Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 3

Hoofstuk 3 – Hoe Vryheid Voel

Die weersien, die vashou, die trane van liefde van hulle wat haar en Rudolph so liefgehad het, is so ver weg van wat Zuluika ken, sy weet, hier is mense wat haar so lief soos hulle eie kind het, altyd gehad het, en ʼn ou hartseer krap aan haar.
Sy is oorstelp omdat Jonah, Rudolph se jonger broer, ook daar is, en hy lag, “Het jy gedink ek sal die paar dae wat jy by ons is misloop,” en hy druk haar teen hom vas en sy trane val op haar swart hare.
“Ons gaan jou afspraak by die Ambassade agter die rug kry, vannag oorslaap in Windhoek, en môre gaan ons plaas toe,” sê Jonah, terwyl hy Zuluika se tas optel, haar mediese tas vir sy pa gee, die viooltas vir sy ma, en die hobo tas vir Zuluika. Almal staan vir een oomblik versteend by die aanskou van die twee tasse, en die pyn oor hom wat soveel talent gehad het, is soveel feller, maar vir nou worstel elkeen alleen daarmee. Hy neem haar aan die hand en stap in die rigting van die uitgang.
“Ons gaan eers inboek by die hotel en middagete geniet, voordat ons na die Ambassade gaan vir jou afspraak,” sê Sally Bruyns, terwyl sy Zuluika se ander hand en die hobo tas vir een oomblik teen haar hart druk.
Die rit is gevul met die vrae wat mense vra na ʼn geliefde se lang afwesigheid, maar almal weet, hier in die motor vandag, is dit nie die tyd om hul diepste hartseer te bespreek nie.
Hulle gaan tuis in die Safari Court Hotel, en die portier neem hulle bagasie na hul onderskeie kamers. Hulle kom ooreen om eers te verfris en oor dertig minute in die restaurant te ontmoet.
Wanneer die deur toegaan, staan Zuluika met ʼn gevoel van oorweldiging in haar teen die deur, en sy smeek woordeloos, ‘Here bly by my’.
Sy spoel haar gesig af, gaan lê vir ʼn paar minute op die bed wat so oordonderend netjies en styf reggetrek is, soos die bed wat sy tien jaar lank self opgemaak het, en iets van die tien jaar versmoor haar.
Die saamwees met haar familie bring die ou gevoel van ‘behoort’ terug na Zuluika. Sy kyk na die drie mense hier by haar aan die tafel, en sy besef weer, sy het familie, het altyd familie gehad in Laurie, oom Nate, oom Louis, en hierdie mense, vanaf die dag toe Rudolph Bruyns met sy swart krulhare en blou oë in haar lewe ingestap het.
Sy weet sy moet hulle inlaat oor haar omstandighede, dit wat Joos Terblanche haar meegedeel het, sodat hulle haar haas om so gou as moontlik weg van die Afrika Kontinent te kom, kan verstaan. Daar is geen verbasing of teleurstelling by hulle nie, net verstaan en ondersteuning.
James Bruyns vat haar hande tussen sy groot hande vas, wanneer sy opkyk in sy oë, Rudolph se blou oë, kom dit sag maar beslis, “Al moet ek jou met my viertrek tot in Egipte vat my kind, sal hulle jou nooit weer jou vryheid ontneem nie,” en dit bring rus in haar gemoed, sy weet, ‘hy sal dit doen’.
Sy haal die lêer met die dokumente vir die visum aansoek uit, en hulle vier gaan weer die dokumente na, hulle weet die dokumente in die lêer moet Zuluika se toekoms verseker.
Daar kom ʼn gemoedelikheid tussen hulle wanneer Jonah die lêer toemaak en neersit, en dit duur voort totdat sy alleen deur die deure stap met haar lêer dokumente vasgeklem teen haar, en die vrees is terug, ‘Wat indien daar tog iets op rekord is wat die visum aansoek kan beïnvloed?’
Sy betig haarself, ‘Vandag se afspraak is net ʼn administratiewe proses, indien daar probleme was sou Hermann Helder se aansoek nie goedgekeur gewees het nie’. Sy vermaan haarself woordeloos, ‘Die mense vat net jou dokumente in, hulle stel nie belang in jou rekord nie’, en sy dwing haarself tot kalmte.
Die wag by elke punt verhoog die onrus, die nagaan van die dokumente, die aanteken op die stelsel, en die gee en neem van die bewys van indiening.
Wanneer sy haar hand op die elektroniese toestel plaas om die vingerafdruk proses af te handel, voel sy hoe die naarheid in haar opstoot, ‘Here asseblief laat alles asseblief net reg wees’, en die: “Dankie u kan gaan sit, u naam sal op die oorhoofse skerm verskyn vir die neem van u foto,” bring die verligting wat sy so nodig het.
Sy sit ʼn paar minute voordat haar naam op die skerm verskyn, vir haar om na die kiosk te gaan vir die neem van die foto, en sy dwing haarself tot kalmte. Wanneer sy uit die kiosk stap, wink die sekuriteitsbeampte haar in die rigting van die uitgang, sy groet hom en strompel uit die gebou, die warm sonskyn van die Namibiese middag in. Sy blaas haar asem stadig uit en voel ʼn verligting wat dreig om haar te oorweldig.
Jonah Bruyns sien haar uitstrompel en met ʼn ligte roep van haar naam, begin hy vinnig in haar rigting stap. Wanneer sy hom sien knak haar bene en hy vang haar en hou haar vas teen sy sterk bors, “Alles is reg Zuluika, ontspan, dit is verby, byt jy net vas, ons is amper hierdeur.”
Agter die toe deur van die hotel kamer dwing Zuluika haarself om tot rus te kom, sy spoel haar gesig met koue water af, smeer die Nivea dagroom wat Lize vir haar gekoop het aan, maak haar oë toe en Thobile se woorde is in haar, ‘Jy is sterk genoeg hiervoor Zuluika’ en sy weet, sy is, sy moet net in haarself glo.
Die gemoedelikheid is terug wanneer hulle mekaar in die restaurant ontmoet. Die saam eet, die deel van die ruimte wat hulle weer ʼn familie maak, en die liefde in ‘haar’ drie mense se oë, lig die sluier wat haar wil versmoor.
Hulle besluit om vieruur die volgende oggend te ry en sy stap saam wanneer Jonah die rekening vereffen en reël dat hulle vieruur die volgende oggend kan vertrek, en die aksie gee haar die gevoel van ‘gewoon’ wees, dit wat sy so voor gebid het.
Almal stap saam met haar na haar kamer, Jonah help haar die wekker op haar selfoon stel vir drieuur die oggend, en sy waardeer die deel van sy kennis, weet sy sal elke dag, met elke klein ietsie wat mense met haar gaan deel, iets byvoeg by haar vaardighede vir die uitwis van die tien jaar se afsondering.
Met die nagsê druk Sally Bruyns Zuluika teen haar vas, “Slaap rustig my kind, moenie verder bekommer nie, die Here sal by ons wees,” en die hoop wat Zuluika sedert haar vrylating begin koester het vir inpas in vryheid, is terug in haar.
Sy staan vir een minuut met haar rug teen die deur in die donker, ruik die vars linne reuk, en dit bring die gevoel van tien jaar se eensaamheid terug.
Sy skakel die lig aan, dwing haarself om ʼn oorhand oor haar gedagtes te kry deur onwillekeurig deur die gevangenis, ‘voorslaap’, roetine te gaan. Sy trek uit, stort, trek aan, verpak die klere wat sy gedra het, en sit die volgende dag se klere op die spieëltafel neer, sit die lig af, klim in die bed, en probeer die verlorenheid vergeet.
Wanneer sy op haar sy draai en die sterrehemel deur die venster sien, is die vreugde groter as die eensaamheid, ‘Sy is vry, sy kan die sterre uit haar bed sien, iets wat nie in tien jaar gebeur het nie’, en sy verval in ʼn rustige slaap tot die wekker om drieuur lui.
Die inpak van hul bagasie in die bagasieruim van die groot viertrek, die inskuif op die agterste sitplek langs Sally Bruyns, bring die lank gelede se onthou wanneer sy en Rudolph Namibië toe gekom het vir vakansie, terug in haar, en met haar hand in haar skoonmoeder se hand, raak sy aan die slaap.
Die ander drie insittendes kyk na die skraal bleek gesiggie en James skud sy kop terwyl die trane in sy oë sigbaar is, hy huil weer oor ʼn seun wat van hulle weggeneem is, maar ook oor wat aan Zuluika gedoen is, ‘Die duiwels wat al die ellende veroorsaak het moet boet’, gaan dit deur sy gedagtes, en hy sluit haar pa, wie hy ook al is, in daardie duiwelse groep in.
Wanneer Zuluika na ʼn paar uur se ry wakker word, sien sy hoe die hittegolwe spieëlbeelde op die sandvlakte optower, en die lomerigheid dreig om haar weer te oorval.
Sally Bruyns streel haar liggies oor haar arm, “Slaap my kind, ons het nog ʼn paar uur om te ry, ons is nou eers deur Otjiwarongo, ek sal jou wakker maak op Otavi. Van daar is dit ʼn uur se ry tot op die plaas. Geen rede om te veg teen die slaap nie, geniet die rus my kind, wanneer jy eers weer in die hospitaal begin, gaan daar min rus wees.”
Zuluika voel die warmte van die hand, voel rustig in die wete, hulle sal altyd vir haar uitkyk, en sy slaap verder.
Dit is twee uur in die middag wanneer hulle deur die hekke van die plaas ry, en Zuluika voel die hartseer by die wete dat hy wat sy so liefgehad het, hier op die plaas in die warm sand begrawe is, en haar hart huil.
Sally Bruyns kyk na die lieflike mens langs haar en sy weet wat deur haar gedagtes gaan, weet die verwyt in haar omdat sy nie eers hier kon wees toe hulle Rudolph begrawe het nie, nooit daardie laaste totsiens kon sê nie, en sy huil openlik saam met Zuluika.
Wanneer die twee vroue in die koelte van die huis staan, kom dit hartseer van Sally Bruyns, “Jou en Rudolph se kamer is gereed, maar jy kan ook enige ander kamer neem, almal is gereed vir jou.”
Zuluika weet, sy wil die paar dae op die plaas naby Rudolph wees, net die dinge onthou wat hom so ʼn besondere mens gemaak het, net in sy herinneringe baai, “Ons kamer asseblief moeder Sally.”
Sally Bruyns los haar alleen in die kamer, alleen in haar hartseer herinneringe, en Sally weet, die dae tot Zuluika weer gaan, sy bittere trane sal stort, al die trane wat sy tien jaar gelede moes gestort het.
Later wanneer die ergste seer vir eers uitgewoed is, gaan soek Zuluika haar familie, en kry hulle in die kombuis, wagtend op haar met elk ʼn beker koffie, haar beker wagtend op die rak bo die koolstoof, en sy weet, ‘Sy is uiteindelik tuis by een van haar huise’.
Al vier weet, die onafwendbare besoek aan Rudolph se graf lê voor hulle, die graf wat Zuluika vir tien jaar tot die diepste wanhoop en verwyt gedryf het, die graf wat sy nie gesien het nie, wat sy met haar onbesonne daad haarself ontneem het.
Hulle besluit om die volgende oggend almal saam op te gaan na die graf, reeds te veel hartseer en trane vir een dag beleef, en dit is reg met hulle.
Laataand, alleen onder die koel laken, op die plek waar hy altyd gelê het, breek die sluise, en Sally Bruyns vlug weg van die kamerdeur wat nie in staat is om die pyn van tien jaar se hartseer dig te hou nie.
Dit neem Zuluika ʼn lang tyd om deur die eerste uitstort van haar hartseer te kom, en wanneer sy uiteindelik op haar sy draai en die natgehuilde kussing teen haar wang voel, is dit die lafenis wat sy weet sy nodig het om al die hartseer en leed oor wat verlore gegaan het weg te was.
Soos die vorige nag kyk sy na die sterrehemel uit haar bed, en raak sy na ʼn rukkie rustig aan die slaap, maar vannag vat haar droom haar weg na daar toe alles so reg vir haar en Rudolph was.
Dit is vroegdag na ontbyt wanneer hulle as ʼn gesin opstap na die familie kerkhof. Die aanskou van sy naam, die sien van sy blou oë in die foto wat agter die glasskerm na haar kyk, en die swart krulle wat oor sy voorkop krul is te veel vir Zuluika, en sy wuif hulle weg wanneer hulle haar wil optel waar sy neergestort het, en James Bruyns vat sy mense en hulle laat haar daar om in haar alleenwees, tien jaar se leed uit te huil.
Dit vat Zuluika ʼn baie lang tyd om deur haar wanhoop te kom. Wanneer sy haar hand met liefde oor sy naam in die marmer laat gly, haar vinger die kontoer van sy ken op die foto volg, weet sy, sy soek nie vergelding nie, sy soek die waarheid, sy soek geregtigheid vir hom wie se lewe geneem is deur haat, daardie haat wat net kleur sien, nie liefde nie.
Sy sê dit vir hulle laataand, wanneer hulle op die voorstoep ʼn laaste koffie drink. “Indien my visum goedgekeur word, gaan ek ʼn tyd vat om myself in vryheid te vind, te kyk of ek weer met myself en ander mense kan saamleef. Daarna kom ek terug en gaan ek die waarheid uitvind, ongeag wat die waarheid sal bring, ek wil geregtigheid laat geskied,” en met die knik van hulle koppe bevestig hulle, hulle is reg daarmee.
Kersdag gee moeder Sally haar ʼn pakkie, sy maak dit oop en dit is die hangertjie met die St. Christopher wat sy vir Rudolph gegee het, die hangertjie wat elke dag teen sy hart genestel het.
Sy haal dit uit die houer en Jonah staan op en knip dit vas om haar hals, die gedagte is in haar, ‘Nou is jy weer by my’.
“Dankie moeder, vir die veilig hou hiervan vir my,” en sy weet sy wil dit nou vra, “Het julle Rudolph se trouring moontlik gekry?”
James se antwoord kom amper verskonend, “Nee my kind, die ring het ons nie gekry nie. Rudolph se lyk is in ʼn verseëlde kis gebring, ons het dit nie oopgemaak nie.”
Zuluika kyk na Jonah en Sally, sy sien die hartseer, voel die pyn in haar, soveel onverklaarbare dinge, soveel hartseer, en sy sluit haar oë, en dwing haarself om tot rus te kom.
Tweede Kersdag volg ʼn rustige patroon, die opstaan, die ontbyt, die koffie drink, die besoek aan Rudolph se graf, die gesels op die stoep totdat hulle gaan slaap, en Zuluika voel haar angstigheid verminder, sy weet, hierdie besoek aan haar mense het sy so nodig gehad.
Die sewe en twintigste die aand, terwyl hulle rustig koffie drink, weet Zuluika, voordat sy van hier af gaan, moet sy een van die kwellings uit haar geslote kinderlewe deel, raad en hulp vra, dit wat sy tot nou nooit met niemand gedeel het nie. Sy weet, ‘die waarheid uitvind, sodat sy weer heel kan wees’, sluit hierdie een groot seer ook in.
Die pyn in die stem, laat die drie mense verstil, “Vader James, ek het ʼn guns te vra, iets wat jy dalk vir my kan doen.”
James Bruyns sien die weemoed, hoor die stem wat breek, en hy vat haar hand tussen sy groot hande vas, “Indien dit enigsins in my vermoë is my kind, sal ek dit doen.”
“Ek is moontlik hier in Namibië gebore, want daar is sonder ophou in my kleintyd verwys na Namibië.” Dit vang hulle onverhoeds, dat sy ʼn Namibiese burgerskap deur Louis Olivier se burgerskap gehad het, dit het hulle geweet.
“My eie pa se naam was Ziegfried Cordier, en hy is ʼn afstammeling van Ziegfried Cordiersohn wat van die eerste Duitsers was wat in die ou Suidwes-Afrika gestasioneer was in die laat agtienhonderd en vroeë negentienhonderds. Meer spesifiek was die oorspronklike Ziegfried deel van die troepe wat in die vroeë negentienhonderds deel was van Generaal Lothar von Trotha se troepe wat verantwoordelik was vir die uitmoor van die Herero’s, Namas en die San.”
Die drie sit versteend, te bang om asem te haal, sy bly vir ʼn lang oomblik stil, die skok en weersin wat sy saam met haar dra oor hierdie feite, is in haar, so ook in die ander drie persone.
Sy sê dit wat haar kleintyd ʼn hel gemaak het, “Ek glo die haat wat hy tot vandag in hom dra vir almal wat nie die sogenaamde ‘Duitse suiwerheid’ gehad het nie, het uit sy familie verband gekom, en ek het nie daardie suiwerheid in my nie. Het elke dag wat ek in sy huis was die verwyt en minagting verduur.”
Die hartseer wat die bekentenis bring, breek die ander drie se harte, hulle besef hoe pynlik hierdie feit vir haar is.
Jonah Bruyns staan op, gaan kniel voor Zuluika en druk haar teen hom vas, “Sus, ek wens ons kan jou pyn wegvat, sal jy ons ʼn geleentheid gee van hier af om dit saam met jou te dra? Weet net sussie, kinders van die Here word nie deur rassuiwerheid bepaal nie, net deur liefde en opregtheid, en dit is wat jy is, net liefde en opregtheid.”
Vier mense buig hulle hoofde en huil saam oor hierdie hartseer wat hulle vir ewig deel, die pyn wat kom uit die minagting van ʼn ander se bestaansreg.
Dit vat hulle ʼn geruime tyd om tot hulself te kom, en wanneer Jonah sy stoel langs haar stoel neersit en haar hand in syne neem gaan Zuluika voort, sy weet sy moet deurdruk, vir haar eie genesing.
“Hulle was gesiene mense in die omgewing van Lüderitz en meer spesifiek van die Helmeringhausen nedersetting. Ongeag al die jare wat verloop het, het my pa hom ten alle tye steeds uitsluitlik as, ‘Een van die uitgesoekte suiwer Duitsers’, beskou. Ek weet nie presies wanneer en waarom hy Suid Afrika toe gekom het nie, maar vandat ek kan onthou, het hy op ʼn plaas in die Paulpietersburg distrik in KwaZulu Natal geboer,” daar is die een oomblik se wanhoop, “Sy van is verander van Cordiersohn na Cordier gedurende sy herregistrasie in Suid Afrika, sy volle name was Ziegfried Zander Cordier, dit is van die feite wat gedeel was gedurende die gebeure in die Kinderhof in Pietermaritzburg toe ek dertien jaar oud was.”
Sy kyk een oomblik op en die haat wat sy in haar dra teen die name wil haar versmoor, maar sy sê dit emosieloos, “My oorspronklike naam wat hy my gegee het, was Cordelia Cordier,” en die verligting wat sy voel wanneer die naam in die ope is, verstom haar.
Sy kyk op, spreek die een waarheid oor haar diepste gevoel, dit wat sy nooit met niemand gedeel het nie, nie eers Laurie of Rudolph nie, “Ek het nooit een dag gedink dat ek enige iets wil weet oor ʼn persoon wat my met daardie mens gelos het nie, maar die afgelope tien jaar in my eensaamheid het ek besef, ek wil minstens weet wie sy was. Nie of sy nog leef nie, of waarom sy my agtergelaat het in daardie huis nie, net wie sy was. Ek wil die identiteit van my eie moeder weet, dit is die een feit wat nooit in my dertien jaar in daardie huis, of in die Kinderhof genoem was nie.”
Met die pynlike vraag in die ope, is daar net James se bevestiging oor, “Indien daar enige rekord in Namibië is, sal ons dit kry my kind,” en sy weet dit is ʼn belofte wat hy sal hou.
Die Maandag oggend, agt en twintig Desember, is die boodskap op haar selfoon, ‘visum aansoek is afgehandel, dokumentasie kan afgehaal word by die Ambassade in Windhoek’, Sy pak haar tas, sy weet die aansoek is goedgekeur, al meld die boodskap nie die uitslag nie.
Hulle vertrek drieuur die oggend, die nege-en-twintigste Windhoek toe, hulle vertrou die visum is goedgekeur. Die rit verloop rustig terwyl al vier met hulle eie gedagtes besig is, gedagtes wat Zuluika raak.

Die Bruyns gesin is beslis wanneer hulle voor die ambassade gebou staan, hulle gaan almal saam met Zuluika die gebou in, en sy is diep geraak deur die gebaar van ondersteuning.
Wanneer Zuluika die koevert met die paspoort en dokumente ontvang van die klerk, gee sy die koevert vir James Bruyns terwyl die klerk met sy vinger aandui op die bladsy in die register wat hy oor die toonbank na haar stoot, waar sy moet teken vir ontvangs.
James Bruyns verstaan die twyfel in haar, hy maak die koevert oop, haal die paspoort uit en gee die koevert vir Sally Bruyns. Hy voel Zuluika se spanning wanneer haar arm teen hom raak, en wanneer die paspoort in die palm van sy hand lê, vou dit self oop by die bladsy waar die visum ingeplak is.
Hy sit sy arm om haar, buk oor haar en druk sy lippe teen haar slaap. Sy weet, die visum is goedgekeur, sy is uiteindelik vry om te gaan, die laaste struikelblok vir nou, het die ‘Bond’ vir haar oorkom.
Jonah sit sy arm om haar en sy voel die krag wat hy na haar uitstraal, die krag wat sy nou nodig het om uit die gebou te stap haar toekoms in.
Zuluika weet sy moet Lize laat weet, maar Sally dring daarop aan dat hulle eers iewers rustig moet gaan sit, eers iets eet en drink sodat Zuluika tot rus kan kom.
Wanneer hul bestelling vir die kelner gegee is, en elkeen met ʼn koppie koffie sit, skakel Zuluika vir Lize, en gee haar die nuus oor die goedkeuring van die visum. Lize se gil is so hard dat die drie aan die tafel dit hoor en Zuluika die foon een oomblik weg van haar oor moet neem, hulle skater hulle plesier uit, terwyl van die ander persone in die restaurant glimlaggend toekyk.
Sy vra na Nathan Kilber en Lize bevestig dit gaan goed met hom en Laurie. Sy beloof om Laurie te laat weet van die visum se goedkeuring.
Wanneer Zuluika die oproep beëindig, bel Lize vir Joos, “Jy kan laat weet die grootste struikelblok is weg, Zuluika se visum is goedgekeur, sy is vry om weg te gaan van hier af.” Joos Terblanche voel die vreugde, en hy dank sy God, hy weet, ‘Nou die ‘Bond’ laat weet om reg te wees vir die volgende stap’.
Daar is gemoedelikheid gemeng met hartseer die laaste dag voor sy vertrek, hulle kuier in die hotel en maak planne vir wanneer sy terugkom, en sy sê hulle nie van haar twyfel oor haar terugkoms nie.
Sy beloof, soos haar belofte aan Lize, om elke week te laat weet hoe dit met haar gaan. Hulle beloof om vir haar te wag, ongeag hoe lank dit haar sal neem om te besluit, hulle sal vir haar wag om haarself te gaan vind.

Die hartseer is ʼn fisiese pyn in hulle wanneer sy groet en deurstap na die doeane, maar nou is daar geen vrees in hulle nie, hulle weet, sy gaan hier uitstap en sy gaan vir eers iewers ver van hier af haarself weer vind.
Die laaste soengroet stuur hulle na haar waar sy aan die anderkant van die glasskerm een lang oomblik na hulle kyk en haar totsiens kus wuif na hulle wat haar soveel hoop gegee het in die dae wat sy so veilig by hulle was.
Sy stap deur die deure en sy besef, sy is op pad na ʼn wêreld sonder enige geheue van haar, en sy is bly.
Wanneer sy haarself in die sitplek vasgespe is sy rustig, daar is geen kommer oor die oorstap op Oliver Tambo Lughawe vir haar vlug na Portland nie. Sy sal in die Internasionale Area vertoef, sy hoef nie weer deur enige doeane op die Afrika kontinent te gaan nie, sy is op ʼn direkte vlug wat eers in Amerika ʼn oorstap sal hê.
Zuluika weet die vlug, die treinrit vanaf die Portland lughawe, en die afstand wat sy per voertuig die berg op vervoer sal word in Corvallis, is ʼn lang pad, en sy is bly daaroor. Nie net oor die afstand tussen haar en die kontinent nie, maar ook oor die tyd wat sy met haar eie gedagtes besig sal wees. Op die oomblik is daar in haar die begeerte om weg van haar verlede vir ʼn tyd te wees om op haar genesing te fokus.
Die deurstap deur die lang gange op Oliver Tambo Lughawe na die Internasionale wagkamer, stap sy met krag in haar, en die bekende gevoel van die viooltas teen haar lyf is die band waaraan sy wil vashou, nie die kontinent se hartseer nie.
Wanneer sy rustig met ʼn koppie koffie in die koffiekroeg sit, skakel sy Lize, en Lize is in haar skik omdat sy reeds op Oliver Tambo Lughawe wag vir haar vlug na Portland.
Lize gee haar nuus oor Nathan en Laurie, en haar groet en goeie wense tel Zuluika se gemoed op, ‘Sy voel ʼn diepe geneentheid vir die mens se vriendskap, sy wat elke dag sedert hul eerste ontmoeting tien jaar gelede, elke dag haar belange op haar hart gedra het’.
Wanneer Zuluika ure later op die vliegtuig rustig met ʼn ligte kombersie oor haar terug leun in haar sitplek, voel sy die moegheid in haar, sy weet sy is gespanne, bang vir die vreemde, en sy aanvaar dit so. Sy weet ook die tien jaar in die gevangenis het haar gestroop van haar selfvertroue, die bravade wat in haar was, en nou is sy ook reg daarmee, daaraan sal sy werk.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed