Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Pesag oorwinning 2121 (736 woorde) Silwer

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 28 April 2021 Aantal woorde: 736 139 Kere gelees 3

Jankun swaai die net hoog bo sy kop. Vir ‘n sekonde huiwer hy. Dan trek hy die net stywer en ruk die klein bokkie nader. Die lem gly vinnig en sekuur oor die dier se nek. Die warm vloeistof druip oor sy vingers in die wagtende houer in. Hy lig die bokkie gemaklik oor sy skouers en swaai die boepenssak oor sy heup. Sy taak is volbring.
Narka glimlag breed toe Jankun die bokkie voor haar voete neerlê. Elke jaar met Pesag vlug hulle na ‘n ander verlate deel van die stad. Daar is bitter min lede van die Jeshu beweging oor. Tog bly hulle getrou. Hulle onderhou die drie jaarfeeste volgens wet. Die perkament rolle word diep in die murasie van die ou Katedraal versteek. Eeue gelede moes dit ‘n spogplek gewees het. Gedeeltes van die mure en dak getuig van prag tekeninge wat daarop gepryk het. Die groot atoomuitwissing aan die begin van die eeu het die aarde amper heeltemal vernietig. Die mensdom self, amper uitgewis.
Die handjievol Jeshu volgelinge kom elke jaar oor Pesag bymekaar. Die skuiling word vir dae lank bewaak sodat indringers nie die wegsteekpaadjies ontdek nie. Nie dat dit ooit ‘n problem is nie. Die heidene is self besig met voorbereidings vir hulle Ishatar fees. Die bome rondom die stad word met geel linte versier en oral wapper vlae met rooi horings op, rond. Die kinders hardloop skreeuend deur die strate terwyl ‘n halfdier snorkend agternajaag. Die halfdiere is die gevolg van ‘n chemiese wanbelans in die genetiese kode van laboratorium eksperimente na die atoomuitwissing. Hulle word elke jaar rondom die nuwe bloumaan vrygelaat. Dit is nie hulle wat die dood dra nie. Die eerste aand van Pesag word die Ishatar aangeroep. Die kinders van Jeshu sal dan veilig in die afgesproke skuiling wees.
Jankun neem die volsak by Narka. Haar hande is sag onder syne. Hy vryf speels oor haar donker hare wat oor haar skouer wip. Dan begin hy elke ingang na die skuiling met die rooi vloeistof smeer. Hulle het seker gemaak dat elke volgeling veilig in die ou murasie se bunkers versteek is. Daar is genoeg watervoorraad vir drie dae. Die groep weerhou hulle van enige vaste kos in hierdie tydperk. Heer Jeshu was, volgens die oorvertelling op die ou perkamentrolle, drie dae in die baar van Seol voordat hy die grotgraf lewend uitgestap het. Hy moes ‘n aaklige kruisdood sterf maar het Ishatar in die doderyk van Seol oorwin. Die bloed aan die bunker se deure verhoed ook dan dat Ishatar die Jeshu volgelinge kan aanraak. Ishatar het ‘n helse vrees vir Jeshu en sal nie waag om Sy volgelinge te skaad nie. Daardie nag, eeue gelede sal vir ewig deur Jeshu se volgelinge herdenk word.
Die laaste bunkerdeur klap liggies agter Jankun toe. Hy swiep die blarekwas heen en weer oor die deur. Bloed drup teen sy arm af. Die son kruip agter die berge in en Jankun hoor in die verte die stad se mense skreeu en sing. Dan kruip hy versigtig deur die holte tussen die rotse. Sy groep is hier versteek. Hy trek die swaar houtdeur op knip en laat die laaste bloed onder deur die deur sypel. Sy taak is volbring. Die sagte gedruis verseker hom dat daar lig in die donker vertrekke sal wees. Narka hou ‘n skoon doek na hom uit. Die lap is koel en klam. Hy vee die laaste spatsels rooi van sy gesig af en sak moeg langs Narka neer. Dan begin die groep saggies neurie en Jankun steek sy hande na bo. Mag daar hierdie jaar bevryding kom.
Die son val helder oor Narka se gesig. Hulle is reeds drie volle dae in die bunkers en mag uiteindelik die skuilings verlaat. Jankun het al die ander bunkers se lede gaan roep. Narka staar verstom na die toneel voor haar. Die stad is vernietig. Daar is nie eens ‘n teken van lewe of dat daar ooit ‘n stad in die kom tussen die berge was nie. Een vir een kom staan die Jeshu volgelinge langs haar. Jankun neem haar hand. Hy beduie in die rigting van die opkomende son. In die as en stof lê daar ‘n duidelike afbeelding van ‘n masiewe kruis. Spierwit lelies pryk al langs die verskuilde paadjies wat na onder lei. Slegs die katedraal is nog staande tussen die grys as en klip waar die eens pragstad was. Jeshu het oorwin.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    28 April 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2021 – Oordenkingsprojek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 80
Kommentaar telling: 36

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 144 gaste aanlyn

Bydraes – Argief