Daardie verlore sokkie
(552 woorde)
Die meeste mense wat sokkies dra, het twee voete en trek saans weer twee sokkies uit. Tog is daar altyd ‘n eensame, agtergeblewe sokkie wat gereeld opduik wanneer die wasgoed opgevou word. Die eerste gedagte wat dan by my opkom is dat die gevreesde sokkiemonster weereens ‘n sokkie skelm opgevreet het.
Sou mens nugter oor die verskynsel nadink, besef jy dat die lot van ‘n sokkie, in sy reis ‘van die bas na die kas’, ‘n onsekere een en buite sy beheer is. Die kans om die wasgoedmandjie te haal verminder alreeds aansienlik wanneer ‘n natgeswete, onderdrukte sokkie deur ‘n onverskillige of ongeorganiseerde eienaar opgefrommel en in ‘n vae rigting gegooi word. Dit is dan moontlik die laaste sien van die blikkantien.
Gelukkig maak die verlorenes gewoonlik gou weer hulle verskyning en hulle maats word hoopvol, as gevolg van optimisme gebêre. Na jare se gesukkel met die verskynsel, begin ek besef dat die oplossings legio is en dat dit selfs nodig mag wees om ver en diep te soek. As jy gelukkig is, het die sokkie in, of agter die wasgoedmandjie agtergebly. Hy kon uit die bondel wasgoed gegly het, onderweg na die wasmasjien, of selfs later tydens die rit vanaf die wasgoeddraad. Hy het dalk in die wasmasjien agtergebly, selfs agter, of langsaan die wasmasjien in geval. Die onstuimigste deel van sy reis begin egter eers gedurende die wassiklus, ‘n wilde tuimeltreinrit, sonder enige beheer oor sy eie lewe. Kwesbaar, as gevolg van die chaos gedurende die wassiklus, word hy hulpeloos aan homself oorgelewer, hoopvol om net weer met sy maat herenig te word. Die groot gevaar is om verstrengel te raak in ander wasgoed, of beddegoed.
Kinders, troeteldiere en slordige lewensmaats kan ook die oorsaak van verlore sokkies wees. Soek maar onder lae stoele of beddens, in die speelgoedkas of jou hond se bed. So het ek ‘n paar weke gelede, opsoek na ‘n ander item, ‘n groot deurbraak gemaak. Gewapen met ‘n sterk flitsliggie en ‘n draadhanger het ek plat op my maag, onder die koningsgrootte bed op ‘n kolonie ronde stofdiertjies en agt verdagte sokkies afgekom. Die gesellige partytjie het tot ‘n einde gekom nadat elkeen met die draadganger uitgehark en weer met hulle lang verlore maats herenig is.
Die verlore sokkie het ook ‘n sielkundige impak op ‘n mens. Jou dag begin reeds op die verkeerde voet as jy soggens haastig deur ‘n verskeidenheid, verskillende sokkies moet krap om ‘n paar te vind wat min of meer bymekaar pas. Jy wonder dan hoekom jy nie eerder 20 pare van dieselfde sokkies besit nie.
Hierdie algemene verskynsel laat mense al lank kopkrap. Die enigma van die verlore sokkie is selfs in Stephan Hawkins se boek The Nature of Space and Time verklaar as die skuld van spontane swart gate. Ander verspotte teorieë is ook beskikbaar op die internet en ‘n mens kan maar net lekker lag.
Die misterie van my verlore sokkies kan tot ‘n einde kom as ek tog maar net getrou ‘n punt daarvan kon maak om lang sokkies aan mekaar vas te knoop, die kleineres in ‘n aparte slopie te was en al die wewenaars die wasproses te weier, totdat hulle maats opgespoor kon word tydens opruiming. Laat ons nou maar eerlik wees, die lewe van ‘n sokkie stink.
Rika Gerryts
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2024 – OOP projek