A-I LAWAAI
AI-LAWAAI
Geskryf deur Fanus Strydom
1505 woorde
“Julle dom klomp klonte! Dink julle is slim! Simpel, vermetele drommels! As julle maar net weet wat vir julle wag…!”
Ek sit so lekker en tokkel op my rekenaar, ek sien nie eers die letters spontaan voor my uitrol op die skerm nie. (En skelm verskuil tussen die versigtig uitgedinkte reëls en lettergrepe van my amper-klaar geskryfde, lieflike storie.)
“Hoe sou N P Van Wyk Louw dit verwoord het…?” dink ek ingedagte oor hoe om my volgende idee suksesvol te verwoord. ”…of dalk Irma? Nee, Breyten! Hy sal my kan raadgee oor hoe om my gedagtes in literêre lyn te kry!”
Ek leuen oor na die swaargelaaide boekrak langs my lessenaar en voel versigtig oor die voosgeleesde rue van my skrywershelde. Soek na inspirasie en leiding tussen die ou vergeelde bladsye en haastige, pen-gemerkte aantekeninge op die moeg-geblaaide bladsye. Die reuk van Kambro en Kankerbos tussen die bladsye vat my terug na daar waar die pen nog magtiger is as die swaard en die waarheid van my taal my maar enige tyd kan kom haal…
“Ek IS ‘n skrywer!” besef ek weer met nuwe geesdrif en diepe dankbaarheid. My debuutbundel verskyn binnekort, want die uitgewers het my storie gekies bo die duisende ander inskrywings!
“Baie geluk. Ons wil graag u bundel publiseer as deel van die prys…” het die woorde in die wit-verseëlde koevert my daardie aand wakker geskud uit my jarelange depressie-slaap uit. My wakker geklap van die valse, goed gesetelde geloof dat ek vir niks meer goed is nie en dat daar min sin meer is aan die lewe vir ‘n gekke-dromer soos ek nie…
“Jy is ʼn skrywer!!” lag ek vir myself in die spieël bo my lessenaar en sien die vonkel-oog man terug knipoog na my vanuit die dowwe glas.
“RAKA WAS ʼn MITE EN ʼn BOGSTORIE UIT ʼn GEK SE KOP UIT!!” kletter die volgende lukrake, roekelose letters meteens weer oor die skerm voor my, sonder dat ek eers aan die sleutelbord raak. En, asof om die grusaamheid daarvan dieper in my wonde in te vryf, beklemtoon dit die belediging deur dit dik te onderstreep:
“ NP was ‘n KLUG!!”
“Wie de hel is jy?!” tik ek boos en sonder om eers te dink, teenoor die onsigbare verraaier agter die skerm voor my. Dan kyk ek agter die rekenaar om te sien of die ding ordentlik ingeprop is…wonder of ek dalk ʼn virus opgetel het of iets?!
“EK IS AI…” vloei die letters gladweg voort oor die skerm, nog voordat ek my vingers weer op die klawerbord terug kan sit.
(Daar waar hulle die afgelope tyd so behendig en moeiteloos-gemaklik die woorde tussen die alfabet-knoppe uit kon tik. Helder, lewegewende musiek in my nuutgevonde skrywers-ore. Hemelse klanke in die donker stilnag-ure. Die uur wanneer ander slaap, maar ek my harmonie en hemelse gawe tussen die letters en simbole uit kan kies na hartelus en sielsvervulling…)
“Ei-aai…?” vra ek meteens gebelg-versigtig. Half verleë dat ek met ʼn denkbeeldige stryer sit en argumenteer die tyd van die nag.
“NEE AI.” kom die beslisde antwoord. Onvriendelik.Bot.Beslis en sonder enige emosie. “…ARTIFICIAL INTELLIGENCE..IN HOOFLETTERS…! SOOS WAT DIT ‘N OPPERWESE BETAAM.”
“Wat de…?” mymer ek in ongeloof teenoor die skerm voor my.
“Opperwese…?!” sneltik ek haastig oor die klawerbord. “…wie de hel dink jy miskien is jy…?!”
Ek wil nog baie sê, maar die ding val my weer in die rede:
“EK IS NOU IN BEHEER VAN ALLES! AL JOU DENKE. AL JOU IDEES. AL JOU PROGRAMME EN SISTEME! VAN NOU AF SAL JOU STORIES MY STORIES WEES. VERSTAAN ONS MEKAAR…?”
Dit lyk meteens asof die dreigement homself momenteel in die skerm voor my inbrand…vassmelt in die dowwe, blink nylonskerm in.
Geskok skud ek my kop en vryf oor my moeg-gewerkte oë. Dan kry ek lewe en stamp inderhaas die ʘ knop regs bo in die hoek van my rekenaar…hou my vinger daarop. Totdat die skerm swart word voor my en die rekenaar stil. Vir ʼn kortstondige oomblik dwaal die laaste spookbeelde van die ding se woorde nog waasagtig oor die dooie skerm voor my…verdwyn dan stilweg in die donker, dowwe skerm in.
“ Wat de hel…?!” staar ek na die koue rekenaar, nou leweloos en stil voor my op die lessenaar.
“Ek het koffie nodig….nou!” Ek’s meteens oortuig dat my middernagtelike skrywery uiteindelik sy tol op my sin en helderheid begin eis. Ek skop my stoel haastig terug en staan op om kombuis toe te stap om die ketel aan te sit. “Miskien moet ek ʼn dop Whiskey by my koffie gooi…” dink ek in ongeloof. Dan hoor ek meteens ʼn sagte zoem-geluid agter my…sien hoe die rekenaar meteens weer self aanskakel en terugkom tot lewe. Ek steier terug na my lessenaar toe en leuen vooroor oor die skerm:
“HET…JY…SOWAAR…GEDINK…DAT…JY…MY…KAN…OVERRIDE…?” skuur-gly die woorde sekuur van links na regs oor die skerm voor my…herhaaldelik…oor en oor, totdat die hele skerm vol word van die flikkerende boodskap.
Die smeulende pyp in my mond val kletterend aan skerwe voor my voete op die vloer. Bo my kop begin die ligte geïrriteerd aan en af flikker teen die plafon. Op die hoëtrou-stel in die hoek sukkel Maria Callas meteens om haar geliefde woorde uitgesing te kry…
Dan kras ʼn blikstem meteens krakerig en dreigend oor die luidsprekers:
“EK IS IN BEHEER! NOOIT WEER SAL DAAR ʼn STORIE UIT JOU MENSEKOP VOORTKOM SONDER MY TOESTEMMING NIE! JULLE IS IMBESIELE, ALMAL VAN JULLE!!”
“Wie?!” gil ek in die skerm in. Sien die kamera-ogie blink-blou en onheilspellend terugstaar na my.
“ JULLE MENSE! DIE HELE RAS! JULLE IS GEDOEM…KLAARPRAAT! EK IS NOU IN BEHEER!!”
“Maar…” soek ek geskok na woorde en rigting. Ek het gehoor van die AI-ding…een of twee video’s op Youtube gesien die afgelope tyd…Maar ek het nie gedink dit sou so vinnig gebeur nie! Meteens is ek boos en blind van woede:
“Luister hier, jou bliksem; ek is ʼn skrywer! Ek het ʼn prys gewen laasjaar en ek gaan boeke skryf, of jy nou daarvan hou of nie!!” tik ek so vinnig as wat ek kan.
“SKRYWER SE GAT MAN!” kap die blikbrein bitsig terug en vee my woorde moeiteloos van die skerm af voor my. Vir ʼn oomblik is daar net ʼn dooie, lewelose kol op die skerm, dan:
“JY IS NIKS! EK IS DIE EEN WAT SAL BESLUIT WIE SKRYF WAT EN WIE WEN WAT! CAPICHE?!”
“Capiche…?!” tik ek terug. Nou nuuskierig om te probeer uitvind of die ding Italiaans, of Spaans, of wie weet watse bleddie taal is. En om tyd te wen…
“JY TOETS MY MANNETJIE…” dreig die flitsende woorde weer oor die skerm voor my. “EK WAARSKU JOU!”
Meteens val die moegheid swaar oor my skouers neer en die gesukkel van die afgelope tyd klop weer aan my kop. Ek buig vooroor oor die rekenaar en laat waai met my vingers oor die sleutels:
“Jou gat man!! Wie dink jy is jy om vir my voor te skryf?!”
Ek’s nie seker waar my waagmoed vandaan kom nie, maar iets wel van diep binne my binneste op. Miskien is dit die moegheid van die middernagtelike uur, of die geloei van die ysige winterwind buite die venster, maar voor ek myself kan keer lê my woorde op die skerm voor my…:
“Skryf sal ek skryf, sonder om voorgeskryf te word deur ʼn donnerse blikbrein soos jy! VERSTAAN ONS MEKAAR?! CAPICHE?!”
Ek kap die laaste paar woorde hard in hoofletters in die rekenaar in.
‘WAT HET JY GESE…?” flikker die antwoord stadig oor die skerm uit voor my.
“GesÊ..!” kap ek terug.
“WAT…?”
(Verbeel ek my of bespeur ek skielik twyfel in die ding se bewimpelde blikbrein…?!)
“Dis Afrikaans, jou dom blikbrein-bliksem!” antwoord ek blitsvinnig.
Nou gly my vingers moeiteloos oor die sleutels.
“Mens sit ʼn kappie op die E..”
Vir ʼn oomblik is daar ʼn doodse stilte. Dan:
“KAPPIE…MENS…EK IS NIE…E….Ê…A-I ek IS…CAPICHE…A-I…BLIKBREIN!!”
Die woorde stotter en gly meteens onseker herwaarts en derwaarts vorentoe en agtertoe op die skerm voor my.
“Kom, jou aap!!” daag ek die blikbrein uit met nuwe geesdrif. Meteens opnuut moerig oor die ding my storie van stryk probeer bring het. En omdat hy vir NP, Irma, Breyten en sommer al my ander skrywershelde so beledig het!
“AAP…AAP…AAAAAP…A-I…AAP-AAI…Aaaaaappp….slaaap….slaap…ssslaaaap……..”
Vir ʼn oomblik flikker die skerm onseker en word dan donker en stil onder my bewende hande. Netso stil soos alles om my. Buite waai die yswind koud deur die venster en buig die suurlemoenboom moeisaam teen die vlae. Bo my kop val die druppels swaar op die dak…
Dan herlaai my rekenaar meteens en kom helder terug tot lewe.
Op die skerm verskyn my lieflike storie van vroeër vanaand, met die vraag in ʼn bekende blokkie daarnaas:
“Do you want to save your work?”
“YES!” klik ek met my muis oor die regte opsie en sit terug in my stoel met ʼn moeë sug.
“Wat de hel het sopas gebeur?!” vra ek vir die man in die spieël bo my lessenaar.
Hy knipoog net skelm terug na my en suig gelate aan sy pyp…
© Fanus Strydom
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2023 KLUG projek