Jongste aktiwiteit:

Goue Waterlelies

Juliette sit haar tas in die spaarkamer neer en gaan lê op die bed. Die rit hierheen het haar twee ure geneem. Sy voel gedaan en haar kop is baie seer. Dit is so rustig hier langs die dam.
Sy maak haar oë toe en luister na die voëlgeluide buite. Sy is verlore in haar eie gedagtes en dwaal oor die vlaktes van Johannesburg. Daar in die veld met die studente piekniek, waar sy vir Lee die eerste keer ontmoet het. Sy sien hom in haar gedagtes hoe skaam hy was om met haar kennis te maak. Met sy donker hare en blou oë, haar sielsgenoot.
Sy dink aan hul eerste aand uit buite op die restaurant se stoep. Hy het haar gesoen vir die eerste keer en sy vingers om haar blonde haarlokke gekrul, hy was so verlief op haar en sy op hom. Gou was hul droom aan skerwe toe hy weermag toe moes gaan.
Die eerste ses maande kon hulle nog sonder mekaar se nabye liefde maar toe moes hy grens toe. Haar hart was stukkend. Sy het hom so gemis en nie eers gegroet toe hy met die vliegtuig grens toe gevlieg het nie. Sy het soveel briewe geskryf dat al die mans saam met Lee in die kamp gesê het hy was een van die gelukkigste ouens.
Maar vandag is ook een van daardie dae wat sy hom so baie mis dat die lewe nie meer vir haar sin wil maak nie. Almal is bekommerd oor haar en sy het besluit om maar tog haar oom se aanbod te oorweeg en na sy vakansiehuis langs die dam te gaan en bietjie te rus. Eintlik om te vlug van haar gebreekte hart en almal wat haar net meer bedruk laat voel.
Hier by die dam maak alles weer sin met sy nostalgiese herinneringe. As kind het die hele familie lekker vis hier langs die dam gevang en saam gekuier. En Lee, hy was ook al hier by die dam. Sy sweer dat haar liefde vir hom sterker sal bly as die dood want waar sy was, daar was hy. Maar sy soek ook vryheid en hier langs die dam sal sy dit weer moet vind.
Sy hoor in haar gedagtes die kinders, sussies, boeties, niggies en nefies se skaterlag – almal onder een huisie se dak. Sy sien die turquoise damwater met die waterlelies wat nooit ophou blom nie. Goue juwele wat in die dam groei met geurige blomme en die vars lug wat haar weer asem gee. Sy dink ewe skielik dat geen water haar ooit van Lee sal skei nie. Sy is so lief vir hom. Sy het soveel pyn, maar haar lewe moet aangaan en daar is nog baie om te doen.
Na ‘n paar minute sit sy regop in die bed. Sy is moeg gedink en gaan loer by die venster uit. Sy trek die kantgordyne oop. Sy kyk na die huis langsaan en sy sien ‘n jong man op die stoep sit. Hy staar oor die dam, haar turquoise dam!
Sy kan hom mooi sien. Hy is nogal aantreklik. ‘n Gedagte skiet by haar op om kennis te gaan maak. Sy is lief vir mense en gesels lekker. Miskien het hy ‘n vrou en kinders wat haar afleiding kan gee met al die leë ure wat voorlê. Sy het wyn in die yskas gesien. Toe kry Juliette weer daardie gevoel. Dit is asof sy twee persoonlikhede ontwikkel. Een oomblik hartseer en die volgende vol vreugde.
Sy is eintlik ‘n mens wat die lewe so geniet maar Lee se dood wat so swaar op haar skouers rus, wil nie afspoel nie. Sy wil aangaan, maar die hartseer trek haar heeltyd af grond toe. Sy wil lewe maar die pad is vol dorings, besaai met dorings. Haar pa het altyd gesê dat alles in die lewe uiteindelik verby sal gaan. Maar sy weet darem nie daarvan nie, ‘n oop hart is ‘n gewonde hart.
“Ag Juliette, vergeet net vir so ‘n paar minute en kyk wat gebeur,” sê sy by haarself. Sy stap by die kamer uit, by die stoepdeur uit, af by die houttrappe en gaan staan voor die heining.
“Goeiedag!” roep sy vir die aantreklike man op sy stoep sonder om te dink hoe voorbarig sy klink. Sy waai met haar hand en glimlag. Die mooi man draai sy kop en kyk met ‘n frons vir die meisie wat so ewe skielik op hom neerdaal, soos ‘n sonskyngodin in die diepste tropiese, donker oerwoud. Hy staar net na haar. Na ‘n paar sekondes lig hy sy hand op en waai terug, ook met ‘n glimlag.
“Hello” groet hy en kan amper nie glo dat so ‘n mooi meisie hom kom groet nie.
Juliette let op dat hy glad nie opstaan nie en haar glimlag verdwyn maar sy stap tog stadig nader.
“Jammer om te pla, maar is jou vrou hier?” vra Juliette, sy kon aan niks anders dink om te vra nie. Sy dink sy gaan die vraag sekerlik later berou en wil haarself ‘n skop gee, wat ‘n dom vraag om so ‘n mooi man te vra.
Hy kyk baie verbaas na haar en sê niks. Hy staan ook nie op van sy stoel af nie. Juliette stap nog nader.
“Nee, ek het nie ‘n vrou nie,” sê hy met dieselfde verbaasde uitdrukking op sy gesig.
Juliette staan nou by die hout trappe. Sy druk haar hande agterin haar denimbroek se sakke sodat hy nie moet sien hoe sy bewe nie.
“Ek het gesien hier is mense en wou graag kom kennis maak,” sê sy en wag vir ‘n antwoord.
“O… ek… goeiedag, waar is my maniere?” sê hy en probeer opstaan.
Juliette merk dat die man sukkel om regop uit die stoel te staan en dat hy homself moet op druk.
“Sjoe, jammer ek het nie bedoel om te pla nie,” sê sy vinnig. Sy haal haar hande uit haar denimbroek se sakke om hom te help.
“Nee, nee moenie bekommerd wees nie, ek het ‘n kunsbeen.” Terselfdertyd hou hy sy hand uit om haar te groet. “My naam is Brendan, aangename kennis.” Sy figuur reis al hoe hoër voor haar en sy steek haar hand uit om terug te groet. Sy kyk nie af na sy kunsbeen nie, sy is bang sy staar.
Hulle hande ontmoet, haar hand smelt weg in sy groot hand en dis asof daar ‘n rilling deur hulle albei se hande beweeg. Hulle oë ontmoet vlugtig.
“My naam is Juliette,” sê sy en trek vinnig haar hand terug, dit voel skielik of sy hom al jare lank ken. Sy dink sy het hom al êrens gesien.
Hulle staan so rukkie stil en Juliette draai dam se kant toe, sy wil nie vir die metaal kunsbeen loer nie en sy wil hom ook nie toelaat om in haar oë rond te lees nie.
“Ek is hier op vakansie in my oom se huis.”
“O ja, is dit Oom JP?”
“Ja, maar ek bly net ‘n paar dae. Is jy ook hier op vakansie?” vra Juliette voorbarig.
“Nee, ek bly hier!” antwoord hy. Juliette skrik half vir sy kortaf antwoord.
“Nou goed dan, ek is bly om jou te ontmoet Brendan. Ek sal weer kom inloer.” Juliette probeer haarself vinnig uit die situasie kry want dit wil voorkom asof die mooi man nie van baie vrae hou nie.
“Nee, nee wag, ek wil nou juis vir my iets gaan kry het om te drink. Kan ek jou interesseer in ‘n glas koeldrank?” vra hy vinnig en besef hy was kortaf met sy antwoorde. “Ek kan doen met so bietjie geselskap.”
“Dit sal lekker wees, dankie,” antwoord sy vinnig maar dink ook terselfdertyd dat sy eintlik versigtig moet wees, hy is ‘n vreemdeling. Sy geniet dalk die aandag, of is hy so aantreklik dat sy nie kan wegstap nie?
Hulle gesels ‘n rukkie en drink hul koeldrank terwyl hy haar vertel van sy kunsbeen. Hy was in die weermag en op die grens. Sy luitenant wat hul peleton gelei het, het hom probeer red van ‘n landmyn waarop hy getrap het en toe hy sy been verloor het. Ongelukkig het sy luitenant nie die ontploffing oorleef nie. Brendan sukkel om vrede te maak daarmee. Juliette staar na hom terwyl hy sy storie vir haar vertel. Sy is so hartseer oor sy verhaal dat sy hom ook van Lee vertel wat gesterf het in die weermag. Maar sy brei nie uit nie want sy weet nie eintlik veel van Lee se dood nie, niemand wou haar sê wat presies gebeur het nie.
“Brendan, dit is al laat, ek moet gaan. Ek is so jammer oor wat met jou gebeur het, maar jy ken mos die gesegde, ‘twee se hartseer is beter as een.’ Ek kan verstaan hoe jy voel,” sê Juliette hartseer.
Brendan staar na haar sonder om iets te sê. Hulle groet vinnig en Juliette stap huis toe. Brendan sukkel uit die stoel op en stap die huis in.
Twintig minute later is daar ‘n harde klop aan Juliette se stoepdeur. Sy was nou net in die stort en haar hare is nog nat.
“Wie is daar?” vra sy.
“Juliette, dit is Brendan, jammer ek pla.”
Juliette staan in haar nagrok en wonder of sy die deur moet oopmaak. Sy skud haar kop heen en weer maar stap tog deur toe. Oppad trek sy vinnig haar japon aan en maak die deur vir Brendan oop. Sy hou haar asem op toe die deur oopswaai. Hy slaan behoorlik haar asem weg.
“Hallo, jammer Brendan, ek het nou net gestort,” maak sy verskoning en hou haar japon bo by haar nek styf vas. Brendan sê niks en staar net vir haar. Sy frons.
“Is daar fout?” vra sy huiwerig.
Brendan staan op die stoep in die donker. Hy steek sy hand na haar toe uit om iets te oorhandig. Sy kyk in sy oë en neem dit. Dit is ‘n silwer hangertjie met twee naamplaatjies aan. Sy frons en loop terug tot onder die lig in die kamer om beter te kan sien.
Sy los vir Brendan net daar by die deur sonder om hom in te nooi. Sy draai die een plaatjie om en lees ‘n nommer, 69483222. Die nommer lyk vir haar bekend en sy dink sy het dit al êrens gesien. Sy draai die ander plaatjie om. Daar staan ‘n naam op, Juliette! Sy kyk op na Brendan wat nog net so in die opening van die deur staan. Sy staan versteen. Brendan stap na ‘n paar sekondes nader. Hy gaan staan reg voor haar, staan meteens op aandag en salueer haar.
“Aangename kennis Juliette, ek is Sersant Brendan Hartley van die Valke regiment, gelei deur Luitenant Lee Steenkamp. Dit is voorwaar vir my ‘n voorreg om jou vandag te kon ontmoet,” sê hy en glimlag.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • LT het n geregistreerde lid geword

  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Isha Welman het ‘n nuwe publikasie gemaak