Jongste aktiwiteit:

Die lang dag

(1791 Woorde)

“Dônkiebrekvis!  En toe gaan haal hy jou bril in die badkamer?”

“Ja, my mond het oopgehang” sê Anna.  Sy en Betsie drink tee op die groot buitestoep.   Ek het hom dadelik geassesseer en sy Afrikaanse woordeskat is beter as wat sommige van my Graad 1’s s’n destyds was.”  Anna hou vir haar buurvrou die bakkie beskuit.  “Proe bietjie, ek het hierdie keer hawermout en sonneblompitte bygevoeg.  Wat dink jy?”  ‘n Mak Kwikstertjie vlieg tot op die rand van die stoeptafel, gereed vir enige krummeltjies.

“Heerlik” sê Betsie, beskuit in die lug.  Sy het vanoggend weer een van haar bont, gebreide slooprokke aan, met gekleurde sykouse en steweltjies.  ‘n Vrolike, flambojante serp rond haar uitrusting af.

“Ek hou nou elke dag weer vir ‘n kort tydjie skool” lag Anna. “Hy kan al tot tien tel.  Ons oefen met balletjies.  Ongelukkig kan hy net tussen blou en geel onderskei.  Ó, en geniet hy dit as ek vir hom stories lees!  Ons is nou met ‘Die Swart Kat’-reeks besig.”  Anna was vir bykans 44 jaar ‘n Graad 1-onderwyseres, voordat sy na haar man se dood afgetree het en ‘n huisie met ‘n groot, sonnige buitestoep en ‘n klein tuintjie in die aftreeoord gekoop het.

“Waar is hy vanoggend?  Hy sit dan altyd hier buite by ons, op die stoep.”

“Slaap seker weer.  Die son skyn so lekker op die bed en ons tweetjies het tot laat gisteraand na ‘n program sit en kyk.   “Theodorus! Theodorus! kom groet vir Betsie!”

Theodorus skud homself reg en sy ore klap heen en weer om sy kop.  Hy sit sy poot saggies op Betsie se skoot neer.  Hallo Betsie.  Buiten vir Anna, is jy my liefste mens.  Jy ruik soos die son en blomme.

“Allamapstieks Theodorus, kyk net hoe fênsie lyk jy!”  Betsie streel oor sy ‘Afro’hare, baadjie, pompom sokkies en -stertpunt.  “Gebruik jy nog altyd dieselfde tuisdienste, Anna?”

“Ja wat.  Dit is die maklikste.  Theodorus is gemaklik met die mense en hulle weet wat hulle doen.  Nie almal kan ‘n Franse Poedel ordentlik sny nie.  Wag, ek wys gou vir jou.  Theodorus, waar is Betsie se handsak?”

Mense kan nie goed ruik of onthou nie.  Dit is hier binne op die koffietafel, Betsie.  Ek gaan haal dit vir jou.

“Slaan my met ‘n nat snoek!  Hoekom het jy my nooit hiervan vertel nie, Anna?”

“Oumense praat mos heeldag van hulle oulike kleinkinders.  As ek nou nog van my oulike hond ook praat, gaan ek skoon bedot klink.”

“So van kleinkinders gepraat, het jy al iets van jou kinders gehoor?”

Anna kyk na haar skoot en antwoord nie dadelik nie.  “Nee, nog nie ‘n woord nie.  As ek net weet wat ek verkeerd gedoen het.  Hulle antwoord nie my whatsapps of oproepe nie.  As dit nie vir my niggie was, wat af en toe vir my skelm foto’s aanstuur nie, sou ek nie eers geweet het hoe my kleinkinders lyk nie.”

“Ek kan mos nie sulke dinge verstaan nie” sê Betsie.  “Ek hoop regtig hulle kom tot hulle sinne, voordat dit eendag te laat is.”

“Hoe vorder jou tamaties?” verander Anna die onderwerp.  Anna droog elke jaar saad van haar grootste beeshart tamaties.  Sy is baie trots op die reuse, vleis tamaties.  Een skyfie kan ‘n hele sny brood bedek en sy gee altyd vir Betsie van haar saailinge.  “Vanmiddag gaan ek my eerste tamatie pluk.  Die pastadeeg rus al in die yskas.  Mos net meel en ‘n eier, só maklik.  Ek kan al die vars tamatie met basiliekruid en gerasperde gruyére kaas proe.  ‘n Skeutjie olyfolie oor die pasta en ‘Voila!’” verlustig Anna haar aan die vooruitsig.

“Ek wil nie jou bubble bars nie, Anna, maar die tamatiedief het alreeds hierdie seisoen toegeslaan” waarsku Betsie.  Die persoon het klaar my eerste tamatie gesteel.”  Theodorus draai sy kop eers links, dan na regs.  Hy het ‘dief’ en ‘steel’ gehoor.

“Ons sal ‘n stokkie daarvoor moet steek, Betsie.  Dit is nou sommer nônsens!  Ek glo mens plant altyd bietjie vir die voëls, bietjie vir jouself en ‘n bietjie om weg te gee.  Maar om dit so skelm te steel is regtig voor op die wa.  Ek sal met liefde vir iemand ‘n tamatie gee, as hulle nét sal vra”

“Wag, net voor ek loop, gou’n laaste storie.  Hou dit asseblief net vir jouself Anna, maar ou Fasie het my hart gesteel.”  Betsie sit haar hand op haar bors, daar waar haar hart was.  Theodorus hou niks van hierdie besigheid nie.  Arme Betsie.  Eers haar tamatie en dan haar hart.

 

Later die middag sit Anna Theodorus se leiband aan.   ‘n Vinnige stappie hou mens soepel en dit is die hoogtepunt van die poedel se dag.  Anna loop en dink hoe uiters bevoorreg sy is.  Servaas het deur die jare hulle spaargeld goed belê.  Hy het kort voor sy dood gesê sy kan met gemak 150 jaar oud word.  Daar is ook genoeg geld sodat sy steeds kan rondreis, soos wat hulle gewoonte altyd was.  Sy mis vir Servaas en sou verkies het om eerder van broodkorsies te leef, solank dit net saam met hóm kon wees.  Theodorus trippel deftig vooruit, sy rug reguit.  ‘n Ligte briesie dra nuushooftrekke aan, maar Theodorus verwerdig hom nie om die plaaslike boomstam skindernuus te lees nie.  Hy is mos ‘fênsie’.  Mens kan altyd glo wat Betsie sê.  Hy kan die twee Yorkies en vir Elma al van ver af sien aankom.  Ongeskikste twee honde in die aftreeoord.  Giggelblaf altyd saggies onder mekaar oor sy pompom stert en -sokkies.  Anna en Elma groet en Theodorus maak asof hy niemand raaksien nie.  Langs die pad tel Teodorus ‘n stewige stokkie op.  Dit is vir Anna, om voor haar tamaties te steek.  “Daar kom Fasie” sê Anna vir Theodorus.  “Ek hoop nie hy maak vandag lang praatjies nie.  Dit voel ál of hy by my vlerksleep.”

“Middag Anna” sê Fasie, net té vriendelik.  Theodorus wys altyd sy tande vir Fasie, want díe skop graag so onderlangs na die poedel wanneer Anna nie kyk nie.  Fasie ruik ook nie vir hom soos wat hy lyk nie.  “Ek het twee kaartjies vir die drama opvoering in die oord se saal, volgende Dinsdagmiddag.  Sal jy nie asseblief saam met my gaan nie, Anna?”

“Fasie, ek sal ongelukkig nie kan nie.  Ons leserskring het ‘n skrywer genooi om ons te kom toespreek en ek het klaar bevestig dat ek daar sal wees.  Hoekom vra jy nie vir Betsie nie?  Ek weet sy sal dit baie geniet.

 

Later die middag sit Anna op die stoep.  Sy probeer lees, maar Betsie se praatjies oor die kinders laat Anna al heeldag aan haar enigste seun dink.  Sy probeer hard dat die situasie haar nie depressief maak nie, maar as sy so heeldag kort-kort daaroor top, maak dit haar swaarmoedig en onderstebo voel.  Dit is doodstil in die oord.   Theodorus loer deur die gastekamer se gordyn.  Sowaar!  Fasie is tussen Anna se tamaties en loer skuldig rond.  Soos blits glip Theodorus deur die gleufie by die voordeur uit.  Anna het dit ingedagte oop vergeet.

Hier kom die wit hond!  Vat so Fasie!  Jou skarminkel!  Ek het jou! Los Anna se tamaties uit en gee Betsie se tamatie en haar hart terug!  Steel is verkeerd!  Theodorus het vir Fasie aan sy broekspyp beet.  Hy grom en trek daaraan en skud dit woes heen en weer.  Fasie hop op sy een been en skop ‘n groot kabaal op.

“Theodorus!  Laat los vir Fasie!  Wat maak jy tussen my tamaties, Fasie?” vra Anna verbaas.

“Ek het net jou tamaties staan en bewonder toe hierdie wilde gedierte van jou my aanval.  Ek sal dit by die bestuur moet aangee, Anna.  Jou hond is agressief en hy dra nie ‘n leiband nie” sê Fasie vermakerig.

“Nee, dis reg so Fasie.  Doen dan maar so.”  Anna weet dit is net ‘n dreigement.  Ou Fasie blaf, maar byt nooit nie.   Sy pluk die tamatie af en gaan na binne om met haar pastagereg te begin.  Ontstoke rol sy die deeg uit.  Mens kan nie lekker kos maak as jou bui so sleg is nie, berispe sy haarself.  Sy sit rustige musiek op en gooi vir haarself ‘n glasie Sauvignon Blanc in.  Steeds bietjie vies, vat sy ‘n hap uit die appel wat op die toonbank lê.  Die volgende oomblik kan sy nie asem kry nie.  Ek verstik, besef sy.  Benoud probeer sy die Heimlich maneuver op haarself toepas.  Dit wil nie werk nie!  Rooi in die gesig begin sy met haar vuis op haar bors slaan.

Daar is fout met Anna.  Dit lyk asof sy in die moeilikheid is.  Dink.  Dink!  Probeer onthou wat daardie labrador op ‘Dog Hero’s’ gedoen het.  Theodorus spring teen Anna op en stamp haar onderstebo.  Dan begin hy met al vier sy pompom pote op Anna se maag spring.  Hy hou aan met spring totdat die appel met ‘n wye boog uit Anna se mond vlieg.  “Dankie Theodorus” sê sy hees.  “As dit nie vir jou was nie, was ek vandag dood.”  Anna is baie duiselig en sukkel om van die grond af op te staan.  “Gaan haal asseblief my foon langs die bed.  Ons deur is gesluit en Betsie het ‘n sleutel.”

 

“Het Theodorus jou probeer aanval?” vra Betsie terwyl sy vir Anna ophelp.

“Nee Betsie!  Hierdie wonderlike hond van my het vandag my lewe gered.  Ek het verstik aan ‘n stukkie appel en hy het ‘n tipe Heimlich maneuver op my gedoen.  Ek het geen idee hoe hy geweet het wat om te doen nie.  Ek dink my maag en ribbekas gaan more potblou wees.  Hy was bietjie rof, maar dit het my lewe gered.”

Noudat al die drama verby is, vee Betsie verleë oor haar gesig.  “Ek het al klaar my gesig vir die dag afgehaal.  Mens!  Jy sien my nou nes ek oorspronklik van my ma af gekom het.”

“Maar jy het dan lipstiek aan Betsie” sê Anna, nog nie heeltemal haarself nie.

“Dit tel nie.  Dit is ‘n gegewe.  ‘n Vrou kan eerder sonder klere, as sonder lipstiek deur die lewe gaan.”

“Kan ek vir jou ook ‘n glasie gooi, Betsie?  Kuier bietjie, dan eet jy sommer saam.”  Weet jy, ek het vandag besef die lewe is baie kort.  Ek en Theodorus gaan die land platry.  Al agter die motor se neus aan.  As ons van ‘n plek hou, bly ons sommer ‘n paar maande oor.  Ek wil tyd hê om die mense te leer ken en al die klein juweeltjies in ons land te besoek.  Van nou af gaan ek ’n ‘Raski’ wees.”

“Wat op aarde is ‘n ‘Raski?’

Anna lag lekker. “ ‘Retired and spending the kids’ inheritance’.”  Anna lig haar glas in Betsie se rigting.  “Hiermee verklaar ek dat hierdie lang dag nou amptelik verby is!”

 

Rika Gerryts.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Rika Gerryts het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Rosalee het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • HENN het ‘n nuwe publikasie gemaak