
Die gastehuis.
Die gastehuis.
Ek ruk wakker met ʼn skok! My oë is groot oopgesper, vervaard vlieg ek regop op my bed. ʼn Koue klam atmosfeer hang in die donker kamer.
Daar is dit weer!
Ouma se bekende skuifelstap met ʼn sagte “klik” geluid van haar houtbeen wat oor die plankvloer sleep. Die “sllll-tik, sllll-tik, sllll-tik”-geskuifel raak eensklaps doodstil voor my deur.
NEE! Dit is nie moontlik nie.
Ek dwing my oë om te fokus, my visie vaag en onduidelik. Daar is dit weer, die deur gaan stadig oop met ʼn klinkende eggo wat deur die vertrek weergalm. Die lug voel swaar en ʼn eienaardige reuk van verrotting slaan amper my asem weg.
Ek val terug teen my kussing, my hart klop soos galoppende perde. Die half bekende figuur van ouma Sophia kom tot by my bed waar ek bewegingloos lê. Die yskoue vingers druk luggies teen my arm.
“Ag, jy is wakker ounooi!”
Yskoue rillings hardloop teen my ruggraat af, die haartjies op my lyf staan regop.
Jenny lê op haar bed in hul gastehuis. Sy het besluit om van die stad af te vlug en na Die Oude Meul te kom. Die Oude Meul, hulle ou familieplaas het na die perfekte plek gelyk om vir paar dae te kom ontspan. Sy het die sleutels van die ou gastehuis by haar oupa se vriend op die buurplaas gaan haal.
Oom Gert het ewe goedig geterg.
“Ek hoop nie jy steur jou aan spookstories nie. Sedert daardie student jare gelede soos ʼn groot speld verdwyn het, het die gaste al hoe minder geword. Met jou oupa se afsterwe in daardie ongeluk die aand tydens die vreeslike storm, het jou ouma stil weggekwyn.”
Jenny onthou die oproep twee jaar gelede toe Oom Gert gebel het om haar in te lig dat ouma Sophia oorlede is. Sy onthou die grusame ongeluk waarin haar oupa oorlede is. Dit was tydens daardie insident waar ouma haar regterbeen verloor het. Toe die nooddienste op die toneel gekom het was dit reeds te laat om oupa te red.
Die gerugte het die rondte gedoen dat haar oupa daardie aand onder die invloed was en teen ʼn baie hoë spoed van die huis af weggejaag het. Dit was nadat die twintigjarige student soos ʼn groot speld verdwyn het tydens haar besoek aan die gastehuis.
Daar is destyds aanvaar dat sy selfmoord gepleeg het nadat haar verloofde met haar beste vriendin weggeloop het. René was beeldskoon, vriendelik en baie geliefd. Sy het by die gastehuis ingeboek om haar wonde te lek toe. Haar klein rooi Mini is later in die nabye woud gevind, maar van haar was daar geen teken nie.
Die polisieondersoek het amper ses maande geduur voordat die saak as onopgelos afgesluit is.
‘Twintigjarige student verdwyn soos groot spel in Knysna-bos’, het die koerantopskrifte gelui.
“Kom, ek wil jou gaan wys wat die oorsaak was van die student wat verdwyn het.”
Die donker figuur van ouma Sophia staan ongeduldig en wag dat ek haar moet volg. “Kom, ons het nie heelnag tyd nie!” My oog vang die rooi syfers wat die tyd aandui op my horlosie. Dit is presies 12:30 as ek bewerig en baie bang uit my bed klim. Ek volg die skuifelende geboë figuurtjie wat voor my stap in die lang donker gang.
“Nee! Dit kan nie wees nie, sy vat my na die kamer aan die onderpunt van die gang.” Oupa het ons die dood voor die oë voorspel as ons dit naby daardie verbode kamer sou waag.
Die deur gaan krakerig, stram oop voor ons en die walglikste reuk vang my onkant. My maag ruk en my instink laat my hande na my mond vlieg. Ek sluk paar keer om die walging in my te keer.
Die kamer lyk soos ʼn baie ou kelder. Mufreuk en stof hang in die bedompige vertrek. Ek voel-voel na die muur en druk die geroeste skakelaar af. ʼn Flouerige geel lig vul die vertrek. In die regterkantste hoek lê daar boeie, bebloede lappe en ʼn groot slagtersmes wat met ou droë bloed gevlek is. My gedagtes vlieg na die twintigjarige René wat destyds soos ʼn groot speld verdwyn het.
Die dowwe figuur van ouma Sophia staan eenkant wyl haar skouers rukkerig op en af beweeg. Sagte hartseer snikke ontsnap uit haar keel as sy droewig begin huil.
Jenny staan versteend na die toneel voor haar en kyk. Die vreesaanjaende gevoel van vroeër in haar kamer, vat opnuut in haar binneste pos. Donderweer rammel dreigend in die verte as die verblindende blitse die vertrek effens verlig deur die klein venstertjie.
Uit die kas in die hoek klink daar kermende geluide op.
“Wat de hel …” prewel sy benoud as ʼn jongmeisie figuur eensklaps voor haar verskyn.
NOOIT!
“O liewe hemel,” stamel sy. “René wat verdwyn het!”
Sy gooi die mes in haar hande eenkant toe en spring geskok agtertoe.
“Nee, moenie wegkyk nie Jenny, kyk wat het jou oupa aan my gedoen.”
Die meisie se gelaat is amper deurskynend bleekwit. Jenny tree terug in die rigting van die deur. Histeriese gille skeur die koue nagstilte.
Jenny onthou die aand van René se verdwyning nog goed. Sy was vir die skoolvakansie by hulle. Flitsende blou ligte in die donkerte en terugflitse van haar oupa wat baie senuweeagtig was tydens die polisiebesoek is skielike weer helder in haar geheue.
“Jou oupa het my lewe gesteel, nou is dit my beurt om jou lewe te steel!” Jenny se oë vergroot in afgryse as die bleek figuur met die dun bloedstraal wat teen haar nek afloop, na haar toe kom. Sy soek naarstiglik na die sleutel vir die slot, maar struikel en val. Sy spring op en hardloop na die deur. Sy hamer met haar gebalde vuiste teen die deur en kyk smekend na die figuur van ouma Sophia wat eenkant staan en ween.
Trane stroom teen Jenny se wange af en vorm ʼn dun straaltjie wat nou teen haar nek afrol. Sy ril van vrees en snak na asem. Met haar rug teen die deur, knyp sy haar oë styf toe en wag vir die mes om haar hart te tref.
Die skril geluid van die alarm ruk my terug na die hede. Dit is nog sterk skemer en my selfoon-alarm wys my dit is 05:30. Ek skud my kop en kyk verlig om my rond. Die vars geur van reën wat deur die venster kom, vul my kamer. Voëltjies tjirp vrolik in die tuin.
Dankie tog! Ek is veilig in my kamer en die hele petalje het hom afgespeel in ʼn aaklige nagmerrie. Ek kyk na die glimlaggende gesigte van oupa en ouma in die skildery teen die muur.
©Marlene Erasmus
2023
(1111 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek