Onverwagte besoeker
Martie stap in die donker kantoor in. Sy sien nie die ongenooide besoeker wat op haar stoel homself tuisgemaak het nie. Sonder om te kyk gaan sit sy maar spring met ‘n gil op. “Wie de hel!” gil sy toe sy omdraai. Haar gil stol in haar keel toe sy die lang man voor haar sien. Met ‘n onskuldige glimlag op sy mooi bakkies skuif hy die stoel op sy wiele agteruit en klik die lig aan.
“Kyk jy nie voordat jy net sit nie?” vra hy grof.
Martie sluk benoud. “Wie is jy en wat soek jy in my kantoor?” Sy kyk benoud rond.
Hy vou sy arms voor sy bors toe hy regop beur. Hy toring bo haar uit. “Ek het my erfporsie kom haal.”
Haar mond val oop. “Jou wat?”
Die man stap tot voor haar. Vee die krul wat uit haar bolla gekom het agter haar oor in. “Jy het reg gehoor.”
Martie ruk haarself reg. “Ek vra weer, wie is jy?”
Met ‘n grinnik gee hy ‘n tree terug. “Ek is jou halfbroer.”
“Wat! Ek het nie ‘n halfbroer nie.”
“Lyk my ma het jou nie die volle waarheid vertel nie. Lank voor jou ma hier weg gejaag is het sy en my pa ‘n verhouding gehad. Ek is die produk daarvan.”
Sy frons toe die waarheid insink.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Baie mooi! Lekker voorgesmaak vir 'n interessante verhaal. Kom nou, ons wag in spanning. Hoe loop dit verder? GvT