Pandora jou indringer. (BRONS)
Pandora Jou Indringer.
Uiteindelik! Ek het ontdek wat in Pandora se kis weggesteek is! Wie sou kon raai? ‘n Klein apparaat wat in die palm van jou hand pas. Selfoon is sy naam. Hierdie klein kalant het deftige, opgevoede mense tot onbeskofte bewonderaars van tegnologie vervorm. Die afwesigheid van selfoon etiket is lankal vir my ‘n steen des anstoots. Die onwelkome indringer wat oral mense en hulle lewens beheer. Of probeer oorheers indien hulle dit toelaat. Dit het my genoop om die eienskappe van die tegnologiese eeu waarin ons lewe te bedink. ‘n Hele paar van die ontdekkings het my verbaas. Nie eers die Kerk is gevrywaar teen die onwelkome indringer nie. Selfoonslawe los nie eers Sondae die monster by die huis nie. Selfone is oral ingewurm.
‘n Paar dae gelede sit ek in ‘n koffiewinkel en bekyk die mense. Twee deftige dames, vriendinne neem ek aan. Groet mekaar hartlik en gaan sit by ‘n klein tafeltjie. Gesels opgewonde. Skielik buk die een af, tel haar handsak op en bring ‘n boek te voorskyn. Sy maak haarself gemaklik en begin lees. Verloor heeltemal kontak met haar vriendin. Totaal verdiep in die boek. Haar vriendin gou vergete. Die ander dame probeer haar bes om gemaklik te lyk en haar misnoeë te verbloem. Hoe ongeskik! Hoor ek die koorgesang? Werklik? Hoekom is dit ongeskik maar aanvaarbaar wanneer iemand dieselfde met ‘n selfoon doen? Is dit die medium of gedrag wat bepaal wat ongeskik is en wat nie? Persoonlik dink ek nie daar is enige verskil nie. Indien jy dit met my doen mors jy my tyd. Ek hou van lees en skryf maar het genoeg respek vir ander persone om dit nie in hulle geselskap te doen nie. Wanneer my tyd vermors word raak ek ontstoke omdat ek iets anders kon doen maar ek het gekies om my tyd aan jou af te staan. Geselskappe word beheer deur na fotos of onbenullighede op selfone te kyk. Dit gaan my nie aan nie. Ek wil hoor hoe dit met jou gaan. Waarmee is jy besig? Waaroor droom jy? Wat maak jou kwaad? Wat maak jou bly? Hoe lyk jou siel? Waarmee sukkel jy? Het jy dalk my hulp nodig?
Ek besluit een oggend om beskuit te bak. Onverwags lui my selfoon. Nommer onbekend. Die vorige week was ek dokter toe en wag vir die uitslae. Miskien is dit die ontvangsdame wat my skakel. Haastig was ek die deeg van my hande af en beantwoord die oproep. “Good day is this Mrs. Booysen?” “Yes” antwoord ek half vererg. “Please may I have your ID number and date of birth…?” (Waar is POPIA nou?) Jy bel my maar ek moet al my inligting vir jou deurgee? Dit is nie die dokter nie. Dit is ‘n verkoopsagent. My kop ontplof van woede! Ek druk die rooi knoppie met mening en gooi die foon op die kas. My foon, my geld wat betaal vir my foon. Indien ek iets benodig sal ek self navrae doen en besluit waar ek my geld wil spandeer. Tydig en ontydig word daar inbreuk gemaak op my privaatheid en tyd en geen haan kraai daaroor nie. POPIA hoor jy dat ek jou roep? Waar is jy?
Die beskawing waarin ons lewe het nuwe kinderoppassers gekry. Stories en boeke lees het meestal uitgesterf. Wat ‘n tragedie! Die fantasiewêreld van kindwees is onderskep deur selfone. Almal, kleuters ingesluit, krap en kyk gedurig op die eenoog monster. Ouers laat toe dat vreemdelinge hulle kinders in die gemak van hulle eie huise onderrig. Kinders kan nog nie eers lees nie maar word ‘n selfoon in die hand gestop wanneer hulle moeilik raak. Dissipline word nie toegepas nie. Dit is makliker om net die selfoon oor te gee. Selfoon word ma, pa, opvoeder en raadgewer. In baie gevalle sommer trooster ook. Alles wat ‘n kind nodig het in een apparaat. Hegte bande wat ouers en kinders met uitgebreide familie gehad het bestaan nie meer nie. Verhoudings tussen huisgesinne het ook in die slag gebly. Daar is mos baie ander sosiale media vriende met wie hulle kan kommunikeer.
Kontak met realiteit en mense – wat noodsaaklik is vir gesonde ontwikkeling – word deur die eenoog monster en vreemdelinge vervang. Dit is onmoontlik om dag en nag 100% alles te keur waarna jou kinders kyk. Al wat hulle verlies aan onskuld verg is die dag of twee wat jy nalaat om dit te doen. Selfoon kriminele is meedoënloos. Kinders – en in sommige gevalle selfs jong volwassenes – word vroeg al gestroop van enige form van realiteit. Hulle het ‘n verwronge beeld van hoe die wêreld in werklikheid funksioneer. Baie kinders en volwassenes slaap nie genoeg nie omdat hulle besig is met sosiale media en gaming tot laat in die aande. Die volgende vlak is binne bereik. Later is dit al ver verby middernag. Party sonder dat hulle ouers eers daarvan bewus is. Verslaafde selfoonslawe.
Selfverheerliking en selfvergoding vier hoogty. Solank ek gelukkig is het ek niks en niemand anders nodig nie. Saans wanneer ouers en kinders om die etenstafel moet sit en gesels is almal stil en besig met hulle eie selfone. Almal doen wat hulle wil. Party eet sommer in hulle kamers net sodat hulle nie gesteur word nie. Elkeen bepaal self met wie hulle interaksie wil hê of wie nie. Hulle leer dat mense en verhoudings vinnig vervangbaar is. Mensekennis ontbreek. Hulle is nie in staat om normale alledaagse gesigsuitdrukkings te analiseer nie. Is die ander persoon bly, kwaad of bedroef? Normale ontwikkeling worddramaties gestrem. Hulle word sosiale gestremdes. Konflikhanteringsvaardighede is afwesig. Hulle leer nie om met alle mense klaar te kom nie. Alle verhoudings is op hulle eie voorwaardes en voorkeure geskoei. Hulle is die middelpunt van die heelal. Alles wentel om hulle en hulle begeertes. Nukke ingesluit. Ek sien hulle dikwels in groepies. Geen oog kontak nie. Geen interaksie nie. Net besig met sosiale media. Nekke al krom gebuig van die aaneenlopende vooroor gestaar.
As kind was vakansies die hoogtepunt wanneer die motor gepak is en gesinne op reis vertrek. Ons het ons verkyk aan die dinge langs die pad. Oneindig baie so geleer. Nou kry kinders toestelle wat hulle visueel moet stimuleer en besig hou terwyl ouers na hulle bestemmings reis. Wat ‘n onreg! Die lewe haas buite die motorruit by jou kinders verby en hulle sien niks daarvan nie. Kyk films of speel speletjies terwyl die lewe en pragtige natuurtonele buite by hulle verbyvlieg. Hoe brandarm aan die einde van die rit!
Dit sal baie interessant wees om die statistieke rondom motor ongelukke weens selfoon misbruik onder bestuurders te vergelyk met ander motor ongelukke. Eksperimente is wel gedoen met mense wat selfone gebruik het terwyl hulle ‘n hindernisbaan moes deurloop. Nie een kon die taak perfek voltooi sonder om te struikel of val nie. Ek het al noue ontkomings gehad omdat ek na my selfoon op die sitplek langs my gekyk het en nie die pad voor my nie. ‘n Mens het geen idee hoe vinnig ‘n meter verbygaan terwyl jy bestuur nie. Hoekom dink mense hulle kan ‘n motor bestuur en terselfdertyd op die selfoon besig wees? ‘n Rukkie gelede sien ek hoe ‘n bestuurder van ‘n massiewe trok wat goedere vervoer by ‘n ander straat indraai. Net een hand op die stuurwiel. Ander hand selfoon teen die oor. Al het jy ‘n vrystaande toestel waarin jou foon gekoppel is, bly dit gevaarlik omdat jou brein besig is met ander take. Jou fokus is nie totaal ingestel op die pad en tientalle ander motoriste om jou nie. Hoeveel keer al het jy met iemand gepraat wat met die selfoon besig is? Daarna het hulle geen idee wat jy gesê het nie.
Tyd verkwister van formaat. Honderde ure word aan speletjies afgestaan. Volwassenes het ook al die onbeskofte gewoonte aangeleer. In geselskap sit hulle en speletjies speel op die selfoon. Daar is geen voordeel of nuttigheid daarin nie. Tyd mors, dit is al. Wat kan na die tyd verstreke is daarvoor gewys word? NIKS! Bygesê, dit hang af waarna ‘n mens kyk. Daar is baie intessante dinge wat jy kan sien en leer ook.
Loop jy in die straat sien jy die selfoon zombies. Sagte teikens vir geharde misdadigers en kriminele oppertuniste. Ore toegestop met mikrofone. Jou ore is deel van jou inherente beskerming. Jy kan hoor wanneer iets nie reg klink nie en daarvolgens reageer. Hoe gemaak met ore wat nie kan hoor wanneer ‘n motor beheer verloor en op jou afpyl nie? Voetstappe van iemand wat jou dalk agtervolg? Iemand hoor roep wat jou dalk wil waarsku wanneer jy in gevaar verkeer?
Mense word 24 uur per dag gekondisioneer. (FOMO) Ons is so bang ons mis iets. Enige pieng van die selfoonbaas moet dadelik beantwoord word. Selfoonslawe. Snaaks hoe baie mense ingestel is daarop dat niks hulle beheer nie maar toelaat dat ‘n selfoon hulle beheer.
Met wie praat jy? Ken jy die persoon? Met kunsmatige intelligensie het ons ‘n uiters gevaarlike tydperk van fiktiewe realiteite bereik. Riemtelegramme word die wêreld vol gestuur. Misleidende, gevaarlike tye. Alles, selfs jou stem kan deur KI (kunsmatige intelligensie) nagemaak word. Let wel nagemaak. Jy kan verantwoordelik gehou word vir dinge wat jy nie gesê of gedoen het nie. Dit is skrikwekkend. Kinders het al selfmoord gepleeg hieroor. Gegewe dat die brein slegs volwassenheid bereik op 25 jarige ouderdom is dit nog belangriker om kinders, tieners en adolessente te beskerm teen sosiale media.
Het jy al in ‘n winkel of dienspraktyk/kantoor/supermark gestaan en gewag om gehelp te word want die persoon wat veronderstel is om jou te help is besig met ‘n privaat oproep op sy selfoon? Hulle is besig jy moet wag. Daar word baie gepraat en gedoen oor drank en dwelm misbruik tydens werksure. Maar wat van selfoon misbruik? Baie meer ure word weens ‘n privaat kletsery en oproepe verloor as met drank en siektes tesame dink ek. Hoeveel geld verloor die eienaars van hierdie besighede deur personeellede wat selfone misbruik? Ek dink besighede moet selfone tydens werksure verban.
So ‘n rukkie gelede moes ek ‘n nuwe bank rekening gaan open. Groot was my verbasing toe die dame vra of ek my selfoon by my het. Ontstem antwoord ek ontkennend. Ek sê vir haar dat ek nie my selfoon oral saamneem nie. “Sorry ma’am. Then I cannot assist you.” Ek kon niks regkry nie al het ek my ID dokument daar gehad. Ek moes my foon gaan haal sodat ek die eenmalige sekuriteitswagwoord vir haar kan gee om my rekening te open.
Baie kontrakte word nou aangestuur deur en na selfone of ander elektroniese toestelle. Die maatskappy of onderneming kan enige tyd die terme verander sonder dat jy eers daarvan bewus is. In geval van ‘n geding of twis word daar vinnig na die elektroniese aanlyn weergawe verwys. Alle verantwoordelikheid word nou aan verbruikers en gebruikers oorgeplaas. Jy moet gedurig seker maak dat jy op hoogte bly van die kontrak voorwaardes en terme. Dit beteken dat jy dit voortdurend moet ondersoek en vergelyk met die kontrak wat jy eerste geteken het. Wie het tyd om dit te doen?
Ek betaal vir die foon maar die verskaffer/vervaardiger besluit vooraf wat ek daarmee mag doen. Indien ek weier om Google toegang tot al my fotos te gee kan ek nie fotos aanstuur na mense toe vir wie ek wil nie. In ander woorde, ek word geforseer om toe te gee aan hulle versoeke al wil ek nie. Sekere toepassings werk nie indien ek nie toegang tot al my besonderhede op my selfoon toelaat nie.
Veral die ouer mense is teikens van selfoonmisdade. Party het al duisende rande verloor oor die een of ander selfoon fopstorie wat duisende rande in winste belowe het. Toestel van verraad en misleiding. Jy het kamma ‘n sekuriteitskode om die selfoon te ontsluit. Leer kinders al van vroeg af om agterbaks te wees. Wat steek jy weg? Baie keer is selfone die werktuig van allerhande onheilighede. Mans en vrouens wat wil rondloop. Hoe weet ek waar jy is as jy van die selfoon af skakel? Omdat jy iemand meerendeels in die hande kan kry verleen dit soms ‘n valse gevoel van vertroue. Ek weet mos waar jy is…. Vir kriminele is dit die apparaat wat hulle misdrywe vlerke gegee het. Hulle kan nou met mekaar kommunikeer waar hulle wegkruip of areas bespied en inligting deurgee.
Hoekom het die selfoon nie net ‘n spreekbuis nie? Hoekom het die selfoon ‘n mikrofoon ook? Wie luister almal na jou gesprekke? Waarom luister hulle? Globaal word daar oral gepreek teen besoedeling. Reuse data sentrums word nou oral gebou om al die inligting te stoor. Kenners waarsku daarteen maar daar word nie ag geslaan op hulle waarskuwings nie. Die impak van die reuse geboue op die omgewings waar hulle gebou word, is ook onbekend. Derduisende liters water moet beskikbaar wees vir die verkoeling van hierdie sentrums. En elektrisiteit.
Ten laaste die vermydingstaktiek. Wanneer jy kuier en nie meer aan die geselskap wil deelneem nie word jou selfoon uitgehaal. Dit is mos toelaatbaar. Jy staan op en loop uit. Indien ongemaklike vrae gevra word wat jy nie wil beantwoord nie word jou selfoon blits vinnig as verskoning gebruik om die vertrek te verlaat. Jy omseil en vermy egter die vraag.
Word ons stilweg gekondisioneer? Gekondisioneer vir ‘n toekoms wat dekades gelede soos fiksie gelyk het. Fiksie wat besig is om ‘n werklikheid te word.
Vir my, persoonlik, oorheers die negatiewe die positiewe eienskappe van selfone. Niemand hoef 24 uur per dag beskikbaar te wees nie. My selfoon is vir my gerief alleenlik. Wanneer ek met jou kuier sit ek my selfoon in my handsak. In hierdie tyd waarin mense so ingestel is op eiewaarde en fyngevoelig is oor allerhande dinge is dit verbasend hoe hulle die selfoonslawe tegemoetkom.
My boodskap vir jou is: jy is belangrik; ek respekteer jou; ek waardeer die tyd wat jy aan my afstaan daarom sal ek my foon bêre tot later; ek is hier saam met jou. Jy het my volle aandag. Ek respekteer jou tyd. Jy geniet voorkeur bo my selfoon en mense wat nie nou in my onmiddellike omgewing is nie tensy dit ‘n noodgeval is. Ek is ten volle teenwoordig. Kom ons kuier. (2 358)
Vera Booysen ©
30/09/2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.