Jongste aktiwiteit:

Eureka, ek het dit toe wel gevind!

En nee, ek het nie soos Archimedes van Sirakuse uit die bad gespring en kaalbas die straat afgehardloop terwyl ek opgewonde “Eureka” uitroep nie, ten spyte van die feit dat my binnegoed opgewonde gejuig het en dit baie beslis ’n gepaste manier sou wees om aan my vreugde en nuutgevonde ontdekking uiting te gee.

Ek het ’n skakel op Ink se bladsy gevind… (’n Oog rol of twee en giggels van die ander lede sal oorgesien word.) Om eers met ’n elektroniese toestel kennis te maak toe ek lankal nie meer aan “husse met lang ore” geglo het nie, is nou wel nie ’n verskoning nie, maar tegnologiese-gestremdheid is ’n geldige toestand al word dit nie deur die medici erken nie. Dit was blote nuuskierigheid wat my op ’n koevertjie-blokkie laat druk het en die wêreld het halfpad oopgegaan! Halfpad, want ek soek nog na die res.

Eintlik wou ek vir iemand ’n vriend versoek gestuur het, toe kry ek iets heeltemal anders. Nie dat ek intussen al ontdek het waar daardie vriend-knoppie is nie.

Sien, sedert Ink se geboorte – hoe lank is dit nou al? – is ek aan en af ’n lid. Die ‘af’ was weens my onvermoë om my pad effektief te vind en die frustrasie dat ek nie my vriende se skryfsels in ’n enkele druk van ’n knoppie kon vind nie, maak nie saak in watter afdeling hulle sou publiseer nie. Voeg daarby dat die afdelings vir Rubrieke/Verhale/Artikels of sommer enige stories redelik aan die stil kant is. Dit word ook nie juis gelees nie en dit is úiters eensaam daar! Laat my al dink aan ’n murasie waarin die ego’s tussen die afgeskilferde mure rondbons. Bestaan Ink net uit digters?

My nuutgevonde ontdekking laat my voel asof ek die enigste veerpoot-hennetjie op die mishoop is. Ek sien daar is nog ’n hennetjie en ’n haantjie, maar die leesgoed is so vêr en wydverspreid dat ek dikwels weke aaneen vergeet van Ink se bestaan. Dit is baie hartseer, ek weet. Soms pleit ek werklading, maar dit is nie altyd so druk dat daar nie tyd is om ’n storie of twee te lees nie! Veral nie van diegene wie s’n ek altyd geniet het nie.

Ewenwel, hierdie ontdekking het my ook skrams na my asem laat snak. Al sou ek steeds die filter gebruik en sommige van die lees-goed uitskakel, sou die gemiddelde e-posse daagliks 14.5 wees. Nogal skrikwekkend baie vir iemand wat net skrams in daardie boksie wil loer. Ek gril, maar behou positiwiteit dat die funksie altyd gekanselleer kan word indien dit te oorweldigend sou raak.

Dag een het stilletjies verbygegaan.
Dag twee met gemaak dat my hartjie van blydskap gespring het toe daar ’n possie met ’n harde doef in die e-pos lêer val. Dit het gewerk, maar ai, dit was toe net ’n kennisgewing. Blydskap oor my nuutgevonde ontdekking het begin taan.
Dag drie – niks.
Dag vier. En daar verskyn ’n lekker storietjie van ’n ou wilde-woeste-bekende. Ai, hoe lekker om weer ’n stem uit die ou-ou verlede te hoor.

In die toekoms sal ek dapperder wees in my eksperimentele druk van knoppies, al gebeur dit jaarliks dat ek die rekenaar “crash”. Jip, JAAAARLIKS! Moet nie vrae vra nie, dit gebeur op die een of ander manier. My vingers kan die tegnologie vinniger deurmekaar krap as wat ek ‘n stafie tjoklit kan verorber.

Nou ja, as iemand my nou kan leer hoe om ’n nuwe vriend te maak, sal my bekertjie sommer oorloop! Ek sê sommer by voorbaat dankie asof dit kant en klaar afgelewer is 😊




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

  • Anze

    Ag hoe lekker lag ek nou vir jou! Om n vriendversoek te stuur gaan na die vriend se profiel (kliek op sy/haar naam) en kies dan stuur vriend versoek... ja dit is so maklik! En dan voel ek saam met jou dat die INKERS mar sku is om rubrieke en stories te kom vertel, maar die algemeen/gorrel afdeling is darem ook lekker besig net soos by die gedigte afdeling... laat weet as jy met nog iets sukkel, ek help graag!

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed