Die Durfort Erflating (Brons)
Die Durfort Erflating
Woordtelling: 2902
Hy gryp haar hand.
“Los my” gil Malika. Sy loer benoud verby hom en gewaar nog ‘n figuur net buite haar wardo se ingang staan.
“Ek is nie klaar nie.” sis hy.
Malika ruk haar hand uit sy greep en tree terug. Die kers se flickering speel onheilspellend met die donker skadus op sy gesig. Sy kan wel uitmaak dat hy ‘n lang sny oor sy wang het.
Hy tree dreigend nader. “Jy kan nêrens heen vlug nie.”
Agter hom gewaar sy enkele wardos wie se vensters een na die ander dof verlig raak. “Is jy seker daarvan? Kyk om jou rond.” Sy loer na die boekrak. Gryp ‘n hele paar boeke en slinger dit na sy kant toe, voor sy tussen deur die swaar, purper fluweel gordyne verdwyn. Sy slaan die deur, wat agter die swart fluweel gordyne is, toe en sluit dit. Sy hoor hoe hy spook met die deur se handvatsel. Sy beweeg vinnig na haar hangkas, maak dit oop en druk haar hand onder haar klere in, voor sy dit effens oplig om ‘n klein donker pers syagtige sakkie en klein leergebinde boekie te ontbloot.
Harde stemme verreis buite. Sy kan Ramon se stem uitmaak in die kakofonie van stemme.
Sy raap albei die artikels vinnig op, plaas die pers sakkie haastig aan die binnekant van haar romp waar sy dit van haar belt laat hang. Die klein leerboekie druk sy in by haar belt voor sy afbuk en die mat, wat binne die kas op die vloer lê, wegskuif. Haar vingers vind die opening in die houtvloer, sy trek en die deurtjie lig op. Vir ‘n stonde loer sy terug na haar kamer se deur voor sy versigtig afsak deur die opening van die valluik. Saggies trek sy die luik agter haar toe. Haar oë gly oor die woud voor haar. Dis piknag donker en sy kan geen ander beweging in die woud uitmaak nie, slegs die geluid van haastige voete, vuiste wat klap en ‘n oor en weer geskreeuery aan die anderkant van haar wardo. Malika glimlag innerlik. Daai skurke gaan beslis vanaand hulle moses teëkom met Ramon en die anders mans.
“Hier is sy, Brent! Kom gou, ek het haar.”
Malika voel ‘n hand om haar pols klem. Hy is so naby dat sy sy naskeermiddel kan ruik. Sy ruk met mening, maar sy houvas verstyf pynlik. Skielik verskyn ‘n figuur agter haar aanvaller. Sy voel hoe haar aanvaller van haar weggeruk word en sy struikel-val, draai haar gesig in die rigting van die naderende stemme en kyk weer voor haar. Net so honderd-en vyftig meter. Dis al wat tussen haar en Flicka staan. Adrenalien gee vlerke aan haar voete. Sy bereik die perdekamp, fluit en wag ‘n paar tellings voor Flicka aangedraf kom. Malika loer terug oor haar skouer, sy hoor hoe soek hulle hoor die stemme na die kamp, voor sy die hek oopskuif om haar perd uit te lei en die hek weer toe te maak. “Kom Nooi, vanaand moet ons ry soos die wind.”
* * *
Malika bestyg die paar trappe na die klein stoepie. Dit is ysig koud en reën nou liggies. Die stoepie, niks groter as ‘n dubbelbed se grote, bied darem ‘n klien bietjie beskutting teen die koue en reën. Sy hoop Flicka kom veilig terug by die kamp. Malika kan net net in die flou lig die deurklokkie uitmaak. Sy moet dit ‘n paar maal druk voor sy enige beweging hoor in die huis, gevolg met ‘n ongeduldige ‘Ja, ek kom.’
Die deur gaan stadig oop. Voor haar staan Nico, deurmekaar kuif, in sy slaapklere en gaap haar verdwaas aan.
“Malika! Wat maak jy die tyd van die nag hierso. Kom in my mens.”
“Naand Nico! Jammer ek pla jou die tyd van die aand, maar ek het nie geweet waarna toe om te gaan vanaand nie.” Malika vee ‘n nat sliert hare uit haar gesig en haak dit agter haar oor. Dankbaar volg sy hom dieper die huis in tot in die kombuis.
“Sit.” Hy beduie dat sy moet plaas neem by die naaste kombuisstoel, hy draai om en skakel die ketel aan. “Terwyl die ketel kook, gaan ek gou vir jou ‘n droë handdoek haal en kyk of ek iewers iets droog kan vind wat jy kan aantrek.”
Sy gaan neem dankbaar plaas op die kombuisstoel. Na ‘n rukkie begin die ketel te sing. Nico kom ingestap met ‘n handdoek en ‘n paar flennie kledingstukke, wat lyk of dit nagklere kan wees, gedrapeer oor sy arm.
“Kyk of hierdie vir jou sal pas.”
Malika neem die aangebode kledingstukke en handdoek. Dis duidelik iemand se nagklere en nie nuut nie.
“Ek sal solank vir jou iets warms te drinke maak en bring, dan sal ek jou klere gou deur my tuimeldroër sit om te droog.” Nico sien sy huiwer. “Toe, toe, laat jy droog kom.”
* * *
Malika skrik wakker. Sy raak bewus van gedempte stemme. Die stemme raak al ernstiger. Versigtig klim sy uit die bed en gaan staan by die kamerdeur met haar oor gedruk teen die deur. Sy kan ‘n geskuifel uitmaak. Skielik hoor sy ‘n slag. Instinktief hou sy haar asem op, haar hand soek tastend na die sleutel van die deur en draai dit stadig in die slot. Iemand swets en dan doodse stilte. Vir ‘n paar tellings staan sy nog met haar oor teen die deur, haar lippe effens oop om haar gejaagde asem te probeer kalmeer, maar sy kan geen verdere stemme of geluide uitmaak nie. Sy gaan sit op die bed se rand, haar hande vou krampagtig om die kombers. Wat as …? “Nee, moenie jou nou simpel hou nie, daar is geen manier dat hulle kan weet dat ek hier is nie,” klik sy vererg haar tong. Sy sit nog lank en luister na die reën druppels wat val op die dak.
* * *
Malika skrik wakker. In die verte hoor sy loeiende sirens. Sy draai haar kop na die kant toe en lê en staar na die venster. Die vroegoggend son kruip net-net tussen die spleet van die gordyne deur. Met ‘n steun kom sy orent. Haar lyf voel stram en styf. Moegheid het haar oorval en onbewys in hierdie ongemaklike gedrapeerde posisie oor die bed laat slaap. Sy vryf haar seer nek. ‘n Sagte klop aan die deur ruk haar terug na die werklikheid.
“Malika! Is jy al wakker? Kan ek in kom?” vra Nico in ‘n sagte stem. “Ek het vir jou lekker koffie gemaak en ek het jou droë klere.”
“Ja, jy kan inkom.” Malika skuif reg op die bed. Die deur gaan oop en Nico kom ingestap. “Wat het met jou gesig gebeur?” vra sy verbaas. Sy staan stram op van die bed.
“Ag dit is niks nie. Eintlik my eie lompgeit” Nico vryf ingedagte oor die kneusmerk, voor hy haastig loop en die koppie koffie op die bedkassie plaas en haar droë klere oor die stole se ruglening drapeer.
“Dit het eintlik vir my meer na ‘n ‘n bakleiery en ‘n rond gestampery geklimp.” Verbeel sy haar of het daar nou net ‘n behoedsaamheid oor sy gesig geflits.
“Lika, jy het jou net verbeel. Daai was die bure. Dit gebeur gereeld dat hulle baklei na hulle van die lawaaiwater ingekry het. Ek het doodeenvoudig net gisteraand nie mooi gekyk waar ek loop nie, toe hak my voet aan die kombuistafel se poot en ek slaa’t neer soos ‘n os. Ongelukkig het ek in die proses die hoek van die stoel gevang met my gesig.” Nico vryf weer sy geswelde, gekneusde gesig.
“Nee, daardie stemme …”
“Maar dis nou genoeg van dit.” knip hy Malika se relaas kort. “Kom vertel my wat het laasnag gebeur dat jy jou in sulke ongure weer voor my deur kom bevind het.”
Malika leun oor en tel die beker stomende koffie op. Sy neem ‘n teug voor sy begin vertel van die vreemde mans wat in die nag in hulle kamp gekom het en by haar Wardo probeer inbreek het.
“En jy sê jy weet nie wat hulle daar kom doen het nie,” pols Nico haar verder.
“Nee, hulle was seker maar net daar vir kwadebedoelens. Gelukkig het Ramon, en die ander mans, my tot hulp gesnel en my sodoende kans gegee om op Flicka te ontsnap. Ek hoop net my perd het haar weg teruggevind tot by ons kamp.”
“En jou halsnoer?”
Malika verstyf met die beker koffie in haar hande, draai na Nico en kyk hom stip aan. “Die halsnoer? Die halsnoer is veilig in die kamp” Verbeel sy haar of lyk hy verlig. “Soos ek gesê het vermoed ek dat hulle net vir kwadebedoelens daar was.” Haar stem klink nou minder oortuig in haar eie ore. Sy blaas die warm beker koffie voor sy stadig weer ‘n slukkie neem. “Kan ek dalk vir jou ‘n guns vra, eintlik drie gunste.”
“Enigiets” Sy stem klink oorgretig.
“Ek is gisteraand daar weg sonder my foon, kan ek jou landlyn gebruik om ‘n oproep te maak en dan gaan ek ook vanoggend ‘n rygeleentheid benodig stad toe en ook weer terug na ons kampplek toe. Sal jy kans sien om vandag my chauffeur te wees? Dis slegs as jy nie vandag vas is met jou werk nie?” voeg sy huiwerig by.
Nico sit so paar tellings voor hy haar antwoord. “Ek is ongelukkig vanoggend vas met afsprake, maar ek kan jou vanmiddag in vat stad toe. My huisfoon is tot jou beskikking. Kom ek wys jou waar dit is.”
“Gee my net so paar tellings om my klere aan te trek, dan kom ek.” Malika wag totdat die deur agter hom toeklik. Versigtig druk sy haar hand soekend onder die matras in en beweeg dit tot sy die sagte sysakkie raaktas, trek dit versigtig uit en druk haar hand weer onder die matras in tot sy die klein boekie raaktas. Sy vou die twee items toe in haar hande teen haar bors. “Maman, aujourd’hui cést le jour. Mamma vandag is die dag.” Soekend verken sy die klein kamertjie, maar besluit daarteen. Sy sal liewers ‘n ander wegsteekplek moet vind. Die kamer is te ooglopend. Nadat sy verklee het gaan soek sy Nico in die huis. By die eetkamer vang haar oog die outydse buffetkas. Sy loer rond om seker te maak Nico is nie naby nie, stap tot by die kas, trek die onderste laai oop en plaas die halsnoer en boekie versigtig onder die damask lappe, voor sy die laai versigtig toestoot.
Sy het net opgestaan, toe sy voetstappe hoor.
“Ah, hier is jy! Ek soek jou orals oor. Ontbyt is ook klaar gemaak. Daarna sal ek jou wys waar die landlyn is.” Nico beduie dat sy hom moet volg.
* * *
Tevrede plaas sy die gehoorbuis terug op sy mikkie. Die huis is stil. Nico het ‘n uur terug werk toe gery. Sy sal moet wikkel. Na vanoggend se eerste oproep, moes sy vinnig die planne verander. Sy sweer daar was nog iemand op die telefoonlyn saam met haar, maar sy gewaar net die een telefoon in die huis. So dalk speel haar ore truuks met haar. Sy stap na die eetkamer, buk en trek die onderste laai van die buffetkas oop. Verlig voel sy die kosbare items nog onder die damask linne en stoot die laai toe.
Sy stap kombuis toe om solank die koppies gereed te kry. ‘n Motorhek wat oopgaan en weer toestoot trek haar aandag. Dis snaaks, daar is nie ‘n manier dat hy van Worcester na La Forêt so vinnig kan ry nie. Vir ‘n paar tellings staan sy stil. Dan hoor sy die voordeur oopgaan en weer toeslaan.
“Lika!” Nico se stem klink benoud. “Lika! Waar is jy?”
Sy hoor om in en uit vertrekke stap en haar soek. “In die kombuis.” Angstig hou sy die deur dop.
Nico kom ingestap. “Waar is dit?” Hy lyk bietjie bleek.
“Hoe nou Nico? Waar is wat?” Sy kan nouliks die skrik uit haar stem hou.
“Jy weet wat. Die halsnoer. Waar is die halsnoer?” Nico staan drygend nader, plaas sy hande op haar skouers en skud haar liggies. “Kom Lika, waar is die halsnoer?”
“Eina Nico! Jy maak my seer.” Sy ruk los uit sy hande en gaan staan aan die anderkant van die tafel. “Wat is aan die gang en moenie vir my lieg nie.”
Met ‘n sug gaan sit hy by die kombuistafel, sy gesig verberg tussen sy hande. Na ‘n paar tellings lig hy sy gesig, sy oë glinster van ongestorte trane. “Vergewe my Lika,” smeek hy. “Ek het met die verkeerde vriende deurmekaar geraak en begin saam dobbel. Toe ek sien toe is ek knie diep in die skuld en minus my vriende. Ek is in soveel moeilikheid nou en toe ontmoet ek vir Brent en sy manne wat my ‘n uitweg aanbied. Hulle sal al my skuld betaal, mits ek die halsnoer wat in die Gitans sigeurner groep se besit is vind en oorhandig. Die dag toe ek dit om jou nek by die mark sien, kon ek nie my geluk glo nie. Toe ek Brent-hulle inlig dat ek dit gewaar het wou hulle nie wag nie en hulle het op hul eie besluit om laasnag dit by jou seker te gaan haal.
Die lui van die deurklokkie laat Nico nog verder verbleek. Hy begin opstaan. Malika beduie dat hy moet sit. Sy stap na die voordeur, loer deur die veiligheidsoog van die deur. Verlig sluit sy dit oop.
“Hallo! Jy is seker Malika?”
Die man hier voor haar is lank en skraal, sy bruin hare met effense grys langs die slape is netjies gesny en hy praat met ‘n ligte franse aksent. Hy haal ‘n klein groen boekie uit sy baadjie se sak en oorhandig dit aan haar. Malika neem dit by hom en maak dit oop. Sy sien dit is sy identitetisboekie. Die foto binne is duidelik dieselfde man wat hier voor haar staan. “Meneer Truffaut,” sy loer verby hom na die klein blou Ford agter hom met nog ‘n man wat agter die stuurwiel sit.
Gabin Truffaut loer terug na die voertuig agter hom. “Dit is my chauffeur. Toe jy bel en die situasie aan my verduidelik het ek besluit ek om eerder my dogter se klein motor te gebruik om hiernatoe te kom. Dit sal minder uitstaan as my gewone Benz.”
Malika stoot die voordeur groter oop en beduie dat hy moet inkom en deurstap die gang af. Sy volg kort op sy hakke. By die kombuis gaan staan die man verbaas.
“My vriend Nico. Hy weet van die halsnoer.”Malika verdwyn gou eetkamer toe, trek die onderstelaai oop en haal albei items uit, voor sy terugstap kombuis toe. By die kombuistafel plaas sy albei items op die tafel. “Hierdie Meneer Truffaut is aan my gegee deur my ma, wie se ma, die, dit aan haar gegee het voor die skip met haar ondergegaan het. My ma was een van tien oorlewendes daardie dag met die sinking van die Neptune aan die Kaapse kus. Sy was toe net elf jaar oud gewees. My ma was Emmeline Durfort, die dogter van die Markiesin Valéry Durfort. Hierdie halsnoer …” Sy tel die pers sysakkie op en haal ‘n kamee halsnoer uit. Dit is versier met die drie muses, Agilia, Euprhosyne en Thalia en gemonteer op ‘n versierde antieke silwergeplateerde koper druiweprieël toneel.
Versigtig maak sy die knip oop om die inhoud van die halsnoer te ontbloot. Binne in is twee haarlokke met ‘n dun stukkie garingdrade vasgebind “Hierdie halssnoer bevat haarlokke van beide my ma en my ouma en hierdie klein leerboekie is die dagboek van my ouma, die Markiesin Durfort, waarin sy vertel hoekom sy Kaap toe gevlug het om ‘n gedwonge liefdelose huwelik te ontvlug, na haar eerste man se ontydige dood.”
Nico sit woordeloos en gaap haar aan.
“Ja Nico. Hierdie is nie ‘n duur halsnoer nie, maar vir my is dit ontelbaar werd want dit is my bewys van my eis op die Durfort title en eiendomme.
Truffaut wat ook stil na haar vertellinge geluister het, leun nou vorentoe. “Na ons gesprek van vanoggend het ek ook bietjie navraag gedoen en met ‘n ene Meneer Beaufoy gepraat. Volgens hom was jou kleinneef, Arnaud Durfort, moontlik bewus van jou bestaan en om te verhoed dat jy dalk moontlik aanspraak op die titel en eiendomme maak en ook moontlik omdat hy self wil probeer aanspraak maak op die titel en eiendomme, het hy Brent en sy trawante gehuur om die halsnoer op te spoor en dalk moontlik jou uit die weg te kry.” Truffaut leun terug in sy stoel. “Maar ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat hulle gisteraand vir ‘n tweede keer terug is na julle kampplek en daar het hulle hul behoorlik vasgeloop teen ‘n vuis of twee. Hulle het laasnag die res van die aand agter ystertralies gespandeer. So ek glo nie hulle sal jou vandag weer kom pla nie.”
Die ketel begin fluit. Malika staan op. “Koffie, menere? Ek dink ons het dit nou nodig. Meneer Truffaut …”
“Gabin, asseblief. Jy laat my horingoud klink.” Gabin neem die aangebode koppie koffie by haar.
“Gabin … sal jy my asseblief in kontak sit met Meneer Beaufoy, sodat ek kan hoor wat my nou verder te doen staan.” Malika plaas die potjie suiker en melk voor die mans, voor sy vir Nico sy koppie koffie aangee.
© Taai Bonthuys
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2024 – OOP projek