop tussen hulle.

Oupa Thato knip ‘n traan uit sy gesonde oog.  Hy ervaar weer die pyn toe hy sien hoe Tsholo se armpie kruip om Blits se nek en hy vir hom fluister dat hulle twee nie kwaad is vir hom nie.  Dat dit die broodwa se fout was wat nie gekyk het waar hy ry nie… Blits het dankbaar sy  ronde honde oë geknip en die lastige traan van Tsholo se wang afgelek. Van daardie dag af kry die kind die drome.  En Anabel suig haar duim en maak haar kooi nat.  Blits is al wat hulle op die aarde het.  Dit troos darem.

Oupa Thato leun swaar op die kierie as hy omdraai huis in.  Die windjie waai koud om sy lende.  Hy kyk op na die swart wolk bo hom. Die nuus op die draadloos laat weet van erge stormweer wat oppad is.  Die reën kom vroeg vanjaar.

Anabel kan al die vyftig tree tot by die rivier self aftel. Die uitgetrapte voetpad kronkel deur  lang gras en lote, verbei die stinkende longdrops, totdat die skuinste van die begroeide rivierwal hulle loop stuit. Terwyl Tsholo versigtig die styl helling met ‘n koppie en die twee emmers afsukkel, tel Anabel roeskleur kluite al langs die wal op en slinger dit so ver sy kan rivierin. Blits is lank voor Tsholo al onder by die water en proe-proe dikbek in die vuil modderpoele.

Oupa Thato kook  die rivierwater en syg dit dan deur die dun moeseliendoek voor hulle dit mag drink. Hy meen hulle sal spuitpoep kry as hulle die water netso moet drink, mense dooi oor spuitpoep.  Sy hele familie rus by die lang bome oor spuitpoep. Maar Blits mag die vuil water drink.  Hy het “spesiale kragte ” glo Anabel , wat maak dat hy nie sal dooi oor die stink rivierwater nie.

Blits is ‘n bobaas swemmer.  Hy gee een reuse sprong en is sommer in die middel van die rivier!  Dan vat hy drie massiewe slukke van die water en duik ‘n vrot stuk stomp uit wat hy stertswaaiend vir Tsholo gaan wys.  Tsholo gooi die stuk stomp verder rivier af en Anabel lag uitbundig bly as Blits binne sekondes weer, stomp in die bek, op Tsholo afswem. Dis Anabel se lekkerste tyd van die dag – die waterskep tyd. Soms is daar ander kinders ook en dan speel hulle in die vlak modderpoele totdat die skadus lank raak.

Toe die emmers bultend vol op die wal staan vee Tsholo se oë eerbiedig oor die waters.  Sy rug trek krom soos hy die wal probeer uitklim, hier en daar gee dit mee en dan holderstebolder hy tot dóér onder in die vlakwater om maar net weer van voor af te begin klouter. Blits meen hy speel en maak dit nog moeiliker…maar vir Tsholo is hierdie nie speletjies nie.

Die droom se waters het ook so gelyk. Vuil en modderig…die wal was net nie so steil nie en die water was allesbehalwe so kalm.  Die gedraai en gekolk en geskree van diere doem helder voor hom op toe hy uiteindelik bo kom. Hy knip-knip sy oë.

Sy greep is stewig om die twee emmers as hy vasberde omdraai. Sy asem jaag en sy keel voel droog.  Tog weet hy hy kan nie die water in die emmers nou drink nie, al sou hy hoe dors wees. “Kom, dit word laat.”

Die gekap begin weer.  Voort duur dit tot Oupa Thato nie meer kan onderskei wat kap is en wat  die sjebien om die hoek se dansmusiek is nie. Hy lig die kantgordyn. Wat sou die kind dan drywe om so te aanhou met sy gekap? Dis nou al drie dae aaneen.  G’n regdenkende sal weet wat in die seun se kop aangaan nie!

“Kom slaap nou Tsholo…” sy hoesie aamborstig in die vroegaand. Dit het sag begin drup.  “Jy gaan siek word om so in die reënt te staan en kap”.

Niemand is so doof soos die een wat nie wíl hoor nie.

Tsholo lig nie eens sy kop nie. Elke kap is koorsagtig. Die tyd loop uit. Blits lê hier vlak voor sy koue voete, so asof hy hom daardeur wil ondersteun – of – so al asof hy op iets wag….   Elke spier in die twaalfjarige seuntjie se rug is al seer.  Tog hou hy uit.  Die boot móét klaar, voordat die reënt begin val.  Daarna weet geen mens wat gaan gebeur nie.

Dit reën harder.  Die vet ronde druppels val gate in die sinkdakhuisie, of so klink dit vir Tsholo.  Modderwater kronkel soos dik krokodille straataf, riviertoe… Tsholo is deurdrenk.  Klappertand kap hy..kap hy maar mis nou meer as wat hy raak kap, en die hamer kom venynig op sy stomp vingers neer.  Hy knyp sy oë styf toe toe die pyn uiteindelik deur sy  koue vingers skiet.  Hy probeer weer die spykertjie tussen die twee vingers vasgepen kry…kap…”Eina!!”

Dis nou genoeg.

Oupa Thato stoot die krakerige buitedeur oop en strompel deur die die waterstrome na waar Tsholo gehurk sit, seer hand vasgeklem tussen sy bene met moedelose trane wat  oor sy wange loop.

“Kom klong, dis nou genoeg…kom ek dra jou huistoe…” Toe Oupa Thato hom optel is dit asof ‘n damwal in Tsholo meegee.  Hy huil stikkend versmorend in Oupa Thato se japon. Blits hol vervaard in die huis in en gaan skuil onder die kombuistafel toe ‘n helder bliksemstraal deur die grou lug klief.  Dis skielik donker in die straat.

Oupa Thato gaan sit met Tsholo op sy skoot op die heel kombuisstoel in die kombuis en begin hom heen-en-weer sus. Die Reënwater borrel genadeloos onder by die agterdeur in. Paniek klop teen sy slape. Hy bid. Here?  Terwyl sy oë vasgenaal bly op die vlak van die water in die kombuis wat al hoe hoër styg.

Toe hy voel hoe die storm in Tsholo bedaar,  slof-slof hy deur die vlak water in die kombuis na die seun se kamer.  Hy stroop die deurdrenkte broek en hemp van sy lyf af en trek hom warm aan.  Hy trek vir hom kouse en tekkies aan en sit ‘n mus op sy deurmekaar hare.  Dit alles sonder dat Tsholo een woord uiter – net’n droë snik van faal vanuit iewers diep binne sy siel…

Anabel slaap die slaap van die engele.  Oupa Thato loer by haar kamer in en kyk af op haar stil gelaat.  ‘n Lastige traan biggel weer uit sy gesonde oog.  “so onskuldig soos ‘n engel…”Dis ‘n sagte prewel…of is dit ‘n smeking?

Die kinders slaap nog toe Oupa Thato plan maak boontoe. Die verweerde rooi sonsambreel maak hy op ‘n manier vas op die plat sinkdak. Met die karige huisraad bou hy ‘n leer dwaarmee hy sukkel-sukkel boontoe.  Hy pak kos in ‘n kardoes.  Hy brou stomende koffie in ‘n fles.  Vanuit swartsakke maak hy reënjasse vir hom en die kinders…en natuurlik een vir Blits, wat heeltemal verboureerd op en af deur die water beur. Teen die tyd dat hy klaar is, hoor hy die druising van die rivier amper vlak voor die deur.

Dis amper lig, maar dis donker langs die Natalse kus.

Oupa Thato byt sy lippe vas as hy die watermassa onder sien beur en dreun. O God! Die rivier het sy walle oorstroom! Hy moet die kinners droog hou. Lewend hou.  God het hulle aan hom toevertrou, hy sal veg tot op die einde.

Dis ‘n hengse gesukkel vir die ou man om die histeriese Anabel op die sinkdak te kry.  Blits weier volstrek om op te klim dakwaarts en storm holderstebolder verby by die oop agterdeur uit die rooi watermassa in. Oupa Thato kyk net een keer en prewel ‘n gebed vir Blits. Dan moet hy Tsholo gaan haal. Sy tong sit vas in sy mond, hy neem alles waar  met groot wit oë en sprak geen woord terwyl Oupa Thato hom onder die sambreel neersit nie. Anabel klou histeries en bewend in haar swart sak om Oupa Thato se bene vas.

Onder die sambreel sit die drie vir ure voel dit, en verkluim.  Hulle sou ook, as dit nie was vir die reddingshelikopter wat die rooi sambreel vanuit die lug gewaar het nie!

Die man in die rooi helder oorpak het eers vir Anabel gevat en die leer stadig opgeklim.  Daarna was dit Tsholo se beurt.  Die kind het niks gesê nie.  Nie gehuil nie, nie geskree nie.  Soos ‘n lam ter slagting het hy in die reddingshelikopter geklm met slegs sy oë wat wild  in die kasteheen en weer oor die watermassa onder hom gevee het.

Die hele plakkerskamp is weggewas deur die modderstorting wat deur die rivier veroorsaak is. So asof die bestaan van die dorpie net ‘n gedagte was.  Toe dit lig word was almal stom van skok.

Elke uur word mense steeds deur die reddingswerkers gered en na die hawe ingebring… maar baie meer mense word lewendig begrawe in ‘n massagraf van rooi modder en slyk.

Anabel huil oor Blits.  Tsholo se toestand bly onveranderd.

Die tweede dag na die Natalse ramp kyk Oupa Thato na die verwoesting op die nuus. Tsholo sit stil soos ‘n muis langs hom.   Die kamera vee vlugtig oor die rampgebied. Dan huiwer dit…fokus weer…en vergroot die beeld.  Tsholo skiet soos ‘n vuurpyl van die bank af.  Beelde van ‘n hond wat ‘n vlot trek  dwarsoor die kolkende rivier vul die tv-skerm.

Op die vlot sit twee Jack russels, ‘n Boxer, twee katte, ‘n Fox terrier en ‘n mak vark.

Tsholo se tong skiet los van sy verhemelte .

“Dis die ark!  Dis Blits!”

Oupa Thato val omtrent agteroor van skrik.  Hy kyk met sy gesonde oog.  “Ja wragtig, dis onse Blits, daai wat die ark trek!”

Tsholo is uit sy vel uit.  Anabel se lag is klokhelder.  “Boeta, dit lyk dan nes die prentjie wat jy my in die kinderbybel gewys het!”

“Net soos in my droom!” lag Tsholo.

Die kinders was by toe Tsholo se Ark uit die water getrek is.  Dankbare diereliefhebbers prys die seun met sy slim plan om ‘n vlot te bou.  Maar net hy en Anabel weet dit was sy “is” wat gesê het hy moet.

En Blits word die Wolrad Woltemade van die Diereryk.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak