Jongste aktiwiteit:

Van die spitse van ekstase tot die dieptes van die hel (Goud)

Ek weet die onderwerp is seker al holrug gery, maar dit raak soveel siele op soveel verskillende maniere, dat ‘n mens die saak móét aanroer.

Afgesien van die feit dat baie mense in professionele hoedanighede konsuis sekere dwelms as opkikkers en ontspanningsmiddels gebruik, is dit angswekkend om te sien hoeveel jongmense vandag met dwelms deurmekaar is.

Van wanneer af het mens dwelms nodig om saam met goeie vriende ‘n braai te geniet, of om jou deur jou laatnag studies te help? Van wanneer af loop dertienjarige, halfnaak zombies met stokstywe oë, in ‘n totale dwaal by huispartytjies of op skool- en feesterreine rond?

Besef hulle nie watse impak dwelms op hulle lewens kan hê nie? Word daar nie meer opvoeding daarteen by skole aangebied nie? Weet ouers nie meer wat hulle kinders doen nie, of verkies hulle om blindelings met oogklappe deur die lewe te loop – té besig met hulle eie gejaagde lewens – dat hulle nie die gevaartekens kan of wil raaksien nie? Net nóg ‘n tiener in nog ‘n fase van grootword…

Dwelms kan en sal jou op elke denkbare manier ernstig benadeel en selfs vernietig!

Nie net word jou fisiese gesondheid stelselmatig afgetakel nie, maar dit dwarsboom ook jou geestesgesondheid en emosionele welstand. Verhoudings verbrokkel, loopbane en finansies word mettertyd totaal en al geruïneer.

Hetsy dit heroïen, kokaine, crack, khat, tik, of sagter dwelms soos pille, alkohol of dagga is, die gevolge van dwelmgebruik en misbruik kan verreikende en noodlottige nagevolge hê. Om ‘n lojale mark te verseker, sny en dokter dwelmhandelaars hulle verwoestende produkte met allerhande chemikalieë en gifstowwe – juis om die uitwerking daarvan kragtiger en meer verslawend te maak. Die gebruiker is net nog ‘n vervangbare rat in die geldmaakmasjien, wie se lewe van geen waarde is nie.

Sodra die brein aan dwelms gewoond raak, kan jy nie net ‘n fisiese afhanklikheid ontwikkel nie, maar ook ‘n baie pynlike onttrekkingsproses beleef wanneer jy probeer ophou. Simptome verskil van lusteloosheid, naarheid en braking, ernstige krampe, hoofpyn, hallusinasies, agressie, tot erge depressie en kan selfs selfmoordneigings tot gevolg hê.

Dwelms beskadig jou brein en senuweestelsel en tas stelselmatig jou geheue en leervermoë aan. Party dwelms kan tot angs of paranoia lei en veroorsaak dat die gebruiker nie meer behoorlik tussen die denkbeeldige en realiteit kan onderskei nie. Dit vernietig jou geestesgesondheid en kan angs en depressie vererger. Langdurige gebruik van sommiges dwelms veroorsaak selfs hallusinasies, paranoia en skisofrenie, met blywende gevolge wat veroorsaak dat die gebruiker die gevoel van realiteit heeltemal verloor.

Onlangse Harvard studies toon dat alkohol- en dwelmverslawing die risiko van onderliggende en ongediagnoseerde geestelike versteurings drasties verhoog. Statistieke dui ook daarop dat soveel as nege-en-twingtig present van alle mense wat gediagnoseer word as geestelik siek, alkohol of dwelms misbruik. Dit sluit onder andere geestessiektes soos antisosiale gedragsversteuring, grenslyn- en bipolêre gemoedstreuring, skisofrenie, angsversteuring, obsessief-kompulsiewe steuring, ADHD asook posttraumatiese stresversteuring in.

Verder kan dit die hart se ritme versteur, dit vinniger laat klop en bloeddruk opjaag, wat die risiko vir hartaanvalle en beroertes verhoog.
Rookbare dwelms, beskadig die longe, wat lei tot kroniese asemhalingsprobleme en selfs longkanker terwyl alkohol, pille en ander dwelms lewer- en nierskade veroorsaak. In uiterste gevalle kan dit meebring dat die lewer en niere heeltemal ophou funksioneer.

Dit saai verwoesting in verhoudings! Wisselvallige emosies veroorsaak onvoorspelbare gedrag of ‘n vinnig opvlammende humeur wat dit moeilik maak om gesonde verhoudings te hê. As gevolg van die onstabiele gedrag en wantroue in die persoon, voel familie en naasbestaandes gefrustreerd en magteloos en beweeg hulle al verder weg. Dit kan lei tot verdere konflik en misverstande, wat die verhouding net meer onder druk plaas en die dwelmmisbruiker agterlaat met ‘n gevoel van verlatenheid, woede en selfs haat.

Dwelmmisbruikers mag hulself begin afsonder van ander en belangstelling verloor in sosiale aktiwiteite. Díé ongesonde isolasie kan hulle nog meer eensaam laat voel en die persoon se welstand verder vesleg.

Jou reputasie kan benadeel word wanneer mense om jou, jou anders begin sien en ervaar, en liewer verkies om jou te vermy. Dit kan lei tot stigmatisering en verstoting en kan jou kanse tot sosiale en professionele geleenthede heeltemal in die wiele ry.

Werkprestasie word ook negatief beïnvloed deurdat die gebruiker in ‘n gewoonte van habituele afwesigheid verval, mag sukkel om werkstake op ‘n doeltreffende, betroubare manier te verrig, wat weer aanleiding tot afdanking kan gee. Dit kan jou loopbaan en finansiële doelwitte ongekende skade berokken.

Dwelms is duur en die koste om die gewoonte te onderhou kan vinnig eskaleer. Mense maak skuld, verkwansel hulle besittings, lieg en bedrieg en gaan selfs so vêr as om te moor en steel om die draak te voed.

Uiteindelik is nie net die gebruiker ‘n slagoffer van die verwoestende monster nie, maar ook die ouers, familie, friende en ander geliefdes wat baie hard daardeur geraak word. Dit verpletter ALLES wat goed en kosbaar is.

Dit maak nie saak watter dwelm jy uittoets nie, jy speel met vuur!

Dit wat jy rook, of snuif, sluk of spuit, gaan jou brein en uiteindelik jou hele wese met die aanslag van ‘n weerligstraal tref en onherkenbaar verskroei.

As jy hulp nodig het om dwelmmisbruik te oorkom, kan professionele behandeling baie help. Dit sluit in:

– Detoksifikasie, om die dwelms uit jou liggaam te verwyder.
– Terapie, om emosionele en sielkundige probleme aan te spreek.
– Ondersteuning, om jou te help om op die herstelpad bly.

Bemoediging deur familie, vriende, en ondersteuningsgroepe is baie belangrik vir genesing. Dit kan jou aanspoor en help om die moeilike tye te oorkom.

‘n Sterk ondersteuningstelsel kan die herstelproses vergemaklik en jou kanse om dit suksesvol te oorwin verhoog.

SADAG 24 uur hulplyn: 0800 12 13 14
(South African Depression and Anxiety Group)

SANCA: 011 892 3829 of WhatsApp by 076 535 1701
(South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence)

©Loretta Szikra

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed