Jongste aktiwiteit:

[BRONS] – DIE EILAND WAT ONTHOU

DIE EILAND WAT ONTHOU

Ek het dadelik onwelkom gevoel, maar die blikke van elke persoon het my gelees soos ‘n boek. Ek het gearriveer met ’n notaboek, ’n kamera, en die soort sekerheid wat ’n mens net het voordat jy verstaan hoe plekke werk. Die see het laag en aanhoudend teen die pilare gedreun, ’n geduldige geluid, oud soos skuld. Die lug het na sout en diesel geruik. Alles het gevoel asof dit al voorheen gebeur het, familiêr.

My aksent het my verraai. In ‘n vreemde land was ek soos ‘n buitestaander. In die winkel het die kassier se hand stadig met grasie ophou beweeg. By die hawe het mense skuins gedraai om my te bekyk, genoeg dat ek dit agter kon kom.

Ek het geleer hoe sekere name hier leef: nie op lippe nie, maar in oë. Hoe mag nie hardop bestaan nie, maar in die manier waarop mense swyg.

Snags het ek op die stoep gesit en luister in stilte na ‘n eiland wat nie praat in sinne nie, maar praat in herhalings. In die klap van water teen hout, in die wind wat altyd terugkom na dieselfde plek. Ek het gedink ek verstaan stilte. En toe besef ek, eintlik nie.

Hulle het my op die derde aand gekry. Nie omdat ek onversigtig was nie, maar omdat ek voorspelbaar was.

Hulle het my nie gejaag nie; hulle het my ingesluit. Die donker het nader gekom soos ’n geordende sirkel. ’n Hand het my skouer vasgegryp, ’n ander my polse. Ek het probeer draai, maar die houtplanke onder my het net verder weggegee, asof die kaai self besluit het om my nie te dra nie.

Hulle het my nie geslaan om te beseer nie, maar om te breek. My arms is agter my rug vasgemaak, strak, pynlik, ononderhandelbaar. Elke beweging het ’n boodskap gehad: jy hoort nie hier nie.

Hulle het my op my knieë gedwing. ’n Dun tou het my enkels vasgeknyp. Die koue van die naglug het aan my vel gegryp soos ’n tweede greep. Ek het die geur van sout en ou tou ingedrink en geweet hier was mense al voor my, mense wat ook geleer het dat stilte ’n vorm van naamgewing kan wees.

Een van hulle het my hare gevat, nie uit woede nie, maar uit besluit. Lokke het blind en gewigloos langs my geval, oor die hout, oor my arms. Elke sny was ’n streep deur ’n stuk van myself. Ek het nie gehuil nie, want die eiland sou dit hoor.

Die vernedering het in klein, presiese gebare gekom. Speeksel op my wang, ’n lag naby my oor, iemand wat my kant toe buk asof ek iets moes verstaan wat net hulle kon sê. Hulle het my nie nodig gehad om bang te wees nie; hulle wou hê ek moes onthou.

Toe hulle uiteindelik wegstap, het die toue nog om my gelê soos herinneringe wat nie vinnig losmaak nie. Die kaai het koud en oop gelê, en ek het gevoel hoe die nag my omsluit, nie as beskerming nie, maar as getuienis.

Ek het stadig my arms bevry, my asem teruggevind. My liggaam was myne, maar anders. My hare was korter, my vel rou van die wind, my trots gegryp en oopgelos. Ek was alleen gelos, maar nie leeg nie.

In daardie stilte het ek geweet: Die eiland onthou, en nou ek ook.

Toe Jana uiteindelik opstaan van die koue planke, het die nag soos ’n geslote vuis om haar gevoel. Haar arms het gebewe, nie van koue nie, maar van ’n woede so diep dat dit amper helder was. Haar kortgekapte hare het teen haar nek geklou, ongelyk, growwe nate van vernedering. Sy het met die rug van haar hand oor haar wang gevee, oor die opdrogende spoeg wat soos ’n brandmerk gevoel het.

Jana Croucamp, joernalis van Kaapstad. Die vrou wat ministers, sakemanne en korrupte fondasies aan die brand gesteek het met net ’n pen en ’n stem. Die een vir wie skelm politiek-families fluister: pasop vir haar.

Sy was nie hier vir avonture nie. Sy was nie hier vir geheime van vissers en klein stories nie. Sy was hier vir iets veel groter, die waarheid oor die vier families wat hierdie eiland soos ’n erflating besit het. Die vier mans wat almal “baas” genoem het, al was dit nooit amptelik nie. En nou, hul seuns en een dogter… hul erfgename… die vier skaduwees wat haar van haar naam probeer stroop het.

Maar hulle het ’n fout gemaak. Hulle het haar laat leef. En hulle het haar kwaad gemaak.

Die vernedering was nie meer pyn nie, dit was brandstof. ’n Vuur sonder vlam.

“Julle dink ek gaan padgee?” het sy gefluister. Die wind het die woorde weggeraap, maar sy het hulle geproe.

Sy het teruggestap na haar verblyf, nie weggeskrik nie, nie gebuig nie, maar regop soos iemand wat ’n besluit gemaak het. Elke voetstap was ’n belofte.

Hulle wou haar stil maak, hulle wou haar bang maak, hulle wou hê sy moes vergeet.

Maar Jana Croucamp onthou. En wanneer sy onthou, skryf sy. En wanneer sy skryf, val mense.

Sy het geweet presies wat kom: Nie ’n artikel nie, nie ’n uitsaai nie, maar ’n ontmaskering wat die eiland se fondasies sou skud. Sy was klaar om toeskouer te wees. Sy was klaar om beleefd te wees. Die drie seuns  en dogter van die mafia-base het haar verneder. Nou gaan sy hulle stories uitmekaar skeur, bladsy vir bladsy. En hierdie keer sou niemand stilbly nie.

Die oggend ná die aanval het Jana stadig deur die smal raam van haar venster na die see gestaar. Die water was kalm, maar die kalmte was vals, soos ’n glimlag van iemand wat te veel weet.

Maar voor sy wraak kon neem, moes sy hulle verstaan. Die vier wat die eiland laat bewe.

Andreo Moretti. Die oudste. Hy het beweeg soos iemand wat te gewoond was daaraan dat mense vir hom plek maak. Breë skouers, ’n houding wat sê hy vra nie toestemming nie. In die dorp fluister hulle dat hy sy pa se geld gebruik om skuld te koop, en mense saam daarmee. Sy oë is donker, nie boos nie, maar leeg, soos ’n put waar jy nooit die bodem sien nie. Hy was die een wat haar polse vasgedruk het. Die een wat nie gepraat het nie, maar asemgehaal het soos ’n dreigement.

Dan was daar Nikolas Stavros, die middelkind. Slim, vinnig, ’n man wie se woorde skerper was as sy messe. Jana het sy lag onthou, te maklik, te lig, soos iemand wat geniet om ander ongemaklik te sien. Hy was die strateeg. Die een wat altyd weet wie kom en wie gaan. Hy bestuur die hawe se “veiligheid”, maar almal weet wat dit beteken: niks beweeg sonder sy toestemming nie. Hy het haar kamera gegryp en dit teen die planke laat slaan. Die geluid spook nog in haar ore.

En dat Matteo De Angelis, die jongste seun. Gevaarlik juis omdat hy te sag lyk. Jong gesig, bleek oë, maar ’n houding wat skuil onder ’n dun laggie van onskuld. Hy is die een wat die eiland se ou tonnels ken, die tonnels wat as kind vir hulle speletjies was en vir hul vaders… vir iets baie donkerder. Sy hande was koud toe hy haar tas oopruk, asof hy nooit warm geword het nie, nie eers as kind nie.

Eleni Moretti, die dogter. Die enigste een wat gepraat het, en die enigste een wat geweet het waar om te sny. Eleni beweeg soos ’n lied wat verkeerd gespeel word, mooi, maar iets in die melodie steek skeef. Haar hare, swart en lank, het teen die wind gewieg toe sy voor Jana gebuk het. Haar glimlag was sag, amper bewonderenswaardig. En toe, sonder enige haas, het sy Jana se hare vasgegryp en begin sny. Elke lok was ’n belediging, elke sny ’n streep deur Jana se trots. Die spoeg in Jana se gesig was nie uit haat nie; dit was uit eienaarskap.

Jana het daardie dag in die biblioteek gaan sit, ’n klein klam kamer agter die kerk waar boeke stof asemhaal. Sy het begin lees oor die eiland se verlede.

Sy het gou besef: Hier het mense nie gesterf aan ouderdom nie, maar aan stilte.

In die 1940’s is die eiland gebruik as ’n plek vir “oortreders” van die regime, mense wat nie moes verdwyn nie, maar moes vergeet word. Tonnels is gebou, nie vir verdediging nie, maar vir wegsteek. Die vier families het ryk geword deur skepe, wapens, smokkelary. En toe die oorlog verby is, het hulle steeds planne gehad… want enige plek wat eens ’n geheim gedra het, dra dit vir altyd.

Jana het die argieftekeninge van die tonnels bestudeer. Elke lyn was ’n moontlike roete. ’n Vlugpad, ’n valstrik.

Sy het boeke gevou, notas gemaak, haar hare agter ’n serp ingedruk. Sy het nie geweet wanneer die konfrontasie sou kom nie, maar sy het geweet: Wraak sonder kennis is net woede, maar wraak met kennis is strategie.

Die middag het sy die dorp ingestap, stadig, soos iemand wat haar plek ken. Maar in haar sak was ’n kaart. En in haar oë was ’n besluit. Sy het gaan luister waar mense fluister.
Sy het gaan kyk waar skadu’s langer staan as die son self en geleer wie bang is vir wie, en hoekom. Sy het eerste die tonnels op haar lys gesit. Daarna die stoorhuise. Daarna die ou kaarte wat wys watter plase oorspronklik aan wie behoort het.

Vier kinders van mag, vier name wat mense eerder nie sê nie. En nou? Nou was hulle teëstanders in haar storie.  Die volgende keer wat Jana hulle sou sien, sou sy nie die slagoffer wees nie.  Sy sou die een wees wat hulle laat terugstaar in hulle vaders se sonde.

Die wind het skerp oor die hawe gesny toe Jana haar posisie inneem. Sy het drie dae lank dopgehou: watter roete Andreo en Nikolas neem wanneer hulle saans drink by die ou stoorkamer langs die pier. Hulle het gedink hulle is onaantasbaar. Hulle het gedink sy is gebreek, wel…  hulle het verkeerd gedink.

Die stoorkamer se lig het geflikker asof die plek self bang is. Jana het die deur op ’n skrefie oopgelaat, die een lig aangesit, die res in skadu gehul. Sy het geweet mans soos hulle kan nie nuuskierigheid weerstaan nie. En sy was reg. Stappe, twee stemme, ’n gelag. Die deur kraak oop.

“Andreo, kyk hier, iemand was hier binne,” sê Nikolas, sy stem dun van dronk roekeloosheid.

Toe hulle instap, klap die deur agter hulle toe.   Andreo draai te vining en sien die loop van Jana se elektriese skokgeweer. Hy kyk na haar met ongeloof. “Jy?”

“Ja,” sê Jana. Haar stem is nie hard nie. Dit is kouer as die wind buite. Met ’n enkele skok val Andreo op sy knieë. Nikolas vries net lank genoeg dat sy hom oorrompel, die wapen teen sy nek druk. “Sit,” sê sy. En hulle sit. Nie uit gehoorsaamheid nie, uit vrees.

Sy bind hul hande met die skipseile wat sy vroeër reggesit het vas. Nie pynlik nie, maar vas genoeg dat daar geen twyfel is nie. Nikolas probeer braaf wees: “Jy dink jy gaan—” “Ek dink nie,” sny Jana hom af. “Ek weet.”

Sy stap stadig om hulle, soos ’n jagter wat besluit watter dier eerste val. Haar hare, kort en ongelyk, gooi skerp skadu’s op haar gesig. “Julle het iets gedoen,” sê sy. “Maar julle het ook iets gewys. Julle het gewys wie julle werklik is. En wie julle vaders nog altyd was.”

Andreo kyk weg. Nikolas probeer glimlag, maar sy lip bewe effens. “Ek gaan nie jou lyf breek nie,” sê Jana. “Dis te maklik. Ek gaan julle stories breek.” Hulle kyk op.

“Ek wil name hê,” sê sy. “Rotte, tonnels. Wie hou wag, wie bring die vragte, wie betaal.”

“Anders?” vra Andreo deur stywe kake. Sy buk voor hom, haar oë vlak en helder.
“Daar is baie maniere om iemand te laat praat sonder om ’n blou kol te maak.” Sy neem haar tas en haal ‘n opname-toestel uit. ’n Flits, ’n leë lêer met hulle vanne op en ’n lys vrae.

“Julle het ’n keuse,” sê sy. “Praat nou… of ek laat die wêreld jul vaders se sondes sien. En dan is dit klaar met die eiland se ‘konings’.” Die stilte in die kamer is dik.

Nikolas is die eerste wat breek, nie met ’n skreeu nie, nie met smeekbede nie, maar met ’n drup van waarheid, die soort wat mans soos hy nooit bedoel het om te deel nie.

“Die tonnel… onder die noordelike kranse…” fluister hy. “Hulle gebruik dit steeds. Elke maand.” Andreo kners sy tande, sy oë flits. Maar Jana sien dit: Hy weet die geveg is klaar.

Jana druk die opnameknop. “Mooi,” fluister sy. “Nou begin ons.”  Sy hurk af, kyk hulle reguit in die oë, en haar stem word laer, donkerder:“Eleni en Matteo is volgende.  En julle twee gaan my help om hulle te kry.”

Nikolas slik.

Andreo kyk vorentoe, sy trots in stukke, sy asem swaar.  Jana glimlag koud.  Die jag het begin.

Die son het gesak toe Jana saam met Andreo en Nikolas die tonnel op haar kaart merk. Sy het hulle nie laat gaan nie, hulle moes sien wat kom, moes weet hulle is nou deel van haar oorlog. Die ingang, half versteek tussen struike en klippe, was net sigbaar vir dié wat weet waar om te kyk. Die wind het deur die skeure gekla, asof dit wou waarsku of wegsteek. En Jana het geweet: Matteo en Eleni sou hier wees.

Die tonnel was koud en klam, met ou rookmerke teen die mure. Jana se flits sny deur die donker terwyl sy fokus behou. Voor hulle was krapmerke, oud en vars. “Dis nie net ’n wegkruipplek nie, maar ’n boodskap… ons familie se geskiedenis,” fluister Andreo. Jana antwoord nie; sy wou hom breek. Net om die hoek hoor hulle Matteo en Eleni se stemme: Matteo onrustig, Eleni kalm. “Sy gaan nie net verdwyn nie,” sê hy. “Alles verdwyn,” antwoord sy. Jana se greep om haar wapen verstram.

Jana se flits vang Matteo en Eleni vas, hy bleek teen die muur, sy regop en onverskrokke. Eleni lig haar ken. “You came.” Jana antwoord: “Ek het belowe.” Matteo probeer vra hoe hulle hulle gevind het, maar Jana sny hom af: “Jou broers het gepraat, baie maklik.” Eleni se oë beweeg na Andreo en Nikolas, gebind agter Jana. Die skok is klein maar duidelik: verraai deur hul eie bloed, ’n dynastie wat verbrokkel.

Eleni vou haar arms. “Wat wil jy hê, Jana? ’n Verskoning? ’n Oorwinning?” Jana antwoord: “Die waarheid — en dat julle weet ek is nie bang nie.” Eleni glimlag skeef. “Vrees werk nie op jou nie, maar skuld wel. Jy dra dit vir elke storie wat jy oopgemaak het, elke lewe wat geraak is. Jou lig maak groot skadu’s.” Woede flits in Jana se oë. “Moenie waarheid met skade verwar nie.” “Maar jy doen,” sê Eleni. ’n Digte stilte volg totdat Matteo sag praat: “Ons vaders het dinge gedoen waarvoor ons nie wil boet nie… maar jy wil ons dwing.” Jana skud haar kop. “Ek wil hê julle moet erken, nie net wat julle gedoen het nie, maar wat julle weet.”

Jana stap nader. “Wie gebruik die tonnels? Wat bring hulle? Wat verberg julle familie?” Eleni lag kort en hol. “Jy dink dit gaan oor smokkelary? Dit is klein. Hierdie eiland is ’n graf van geheime, en ons net die erfgename.” Matteo vou sy arms, breek amper. “Ons het nooit ’n keuse gehad nie.” Jana se stem sny deur hom: “Jy het gekies toe jy daardie vrou aangeval het.” Eleni se gesig verhard. “Dit was ’n les.” “In wat?” vra Jana. “In plek, wie praat en wie swyg.” ’n Rilling trek deur Jana. “Wel, vandag praat julle.”

Eleni kyk stadig rond  na die tonnel, die toue, die broers. “En as ons nie?” vra sy. “Dan wys ek die wêreld alles,” antwoord Jana. “Elke dokument, elke opname, elke geheim.” Matteo se oë vul met trane; hy verstaan. Eleni bly stil, maar Jana sien die eerste kraak van vrees. “Julle het my as slagoffer gekies,” sê Jana. “Maar ek kies myself as iets anders.” Eleni sis: “As wat?” Jana fluister: “As jou einde.”

Matteo breek eerste. “Ek sal praat. Alles.” Eleni se asem sny kort; sy kyk na hom asof hy haar verraai het, en het. Jana sien hoe die dynastie verbrokkel en die waarheid begin oopbreek. Die tonnel word stil, net hul asem weerkaats teen die klam klip, asof die eiland self luister na ’n oomblik wat lank op pad was.

Matteo kyk af, sy hande bewend. “Die tonnels was nie net vir smokkel nie,” fluister hy. “Ons vaders het mense hierheen gebring. Getuies, priesters, politici… soms kinders wat te veel gesien het.” Jana voel haar maag draai. Eleni kyk hom woedend aan omdat hy dit uitspreek. “Moenie naïef wees nie,” sis sy. “Elke land het sy vuil werk.” Jana vra: “Wat het met hulle gebeur?” Matteo sluk. “Hulle noem dit die stille lyn , ’n deel van die tonnels waar geen geskree ooit bo uitkom nie.” ’n Ysige stilte volg.

Jana skyn haar lig dieper in die tonnel. Die klippe is swart van rook en dinge wat sy liewer nie wil ken nie. Sy sien inkrasings en datums, spore van mense wat hul bestaan wou merk voor hulle verdwyn het. Die tonnel voel lewend. “Die eiland onthou,” fluister Nikolas, “maar dis nie die grond nie, dis die tonnels. Hulle hou elke geheim.” Eleni antwoord yskoud: “Onthou is ’n luukse. Oorleef is ’n plig.”

Jana rig haar flits op Eleni. “Wat was jóú rol?” Eleni glimlag skerp. “Ek het die tradisie en orde beskerm. Ek het nie ’n keuse gehad nie.” Matteo reageer: “Jy het altyd ’n keuse gehad.” Jana sit haar wapen neer en kom nader. “Wanneer het jy laas iets vir jouself gedoen, Eleni? Jy het mense hoor skree… en jy kon niks doen nie.” ’n Fyn bewing trek oor Eleni se lippe. “Dit was nie my skuld nie,” fluister sy. “Ek was ’n kind.” Jana antwoord sag: “En nou herhaal jy wat aan jou gedoen is.” Eleni vou haar arms om haarself. “My pa het my na die tonnels gebring toe ek twaalf was. ‘As jy praat, word jy deel van die klip,’ het hy gesê.” Matteo sluk, die ander kyk weg en Jana sien dat hierdie dinastie nie uit boosheid gebou is nie, maar uit trauma.

“Wys my,” sê Jana. “Die plek waar julle die meeste bang is.” Matteo lei hulle dieper in tot by ’n ronde klipkamer waar die lug swaar hang, die Stilkamer. Die mure is vol name en datums, spore van verdwyndes. Eleni stap na een inskripsie en raak dit aan. “Dis myne,” fluister sy. “Die dag toe ek geleer het stilte is oorleef.” Jana voel haar asem vassteek as Eleni se laaste verdediging breek. “Ek wou nooit soos hulle wees nie,” sê sy. “Maar jy was,” antwoord Jana. Eleni knik, stem skrapend: “En dit maak my elke nag wakker.” Vir die eerste keer klink sy menslik.

Jana kyk na die vier kinders van mag en voel nie simpatie of vergifnis nie, maar ’n begrip van die ketting wat hulle vasgehou het, al maak dit niks reg nie. “Julle vaders moet val,” sê sy. “En julle val al klaar.” Matteo, Nikolas en Andreo bied hul hulp aan. Eleni lig haar kop, oë rooi maar helder. “Ek kan jou wys waar die volgende vrag inkom… maar dan is daar geen terugkeer nie.” Jana antwoord: “Ek soek nie ’n terugkeer nie.” Die tonnel voel warmer, gelaai met verandering. Die eiland gaan nie meer net onthou nie, dit gaan praat. En Jana gaan dit laat praat.

Die tonnels dreun soos ’n lewende, klam dier. Ná ure van onthullings en gebroke waarhede staan Jana in die rituele kamer, fakkels flikkerend teen nat klip. Voor haar sit Matteo, Eleni, Nikolas en Andreo uitgeput, hul arrogansie afgebrand. Die eiland het hulle reeds gestraf voordat sy enigiets gedoen het.

Jana staan stadig asemhalend voor hulle nie meer net ’n joernalis nie, maar iemand wat haar menslikheid teen haar woede moes weeg. “Ek wou julle vernietig,” sê sy hees. “Ek het gedink wraak sou my reg gee.” Die vier kyk weg, gebroke. “Maar hierdie eiland het dit reeds gedoen,” fluister sy. Sy stap nader, haar blik ferm. “Ek gaan nie word wat julle vaders was nie.” Eleni lig haar oë, ’n skadu van hoop daarin. “Daar is ’n boot in die noordelike inham. Julle gaan dit neem en nooit terugkom nie.” Nikolas vra deur ’n gebreekte stem: “Hoekom laat jy ons gaan?” Jana antwoord eenvoudig: “Omdat die waarheid reeds klaar wen.”

Net toe Jana hulle begin losmaak, sidder die aarde. ’n Diep gebrom rol deur die tonnels en die klipmure begin kraak. Die eeue oue structure, gebou op bloed, korrupsie en verborge tugkamers gee uiteindelik mee. Ysige seewater bars in, sleep ou bene, roeskettings en dokumente saam; die eiland se waarheid spoel uit soos ingewande. Matteo fluister: “Die eiland maak skoon.” Jana knik. “Hy was net ’n houer… en nou breek hy onder die gewig van sy eie sonde.”

Die tonnels vul vinnig met water terwyl klipstukke val en die aarde bewe. Jana lei die vier kinders tot by die noordelike strand, waar maanlig oor die woedende see glinster en ’n klein vissersboot wag. “Gaan,” sê sy. Eleni vra: “Kom jy nie saam nie?” Jana antwoord: “Ek is klaar. My storie eindig hier.” Matteo trek die ander in die boot; Eleni klim laaste in en fluister “Dankie” voordat hulle wegroei, nie monsters nie, maar die oorblyfsels van vier gebroke bloedlyne.

Wanneer die boot verdwyn, kyk Jana terug as die eiland se kern finaal instort. ’n Krater sluk klip, bome, dorpies en die tonnels in; die eiland krimp, sy geheime nog vir ’n oomblik luid voordat stilte dit neem. Jana staan tot die water haar enkels bereik. Die eiland was nooit ’n monster nie, net ’n graf, en grafte hou nie hul dooies vir altyd nie. Met die laaste stuk grond onder haar gee die aarde mee. Die eiland sink, en Jana verdwyn saam met sy laaste asem. ’n Wêreld van geheime en skuld sluit sy sirkel.

© Nicola Brown

Woordtelling: 3731




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed