Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Begin – Hoofstuk 10

Hoofstuk 10 — So Diep die Pyn

Matthew voel hoe teleurstelling oor hom spoel, twee ure na die onderhoud afgehandel is en Laurie het nie gebel nie — Ag Here asseblief help my.
“Wanneer kom mamma, pappa?” kom dit van Christopher.
“Weet nie seun, ek weet nie.” Een gedagte gaan deur Matthew se gedagtes — Jy is hier om die waarheid uit te vind en dit vir Laurie te gee, indien sy steeds niks met jou te doen wil hê nie moet jy dit uitlos — nie voor sy die besluit gemaak het nie Matthew.
Hy tel die foon op en skakel weer die BBC se nommer. “Goeie middag ek is Matthew St. Nicolas en ek het vroeër vandag vir Laurie Kilber ʼn boodskap gelaat.”
“Ja meneer ek onthou dit, laat ek u deurskakel na Daniël New, die aanbieder se kantoor, hy sou die boodskap vir haar gee.” Matthew voel die klop in sy keel terwyl hy wag.
“Hallo, Daniël New.”
“Goeie dag, ek is Matthew St. Nicolas, ek…”
“Ja, jy het ʼn boodskap vir Laurie Kilber gelaat.” Daniël lees in die stilte Matthew se afwagting vir die antwoord.
“Sy het die boodskap gekry…”
“En…” kom dit van Matthew.
“Hier was ʼn insident by ons kantore waarin Dokter Kilber betrokke was. Sy het ineengestort en is na die hospitaal geneem.”
“Nee, nee… wat het gebeur, is sy beseer?”
“Nee, niks so ernstig nie, sy het ʼn floute gehad en die paramedici het aangedui dat dit deur spanning en uitputting is.” Daniël weet dat hy definitief nie die totale gebeure oor die foon gaan vertel nie.
“Watter hospitaal asseblief.”
“St. George’s”
“Baie dankie.”
“Meneer St. Nicolas, sy was ongelooflik bly om jou boodskap te kry — as dit sal help.”
“Ja… ja dit help geweldig, baie dankie — totsiens.”
Matthew sit die foon neer, tel die twee seuns op en draai hulle in die rondte — “Mamma was bly om my boodskap te kry, yeah — yeah.” Hy vee hulle gesiggies af, trek hulle warm aan en skakel ontvangs om vir hom ʼn huurmotor te reël om hulle na die hospitaal te neem.

Wanneer Laurie wakker word is net James daar maar sy onthou onmiddellik haar ma — “Waar is my ma?”
“Sy is hier buite die deur Laurie.”
“Wat het met Johan gebeur?”
“Hy is steeds hier saam met die Polisie maar die Polisie was duidelik — niemand is onder arres totdat hulle alles geverifieer het nie.”
“James is daar enige nuus oor die uitslag van die amnestie aansoek?”
“Sir Ronald Brooks is in kontak met Cedrick Baldwin en sal laat weet sodra Cedrick se korrespondent in Johannesburg laat weet het. Hy glo dit sal in enkele ure wees. Verder is ʼn lid van Skotland Yard ook besig om die amnestie sowel as die lasbrief, op te volg vir Sir Ronald Brooks.”
“Kan ek my moeder sien asseblief?”
“Ek moet jou eers inlig oor wie almal buite die deur wag Laurie, ʼn klomp mense is hier om jou te sien.”
“Wie almal?”
“Al die Rubens en die hele Townsend familie. Ek bedoel, elke broer, suster en kleinkind is hier. Die Parkers’ en Phillips’ is ook op pad.”
“Waar is Selma?”
“Selma, Gregory en Joshua is in Londen waar weet ons nie. Ek het Sir George oortuig om sy medewerker te oortuig om hulle drie eers weg te hou totdat ons die amnestie uitslag ontvang het maar ek twyfel of hulle daarby gaan hou as die uitslag nie vandag deurkom nie.”
“En… Matthew?’
Hy glimlag en spot effens — “Die lang aantreklike ‘boer’ met die twee seuns?”
“Ja.”
“Ja, hy is hier en ʼn ieder en elk het reeds totaal oorboord gegaan oor hom en die seuns. Die Townsends’ het hul kleinseun en agter-kleinseuns gevind. Vader Laurie die is ʼn ongelooflike storie, ʼn storie wat net eenkeer in ʼn leeftyd gebeur. Dis jou storie om klaar te maak Laurie en ek het geloof dat dit positief vir julle almal sal eindig. Jou ouma en oupa Ruben is gretig om jou te sien. Is jy gereed vir hierdie ontsettende groot oomblik in julle lewens?”
“Voor jy hulle inroep wil ek net sê sodat jy sal weet, alhoewel ek geen herinnering van ʼn ander familie behalwe my pa en oom Louis gehad het nie, het ek sedert Augustus toe ek besef het dat ek nog familie het, nie een enkele dag nie aan die dag of oomblik gedink nie.”
“O Laurie agter daardie deur is alles waarvoor jy in jou lewe kon gewens het, mense wat elke dag, van elke jaar aan jou en Matthew gedink het en gehoop het op hierdie dag. Laurie, hulle het jou liewer as die lewe self, al wat hulle wil hê, is vir jou.”
Laurie voel die vrees in haar, sal sy ooit kan opweeg teen hulle verwagtings en sy vra James se mening. “Laurie jy is soveel meer as wat enige persoon ooit kon droom om te wees, jy is enig in jou soort, Laurie Kilber.”
Met die druk van haar hand sê hy — “Jy, Laurie Kilber is een uit miljoene wat God alles wat opreg is voor gegee het — moet dit nie vir een oomblik twyfel nie want dit wat Joos en Matthew my vertel het, bevestig dit.” Sy maak haar oë toe.
“Sal ek jou moeder net eers alleen laat inkom.”
“Asseblief, maar James moet my asseblief nie alleen hier laat nie, bly asseblief tot minstens die amnestie se uitslag deurkom.”
“Ek sal by jou bly tot na dit alles Laurie, Joos het my laat beloof en ek wil saam met jou dit klaarmaak wat ek en jy begin het. Ek sal self Cedrick Baldwin weer skakel.” Hy druk haar hand, stap uit en trek die deur toe. Laurie maak haar oë toe en klou aan die hoop dat alles vandag opgelos sal wees.
Wanneer sy die deur hoor oopgaan, kyk sy onmiddellik deur toe en daar staan haar ma — bleek en pragtig. “Mammie…” Die volgende oomblik is Laurika saam met haar kind op die bed, klou hulle aan mekaar vas en meng hulle trane as Laurika Laurie keer op keer regoor haar gesig soen.
“Moet nooit weer my so laat skrik nie, noudat ek jou gevind het kan ek nooit weer sonder jou wees nie.”
Na ʼn rukkie kom dit hier sag teen Laurie se wang. “Ek moet jou om vergifnis vra Laurie…” Laurie sit weer haar hand op haar ma se mond — “Nie vandag nie, nie nou dat ons so ontsettend broos is nie. Daar sal tyd daarvoor wees, laat ons nou net eers die tyd saam, vertroetel.”
Al wat Laurika kan doen is om haar kind teen haar vas te hou en in haar is die wete — Ons het soveel om voor te betaal, Heer ek smeek U vir ʼn wonderwerk, moenie dat ons tronk toe gaan nie, gee ons ʼn tweede kans om met ons kinders en familie te kan leef.
“Kan die ander mense asseblief nou inkom, jou ouma en oupa Ruben kan nie wag om jou te sien nie.”
Wanneer die deur oopgaan stap Matthew en die seuns in. Hy stoot die deur agter hom toe, stap na die bed en sit die twee seuns langs Laurie op die bed neer. Terwyl hulle Laurie oorval met soentjies en die onophoudelike, “Mamma, Mamma”, vat Matthew saggies aan Laurie se gesig en die deernis in sy oë maak haar lam.
Die smeking is in sy stem as hy na Laurika draai — “Ek is jammer hieroor maar kan ek asseblief een oomblik alleen met Laurie wees?”
Sy staan op, vat hom sag aan die gesig terwyl die trane oor haar wange loop — “O Matthew, jy is so ongelooflik pragtig, jou ma gaan so trots wees.” Dan stap sy uit en trek die deur agter haar toe.
Wanneer die deur toe klik gaan sit hy langs Laurie op die bed — “Ons is net ʼn paar minute hier. Ek en die seuns en al die familie wat kan kom, gaan van hier af om die ander persone te sien, ongeag wat die dag of die daad verder gaan bring. Ek weet en hulle weet dat Johan van Graan of Graham Hill soos hulle hom ken, hier is met ʼn agt en twintig jaar oue lasbrief om hulle in hegtenis te neem maar ons gaan ontmoet want ons almal verdien vandag vergifnis.”
Hy buk af na haar en in sy nabyheid sien sy die klein donkerblou vlekkies in sy oë, skielik onthou sy dit en sy kyk met verwondering na hom. Hy sê sag hier teen haar gesig sodat die warmte van sy vel aan haar raak. “Jy moet weet liefste, al die kwaad is weg, al wat ek wil hê is vergifnis en vir jou vir altyd en ewig.”
Sy vat sy gesig vas en soen hom op sy mond, eers net saggies maar dan soen hy haar met ʼn passie wat albei tot ʼn absolute opwelling dryf — soos die dag toe haar pa siek geword het en albei weet, die smagting na mekaar gaan nie weggaan nie — en Laurie voel die wanhoop in haar.
Sy wil praat maar hy sit sy hand liggies op haar mond. “Jy hoef niks vandag te sê nie maar as jy my en my mense, ooit kan vergewe vir wat aan jou, jou pa en Louis Olivier gedoen is, weet net verseker ek en die seuns wag vir jou.”
Hy soen haar liggies op haar mond, tel die twee huilende seuntjies op en met ʼn laaste kyk na haar stap hy na die deur.
“Ek het jou lief Matthew,” — en sy bly stil oor die swaard wat oor hulle hang want vir nou wil sy net sy liefde voel. “Sal jy ook vir my wag want ek het net so baie soos jy om reg te maak?”
Hy draai om, stap terug en soen haar lank en innig voordat hy met die twee huilende seuntjies op sy arms omdraai en uitstap. Laurie wil hom terug roep, hom weer verseker van haar liefde maar sy weet — nie nou nie, nie hier nie — nie terwyl sy nie weet hoe hulle verby die bloedfamilie struikelblok gaan kom nie. Sy is oorstelp met die pyn wat sy weggaan in haar ontketen.

Die volgende oomblik bars die deur oop, die Rubens stroom in en haar hart loop oor — Here jy het my soveel meer gegee as wat ek voor gevra het, kan jy asseblief die lasbrief en die bloedband ook net wegvat.
Laurika vat ʼn ou man en vrou aan die hand en Laurie weet dit is haar ouma en oupa Ruben. George Ruben buig oor die bed en sy hand vat hare vas en hy soen haar op die voorkop en sy trane val op haar wimpers en meng met haar eie. “God dank vir die dag.”
Dan is haar ouma daar met trane wat stroom oor haar wange, sy lê haar kop op Laurie se bors en ween droewig. Laurie sit haar hand op die grys kop en streel dit sag — en dit voel so reg. Daarna sak die res van die familie haar toe, sy word omhels en aan hulle harte gedruk, en hulle huil en lag deurmekaar.
Wanneer Matthew uit die kamer stap, is die polisieman by hom. “Meneer St. Nicolas ek is baie jammer maar ek moet u en u familie vergesel. Indien die persone wat u gaan sien wel die persone is wat Kolonel van Graan aangedui het, moet ons totdat dinge uitgeklaar is, die moontlikheid dat hulle wel op die Terroriste lys is, ook in ag neem.”
Matthew kyk verby hom na die gesig van Johan, al wat hy sien is die skrefies oë, die smal lippe en die swart oë wat intimideer — en hy bejammer hom.
Terwyl Matthew sy oupa Townsend in die oë kyk sê hy — “Ons moet baie mooi dink oor wat ons vandag wil doen.”
Met ʼn knik van sy kop kom dit van die ou Matthew Townsend — “Matthew, ongeag die situasie, is daar niks wat jou moeder gaan keer om jou te sien nie of ons na haar toe gaan en of sy na ons toe kom, sy gaan jou vandag sien — dit sal ons nie kan keer nie.”
James stap skielik na vore — “Meneer ek dink ons, u en u familie, moet net eers ʼn paar minute in privaatheid gesels, asseblief.”
Hy kyk na die polisieman. “Kan ons asseblief ʼn paar minute se privaatheid kry?”
Johan verloor vir die soveelste keer vandag sy beheer en skree in die polisieman se gesig dat die vertrek weergalm — “Nee, daar is geen manier dat hulle toegelaat kan word om alleen te praat nie!”
Die polisieman neem hom ferm aan die arm — “Kolonel, ek sal die familie ʼn paar minute privaatheid gee. Nie een van hulle is onder arres nie, is nie eers geïmpliseer deur u lasbrief nie, so ek kan hulle nie privaatheid weier nie.” Hy vat Johan stewiger aan die arm, stoot hom voor hom by die vertrek uit en trek die deur agter hom toe.
Almal draai gelyk na James Kernes en kyk vol verwagting na hom. “ʼn Applikasie vir amnestie is Februarie die jaar deur Louis Olivier by die Waarheid en Versoenings Kommissie in Suid Afrika, namens die vier persone ingedien. Ek het bevestiging gekry dat die bevindings en die aanbevelings van die ondersoek wat ingedien is by die Kommissie reeds ter tafel gelê is en dat die Raad vandag die aanbeveling sal bekragtig.”
Hy sien die hoop en die afwagting — “Wat sê jy, gaan ons kinders uiteindelik vry wees?”
“Ongelukkig het ek geen kennis van die presiese detail van die bevindinge nie maar die amnestie rede en aanbeveling was positief. Die korrespondent wat dit hanteer namens Louis Olivier, is egter baie positief oor die bekragtiging van die uitslag van die bevinding. Kan ons almal, die ander drie persone ingesluit, asseblief nie in ons ongeduld iets doen waaroor ons later spyt gaan wees nie, kan ons almal net ʼn paar uur wag vir die uitslag.”
Die vreugde op almal se gesigte is ongelooflik. Ou Gregory Phillips tree vorentoe en vat Matthew se hande vas — “Matthew ek sê ons wag, ek sal Sir Ruben vra om met Pearson te praat, hom in te lig oor die omstandighede sodat hy die drie vir nog ʼn paar uur weg van hier kan hou.”
Hy wag ʼn oomblik vir die instemmende gebaar van die ander en gaan voort: “Ek dink ook ons moet almal die hospitaal verlaat en na een van ons wonings hier in Londen gaan sodat die wat moet rus, kan rus en ons almal uit die publiek se oë sal wees.”

Hulle stem saam en Matthew voel die pyn — Hoe kan ek haar los daar agter die deur, met die pyn in haar? Hy weet vandag is nie die dag vir hulle twee nie, moontlik ook nie môre of die week nie maar hy weet hulle tyd sal kom — dalk nie gou nie maar dit sal kom en hy berus.
James lig die polisie beamptes in oor die besluit van die familie om by hulle woning te gaan wag en dat hy en Johan welkom is om hulle te vergesel. Johan moet deur die polisieman vasgehou word waar hy op James af peil.
“Ek dring daarop aan dat Laurika Ruben eers in hegtenis geneem word.”
“Kolonel, ek glo Rodger King het reeds aan u verduidelik dat ons slegs u woord het, vir wat u beweer. Nie eers die Suid Afrikaanse Ambassadeur kan bevestiging kry of die lasbrief geldig is nie. Ons het ook die dame se paspoort laat verifieer, dit is ʼn wettige en geldige paspoort van ʼn burger van Switserland. So Kolonel, niemand gaan niemand hier in hegtenis neem nie. Al wat ek het is u bewering dat die persoon die persoon is waarna u soek.
Johan ruk amper die twee polisiemanne aan sy, sy om maar die polisieman gaan voort — “Ook Kolonel sit ek met die dilemma dat die persoon u as ene Graham Hill geïdentifiseer het. So Kolonel laat ons die saak los totdat ons almal bevestiging het. Ek het opdrag ontvang om die Konstabel hier te los terwyl ek en jy saam met die familie na hul woning gaan. Sodra die dame gereed is om te vertrek sal die Konstabel haar of na ons Skotland Yard Kantore neem of na die woning waar ons sal wees. Ek het egter ook opdrag om te verseker dat u by ons bly. So Kolonel ek glo ons sal nou almal vertrek.”
Johan se gesig verkleur tot ʼn dieprooi en Matthew voel ʼn vrees in hom — Is Laurie of enige iemand ooit veilig naby die man? Hy uiter sy vrees — “U moet asseblief onder geen omstandighede toelaat dat die man alleen by enige iemand van die families toegelaat word nie.”
“Jou klein pes, na alles wat ek vir jou gedoen het.” Kom dit snedig van Johan. Matthew draai met openlike veragting weg van hom en sy tirade word gestil toe James se selfoon lui. Hy kyk een oomblik na die skerm en as hy die naam op die skerm herken, vra hy verskoning en stap onmiddellik uit die vertrek na buite.
Wanneer hy terugkeer na ʼn paar minute, nog met die persoon op die foon vra hy verskoning. “Ek dink julle almal moet asseblief onmiddellik vertrek en by die woning bly totdat die uitslag deurkom. Ek het egter nou ʼn ander ernstige saak wat aandag vereis.” Hy stap verby en maak Laurie se kamer deur oop. Hy vra almal om asseblief die kamer te verlaat en hom en Laurie ʼn paar minute alleen te laat.
In Matthew kom daar ʼn gevoel van die dood, dit het seker iets met Nathan te doen en hy vrees vir die ergste. Hy weet James gaan dit nie met hom deel nie.
Matthew bly staan wanneer almal uit die kamer kom, hy sien deur die skrefie voor die deur toegaan hoe Laurie die foon neem en die volgende oomblik hoor hy hoe sy haar asem skerp intrek. Hy weet die oproep het met haar pa te doen, hy sluit sy oë en bid. Skielik weet hy, hy moet nou sterk wees vir almal. Hy kry sy mense bymekaar en hulle almal stap saam uit. Matthew weet, die is nie die regte tyd nie — en hy vrees daar gaan vir hom en Laurie Kilber nooit ʼn regte tyd wees nie.

Hier waar Laurie deur Heathrow Lughawe hardloop na die hek waar sy die vliegtuig moet bestyg, kan sy nie glo wat alles in die vyf dae gebeur het vandat sy deur hierdie lughawe gestap het nie. Die verwyt is in haar — Wat het ek vermag?
Sy het wel haar familie gekry en sy dank God daarvoor maar sy weet ook deur hulle te ‘vind’ het sy hulle ook in gevaar gestel om vervolg te word as die amnestie nie toegestaan word nie.
In die oomblik besef sy ook, sy sou nie die oomblik waar sy haar ma teen haar gevoel het, haar ouma en oupa en haar neefs en niggies aangeraak het, ooit wou misloop nie.
Laurie weet, nou is dit haar pa wat al haar energie en aandag moet kry en Dokter Koot Froneman se woorde maal deur haar kop — “Dit is weer die gewas, dit wil voorkom of daar nog ʼn deel daarvan agtergebly het, dit het ongewoon vergroot en veroorsaak geweldige drukking. Hy is reeds per helikopter terug na Centurion en Dokter Rutovich gaan dringend opereer.”
Die enigste iets wat saak gemaak het, was — “Hoe lank kan hulle wag voor hulle opereer, kan julle vir my wag?” Sy woorde wou haar versmoor. “Ons gaan probeer nooi want hy wag vir jou. Dit is al wat hy nog wil hê — om jou te sien en met jou te praat.”
Wanneer Laurie haarself vasgord in die sitplek en die lugpersoneel dadelik aankondig dat hulle gereedmaak om te vertrek weet sy dat hulle vir haar gewag het en dank sy die Here dat sy klein Timothy Brooks uit die rivier gered het want Sir Ronald Brooks het die vlug vir haar moontlik gemaak.
Skielik kom daar spontane applous van almal in die vliegtuig en die man langs haar, vat haar hand en druk dit, en sê hard en duidelik — “Dit is ʼn voorreg om jou te ontmoet Laurie Kilber.” Al wat sy kan doen is om dankbaar haar kop te knik — nie by magte om te praat nie.
Wanneer sy terugsit, flits die afgelope uur se gebeure deur haar gedagtes — die afskeid tussen haar en haar ma, en haar familie, die begeleide jaagtog na Heathrow, die konstante hulp van almal vandat sy die oproep gekry het, tot hierdie oomblik. Die honderde mense wat haar toegejuig het — die hele reddingspoging nog vars in almal se geheue. Here hoe wonderlik is u weë, hou net my pa veilig asseblief.

Vir Matthew is alles net te veel. Die seuns wat nieteenstaande die aandag van almal, sonder ophou hulle ‘mamma’ soek en Matthew weet sy tyd om te erken wat hy en Johan gedoen het is naby, en hy weet nie hoe hy hulle in die oë sal kyk nie.
Matthew krimp ineen wanneer sy oupa praat, gelukkig vir hom is dit in die donkerte van die motor want hy weet hy is nie gereed of sterk genoeg om oor hom en Laurie vrae te beantwoord nie.
“Ons is so dankbaar dat jy en Laurie Kilber vriende gebly het, goeie vriende.”
Matthew voel die beklemming in hom — “Meneer… oupa.”
Die ou man gaan voort — “Ons kan sien dat jy en die seuns haar baie lief het, dit is ʼn wonderlike wete dat julle twee gelukkig is.” Matthew krimp ineen — maar bly stil. Here help my asseblief.
Die ure saam in die huis is gevul met absolute vreugde en pyn. Vreugde want hy het sy familie gevind en hulle vir hom, en deur hulle vertellings weet hy dat sy ma en pa hom ongelooflik liefgehad het, so oneindig probeer het om hom na hulle te bring — maar selfs dit bring nie die vreugde terug in sy hart wat hy weet net Laurie kan bring nie.
Binne ʼn uur nadat hulle by die Rubens se huis aangekom het, daag Laurika Ruben en die hele Ruben familie op. Matthew voel die vrees in hom met die wete dat niemand by Laurie is nie en hy deel sy kommer met hulle.
Almal staak hul gesels wanneer Laurika haar hand ʼn oomblik omhoog hou en hy weet wat kom, is dit wat hy so gevrees het — “Laurie is onmiddellik terug Suid Afrika toe, Sir Ronald Brooks het gereël dat ʼn vliegtuig vir haar wag en sy het reeds vertrek met ʼn direkte vlug.”
“Waarom so dringend?” kom dit van Matthew.
“Nathan het ʼn terugslag gehad, die dokter sal probeer wag vir Laurie want Nathan wil met haar praat maar hulle weet nie hoe lank hy kan wag nie.”
Matthew bid woordeloos vir die behoud van Nathan Kilber want ook hy wil Nathan graag weer sien, so graag sy hand in waardering en liefde skud, hom aan sy hart druk en dankie sê. Hy wil hê dat Laurie se pa op haar troue sal wees, as sy ooit ja sal sê wanneer hy vra. Hy wil hom as ʼn oupa vir sy kinders hê.
Hulle bly almal wakker, hoop en bid vir goeie tyding. Dit is lank na middernag waar Christopher en Kyle nou moeg en huilerig op sy skoot sit en hy weet hulle moet in die bed kom. Wanneer hy met sy seuns skuins bo-op sy bors in die groot bed gaan lê, is Laurie se beeld die laaste wat in sy gedagtes is.

Dit voel vir Matthew of hy skaars ʼn paar minute geslaap het toe hy die opgewonde stemme buite die kamerdeur hoor. “Asseblief laat my, my seun sien.” Kom dit duidelik en iewers in Matthew se lank terug geheue ken hy die stem.
Voor hy kan beweeg gaan die deur oop en in die lig van die gang staan sy — hy sien die krulhare, meer grys as blond. Die volgende oomblik is die kamerlig aan en hy sien haar, en hy ken haar — dit is sy ma.
Hy sit die seuntjies versigtig langs hom op die bed neer, staan op en maak sy arms oop vir sy ma. Selma gaan lê met haar kop teen haar seun se bors, moeder en seun se trane meng en hulle harte klop vir die eerste keer in agt en twintig jaar weer teen mekaar.
Matthew sien die lang man as hy deur die deur kom en hy weet instinktief, die is sy pa — Gregory Phillips, en hy trek hom in die omhelsing in of hy hom onthou of nie — dit is sy pa. Die weersiens na al die tyd tussen hom en sy ouers is vir Matthew ʼn onbeskryflike ervaring, ʼn ervaring wat nie deel van sy bewussyn was nie want hy het nie eers geweet dat hy hulle verloor het nie. Hy weet die terugvind van hulle is wondersoet.
Hy hoor Johan se stem en die nagmerrie is terug — “Uiteindelik het ek al vier van julle, Konstabel skakel jou senior sodat hulle Skotland Yard kan skakel. Nou moet die mense in hegtenis geneem word, indien u dit nie doen nie sal my regering met jou regering praat want julle huisves terroriste.”
Die haatlike stem word uitgedoof as ou Matthew Townsend die deur toestoot en Matthew vra met trane in sy stem — “Hoekom waag julle, julle vryheid? Waarom nie net ʼn paar uur wag nie?”
“Toe ek hoor dat Laurie reeds weer terug Suid Afrika toe is, kon ek nie die kans vat dat jy nie ook weg sal wees voordat ek jou sien nie. Al waarvoor ek vir al die jare gebid het Matthew was om jou weer te sien en teen my hart te druk. Hulle kan nou doen wat hulle wil, ek het jou gesien en aan my hart gedruk, my pragtige seun.”
Sy wikkel haar los en stap een treë terug sodat sy Christopher en Kyle kan sien — “O Matthew, hulle is perfek, is Laurie hulle mamma?”
Die skok is in hom — “Nee, ek moet dringend met almal praat oor Laurie en Nathan.” Matthew weet die oomblik van waarheid het aangebreek. Hy neem hulle uit na waar die ander familie lede wag en met die pyn wat hom wil versmoor vertel hy hulle alles wat gebeur het, vanaf die helse dag wat hy en Johan vir Nathan en Louis op The Buttress gaan sien het.
Selma Townsend verloor haar helderheid wanneer Matthew hulle inlig dat Louis daardie dag oorlede is en hy hou haar vas terwyl sy totaal ineenstort. — “Ek is so ontsettend jammer dat ek sy dood help verhaas het.”
Hulle hou hom vas, troos hom en ʼn gesin huil hulle harte uit oor hom wat net goedheid in hom gehad het, oor dit wat alles verlore gegaan het. Hy laat niks uit nie, nie hoe hy die pragtige mens ʼn kinderoppasser in sy huis gemaak het nie, ook nie sy ongelooflike liefde wat hy vir haar het nie. Daar is vergifnis maar dit is nie die enigste vergifnis wat hy soek nie, die vergifnis is duisende myle vêr weg — en die kans dat hy dit ooit gaan kry, lyk nie goed nie.

Selma maak haar los uit die omhelsing, stap na Johan en kyk hom in die oë — “Waarom Graham, waarom al die verlore jare?”
Johan staan woordeloos voor die een na wie hy ʼn leeftyd lank soek en Matthew lees in Johan se oë, dieselfde liefde wat hy vir Laurie voel, ʼn liefde so groot dat een liggaam dit nie kan hou nie.
Johan staan voor haar vir wie hy bo alles in die lewe liefhet, haar wat Louis van hom gesteel het en vir die eerste keer in al die tyd, is daar ʼn ander emosie as haat en venyn op sy gesig.
Met ʼn stem wat breek sê hy — “Ek het jou meer as die lewe self liefgehad en jy het dit in my gesig teruggegooi en Louis bo my gekies. Hoe kon jy Selma?”
Op Selma se gesig is daar ʼn jammerte maar ook verbasing — “Hoe kon ek nie, Louis was ʼn geskenk van God aan my. Hoe kon ek hom nie bo alle ander kies nie?”
By die aanhoor van die woorde is daardie ou venyn weer terug — “Ek is bly ek was daar die dag toe hy dood is, bly dat ek dit aangehelp het.”
Selma se skud van haar kop, die jammerte wat in haar gesig wys vir die wrak van ʼn mens, ruk Johan terug na die hede, na die oomblik waar ʼn vertrek vol mense met afsku na hom kyk — en hy laat sy skouers en oë sak.
“Wat nou Graham, wat nou?”
Johan praat met ʼn baie moeë stem — “Ek gaan julle almal terug Suid Afrika toe neem, waar julle vir terrorisme tereg sal staan.”
“Nee Graham, as ons oor ons betrokkenheid by jou, skuldig is aan die terreur, wees seker jy ook. So Graham, as ons moet boet vir iets waaraan ons geen aandeel gehad het nie, hopelik jy ook nie, sal ons almal, jy ingesluit, tereg staan. Waarom nie dit net laat gaan nie?” en hy het geen antwoord nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed