Jongste aktiwiteit:

Thomas en die wasbakboot

Thomas en die wasbakboot

Thomas was een van ons huiswagte in Tanzanië. Huiswagte is manne wat huise snags bewaak, en in Oos Afrika, soos dit seker ook in die res van Afrika is, is huiswagte nie net vir rykes nie, dit is vir almal wat ‘n huis bewoon, veral blanke buitelanders soos ons. Baie van die rykes huur sekuriteitsfirmas wat dan onder kontrak wagte by hul huise plaas, maar in ons geval het ons privaat Masai gehuur om ons op te pas. Dit was nie net goedkoper nie, maar die Masai is ook bekend daarvoor dat hul onverskrokke is in hul vasberadenheid om hul taak as wagte te verrig, en daarom kan mens taamlik gerus slaap as hulle wagdiens waarneem. Vriendelike en vredeliewende manne wat ons honde as hul eie gesien het en ons kinders as kosbaar en ons as gesin altyd met respek behandel het. Johanna was die ouer broer, ‘n lang man van my eie ouderdom en Thomas was die ander broer.
Hier kan ek net byvoeg dat die Masai meeste diere as hul eie sien, veral beeste. Hulle glo dat alle beeste op die hele aarde aan die Masai gegee is om na te kyk en dat hul eienaars-regte op alle beeste het. Op navrae is ek ook daarop gewys dat selfs die beeste in Amerika aan die Masai behoort en dat die Amerikaners nog net nie weet van die Masai se regte nie, en dat dit ook nie ‘n probleem is nie want die Amerikaners kyk blykbaar baie mooi na die beeste wat aan hulle geleen is. Hierop het ek respekvol stilgebly en nie ‘n argument vir beesteregte probeer maak nie.
Thomas was dan ook die uitsondering op die reël wanneer dit by Masai-mans kom, want Thomas was kort, nie uitermate kort nie, net kort in vergelyking met die hemelbesem van ’n broer wat hy gehad het. Daarom was dit ook Thomas se doel in die lewe om sy manlikheid om elke hoek en draai van die lewe te bewys en sodoende sy manlikheid as volkome te bevestig as Masai.
Eendag kom Thomas en Johanna na my met ‘n baie belangrike versoek. Ek, as werkgewer en ook hoof van menslike hulpbronne in my huishouding, bespreek toe al die aspekte van die versoek en maak dienooreenkomstige reëlings wat almal tevrede sal hou. Met my oudste seun as tolk word besluit dat Thomas vir twee weke verlof kan neem met die doel om te gaan trou. Die finansiële implikasies van die besluit word uitgewerk en ‘n plan om hom so gou as moontlik in Ausha, sowat negehonderd kilometer van Dar es Salaam, te kry, word gemaak.
Thomas is toe kort daarna weg en keer toe oudergewoonte ‘n maand later terug werk toe, as getroude man. Die langer verlof tydperk was te verwagte, want die mense is nie tydgebonde nie, en ek was eintlik verstom dat sy twee weke verlof net ‘n maand geduur het en nie die gebruiklike ses weke nie.
‘n Paar maande later word daar weer ‘n vergadering gehou om ‘n verdere versoek te rig. Hierdie keer wil Thomas sy nuwe bruid, die eerste van ‘n beplande vyf, na Dar es Salaam laat kom, want die tyd het aangebreek vir haar om swanger te raak. Uit respek vir die kultuur en hul gewoontes help ons toe maar om die nodige buskaartjie aan te skaf en ‘n boodskap word per Afrika-pos (mond tot mond) gestuur, en dis nie lank nie of ons kry die nuus dat die vrou op pad is.
Intussen breek die wasbak. Die opwasbak in die kombuis is al so oud dat die staal skeur en ons huisman, James, sy arm op die skerp rand sny. Ek tref reëlings met die huiseienaar om ‘n nuwe wasbak te laat installeer en ná ‘n ondersoek deur haar persoonlik, stem sy in om die onkoste as huiseienaar te dra vir die aankoop en installasie van ‘n soortgelyk moderne vlekvrye staalwasbak. Na ‘n paar dae daag die “kenner” (fundi) op met die wasbak onder sy arm en ‘n sakkie gereedskap in sy hand. Ons bespreek die installasie en ek laat hom sy werk begin, want hy is mos die fundi op hierdie gebied. Dit was ook nie lank nie of ek kom agter daar is fout en kry die fundi waar hy buite besig is om die rand van die wasbakplaat wat teen die muur moet vaskom, oop te buig. Ek laat hom dadelik stop en roep my oudste om te kom help om my misnoeë baie duidelik te maak. Ná ‘n lang gesprek en vele gebare en my eie teenstribbeling in gebroke Swahili, laat ek toe maar die fundi sy gereedskapsakkie vat en boender hom by die hek uit met instruksies dat hy nie moet terugkeer nie, met die verskoning dat my honde niks van hom hou nie. Ek kry toe maar ons tuinwerker, Imma (kort vir Immanuel), ‘n man wat se hande vir amper niks verkeerd staan, om ‘n hamer te vat en versigtig die wasbak weer na sy oorspronklike vorm terug te timmer terwyl ek voorberei om sommer self die installasie te doen en sodoende te verseker dat dit reg gedoen word.
Intussen is daar groot opgewondenheid onder die Masai-vriende wat vir Thomas en Johanna kom kuier het. Ek het hul vriende toegelaat op voorwaarde dat hul nie in my tuin rumoerig en dronk word nie, en op hierdie grondslag het ons gereeld Masai-mans om ‘n vuurtjie in ons tuin gesien. Dit het bygedra tot ons algemene aanvaarding onder die Masai-gemeenskap asook ons algemene veiligheid, omdat dit alom bekend was dat daar altyd Masai in ons erf was.
Die opgewondenheid is veroorsaak deur die feit dat die bus van Arusha af blykbaar gearriveer het en dat Thomas se nuwe bruid op pad na die huis was. Dit was ook nie lank nie of ‘n paar manne kom by die hek aan met die jong dame. Thomas was oorstelp en het met groot belangrikheid rondgestaan tussen die manne en uiteindelik sy bruid aan ons kom voorstel.
Die jong vroutjie, het ons deur tolke en geskerts vasgestel, was skaars sestien jaar oud, sy het nog nooit in ‘n bus gery nie, sy was nog nooit in ‘n stad nie en sy het nog nooit in haar lewe ‘n blanke vrou met reguit hare gesien nie. Sy kon net “Ma” (spreektaal van die Masai) en gebroke Swahili praat en sy was heeltemal oorstelp met al die aandag en veral die aanraking van ‘n handskud van ‘n blanke man soos ek. Ek is gegroet met die gebruiklike eregroet en kniebuiging vir ‘n ouer man met aansien, “Schkamo Mzee” (ek sien u ou vader) waarop ek die gebruiklike “marahaba” (ek sien jou my kind) geantwoord het. Daarop het sy na my vrou gedraai en haar met “Salama Mama” (vrede moeder) gegroet en toe in verbasing haar hand uitgesteek en aan my vrou se reguit swart hare gevat, want nog nooit het sy reguit swart hare op ‘n mens gesien nie. Dit was ‘n interessante ontmoeting tussen meer as net mense, dit was meer as net twee etniese groepe wat groet, ‘n mens kan amper sê dit was soos twee kulture wat op daardie oomblik in noue aanraking gekom het daar in my tuin onder die palmboom. Die res van die middag is daar toe ‘n feestelike atmosfeer op die werf en ek gee toe maar James en Imma toestemming om vroeër klaar te maak met die onderneming dat ons die volgende dag die werksaamhede van die wasbak sal voltooi sodat die skottelgoed gewas kan word.
Die volgende oggend is Imma juis weer besig om die wasbak reg te timmer, toe Thomas se vroutjie daar op die gras met hom ‘n gesprek aanknoop. Dit was nie lank nie of Imma rol soos hy lag en roep luidrugtig na James om ook met hom die snaaksheid van die situasie te deel. Ons ander in die huis kan die gesprek duidelik hoor en my oudste staan vinnig nader om te tolk presies wat vertel word.
Imma, wat ‘n platjie van ‘n ander kleur was, was besig met die timmerwerk toe die jong dame hom, met verwysing na die dubbele wasbak, vra wat se ding dié dan nou is, want sy het dan ook nog nooit so ‘n ding in haar lewe gesien nie. Imma, vinnig met sy humorsin, antwoord toe dat dit ‘n bootjie is, ‘n nuwe tipe bootjie wat spesiaal deur witmense gemaak is en nou hier verkoop gaan word. Nadat sy heel verbaas sy woord aanvaar en tog die “kleinheid” van die “bootjie” uitwys, voeg hy toe by dat dit ‘n baie “slim” bootjie is, want daar is twee sitplekke (die wasbakke self) en ook gate wat jy kan oopmaak sodat enige water wat inkom weer maklik kan uitkom voordat die ding sink. Met hierdie verduideliking kon sy nie stry nie en was duidelik beïndruk. Imma het toe al gerol van die lag, James het op ‘n stoel gaan sit want sy lagspiere het sy knieë heel lam gemaak en die res van ons het gekraai van lekkerkry. Die humorsin van die Afrika-mense is eenvoudig, maar hul verlustig hulself met oorgawe so daarin dat mens nie anders as om saam met hulle te lag nie.
Na die installasie van die wasbak en die skottelgoed gewas is en die kombuis weer opgeruim is, het James vir ons almal chapatti (meel-en-olie-pannekoeke) gebak en ons het ‘n pot bredie en die chapatti saam met die manne en die vroutjie in ons tuin gaan nuttig. Drie kulture wat om een kospot vergader en gesels met vier tale. Koeldranke is uitgedeel en ek het opgelet na die klein verteenwoordiging van die wyer Afrika hier in my tuin.
Thomas het ons met ‘n aksiebelaaide vertelling vol gebare en bewegings gewys hoe hy, tesame met agt ander mans, op ‘n leeujag gegaan het. Die Masai-mans neem aan ‘n leeujag deel met net spiese as hul wapens, en net as die leeu doodgemaak word, word die mans as ware mans gesien en tot die rang van “morani” (kryger of volwasse) verhef. In hierdie stadium mag hul dan ook saam met die manne eet, hul hare langer groei en vleg en ook ‘n lang mes aan hul sy dra. Dan kan hul ook trou en ‘n gesin van hul eie begin. Thomas het verduidelik hoe die leeu uitgelok was en hoe elke man ‘n beurt gekry het om sy spies met die leeu se bloed te bevlek, maar hoe hy wat Thomas is, die leeu die doodsteek gegee het en dat hy juis daarom die belangrikste morani van daardie groep is.
Daardie aand sit ek en wonder hoe my eie seuns eendag hul manlike status sal bereik, wat se dade hulle sal moet vermag en natuurlik wonder ek as pa oor my toekomstige skoondogters. Met die gebeure van die dag besluit ek toe om die manne daarop te wys dat hul darem eendag moet sorg vir skoondogters wat ten minste reguit hare het en weet hoe ‘n boot lyk. Natuurlik sou ons toestemming van die Masai kry om beeste aan te hou, want dit sou net respekvol wees, aangesien alle beeste op aarde mos reeds aan hulle behoort. ‘n Maand later is daar weer feesgevier met die aankondiging dat Thomas pa gaan word en ons het hom gelukgewens en weereens vir die gebruiklike twee weke verlof laat neem met die instruksie dat hy hierdie keer liewers nie weer moet trou nie maar sorg dat sy nuwe vrou se woonplek reg is vir die nuwe baba.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed