
Wanneer woorde (en stiltes) seermaak
Die verskil tussen simpatie en empatie is dat simpatie probeer om die lewe se hartseer ‘reg te praat’. Dit bied mooi oplossings aan wat vir die logiese denker goed klink, maar wat vir die bedroefde persoon in ‘n plek van groot verwarring kan laat. Dit bied pienk unicorns wat reënbogies burp met ‘n “jy moet dankbaar wees want…” as oplossings aan. Alles so goed bedoel, natuurlik! En buitendien, hoe sien enigeen die positiewe in ‘n afsterwe? Veral wanneer jy met ‘n bedroefde ouer sit.
Wat is dan die groot antwoord hier? Het God net eendag besluit dat ons vandag hierdie outjie se lewe gaan kortknip, of het die duiwel dalkies ‘n vinger in daardie pasteitjie gehad? Is geboorte en afsterwe nie uiteindelik deel van ons aardse lewe nie, al verstaan ons nie waarom pynlike goed oor ons pad kom nie. En is die GROOT ANTWOORD nie dalk verskillend vir elkeen nie? Dit is uiteindelik ‘n uitmergelende lang pad voordat ‘n sinvolle antwoord gevind word. En meer dikwels is dit eerder ‘n geestelike of spirituele antwoord as ‘n logiese een wat met mediese verslae gerugsteun kan word. Hierdie antwoord sal gevolglik ook vir elkeen anders klink. ‘n Tyd van smart is ‘n tyd van diep grawe en wat niemand namens jou kan doen nie.
Die regte antwoord is dat daar meer as dikwels geen antwoord is nie. Niks. Nada. Niks kan ‘n afsterwe regverdig of verklaar nie. Om enige tragedie met ‘n logiese antwoord te probeer versag kan onverwagse gevolge teweegbring. Verlies aan geloof is iets wat baie mense in so ‘n situasie ondervind. Verlies aan dit wat jy van kindsbeen af geglo het, kom skielik onder die vergrootglas en verlies aan vertroue in mense se goedbedoelde pogings is ‘n ander byproduk. Skielik begin jy met ander oë na die weldoeners kyk, veral wanneer antwoorde op die moeilike vrae van die lewe so gul en maklik aangebied word.
Niemand kan verlies ‘regmaak’ nie, maar jy kan leer hoe om met jou hart te luister. En dit is empatie: om saam met iemand te sit en te luister maar sonder om enigiets te probeer reg- of wegpraat. Jy gee bloot die geleentheid dat iemand iets baie swaar met jou kan deel. En jy gee nie antwoorde nie.
Erge skok en trauma kan enige persoon laat voel asof die wêreld (soos hy dit tot op daardie dag geken het), tot ‘n algehele onherkenbaarheid versplinter het. Dit laat daardie een in ‘n toestand van verwardheid, hy mag dalk nag na nag rondrol i.p.v. slaap, mag miskien sukkel om te onthou of die Maandag of Vrydag is, of selfs sy woorde in die middel van ‘n sin vergeet. Hy mag selfs opsigtelik verward voorkom.
Ongelukkig gebeur daar in dieselfde oomblik ook iets anders – jou sintuie verskerp en word met laser-presiesheid gefokus. Al beleef die bedroefde ‘n mistigheid aangaande sommige gebeure, beteken dit nie dat hy nie sal onthou wat daar vir hom gesê word nie. Die teendeel is eerder waar en woorde val soos brandende asteroïdes in sy gemoed. Beraders trap dikwels in hierdie gat, bedoelend dat hulle reken dat die bedroefde verkeerd hoor omdat hulle in ‘n uiters emosionele toestand verkeer. Omdat daar dikwels woede betrokke is, word baie goedbedoelde woorde gevolglik maklik verkeerd verstaan. Of word dit? Verlaag jou IK met 50% wanneer hartseer oor jou pad kom? Dis dalk moeilik om te glo, maar jy sal nie weet hoe skerp al vyf liggaamlike sintuie sowel as die vier spirituele sintuie tesame in ‘n stresvolle tyd kan funksioneer nie – immers mag jy nie ten volle verstaan alvorens jy nie daardie té klein skoentjies aangetrek het nie.
(‘n Vinnige steekproef onder diegene wat traumatiese verlies beleef het, het gevind dat 95% voel hul word deur professionele persone behandel asof hulle ‘stupid’ is.) Dit mag dalk ‘n onverwagse openbaring vir boekgeleerdes wees.
Maar miskien hoor en verstaan hierdie persoon vir die eerste keer in sy lewe presies wat gesê word. Dit is asof elke liewe woord met ‘n highlighter onderstreep word. “Jy voel nie rêrig so nie…”, “Darem kan/het jy….”, “Ek weet hoe jy voel”, “Dit was God se wil.” “God het hom/haar nodig gehad…”. Dit klink so mooi totdat dit joú persoon is wie God ewe skielik nodig kry! Alles net mooi woordjies wat geen plek in enigeen se woordeskat behoort te hê nie.
Dit laat my dink dat rou-smart slegs ‘n teorie is wat groot geleerdes met logika probeer uitpluis en met inspanning in ‘n reguit lyn probeer rangskik. Daar is egter geen logika in die rouproses nie. Dit is wat dit is, en net soos iemand wat van ‘n rolstoel na ‘n operasie gebruik maak nie ‘n fisiese gestremde geword het nie, het die bedroefde ook nie skielik in ‘n geestelike gestremde verander nie. Die misverstand kom in wanneer die ondersteuner dink dat bedroefdes nie sal onthou wat gesê word nie.
Selfs die afwesigheid van ondersteuning skep verwarring en daardie stiltes word baie beslis opgemerk. En dit is OORVERDOWEND! Ongelukkig laat dit die bedroefde in ‘n toestand van skaamte omdat hy mag voel dat sy emosies (of hele bestaan) geïgnoreer word. Daar moet mos iets met jou verkeerd wees indien die meerderheid vriende jou ewe skielik vermy?
Daar is dus ‘n verskil tussen kennis (simpatie) en wysheid (empatie). Kennis kom uit ‘n boek, wysheid kom uit die hart.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.