Jongste aktiwiteit:

Geskenke van goud

Karien het twee dae om ‘n brief te skryf, ‘n brief vir haar ouma wat op haar sterfbed lê. Sy het haar jare laas gesien, tyd het net nooit toegelaat dat sy vir haar kon gaan kuier het nie, altyd die een of ander krisis of belangrike geleentheid wat opgedaag het. Elke keer is tyd gesteel, en kuiers na haar ouma is gekanselleer keer op keer. Vandag voel sy so spyt dat sy nie net iewers ‘n tydjie ingedruk het vir haar nie, nou is dit te laat.

Liewe Ouma

Ek skryf die brief vir ouma, met trane in my hart. Soveel jare het so vinnig verbygegaan, soveel kosbare jare wat geen tyd kan terug koop nie. Die uurglas is besig om leeg te loop, en ek kan dit nie meer stop nie, al wat ek nou kan doen is om vir ouma te skryf hoe jammer ek is. Ek sit met foto’s in my hand, slegs ‘n hopie herinneringe van al die gisters. Ek steek my hart weg in die hemelruim, met die hoop dat ouma dit eendag daar sal kry. Ek weet ouma se tyd hardloop uit, en dis nie meer lank nie dan groet ouma ons almal vaarwel….maar net vir nou, want eendag sal ons weer almal mekaar in die hemel raakloop.

Ouma het altyd gesê die lewe is net ‘n gejaag na wind, en ons bene raak korter met die jare. Ek kon nooit verstaan wat ouma hiermee bedoel het nie (glimlag), maar nou weet ek. Hoe ouer mens word, hoe moeiliker is dit om by te hou, hierdie “rat race” is net te vinnig. Die lewe is soos sand in ‘n uurglas, dit loop so vinnig uit…..

Karien het tot laat daardie nag nog by haar lessenaar gesit en skryf, teen middernag het sy haar pen neergesit en in haar bed geklim. Tervergeefs het sy probeer slaap, sy het die heeltyd haar ouma se gesig voor haar gesien. Rondgerol van die een sy na die ander, later het sy maar opgestaan en vir haar gaan koffie maak. Terwyl sy so sit en koffie drink skiet ‘n gedagte deur haar kop om na haar ouma toe te gaan. Dit is tog naweek, sy kan maklik deurry en Sondag aand weer terug wees. Vinnig pak sy haar tas, bel gou haar buurvrou om ‘n ogie te hou oor haar huis en honde, en vertrek ‘n uur later.

Sy het ‘n vreemde opgewondenheid in haar om haar ouma weer na al die jare te kan sien. So baie het intussen gebeur, haar ouma het Alzeimer versteuring gekry drie jaar gelede, en is in ‘n sorgoord geplaas. Sy het net gehoor dat haar tannie Monica haar soontoe gevat het, haar huis is intussen verkoop en die geld is vas belê wat haar ook help om die beste versorging te kry. Sy stop by ‘n blomme winkel en koop ‘n groot bos rose vir haar, nog altyd haar ouma se gunsteling blomme gewees. Sy onthou hoe sy altyd saam haar in haar tuin rondgeloop het toe sy klein was, haar verwonder het aan al die mooi rose.

Karien stop voor die plek waar haar ouma bly, oral sit oumense in die tuin. Dis ‘n mooi oord, groot grasperke met kleurvolle blombeddings . Almal is so vriendelik, ‘n ou tannie kom na haar toe geloop en vat haar hand.

“Hallo hartjie, ek is so bly jy het my kom haal, ek wag al heeltyd vir jou. Ons moet gou ry, voor die kwaai vrou ons sien, ek gaan haal net gou my tas. Wag net hier vir my, ek is nou terug.”
“Wag tannie, ek stap sommer saam.”

Karien, vat die tannie se hand en stap saam haar tot binne in die gebou. ‘n Vrou met ‘n uniform kom na haar toe geloop, vra verskoning en vat die tannie weg van haar. Duidelik het sy haar verwar met iemand anders, foeitog dis swaar om so tred met almal te verloor en nie meer te weet wie is wie nie. By die kantoor loer sy om die deur en sien ‘n kort gesette vrou daar sit.
“Middag mevrou, ek’s Sister Verwey kan ek jou help?”

“Middag Sister Verwey, eks opsoek na my ouma tannie Elsa Saayman. Ek het vroeër vanoggend jou geskakel, en gesê ek kom deur vir die dag.”

“Eks bly jy kon kon dit maak, jou ouma se toestand versleg nou vinnig. Ons het drie dae gelede haar in frail care gesit vir observering, sy is baie swak. Sy het wel verskeie kere gevra na jou, en daarom het ons gevoel dis belangrik om jou te kontak.”

Karien voel nou baie sleg dat sy eers nie wou kom nie, maar sy is nou hier en dis al wat belangrik is. Sy wil by haar wees, haar hand styf vashou en vir haar sê hoe lief sy vir haar is. Sy wil haar vertel van alles wat die afgelope vyf jaar in haar lewe gebeur het, en hoe baie sy aan haar gedink het. Vir haar ook jammer sê dat sy nie vroeër al kom kuier het nie, maar verskonings is nou te laat besef sy.

“Jou ouma lê daar in die bed teen die venster, sy slaap meeste van die tyd en praat nie veel nie. Jy kan die rose in die vaas sit daar is ‘n bedkassie langs haar, ek bring vir jou ‘n stoel.”

“Dankie Sister, ek waardeer dit.”

‘n Warm sonstraal skyn deur die venster en verlig haar ouma se gesig, sy het oud geword dink Karien toe sy haar sien. ‘n Klein figuurtjie lê onder die duvet, haar koue verrimpelde handjies gevou oor haar bors. Karien loop tot langs haar bed en kan nie help om trane uit haar oë te vee nie. Woordeloos staan sy daar, die stilte wurg haar. Die uurglas se sandkorrels vries, en versteen in kosbare tyd.

“Ouma, dis ek Karien. Ek het vir ouma kom kuier, en ‘n mooi bos rose gebring. Ek het ouma vreeslik gemis, ek is so jammer oor al die verlore jare, en dat ek nou eers kom kuier.“

Karien kan nie glo dis die mens wie se lewe altyd so op koers was nie, wat nou so hulpeloos hier lê. Haar lewe is aan die wankel, dis nog net God se genade wat hier by haar is, wat haar aan die lewe hou. Sy streel met haar hand oor haar ouma se voorkop, en vee met ‘n nat waslap oor haar gesig. ‘n Kleinerige tannie loer by die kamer in, sy loop na die venster en maak dit toe. Sy praat nie ‘n woord nie, kyk net of almal gemaklik is dan loop sy weer uit. Die mense hier is dierbaar, so broos en afhanklik van ander se hulp. Buite sien sy ‘n oom wat met sy loopring so skuins-skuins sukkel na die hekkie, dit is sy werk om die hekkie vir besoekers oop te maak. Vir ure het Karien by haar ouma gesit, sy het haar alles vertel wat gebeur het die afgelope jare.

Toe dit begin donker word, groet Karien haar met ‘n sagte soen op waar wang. Sy weet nie of sy haar verbeel het, maar dit het gelyk of haar ouma se hand beweeg het. Sy vat een van die rose uit die vaas en sit dit in haar hand, ‘n bloedrooi roos haar gunsteling. Sy weet nie of sy haar weer gaan sien nie, die dokter het gesê sy is terminaal. Sy groet haar met trane in haar oë, die lewe is so bitter kort. Oppad uit loop sy haar in Sister Verwey vas.

“Totsiens Sister, skakel my asseblief enige tyd oor nuus, rakende my ouma.”

Dit was ‘n lang dag, maar Karien is ewig dankbaar dat sy wel nog ‘n kans gekry het om vir haar ouma te kon kuier. Dit was kosbare tyd saam haar, nooit weer sal sy mense na aan haar hart afskeep nie. Sy het vandag weereens met ‘n nuwe bewustheid besef, dat tyd baie kosbaar is.

Koop vandag ‘n nuwe uurglas en herdoop die sandkorrels. Jy kan die tyd wat uit jou uurglas geloop het, nooit weer terugkoop nie – al is jy hoe ryk.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak